Wednesday, April 11, 2012

The answer to life

'n Vriend van my herinner my vanoggend aan Douglas Adams se boek: The hitch-hikers guide to the galaxy, waarin hy skryf: 42 is the answer to life, the universe and everything!" Ek is vandag 42 jaar oud. En hoe langer ek ouer as 40 is, hoe meer weet ek hoe min ek weet.

Vanoggend vroeg op die MRT trein staan ek langs 'n jong man van Singapoer wat 'n boek van Mitch Albom lees. Hy het ook 'Tuesdays with Morry' geskryf. Ek kon nie hierdie boek se naam so mooi uitmaak nie, want sy hand was voor die titel ek ek wou nie lyk of ek hom 'stalk' nie. Agterop die boek is 'n aanhaling: The road to wisdom is a continuous one and if you don't see the world, you won't know where you are on that road. - The wiseman.

Dis juis hoekom ek die wereld wil sien. Elke dag wat ek hier is besef ek hoe min ek van die wereld weet. Ek leer elke dag soveel goed en dit vat energie om alles te verwerk.

Vanoggend toe ek wakker word, is my voet lelik opgeswel. Ek dog eers dis van al die stap gister, want trombose soos wat ek gehad het na my knie operasie, hou nie van baie oefening nie. Dis eers toe ek by de venster uitkyk en sien dat dit in Singapore nog baie donkerder is 06:30 in die oggend as in Kuala Lumpur en ek terugklim in die bed, dat ek besef hoekom my voet so geswel is: Die bed in my kamer is minstens 25 cm korter as 'n normale bed en my voet het die hele nag afgehang grond toe! Pa, Braam, Petrus, Francois, Herman, Henko en al julle langes, julle sal net tot by julle kniee op die bed wees hier. Ek besef 'n normale bed sou nie in my klein kamertjie ingepas het nie!

Ek moet darem dankie se aan almal wat my nag so opwindend gemaak het. Herman het begin deur my 01:24 te bel vir my verjaarsdag! Dankie! Dit was heerlik. Surette se e-pos was direk daarna en ek was te opgewonde om te slaap.

Half agt is ek oppad. Hierdie hotel gee nie ontbyt nie en ek sal iets by Sentosa soek om te eet. Vandag is dit ek en Sentosa. Hulle beskryf dit as die speelplek van Asie. Dis die klein eiland net suid van Singapore. Ek vat die MRT vanaf Kallang na Outram Park en klim oor op die North East Line om by Habour Front stasie uit te kom. Dit alles vat net 20 minute en ek is by die kabelkarretjie toe hulle agtuur oopmaak. Hoekom ek tog altyd so op tyd moet wees, weet ek nie. Miskien kan ek dit begin afleer hier in die vreemde, maar ek besef ook as die weermag iets in jou indril en inskree, kom dit nie so maklik uit nie.




Die kabelkarretjie vat jou bo-oor die hele hawe - hoog bo in die lug - en mens kan pragtige uitsigte beleef en baie fotos neem. Hulle noem die karretjie 'the jewel box'. Dis nogal 'n shaky ride en dit op 'n nugter maag.  By die eerste kabelstasie kry ek 'n komplimentere mocktail. Dis 'n tipe cocktail met soda, granedine en lemon in. Baie lekker. Ek moet my ID wys vir die VISA kaartjie aankope en die man agter die toonbank is baie skerp en sien dat ek verjaar. Hy trek los en sing vir my happy birthday en moet dit toe alles weer doen omdat ek dit op my selfoon wil opneem. Hy lag net ek begin weer voor. Die wifi is te stadig om dit hier vir julle op te laai, maar ek het baie spesiaal gevoel. Hy sing baie mooi al mis hy drie tande in sy boonste gebit!

Sentosa is soos Disney World op 'n baie kleiner skaal en daar is selfs 'n Universal Studios ook. Ek het nie weer ingegaan nie, want ek was by die een in Florida en Los Angeles, maar die toue het tot wie weet waar gestaan daarvoor. Ek besoek eers die Imbiah lookout en doen 'n wilde rit in 'n 4D teater: Extreme Log ride. Dis ongelooflik. Langs my sit 'n vrou en haar ma. Ons maak dadelik vriende en wil dieselfde goed vir die dag sien, so ons beweeg van hier af saam. Haar naam is Jenni en haar ma is Espi. Sy werk vir Ethiad lugredery en het ingevlieg Singapore toe en haar ma saamgebring op 'n werks-free-bee. Die tannie is 71 en het 'n baie lekker gesindheid in die lewe. Sy wil alles sien en beleef en is baie hups vir haar ouderdom. Ons kuier heerlik saam tot na middagete. Hulle moet teruggaan, want Jenni doen vanaand se vlug Dubai toe. Sy bly in Dubai en haar ma in Sri Lanka.

Op die foto skree tannie Espi "Happy Birthday!" Dit was so lekker om hulle te ontmoet. Wonderlike mense!

By die Maritime Experiential Museum is ek eers nie baie opgewonde nie, maar dit is ingesluit in die pakket en ek dog ek is nou hier, doen dit nou maar. Maar wat 'n verrassing! Dit is so interessant en wys die hele 'maritime silk route' tussen die weste en die ooste vanaf die 9de tot die 19de eeu. Mens kry 'n paspoort en gaan by al die lande om en as jy hulle besoek het, gee hulle vir jou 'n stempel in jou paspoort. Dis dieselfde stempel as wat die hawens in daardie tyd gebruik het. Ek is 'n sucker vir sulke gimmics en het geduldig na elke land se storie geluister. My vriendin Marina Bruwer se al so lankal dat sy die Silk Route wil doen. Marina, jy sou mal gewees het hieroor.

Ek besef hoeveel van die Silk Route ek op hierdie toer van my in elkgeval doen, want die roete sluit in China, Vietnam en Malaysia. Dan ook Oman, Indonesie, Sri Lanka, Kenia en Indie. Ons kyk ook hier 'n 360 grade fliek oor 'n legendariese tifoon wat op een van die roetes 'n hele besending vernietig het. Dis ongelooflik wat hulle met tegnologie regkry. Die hele fliek skud en ruk en wind blaas uit alle rigtings. Vir dele van die fliek is mens onder die water op koraal riwwe en vir die deel wat die storm op die see woed word jy nat gespuit uit alle rigtings. Dis natuurlik vir almal aanvaarbaar hier want dis dwarsdeur die jaar so warm!

Toe is ek na die mees suidelike punt van die kontinent Asie. Ek was nou al by 3 kontinente se mees suidelike punte. Afrika s'n by Agulhas, waar die meeste van julle darem seker ookal was en ook Noord Amerika s'n by die Keys suid van Miami. By Palawan Beach is 'n lang toubrug waaroor jy moet stap en dan is jy daar. Daar klim mens ses verdiepings en kom by 'n uitykpunt vanwaar die hele Chinese Suid See voor jou le. Dis ook die naaste wat ek al in my lewe aan Australie was. My niggie bly in Australie en sedert eergister is ons in dieselfde tydzone!




Ek was ook by 'Underwater world' en het 'n dolfyn vertoning gesien. Hulle dolfyne hier is pienk. Ek sien ook 'n baie pragtige see-draak (of drakie) en die giant pacific octopus. Sien fotos.





Die groot seekat het te donker uitgekom. Hulle laat nie 'n flash toe nie.

Baie, baie dankie vir elkeen van julle wat aan my gedink het vandag met my verjaarsdag. Ek waardeer elke Face Book boodskap, e-pos en sms. Ek kan nie regtig oproepe ontvang nie, want dis net te duur en ek is nou op pay as you go! My Oumie (ma se ma) het ook altyd op 11 April verjaar. Ons kleinkinders het al almal vandag op FB gese hoe baie ons haar mis, want sy was nou 'n regte bok vir sports. Sy kon ure saam met ons kaart speel en elke stukkie "kroek" wat ek ken, het ek by haar geleer!

Dit is altyd lekker om te verjaar want mens besef weer wie jy almal aan jou kant het. Ek het 'n versameling fantastiese familie en vriende waarvoor ek die Here elke dag oneindig dankbaar is. Mag jou eie familie en vriendekring vir jou net so baie beteken. Mag ek so 'n vriendin wees soos wat ek by ander ontvang!

Daar is nou al 102 mense wat saam met my toer op die blog! Dit is ongelooflik! Dit help my om elke dag te bedink en te herleef en dis erg terapeties en laat my vergeet dat ek alleen toer. Ek sien al uit om te kom skryf. Dankie vir almal se positiewe terugvoer.

Laastens: Gisteraand toe ek terugstap van die MRT stasie af, soek ek iets om te eet en kyk by elke klein kafeetjie in om te sien wat hulle het. My hotel is in die chinese deel van Singapore en ek kan nie weet wat op die spyskaart is nie, so ek kyk in die vensters en op mense se borde om te sien of iets eetbaar lyk. By die volgende winkel kyk ek toe vas in 'n glastenk vol groot brul paddas wat wag om gekies te word as dis! Ek het so groot geskrik en 'n klein sprongetjie gegee na die ander kant toe. Toe het ek skoon vergeet om 'n foto te neem. Vandag het ek teruggegaan spesiaal om dit vir julle te gaan afneem! Vat so! Paddaboutjies! Dan bly ek eerder honger!





Praat van honger: Nou gaan ek 'n internasionale cuisine soek waar ek iets kan eet waarvoor ek my nie doodgril of doodskrik nie. Kan nogal 'n soektog afgee in die chinese kant van die stad. Miskien 'n stukkie steak of 'n skaap tjoppie! 'n Mens mag droom... dis immers my verjaarsdagete!

Gaan groot! Lief vir julle!
Hanlie

No comments:

Post a Comment