Wednesday, April 18, 2012

Hoa Lu Tam Coc (ja joune ook!)

Vietnam het geen bereikbare of betroubare publieke vervoer nie en as jy die wereld wil sien moet jy dit met 'n toeragentskap bespreek. Ek het met Asia Tour Advisor 'n daguitstappie bespreek na Vietnam se 'ancient capital' Hoa Lu. Dis waar die koning gebly het sedert 968 na Christus. Dis 100 km suid van Hanoi, maar teen hierdie tyd weet julle en ek dat 100 km in Hanoi jou tussen 2,5 en 3 ure neem.

Ek is agtuur al by my hotel opgelaai. Die groep was 18 mense waarvan 11 Frans is, 2 van Malaysia, 2 van Duitsland (die vrou is oorspronklik Vietnamees, maar meer oor haar later), 2 van Korea en ek. Ons ry deur die hele Hanoi (die ou stad waar ek bly is heel noord) en ek besef met 'n skok dat ek eintlik in die stiller gedeelte van Hanoi bly! Daar is 7 miljoen mense in Hanoi. Dis die tweede grootste stad in Vietnam naas Saigon. Daar is ook meer as 3,5 miljoen geregistreerde motorfietse. Gaan kyk asb op You tube by hanlinde1 na die video wat ek vanaand half ses in hul verkeer geneem het. Ek het dit spesifiek geneem oor twee redes: as ons in 'n ongeluk sou wees (prys die Here ons was nie!) sou ek dit gebruik as getuienis, want ons drywer vandag was baie waaghalsig en die tweedens: as ek ooit weer in Stellenbosch in spitsverkeer sit en begin dink dis erg, gaan ek hierdie video kyk.

Ek beleef vandag gewone Vietnamese wat gewone goed doen op hulle gewone manier en dis vir my baie lekker.

Vanoggend tussen 8 en 9 terwyl ons die ander 17 gaste vir die toer by hulle hotelle gaan oplaai, neem ek 'n paar fotos op die straat:

Hierdie groepie speel gou dambord voor die dag begin. Seker spesiaal agter die motorfiets dat toeriste hulle nie moet afneem nie.


Ouma kyk na baba. Ma is seker werk toe. Ouma se vriendin kuier ook daar. Kyk die posisie waarin sy sit. Hulle sal my nooit weer regop kry nie!


Gou 'n rokie maak en 'n koerantjie lees eerste ding in die oggend op straat. Seker pa en seun.


Sussie was die skottelgoed. Ja op straat. En dit is die skoonste deel van die straat wat sy uitgekies het!


Daar is wraggies mense wat die strate skoonmaak in die oggende. Mens sou dit nooit raai nie.


Hierdie oom 'facebook' gou op sy 'apple' rekenaar voordat die eerste bondel wasgoed inkom vir die dag. Kyk hoe geniet hy dit!


Die lug in Vietnam is baie vuil en vol rook en baie van die plaaslike mense dra hierdie gesigbeskermers. Of miskien is sy deel van die ondergrondse Vietnamese spesiale magte.


Hierdie oom wag vir sy bus.  Die klein seuntjie langsaan kry gou ontbyt voordat sy ma hom per motorfiets skool toe neem. Hy sit klaar in die saal. Reg om te ry.



Ons toergids vir die dag is Ha. Ja, net dit. Ha. Sy is baie oulik en vol stories en speletjies en ek het al die inligting baie geniet. Sy is 23 en volgens Vietnamese tradisie te oud om te trou, nou moet sy werk. Lyk my daar le heelwat werk vir my voor...

Hier onder is die bekendste strate in die Ou gedeelte waar my Hotel is. Die strate begin almal met 'Hang'. Dit beteken "winkel" en in 1100 na Christus toe die ou gedeelte begin is, het elke straat iets anders verkoop en is die straat daarna vernoem. Die een is skoene, die ander toerusting, die ander kos en so meer.  Moenie vir my vra watter een is watter een nie. Ek het nog bietjie min Vietnamees opgetel.


Na 'n vreesaanjaende rit is ons omtrent 11:15 in Hoa Lu en besoek ons die tempel van die koning en sy ou paleis. Meeste van die paleis het nie die twee oorloe oorleef nie, maar die tempels is herbou.



Hierdie is die Vietnamese buffel wat soos Blommetjie die koei versier is. Hulle wei daar rond en die Vietnamese is baie trots om vir jou te vertel dat hulle eerste koning saam met buffels grootgeword het (ek is redelik seker President Zuma ook!) en dat hy op buffels geleer veg het.


Hierdie vlag hang by alle tempels in Vietnam. Dis nie hulle landsvlag nie. Hulle noem dit die vierkleur en dit verteenwoordig vier natuurlike kragte naamlik vuur, wind, water en son.


Hierdie is die eerste koning. Hy het drie seuns gehad. Hy en sy twee oudste seuns is ongelukkig vergiftig tydens sy koningskap en die koningin het die kleinste seun (6 jaar oud) se mag gekanselleer en met 'n ander man getrou om die land te red. Die mense hier is nie baie vriendelik met haar daaroor nie. Haar beeld is verwyder uit die eerste groot tempel en saam met haar nuwe man in 'n kleiner minder indrukwekkende tempel gesit. In Vietnamese tradisie mag 'n man twee vrouens he, maar 'n vrou net een man. As hy dan sterf, moet die vrou sy nagedagtenis eer tot die dag dat sy doodgaan. Sy mag nie weer trou nie. Die koningin het buite tradisie opgetree omdat haar seun van 6 nog nie kon regeer nie.


Die twee seuns.


Die nuwe man en tweede koning.


Die koningin! Voor elke tempel vandag staan 'n spesifieke boom wat hulle Kim Giao noem. Dit word gebruik om vergiftigde kos op te spoor. Hulle maak die chop sticks waarmee die koning eet daarvan en as die kos vergiftig is, kleur dit swart. Die boom se blare word gebruik vir medisyne teen seer keer.




Die gehurkery kom baie natuurlik vir hierdie mense van alle ouderdomme. Hulle begin reeds baie jonk en die Thai Chi wat hulle doen help natuurlik ook.


En toe is ons op die Tam Coc rivier wat deur Hoa Lu vloei. Die rit is 6 km lank en vat omtrent 2 ure, afhangende van jou roeier se fiksheid. Ons is drie-drie op die boot saam met die roeier en ek ry saam met Jan en Maggy van Duitsland. Soos Jo en Hannah in Halong Bay is hulle ook op hulle honeymoon.






Orals langs die rivier is ryslande. Hung, ons roeier is 60 jaar oud en hy het ook 'n stuk rysland langs die rivier. Bo en behalwe die rysland mag elke gesin 2 bote kry om toeriste mee te roei vir geld. Onthou dis 'n kommunistiese land en jou hoeveelheid inkomste word deur die staat gereguleer. Dis hoofsaaklik die vrouens wat elke dag roei terwyl die mans op die ryslande werk.

Hung vertel ons baie van sy ryslande. My bootgenote is van Duitsland (alhoewel dit hulle laaste vakansie en honeymoon is voordat hulle na Sydney Australie immigreer). Jan en Maggy is baie oulik en ons gesels baie lekker. Haar ouers is Vietnamees, maar het gevlug na Duitsland tydens die oorlog voor haar geboorte. Sy is in Duitsland gebore en was agt jaar terug vir die eerste keer terug in Vietnam. Haar ouma bly in Saigon. Haar vlot gebruik van Vietnamees help baie om genoeg stories uit Hung te kry.

Hulle plant net een oes rys 'n jaar. Rys vat 100 dae vandat dit geplant word totdat dit geoes word. Tegnies plant die mense in Hanoi drie oeste 'n jaar, maar Hung se die rivier se vlak is te hoog na Meimaand (wanneer sy oes afgehaal word) en hulle hier in Hoa Lu in die Tan Coc rivier plant net een keer per jaar. Verder maak hulle geld deur toeriste te roei. 'n Kaartjie kos 30 000 VND. Dis R12,50. Dit gaan na die regering. Dan verwag hulle van toeriste om nog 30 000 VND vir die roeier te gee as 'n fooitjie. Ons gee elkeen vir Hung 50 000 VND (R19) vir al sy stories.

Elke boot het ook pragtige handgemaakte tafeldoeke aan boord wat hulle smous. Natuurlik het ek een gekoop. Teen R90 kon ek dit nie los nie. 'n Ronde geborduurde 1,8 meter tafeldoek. Dis regtig stunning. Nou gaan ek myself moet toedraai in die tafeldoek op die vliegtuig, want daar is nie meer plek in my tas nie.


Hierdie is die graf van die grootste 'landlord' langs die rivier.


Die opvoubare hoed wat ek in Thailand gekoop het, kom baie handig te pas.


Groot en klein geniet die rit op die rivier.



Die interessantste is dat die mense hier nie met hul arms roei nie, maar met hul voete en bene. Hul hande hou die sambreel vas teen die son. Hulle is uiters vaardig!



Nou gaan ek iets soek om te eet!

Lekker aand vir elkeen!

Liefde Hanlie

No comments:

Post a Comment