Saturday, April 21, 2012

Victoria Hawe en Lamma Eiland

Dis met absolute verbasing dat ek op my horlosie kyk net na ek my oe oopgemaak het en sien dit is 09:27! Ek slaap nooit so laat nie. My klein smartieboks kamertjie het heerlik geslaap. Ek stort en vat die pad. Voor my hare ordentlik droog is, het ek die hele Victoria hawe in Hong Kong van bo tot onder deurgeloop. Dis pragtig! Ek is mal oor HK. Daar is hoe geboue net waar jy kyk. HK is die tuiste van die 4de hoogste gebou in die wereld (die International Commerce Centre) wat 484 meter hoog staan met 118 vloere. Maar rondom hom staan daar 112 geboue hoer as 180 meter met 'n verdere 162 geboue hoer as 180 meter in aanbouing sedert Feb 2011. Net waar jy kyk is ontwikkeling! Die geboue is nie noodwendig so mooi soos die in Singapore nie. Net baie!

(Sien laaste drie fotos hieronder van die 4de hoogste gebou)

Victoria Hawe is die tuiste van die Kuns museum, die Ruimte museum, 'n Kultuur Sentrum en hulle eie weergawe van Hollowood met 'Avenue of Stars'.
 Kuns museum (bo)
 Space Museum


 Ek moes amper 20 minute wag om hierdie foto geneem te kry, want daar was duisende mense!

Ek het net vir Jacky Chan en Bruce Lee herken tussen 'n hele straat vol chinese sterre.


Ek doen 'n laat ontbyt by Starbucks en drink heerlike Earl Grey tee met 'n blueberry muffin. Terwyl ek ontbyt geniet neem ek fotos van mense in die straat voor my. Ek verkyk my. Dit reen glad nie vandag nie, maar elke oorsterling loop met 'n sambreel. Ek onthou dat Maggy by die Tam Coc rivier in Vietnam vir my vertel het dat die vrouens in die ooste baie gesteld is daarop om 'n ligte vel te he. Hulle wil glad nie 'tan' nie. Die sambreel is dus 'n sonvoorkomingsmiddel!





Dis baie moeilik om te verduidelik hoe 'n tipiese Hong Konger lyk! Maar as hierdie outjie groot is en 'n swart raam bril dra, sal hy so lyk!
Hierdie pragtige kloktoring staan in Victoria Hawe.


Om 12:20 is ek terug Space Museum toe om 'n fliek in die Omnimax te gaan kyk: 'Wired to win'. Die omnimax is 'n flieksaal waar jy op jou negende rugwerwel le en fliek teen 'n groot ronde koepeldak kyk. Dis amazing. Die fliek is oor Damon Cook, 'n Australiese fietsryer wat die Tour de France al 'n paar keer gery het. Hulle het sy brein getoets in sy voorbereiding en tydens die fietstoer en het gesien dat sy brein letterlik aanpassings maak soos hy aangaan. Dit was baie goed. Hy het op die ou end daardie jaar die groen trui gewen vir die beste sprinter. Lance Armstrong het die toer gewen. Ek het die fliek baie geniet. Die fliek was in twee tale. Cantonese met Putonghua onderskrifte. Ek het van beide tale nog nooit voor vandag gehoor nie. Cantonese is die meerderheidstaal in Hong Kong en word gebruik deur die Yue groepering Chinese. Putonghua is 'n ander naam vir Mandarin. (volgens google). Daar is oorfone vir ons abnormales en die oorfone verskaf Japanese en Engels. Na lang oorweging kies ek die engels!

Ek het baie keer deur die dag weer aan die fliek gedink. Dit wys dat 'n mens se brein hiper aanpasbaar is en werklik elke dag besig is om aan te pas na aanleiding van die seine wat jy gee en kry. Dis regtig 'mind over matter'. Ek besef dat dit presies is waarmee ek hierdie drie maande besig is. Ek is besig om dag na dag my brein te herprogrameer om anders te dink oor die lewe. Dis opwindend!

Maar ons almal se breine werk so, en jy het jou 'journey' waarmee jy tans besig is. Dit wat jy elke dag dink en jou brein toelaat om te glo, dit is waarmee jy op die ou end gemaklik sal wees. Dis 'n groot verantwoordelikheid. Ons breine is kragtig! En kan ons maak of breek! Die fliek wys so duidelik dat Cook se grootste faktor by verre nie sy bene of spiere is nie, maar sy brein. Dis waar die besluite namens jou spiere geneem word of hulle gaan aanhou of nie. Die beste was dat Cook dit kon regkry om die seer seine van sy bene af na sy brein toe te 'override'. En die wetenskaplike toetse wys dat sy brein begin het om meer endorfiene deur sy ruggraat te stuur om die pyn seine te verdoof wat sy bene na sy brein toe stuur. Omdat sy brein so besluit het!

My geliefde oud-skoolhoof, mnr Spekkop Chamberlain (hy weet ons noem hom so) het my op FB laat weet dat ek met die Ferrie na Lamma Eiland toe moet gaan en daar seekos eet. Dankie Meneer! Dit was heerlik! Lamma Eiland is suidwes van HK en maar net 13,5 vierkante kilometer. Die naam beteken 'suidelike skiereiland' en daar bly net 6000 mense. Dis baie rustiger as HK en ek het amper reg rondom die eiland geloop. Daar is geen motors op die eiland nie, behalwe een ambulans en een brandweervoertuig. Daar is 'n groot kragsentrale wat HK en Lamma eiland van krag bedien en hulle ekspirimenteer met windkrag op die eilandjie. Ek het 'n ferrie gevat vanaf Kowloon na HK eiland (sentraal) vir net 3 HKD (dit is dieselfde as 3 rand) en vandaar omgestap na pier 4 waar ek 'n ferrie gekry het na Lamma eiland. Dit is amper 'n halfuur se vaart en kos R16,10 enkel rit.

Daar is baie voels op Lamma en ook baie mooi blomme. Ook soorte wat ek glad nie ken nie.


Die taxi's in HK is rooi op HK eiland, blou op Lantau Eiland en groen in die nuwe gedeeltes van HK.
Jy weet dus altyd watse een om te vat.

HK word bemark as die wereldstad van Asie!


Op die ferrie tussen Victoria Hawe en HK eiland.


 Hulle gee nuwe betekenis aan die gesegte: Enigiets varser swem nog! By elke restaurant se ingang is 'n vistenk en jy kies jou kos terwyl hulle nog rondswem. Bietjie te 'real' vir my.

 Een van die pragtige blomme op die eiland wat ek nog nie gesien het nie.

Dit was regtig moeilik om die spyskaarte te lees!





My 'margaretha' by 'n hawe restaurant! Dit was stunning! Daarmee saam 'n 'sole fillet en chips'. Ek het maar gewag tot ek 'n bord kos sien uitkom het waarvan ek sal hou en beduie dat ek dieselfde wil he.


Pragtige klein hoofstraatjie vol winkeltjies.

Wraggies wyn van die Weskaap in SA!

 By die jettie sien ek twee vrouens inkom met hulle bootjie en ek staan nader. Hulle het 'n mandjie vol seepampoentjies en 'n mandjie vol oesters!

Omdat daar geen motors op die eiland is nie, ry almal fiets en hierdie is die fietswinkel wat baie aftrek kry.


Die restaurant waar ek geeet het.

Baie mense hier werk op HK eiland of op Kowloon en kom met hulle fietse hawe toe waar hulle 'n ferrie kry werk toe en terug. Nie een fiets is vasgesluit nie!

Twee goed wat mens dadelik opval van HK:
Al die winkels gebruik lewendige uithangborde. Dis skreeu snaaks. Op die sypaadjies staan horde mense en adverteer alles wat in die winkel aangaan, van tailor suites, kos, skoene en wat ookal. Hierdie groep adverteer die havanna plakkies.


Die tweede ding is dat maklik 80% van alle couples en families in HK bestaan uit 'n westerse man en 'n oosterse vrou. Of so lyk dit vir my. Dis erg opvallend. Miskien is dit makliker vir so 'n gesin om in HK te bly.

Hieronder is die fotos van die 4de hoogste gebou in die wereld. Gelee op HK eiland.



Hierdie is die 2de hoogste gebou in HK en hy staan op Kowloon. Was net vir my 'n baie mooi foto.



Dit was 'n heerlike wonderlike dag! Ek hou van HK!

Lekker naweek vir elkeen!
Liefde
Hanlie

No comments:

Post a Comment