Tuesday, June 29, 2010

Shampanje proe by JC le Roux in Stellenbosch











Een van die beste uitvloeisels van my verjaarsdag is dat baie van my vriende my bederf het met ervarings wat ek saam met hulle kan beleef. Drie sulke wonderlike geleenthede beskryf ek graag hier. My bybelstudiegroep het my bederf met 'n geskenkbewys vir 'n lekker pamperlang by 'n skoonheidshuis in Stellenbosch. Ek het die lekker so lank as moontlik uitgerek en twee verskillende bederfies bespreek.

Jo het my bederf met 'n vonkelwyn en nougat proe by JC le Roux in die Devon Vallei in Stellenbosch. Ons het op 'n Sondag gegaan en dit was absoluut fantasties. Ons het 5 verskillende vonkelwyne geproe (foto) wat elkeen gematch word met 'n bypassende nougat of fudge. Die eerste twee van links af was droer vonkelwyn wat ons nie algemeen in SA kry nie. Daarby was nougat in donker sjokolade en 'n turkish delight met melksjokolade om. Die middelste vonkelwyn was my gunsteling. 'n Heuning geur vonkel wat gepas word met 'n heuning nougat. Uit die boonste gestoeltes! Die laaste twee vonkelwyne is die rooie en witte wat JC so gewild gemaak het. My vriendin Azanda, glo mens moet altyd 'n bottel JC in jou yskas hou en dat 'n gewone maandag goed genoeg is om vonkelwyn te drink. Na ons bederf by JC het ek en Jo by Neethlingshof gaan eet. Wat 'n voorreg? Ek is 'n geseende!
Die derde ervarings-geskenk het gekom van Christa Domesle. 'n Broodbak kursus by Moreson Wynplaas in Franschhoek. Ons het dit op 22 Mei 2010 aangepak. Wat 'n dag? Mens voel net so getreat. Ons het agt verskillende brode gebak en die resepteboek op die koop toe gekry. Dit was vet pret. En elkeen gaan met 'n groot boks brood huistoe. Gelukkig het ons 'n familie fees in Wellington gehad die volgende dag en was daar genoeg monde om te help eet aan al die brood. Terwyl die brood bak, doen mens 'n wynproe en dan kry mens nog 'n heerlike ete op Moreson ook. Ek het dit regtig geniet. Vir die eerste keer in my lewe met regte gis gebak en lekker deeg geknie. 'n Peperbrood van karringmelk, olyfbrood, ciabata met vulsels van feta en songedroogte tamaties. Te heerlik! Dis nou regtig 'n dag om te gaan geniet met goeie vriende of familie. Ek sal dit vir enigeen aanbeveel.
Dankie aan al my vriende dat julle weet dat ek van ervarings hou en my seen met vele sulkes!