Tuesday, May 7, 2013

Saaityd...

Nou weet ek wat julle dink. Wat weet Hanlie van boerdery af? Die antwoord is maklik. Niks!

Maar ek leef nou al vir vyf maande in 'n area waar boerdery die hoof aktiwiteit is en ek leer elke dag soveel nuwe dinge deur die kennisse en vriende wat ek die afgelope tyd gemaak het.

Die ding wat ek die hardste moes leer is die risiko's, tydsberekening en wetenskaplikheid wat met boerdery gepaard gaan. Iets wat ek nog nooit bedink of bereken het nie. Ek koop vleis, vrugte en groente, graanprodukte en melk maklik van 'n rak af sonder om verder te dink as wat ek daarvoor moet betaal en wat ek daarmee gaan maak.

In Piketberg en omgewing is dit die enigste gespreksonderwerp vir die afgelope twee maande: Wanneer gaan dit reen? Hoeveel gaan dit reen? Is my implemente reg? Is my mense gereed? Wanneer kom die volgende staking? Hoeveel moet ek hulle betaal? Hoe lank gaan die winter wees? Het ek genoeg voorbereiding gedoen? Watse skuiwe moet ek maak op die skaakbord en sal dit werk? Hoeveel kan ek waag? Die hele boerdery bedryf is 'n waagstuk met enorme risiko's vir die spelers. Elke skuif kan jou laaste skuif wees.

Gisteraand ry ek en 'n mede munisipale bestuurder van 'n ander dorp terug van 'n vergadering af in Worcester. Ons ry verby Porterville oppad Piketberg toe en op elke land is daar ligte. Elke boer is in die veld besig om te saai. Na deeglike oorweging en met volle hoop en vertroue dat hierdie week die regte tyd is om klein saadjies in die grond te sit met die hoop dat die omstandighede reg sal wees om 'n oes te lewer.

Ek is nie 'n boer nie, maar ek besef die afgelope tyd ek is ook 'n saaier. Ek saai tyd, energie en dienste in 'n gemeenskap waar die omstandighede 100% reg moet wees vir die saad om te groei en 'n oes te lewer. As die tydsberekening verkeerd is of die saad op verkeerde grond val, sal die oes misluk en die onkruid lustig groei.

Ek lees in my bybel dat almal van ons wat kinders van God is saaiers is wat elke dag saad saai in grond wat vrugbaar of onvrugbaar is. Soms raak ons moedeloos as ons niks sien opkom nie. Ander kere is ons verbaas oor die goeie vrug wat die Here bewerkstellig.

Vir al my vriende wat tans besig is om te saai... dankie dat julle my horison verbreed het. Dankie dat julle volhard met die skaakspel, al is dit hoe moeilik! Dankie dat ek kan leer dat die brood wat ek eet 'n hoogs gereguleerde en moeilike pad gevolg het om op my bord te beland. En dat ek minder onnadenkend verby saailande moet ry en moet sien en inneem dat 'n groot sektor in ons land uiters moeilike omstandighede daagliks trotseer om produkte te lewer wat die meeste verbruikers as absoluut vanselfsprekend aanvaar. Mag julle rekord-oeste lewer hierdie jaar!