Thursday, April 12, 2012

Raffles: die begin van dit alles...

As ek twee maande terug geweet het wat ek nou weet, het ek nooit net 4 dae in Singapore geboek nie!

Jis, ek het 'n fantastiese dag gehad. Ek het na agt eers opgestaan en is eers halftien na Kallang stasie om die MRT te vat. Oppad soontoe het ek nog nie regtig besluit waarheen om te ry nie. Ek wil vandag net rondloop en die stad geniet.  Ek besluit om die Noord-Suid rooi lyn te kry by Raffles Place. Daar aangekom onthou ek dat dit die stasie is waar daar elke dag duisende mense op en afklim en ek gebruik die exit en gaan kyk wat bo die grond aangaan. Die massas moet iets weet wat ek nog nie weet nie.

Maggies, en wat het ek nie tot nou toe gemis nie. Raffles Place is vernoem na Sir Thomas Stamford (ja dis  bedoel om 'n 'm' te wees) Raffles wat die eerste Brit was wat hier op 28 Januarie 1819 voet aan wal gesit het. Hy word in die volksmond die vader van Singapore genoem. Op die oorspronklike historiese plek waar hy sy boot parkeer het vir die eerste keer, is 'n standbeeld van hom met 'n mooi bordjie by.


"On this historical site Sir Thomas Stamford Raffles first landed in Singapore in 28th January 1819 and with genius and perception changed the destiny of Singapore from an obscure fishing village to a great seaport and modern metropolis."


Raffles MRT stasie kom uit tussen massiewe finansiele geboue. Sir Raffles sou baie tevrede gewees het as hy vandag die stad kan sien. Hy is in 1827 in Engeland oorlede. Die klein wit geboutjie op die foto hieronder is die MRT stasie.


Ek besef vandag dat mens 'n nuwe plek in lae leer ken. Soos 'n ui soos donkie op Shrek gese het. Die eerste dag sien jy net die groot uitstaande goed. Vandag sien en doen ek die detail van die stad en ek geniet dit vreeslik. Daar is die mooiste kunswerke orals. Singapore is werklik ook 'n kunsstad van die wereld. My gunstelinge is hieronder:


Hierbo is Salvador Dali se beeld getiteld: Gravity: Homage to Newton




Ek besoek ook die parlement, die stadshuis, die mooiste brue (Cavenach en Elgin), Victoria Teater, die Merlion, die waterfront, Orchard Boulevard en vele ander plekke. Dis nou maar eenmaal vir my die mooiste, skoonste en groenste stad wat ek al gesien het!


Toe ek die Merlion besoek (dis die kenteken van Singapore en 'n kruising tussen 'n leeu en 'n vis) word dit baie donker en bars daar 'n properse tropiese donderstorm uit en dit 11:00 in die oggend! Gelukkig is dit tyd vir my ontbyt en ek val die naaste kafee binne vir 'n sesame bagel met roomkaas en earl grey tee. Net 'n uur toe is die reen verby en gaan die dag voort!


Nou kyk: nie eers 'n massiewe reenstorm kry 'n oosterse toeris onder nie. Toe ek weer opkyk staan daar omtrent 50 oosterlinge in die reen onder opvou sambrele wat hulle non-chalant uit hul handsakke geruk het. Ek vergaap my. Die oom en tannie het selfs die regte kleur sambrele om die blommeprag te "match". Daar is ook toeriste met komplimentere sambrele van hulle hotel. Wel my hotel is net te cheap om komplimentere sambrele uit te deel. Nie dat hulle nie omgee vir die elemente nie! Hulle laat darem die brandalarm afgaan so af en toe.




Dankie, Johan Gerber, dat jy my laat weet het van die voetbrug tussen die Marina Sands Park en die res van die waterfront. Johan is 'n siviele ingenieur en weet dat hierdie projek, wat in April 2010 geopen is, 'n internasionale toekenning gewen het. Dis deur 'n Australiese maatskappy gebou. Dis in die vorm van DNA, hulle noem dit 'die helix' en dit simboliseer lewe, vernuwing en groei. Dis ongelooflik mooi en daar is ook 5 podiums uitgebou vanaf die brug vanwaar mens fotos van die hawe kan neem. Ek was mal daaroor. Kyk en besluit self! Die foto in die aand het ek van die internet af vir julle opgelaai. Ek gaan more-aand die laser show bywoon in die hawe en sal dit dan in die aand sien.




En toe is ek oppad na Orchard Boulevard! Almal wat hoor ek kom Singapore toe het gese: Jy moet Orchard Boulevard sien. Dis die 5th Avenue van Singapore. Wow, daar is groot malls. My voete is seer en ek soek 'n plek om vinnig 'n pedicure in te werk. Die groot malls is duur, maar dankie tog vir die Far East Mall. Ek kry 'n pedicure vir net 6 SD en ek is in. Die meisie verstaan bykans geen engels nie en ek geen van watse taal sy ookal praat nie en daarom is daar ruimte vir misverstande. En so was dit toe ook...

Sy vra dat ek 'n cutex kleur uitsoek en ek bly by my eiland oranje (ek gaan immers van Saterdag af op 'n junk boot in Halong Bay rondvaar). Sy is tevrede met my kleur en begin my voete maseer na al die geskrop en geknip. Dis so lekker dat ek 'n klein middagslapie maak. Toe ek my oe oopmaak het sy my tone klaar geverf en sommer die tradisionele Singapore manier van glitter bo-op gesit. Ek skrik en wou nog iets se, maar sy lyk so in haar noppies dat ek dit maar los. Hoe se hulle? When in Rome... ?


Christmas Kat sou my Oumie gese het! As julle lag doen dit asb net agter my rug. As ek dit nie hier doen nie, wanneer sal ek? Mens is nooit te oud om iets nuuts te probeer nie. (Dis baie minder blink op die foto as in die regte lewe.. Ek skrik nog elke keer as ek dit sien!)


Toe is ek so mooi opgedress met nerens om heen te gaan nie, dat ek sommer besluit om te gaan fliek in hulle IMAX 3D. Ek sien 'n romantiese storie: The Vows en geniet dit baie. My bene is nogal moeg na die baie stap. Ek het nou al altesaam 125 801 gemeterde tree gestap op my toer. Ek wil graag 1 miljoen tree doen!

Ek wil graag ook hier 'n paar mense onthou wat ek ontmoet het die afgelope week. Eks bang ek vergeet soos ek aangaan. In Malaysia was een van die taxi bestuurders baie ontsteld toe hy agterkom dat ek vrou-alleen toer en hy vra ontsteld of ek dan nie 'n Pa of 'n man het nie? Hulle moes van beter geweet het! se hy.  Ja, oom, ek het 'n Pa en 'n pa en dis juis omdat hulle van beter weet dat ek hier is!

Gisteraand op my marathon busrit ontmoet ek vir Torey. Sy is 'n yoga instrukteur in Singapore sedert Januarie 2012. Sy kom oorspronklik van California af. Sy is baie gelukkig en Singapore en is veral beindruk met haar interaksie met die mense van Singapore.

Vandag ontmoet ek vir Alison. Haar man is 'n besigheidspersoon en werk in Singapore die week. Hulle kom van Philidelphia in die VSA. Ons gesels heerlik. Sy was 'n maand terug vir vakansie in San Francisco en gee my goeie raad oor wat ek behoort te sien. Die Napa Valley is hoog op haar lysie.




More is my laaste dag in Singapore voordat ek vroeg Saterdag vlieg Hanoi toe in Vietnam. Ek wil more soveel goed sien, dat ek sal moet wikkel. Die dieretuin en Chinatown is hoog op my lysie. Die Singapore dieretuin word gereken as een van die beste 5 dieretuine in die wereld! Dit gaan 'n lang dag wees, want ek wil ook graag die laser vertoning in die waterfront gaan kyk en dit is eers 21:00 more-aand.

Vandag was stunning! Ek hoop jy het ook minstens een nuwe ding gedoen wat jy nog nooit gedoen het nie! Dis terapeuties!

Mis julle. Hanlie

No comments:

Post a Comment