Sunday, July 20, 2014

Rusland vervolg




Ek is skuldig! Ek is al weer sewe werksdae terug by die werk en het nog niks verder vertel van Rusland nie. Ek is jammer, maar my voete raak nie grond nie! Vrydag kry ek 'n gereelde blogleser van my in Malmesbury en sy maak my belowe dat die naweek nie sal verbygaan sonder dat ek vertel het nie.
Rusland is 'n belewenis! As jy nog wonder of jy moet gaan... jy moet! Sit dit dadelik op jou emmerlysie. Ek het baie die afgelope week gewonder hoekom dit vir my so lekker was. Daar is vele moontlikhede en ek dink die waarheid le iewers tussen hulle. Ek noem net 'n paar:
1. Ek het die voorreg gehad om saam met my ouers te toer. Ons is 'n hegte familie en dit is vir my altyd lekker saam met hulle, maar om 'n nuwe land saam te ontdek is soveel meer spesiaal.
2. Ek het 'n puik kajuutmaat gehad! Toe ek inskryf vir die toer het ek verneem dat as jy alleen boek jy R9000 meer moet betaal vir 'n enkel kajuut. Al se jy jy is bereid om saam met enige een te deel, is dit steeds jou verantwoordelikheid om iemand te kry. Bietjie onregverdig het ek gereken en begin rondsoek vir iemand om saam te gaan. Een van my oudste sussie se vriendinne het belanggestel. Na dese is sy definitief een van my vriendinne ook. Dankie Anna-Louise Ackermann! Jy is 'n puik reismaat! Ek het elke oomblik in ons kajuut geniet. Dankie dat jy die lewe aangryp en LEEF!
Hier is Anna-Louise met haar Roebels. Rusland se geldeenheid is Roebels en daar is drie Roebels op een rand.


3. Rusland was vir so lank verbode terrein vir die Weste en het ons maar min geweet wat daar aangaan. Die misterie het omgesit in verwondering toe ons daar is en dit was heerlik om nuwe goed te sien en te leer. Hulle het 'n fasinerende geskiedenis en alles was so anders as wat ek myself voorgestel het.

Watter prentjie is in jou kop as jy dink aan Rusland? Moskow? St Petersburg? Kommunisme? Sosialisme? Soviet Republiek? Als wat ek geweet het, het ek in Politieke Wetenskap 3 geleer. En daarvan kon ek maar min onthou, maar my idee was redelik verstok. Vaal grys woonstelgeboue, vervalle dorpies, ou mense, ek weet eintlik nie wat ek gedink het nie. As dit ook min of meer jou prentjie is, sal die fotos wat jy hieronder gaan sien, jou skok!

Die woorde wat my na dese aan Rusland laat dink is eerder weelde, pragtig skoon, boomryk, blomme, interessante mense, somer, water, eilande, heerlike kos en vodka!

Ons het die kanale vaart gedoen van St Petersburg na Moskow. Van die vliegtuig af vat hulle jou direk met 'n luukse bus na die boot. Daar pak jy af in jou kajuut en besoek St Petersburg vir drie dae vanuit jou hotelboot. Dan begin jy vaar vir ses dae en dan is jy weer drie dae in Moskow vasgemeer en besoek jy die stad vanuit die hotelboot.



Ons het met Turkish Airline gevlieg via Istanbul




Leonid was ons gids in Moskow. Hy het ons gekry op die lughawe toe ons die eerste keer deur Moskow gevlieg en gery het oppad na St Petersburg. Raak maar gewoond aan sy leeu hempie (sy vrou was in die Kruger Wildtuin en het vir hom die hempie gebring as 'n geskenk. Hy het elke dag van ons hele toer hierdieselfde hempie en jassie aangehad. :-)

St Petersburg


Een van die kamers in die Catherine's Palace in Pushkin naby St Petersburg. Ongelooflik!

Die goud hier langsaan is glad nie goud nie. Dit is amber. Amber is versteende boomgom! En 'n hele amber kamer in die Catherine's Palace stal die beeldskone versteentes uit. Ons mag nie daar fotos geneem het nie, maar ek het my video op my selfoon laat loop en later hierdie "screenprint" gemaak. Julle dit is ongelooflik mooi, maar natuurlik heeltemal oordoen.
 Die eerste aand in St Petersburg het ons 'n bootrit gevat op die Neva rivier. Ek moes 'n Russiese hoed aanskaf vir die koue! Hanlena Lindenevkov!

Pietman en Marelize Diener het saamgetoer en elke minuut van elke dag lekker gemaak!

Ek en my ouers voor die baie bekende Hermitage Kunsgallery in St Petersburg. Daar is 3 miljoen stukke kuns in besit van die Hermitage, maar net 1 miljoen word op 'n slag uitgestal. Die res is op wereldtoere en gestoor. As 'n mens 5 minute by elke kuns artikel stilstaan en kyk, sal jy ses en 'n halwe jare nodig he om dit te sien. Ons was omtrent drie ure binne! Maar gesien het ons gesien!

Die pragtige dak van die Hermitage.
Ek vertel more verder. Die res van my fotos is op my ander rekenaar.







Daar is nog vele stories wat vertel moet word, maar vanaandhet my 3G so stadig hierdie fotos gelaai, dat ek nie verder kan vertel vandag nie. Ek probeer later weer.

Geniet dit! Begin solank Russies leer.

Hanlie

Tuesday, July 1, 2014

Eerste ordentlike wifi in Rusland

Hallo julle!

Julle dink seker al ons het nooit in Rusland aangekom nie! Maar ons het. En wat n fees is dit nie? Ons voete raak nie grond nie. Letterlik natuurlik omdat ons op n boot vaar, maar ook figuurlik omdat ons nog elke oomblik van elke dag besig was om nuwe horisonne te ontgin. Rusland is vir my splinternuut. En heel anders as wat ek myself voorgestel het. Omdat hulle ook deel is van die BRICS saam met Indie en China het ek half n kombinasie daarvan verwag. Maar moenie jouself flous nie.
Rutland is 'n groot verrassing. Dis lekker om hier saam met n groep te toer, want ons sal baie lank vat om oor die weg te kom met die russies. My Pa is al baie goed met die taal. Deels omdat hy die russiese alfabet opgeswot het voor die tyd en deels omdat hy uitstekend is met tale en grieks en hebreeuse agtergrond het.

Gister was ons eerste vol dag in St Petersburg. En het ons nie baie goed gesien nie! Van St Catherines Palace tot die paleis van Peter the Great. Gistermiddag het hulle ons ure rondgery in n luukse bus en al die besienswaardighede gewys. Vandag was ons by die Hermitage. Julle! Wat sal ek se? Ongelooflik! Meer as drie miljoen besienswaardighede wat deur die Russiese Staat by die tjars en emporers afgevat is tydens die soviet regering en bewaar word vir die publiek. Ons het ure en ure net gestap en als gekyk. My mond het letterlik oopgehang. Ek tik nou op 'n mede toeris se ipad, want my foon wil nie wifi opvang hier nie. Ek weet ook nie hoeveel wifi ons sal he as ons vanaand uitvaar nie. Hier gaan die son eers half twaalf onder en kom half vyf op!

Ek moet nou eers fancy gaan aantrek vir die kapteinsverwelkomingsete. Ek skryf later weer. Sodra ek kan, maar ek belowe ek hou boek en sal dit opsit sodra ek kan. Goeie vakansie vir almal.

Baie liefde

Hanlie