Thursday, May 26, 2011

15 jaar se nuwe lewe...

Vandag 26 Mei 2011 is dit presies 15 jaar sedert ek dood moes gewees het. Ek het op 26 Mei 1996 van Vredendal na Potchefstroom gery met my Ford XR3. Ek was nog voltyds in die weermag en moes die volgende oggend aanmeld vir 'n Inligtingskursus. Net buite Loxton het ek agter die stuur aan die slaap geraak, van die pad af gery en toe ek wakker skrik die stuurwiel geruk en my kar gerol. Die hele kar was opgefrommel en afgeskryf en ek moes definitief doodgewees het. Maar ek was nie.

Op daardie stadium het ek geweet ek het 'n tweede kans op lewe gekry, maar nog nie geweet hoekom nie. Nou 15 jaar later weet ek presies hoekom en geniet ek elke oomblik. Dis genade! Ek is elke dag opreg dankbaar vir die tweede kans. Ons God is immers 'n God van tweede kanse. Ek het myne gekry.

Sunday, May 22, 2011

Vir Morgan...

Jou ma het op 16 by 'n dronk man gelê.
Vir een nag se plesier moes sy jou toe hê.
Drie maande later is jy verkoop,
maar die polieste en die welsyn
het met jou weggeloop.
'n Interdik en 'n hofsaak later
is jy Lena s'n.
Kan 'n mens se lewe so begin?

Friday, May 20, 2011

'n Lift vir Lena

Ons is al buite Stellenbosch. Ek jy en Morgan, toe jy vir my vra of jy ons op die pad kan sit. Ek was nog besig om te dink wat dit beteken, toe bid jy al. Ek luister oopoe hoe jy in nederige woorde met ons God praat. Dat hy ons sal beskerm op die pad, dat hy my nugter sal hou... Jy praat later onophoudelik. Jou oudste suster is dood. Julle was ook vyf. Jy moet Klawer toe gaan vir die begrafnis. Jy is op Victoria-Wes gebore en werk nou op Stellenbosch en verder was jy nog nêrens. Dit is Malmesbury sê ek. Jy was nog nooit daar nie. Dis Moorreesburg sê ek en jy sê jy het al daarvan gehoor. By Piketberg stop ek vir tee. Jy drink koffie en skut die stukkende koekies van die motorsitplek af wat Morgan verfrommel het. Hy sal later vanjaar twee wees sê jy. Hy is jou pleegkind. Ek vra uit. Dis ‘n kind in jou familie se kind. Sy wou hom verkoop toe vat die welsyn hom. Almal in die familie is ingeroep en die familie het jou gevra om hom te vat. Morgan is gestremd. Verstandelik en fisies. Jy klou aan hom en hy aan jou.

Jy vergaap jou aan Piekenierskloofpas en sing saam met elke Juanita du Plessis liedjie op my Ipod. Kyk al die groot trokke sê jy. Kyk die lemoene. Kyk die groot dam. Is hy altyd so leeg? Clanwilliam gaan verby in stilte. Jou suster moet jou kry by Klawer se garage maar sy antwoord nie haar sel nie. Jou airtime is op en ek maak oproepe in die ry. Ons kry niemand tuis nie.

By Klawer kry ons ‘n adres. Iemand het gehoor iemand anders het gesê dis net agter die polisiestasie. Ek ry. Agter die polisiestasie is Klawer se hele plakkerskamp. Stukkende halfklaar strate met vullis en riool. Baie honde, harde musiek, kinders orals. Die derde man vir wie ons aanwysings vra is nugter en klim in om saam te ry. Dis dan 'n hok! fluister jy. By die derde straat links laai ek jou af. ’n Klein sinkplaathuisie vir vier susters en hul gesinne. More is begrafnis. Jy het kos gebring, brood en sap en vrugte. Ja sê jy dit is reg, jou broer sal jou garage toe bring Sondag. Ek ry en los jou en Morgan tussen die chaos. Jou suster sê sy wil ook in die kaap kom werk... tot ’n chauffeer ook, magtig dis lekker sê sy.

Ek ry die sirkelpad uit die plakkerskamp en vat die pad Vredendal toe. Ek wil huil. Oor jy wat ’n pleegkind vat, jy wat niks het nie, wat nog nerens was nie, wat jou ousus verloor het en wat halleluja liedjies in my kar sit en sing omdat jy so dankbaar is dat die Here so vir jou sorg.

Ek dink oor die telkemale die afgelope maande wat ek opstandig was oor my droom nie waarheid word nie en weet summier my ondeurdenkte lewe is jou en duisende se droom.

Tuesday, May 17, 2011

'n Dag om te onthou

18 Mei 2011 sal onthou word as miskien die laaste plaaslike verkiesing in sy huidige vorm. Ek het vroeg gaan stem en sommer my stemmery ingewerk in my oggend stappie. Toe ek 07:15 by die stemlokaal kom was daar reeds 'n langerige ry. Duidelik is daar baie meer belangstelling as in die verlede. Ons wyk het sewe verskillende kandidate wat vir die wyk staan, maar net een kandidaat het 'n stalletjie buite die lokaal gehad. Waar was die ander ses? Die IEC in ons lokaal was goed georganiseerd en alle shet glad verloop. 15 minute in en uit. My grondwetlike plig vir die dag is afgehandel...

Nou sit ek voor die TV en kyk hoe die res van die land stem. Vuyo en Leanne van Morning Live gee realiteits televisie 'n nuwe betekenis. Ek kan nou in my eie sitkamer sit en kyk hoe Helen Zille en Jacob Zuma se nuutste vrou stem.

My dag is nog lank nie verby nie. My familie plig na afloop van my grondwetlike plig, le voor. Ek brei vir Babajana 'n trui. Dit is Melindie se pop. Nadat ek gisteraand Melindie (my sussie Elna se jongste van 3 jr oud) se trui afgelewer het, is ek summier ingelig dat Babajana dieselfde trui moet he. Nou gelukkig is Babajana se mates omtrent 5cm by 7cm so dit sal nie te veel van vandag opneem nie.

Mag elkeen van ons 'n goeie ervaring he van ons stemmery vandag. Dit gee my 'n sin van mag en die heerlike ervaring dat jy 'n verantwoordelikheid het en "a sense of achievement" as mens deelgeneem het. In my dorp raak die verkiesing my werk direk. Ons kry die politieke verteenwoordigers wat ons verdien en vir die afgelope tien jaar was dit min of meer chaos. Mag vandag anders wees.