Friday, April 6, 2012

Veilig in Kuala Lumpur

Malaysia hier kom ek! Die vlug was baie lekker. Ons was so min mense in die vliegtuig dat ons elkeen meer as 'n ry vir onsself gehad het en amper 'n kelner net vir jouself. Terwyl ek eet het hulle drie glasies koeldrank by my kom neersit en met sulke "asb tog ons het dit klaar geskink" gesiggies na my gekyk. Ek help graag. Die trippies toilet toe en terug is goed vir die bloedsomloop. Ons vlug was 1 uur en 50 minute vanaf Bangkok. Ek kon wraggies die hoogste twin gebou in die wereld uit die vliegtuig sien en wil dit baie graag in die volgende drie dae gaan klim. Hy is mooi verlig in die aand en dit sal 'n pragtige uitsig oor die hele stad gee.

Die kokkerotte in die hotel se gratis shuttle vanaf die lughawe het my bietjie senuweeagtig gehad oor die stand van die hotel, en ek het maar besluit om my kontaklense uit te haal soos wat ons in die army gemaak het as ons op vreeslike plekke moes slaap. Maar ek was verniet bekommerd. Die kamer is pragtig. Dis nou 23:55 plaaslike tyd en ek is klaar gestort met 'n koppietjie tee in die hand. Ek gaan nou kyk wat hulle kabel TV oplewer. Hulle kragpunte lyk heeltemal anders en ek sal eers more so een moet kry voor ek weer my rekenaar kan gebruik.


Malaysia is heelwat nader aan die ewenaar as Phuket en dis wraggies heelwat warmer hier as daar! Ek het nie gedink dis moontlik nie. Teen 23:00 vanaand was dit nog 30 grade celsius! Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek maklik warm kry. So hier loop ek nou maar van aircon na aircon. Vanaand in die vliegtuig vee ek net sweet af (dankie Elna vir die pakkie lappies!) en sowaar daar vra die chinese vrou langs my vir 'n Thai Air kombersie! Ek het amper 'n floute gekry. Nou weet ek nie hoe warm China gaan wees nie, maar duidelik is hierdie vir Chinese koud!

Op Kuala Lumpur lughawe staan ek vir die gratis shuttle en wag van die KLIA Concordia Inn en daar bederf die Here my met 'n pragtige 'couple' wat langs my staan en wag en met my begin gesels. Hy is Europees en sy van die Filipyne. Hulle bly nou in Singapore vir 5 jaar al, maar hy het eers in Wes-Afrika gebly en gereeld in Johannesburg gekom vir werk. Hy kan selfs 'n paar sinne in Afrikaans uitkry. Ek vra sommer vir hulle wat ek moet sien in Singapore en waar ek moet bly. Hulle se my hotel in die rooi lig distrik is pragtig en glad nie 'n probleem nie. Wel, ek het hom klaar gekanselleer. Hulle stem gelukkig saam dat die een wat ek nou het beter is.

Hoop elkeen van julle geniet die vakansie en paasnaweek. Laat weet asb hoe dit met julle gaan. Stuur mail na hanlinde@gmail.com Dit sal erg waardeer word.

Lief vir julle
Hanlie

No comments:

Post a Comment