Monday, May 26, 2014

Bebos!

23 Mei 2014

Tydens een van die baie langnaweke in April kamp ek saam met vriende by Citrusdal warmbronne. “Hoekom skryf jy nie ‘n boek nie?” vra ‘n vriendin van my. “Oor als wat jy beleef in jou werk”. Ek werk by ‘n Munisipaliteit en sien gereeld die beste en die slegste kant van ons mensdom. En daar was al baie stories wat diep slote in my hart gelaat het.

Hierdie afgelope week beleef ek weer so ‘n storie wat definitief in die boek sou wees.

Haar naam is Elizabeth Kayster. Sy is 78 jaar oud. Haar vriende noem haar Lizzie. Sy woon in Aurora. Sy is die trotse ouma van drie kleinkinders, maar sy ken net die een. Die ander twee het haar seun gevat toe hy agt jaar terug by die voordeur uitgestorm het nadat hy sy Pa aangerand het in ‘n dronkstorm. Hy het self besluit sy Ma sal hom nooit weer wil sien nie. Vanoggend sit sy en verlang na die twee kleinkinders. Die oudste is seker al in die groot skool. Maar daar is nie vandag tyd vir top nie. Sy moet kerk toe. Sy moet haar saak met die Here gaan uitklaar. Haar suster het Vrydag haar toetse by Tygerberg gaan haal en haar laat weet dis terminaal. Sy ken nie so ‘n siekte nie, maar haar pastoor se vrou sê dit beteken jou tyd het gekom.

Daar bly vir haar net een ding oor wat sy moet doen. Sy moet Laaiplek toe om te gaan regmaak met haar seun. Sy Pa is drie jaar terug dood aan hartseer. Hy was nie by die begrafnis nie. Het ‘n nota gestuur saam met sy voorman.

Dit is Maandagoggend nog donker toe sy in die pad val. Mense met karre dink Aurora en Laaiplek is naby mekaar. Vir haar is dit 35km te voet. Sy stap so flink as wat haar jare en haar skoene haar toelaat, maar is bly toe sy laatmiddag ‘n lift kry vir die laaste 12. Die son het al gesak toe die man haar aflaai by Galjoenstraat 6 in Noordhoek. ‘n Vreemde vrou maak die deur oop. Vra nors wat sy wil hê. Sy soek haar seun en sy familie, sê sy. Kan sy inkom? Die vrou lag skril en sê sy’t hom lankal uitgesmyt. Sy weet nie waarheen hy is nie. Bly al jare nie daar nie.

Lizzie draai om en stap die nag in. Die seewind waai yskoud. Sy hou hoofpad langs waar daar ligte is en soek ‘n plek om te skuil. As sy net minder opsigtelik was; as haar blaas net minder vol was; maar haar helder trui was al wat sy het en die public toilet kos geld. Sy val verslae langs ‘n bos neer en treur oor haar seun.

Niksvermoedend sit ek Dinsdagoggend in ‘n Raadsvergadering. Ons bespreek die finale insette vir ons begroting. Rozanne laat roep my dringend. Daar is ‘n lid van die publiek wat NOU met my wil praat. Ek kyk gesteurd op en skud my kop. Wat kan so dringend wees dat een van die direkteure dit nie kan hanteer nie? Op die telefoon is mnr E d T. Hy is hoogs ontsteld oor die ongerief wat hom aangedoen is. Daar is onwettige plakkers in Velddrif. Ek skrik. Ons is seker die enigste Munisipaliteit wat nie ‘n plakkerskamp het iewers in ons area nie en dit is my werk om dit so te hou. Mnr E is woedend. Hy het onlangs van Blaauwberg af getrek Velddrif toe oor die ongemak wat hy en sy gesin daar moes beleef met die bedelaars. Dit is sy grondwetlike reg, sê hy, om vry van ongemak en ongerief te leef. Terwyl hy praat fynkam ek ‘google earth’ om te sien presies waar hy beduie. Ja, dit is munisipale grond. Nee, niemand het toestemming om daar te bou nie. Ja, ons sal iets daaraan doen. Ja, ek sal hom op hoogte hou. Ek verduidelik die prosedure, bedank hom vir die inligting en sit die plan in plek. Ons behuisingsmense en wetstoepassers word ontplooi. Binne twee ure het ek ‘n volledige verslag.

Die inligting is kort en bondig. Geen onwettige strukture, geen uitsettingsbevel nodig. Net een vrou onder ‘n bos. Haar naam is Elizabeth Kayster, ID no 3507201188089. Sy is op ons waglys. Het ‘n huis in Aurora. Sy sê sy het by haar kinders kom kuier.

Ek gee opdrag dat my mense haar terugvat huis toe.

Ek bel mnr E d T om terugvoer te gee. Ek vertel Lizzie se storie en verwag empatie, verligting, begrip. Toe my woorde opraak is daar ‘n lang stilte. Hy haal diep asem. “En nou vertel jy my ‘n tranetrekker sodat sy onwettighede kan aanvang!” “Magtig!” Skree hy, “Sy het toilet gemaak langs die pad!”

Daar is min kere in my lewe dat die publiek my sprakeloos laat. Ek dink ek kon dit op twee vingers tel. Nou drie.

Voordat die handstuk die telefoon raak, val my eerste traan op die keybord voor my. Ek is verslae. Ontnugter.  Nie oor Lizzie nie. Haar storie ken ek goed. Vir drie dae loop en maal die gedagtes deur my kop. Waar presies het ons van die wa afgeval? Wanneer het ons net vir onsself begin leef? ‘n Vrou in rou en nood. Terminaal. Verskrik. Bang en sonder heenkome. Op soek na haar twee verlore kleinkinders en ‘n seun wat lankal vergewe is, maar homself nie kan vergewe nie.

En mnr E d T se enigste behoefte van gerief en gemak.

Ek stap laatmiddag huis toe en loer kort-kort of ek nie dalk vir Oom Gert iewers sien nie. Hy is ons bedelaar in Piketberg. Ek wil hom roep en sê ek is jammer dat ek hom die laaste keer so afgejak het. Vir hom vra hoe dit met sy kleinkinders gaan...