Monday, April 9, 2012

Regte, egte earl grey tee: Van sy ma af!


10 April 2012

Na my derde beker sterk, goeie suiwer engelse earl grey tee by die Plaza Lounge op KL lughawe, is ek gereed vir die dag. Die ooste weet net mooi niks van Earl Grey tee nie. Ek en Corne het orals in Thailand gesoek en een klein pakkie Twinings Earl Grey (baie flou) in ‘n winkel gesien vir R50! In Malaysia het hulle nog nooit daarvan gehoor nie. As ek ooit eendag hier moet bly, sal ek my eie fabriek moet begin of invoer vanaf die UK. Maar vanoggend s’n is super, eersteklas, wonderlike earl grey tee asof die ‘earl’ homself hier langs my sit. Heerlik!

Ek is oppad Singapore toe. My vlug is eers 10:25 en ek moet 09:40 deur C3 aanboord gaan. Maar ek is reeds 05:30 by die hotel weg. Hoekom weet ek nie, want die verkeer in Malaysia en KL word so goed gereguleer en hulle publieke vervoer is in ‘n ander klas as wat ek al gesien het. Daar is duisende taxi’s wat almal skoon, netjies, goedkoop en met vriendelike bestuurders nie kan wag om jou op te laai nie. Vanoggend se taxi was dieselfde. Jy kom skaars buite die hotel, dan stop die eerste een. Almal werk streng volgens die meter en 7 Ringgat is die minimum. My trip vanaf die hotel tot by die sentrale stasie was 21 Ringgat. (20 minute se ry) Dit sluit ‘n diensfooi en ekstra fooi in omdat my tas meer as 20 kg weeg. Jip, my tas is 23,5 kg. Ek het op 17,8 kg begin in Johannesburg. Het al amper 5 kg se persente gekoop!

Vanaf die sentrale stasie in KL vat mens die KLIA Express na die lughawe. Dis 100 km, maar die trein doen dit in net 28 minute sonder om iewers te stop. Ons kan baie by hulle leer. Die treine en busse en taxi’s is hiper skoon, niemand rook nie. Wat my die meeste beindruk op KL lughawe is hoe goed alles gemerk is, presies op die plek waar jy dit wil sien. Die persoon (seker ‘n vrou!) wat dit uitgedink het, het baie common sense gebruik. Mens weet heeltyd presies waarheen om te gaan.

Ek het gisteraand heelwat navorsing gedoen op die internet oor Singapore. Die Malaysiers se dat Singapore baie duur is. Dit klink vir my mense sukkel om bekostigbare vervoer daar te kry, maar ek sal sien as ek daar kom. Ek het 'n paar tree om in te haal, nadat die hitte in Malaysia my na taxi's laat gryp het. Daar is ‘n City Shuttle vanaf die lughawe wat nie te duur is nie. Die Singapore dollar is 80 sent teen die US dollar en daarom vir ons omtrent 6,5 tot 7 rand op elke SD. Bloedgeld!

Sover op my lys van goed wat ek wil sien, is Sentosa Island, Marina Bay, en Sands Skypark (dis die gebou wat op drie torings staan en bo verbind is met iets wat soos ‘n skip lyk). Wat hulle nie nog alles sal uitdink nie. Hulle het ook ‘n orgidiee tuin, botaniese tuin en ‘n voelpark, maar ek dink ek het dit nou gesien. Blykbaar is Singapore se aquarium baie goed. Singapore is nog nader aan die ewenaar en ja ek is ewe naar as ek daaraan dink dat ek nog warmer gaan kry. Ek sien vanoggend op die KLIA Express se weerberig dat dit net 16 grade maksimum in China is en net 12 grade maksimum in Japan. Ek kan doen met 'n ligte koeltetjie!

Vir die Wellingtonners: Ek het vir Choppie Chamberlain opgespoor. Hy bly nou in Hong Kong en ek gaan hom opsoek as ek daar is. Hy het al sy besonderhede vir my gestuur en ek sien uit na ‘n kuier in afrikaans. Hy se hy bly al 7 jaar daar en het sy eie konsultatsie besigheid. Gelukkig is ek oor 'n naweek in HK, so dit sal kan inpas in sy skedule. Lekker!

Nou moet ek my laaste draai gaan loop voor ek moet vlieg. Die vlug na Singapore is net 'n uur, so ek is nou-nou daar. Barend, baie dankie vir die fotos en lekker brief. Dit was so lekker om van jou te hoor.

Groete aan almal. Mag die tweede kwartaal vir almal baie geseend wees.
Ek mis julle.
Hanlie

No comments:

Post a Comment