Saturday, May 21, 2016

Die aartappel op Doha

Ek kan duidelik sien hoe Hendrik se oë rek toe ek nonchalant 'n middelslag aartappel op die tafeltjie tussen ons neersit saam met my paspoort, tandeborsel en selfoon. Die vraag stol op sy lippe en hy kyk my vraend aan. 'n Aartappel?

Ons sit in die Al Maha Lounge op Doha lughawe. Hendrik is 'n kollega van my. Ons stadsingenieur. Ons is oppad Brussels toe vir 'n konferensie saam met ons Stedeband munisipaliteit van Heist-op-den-Berg. Maar alle paaie lei na die Emirate. Veral as jy verbonde is aan supply chain regulasies en die goedkoopste opsie moet vat. Dan vra niemand of jy 8 ure moet oorsit op Doha nie.

Nou weet julle hoekom ek op Doha sit. Maar die aartappel toer saam vir 'n heel ander rede. Eintlik is daar net een rede: desperaatheid. Benoude katte maak benoude spronge en toe ek in Maart vanjaar radeloos vaak by my werk sit omdat ek nie kan slaap snags van rustelose bene nie, toe spring ek!!

In ons huis noem ons dit sommer kriewels. Minstens twee van ons vyf dogters kry dit erg. Ek en Christa. Baie raad en tref en trap later onthou ek Amoré se gesprek een middag op RSG met suster Nettie of Antoinette Pienaar. Sy sweer by aartappels in jou bed sit om rustelose bene te heel. In 'n whatsapp gesprek met my familie spekuleer ons oor die belaglike kuur. Hoeveel het jy nodig? Waar in die bed? Hoe lank? Hoeveel keer kan jy hulle gebruik? Ons raak selfs belaglik en my ma bied aan om vir my bedsokkies te brei met sakkies op die sole waarin ek my aartappels kan sit. Maar eks desperaat en sal letterlik enigiets probeer! Enigiets!!

Nou twee maande later toer my aartappels orals saam met my. Was Woensdag en Donderdagaand in PE, vrydagaand in Piketberg, vanaand in Doha en moreaand in Brussels. En my kriewels? Spoorloos! Nog nie weer n teken van nie. Dankie nurse Nettie! Jy het my lewe gered.