Wednesday, April 4, 2012

Thaise kookkuns


4 April 2012

Haar naam is Kelly. Sy is piepklein en het eers ‘n gastehuis bestuur. Nou gee sy kookklasse en vandag het ek een by haar gehad! Ek het besluit om in soveel lande as moontlik ‘n kookklas te neem. Thailand se kos is besonder geurig en hulle gebruik soveel meer speserye as ons. Sekerlik ook die Malayse invloed.

Sy kom laai my op by die hotel om 13:45. Haar kookskool is in Kata Noi. Dis net langs ons deel van Kata en beteken "die nuwe gedeelte" van Kata. Haar assistent is Sammy. Ek leer om drie tradisionele disse te maak: green curry, tom yum en pad thai. Die laaste een is my gunsteling. Sy begin deur vir my al die resepte te gee en ek moet dit eers deurlees. Ek doen en ons begin. Sy wys my al die bestanddele en dis nogal nodig, want hulle gebruik ander goed as wat ons ken. Ek kook ook vir die eerste keer met tofu en leer hoe om dit reg te gebruik. Dis verbasend lekker as mens weet hoe.

Tom Yum is ‘n sop en daar kom suurlemoen blare in wat hulle “kaffir lime leaves” noem. Toe sy hoor ek is van SA se sy dadelik dat ek dit nie so kan noem nie, maar net moet praat van lime leaves. Duidelik was daar al SAners by haar kookklasse. Ek leer baie. Hulle kook in ‘n “wak” (ronde tregtervormige pot) op lae hitte. Die disse is vinnig. Ons gebruik vandag eiervrug, spruit bone en garlic chives en gemengde groente. Die eiervrug hier is klein groen goedjies wat meer herinner aan 'n albino skorsie met 'n sagter skil. Hulle gemengde groente kom in ‘n pakkie en lyk soos duitse “sour crout”. Als kry coconut melk of carnation melk in om die speserye af te koel. Sy gooi een lepel carnation melk in die green curry en vra of ek kan sien hoe romerig dit is! As sy maar weet wat ons in SA romerig noem! Hulle eet baie gesonder as ons.

Op die foto van die disse is dit kloksgewys van links bo af green curry, tom yum en pad thai in daardie volgorde:






Coriander en Cumin saadjies is ook baie gewild. Sy droog dit op haar stoep. Sonkrag is hier volop! Die snaakste spesery wat sy gebruik wat ek nog nooit gesien het nie, is Galangal. Dit lyk soos ‘n vars gemmerwortel, maar smaak heel anders. Sy laat my proe en ek begin dadelik onbeheers nies vir seker 10 – 12 keer. Sterk! Ek kry ‘n sjef hoed en koop ‘n voorskoot by Kelly, want haar patroon is anders en baie meer prakties. Ek vat al die kos in verseelde plastieksakkies terug hotel toe dat Corne my kan help eet en alles proe.

Corne het intussen ‘n “fruit carving” klas by die hotel gedoen en dit ook baie geniet. Sy leer om tamaties, komkommer en spanspek pragtig te versier. Van nou af sal sy alle vrugteborde vir elke Linde saamkuier moet voorberei! Sy kry ook die carving knife ingesluit en ‘n mooi sertifikaat!



Die aand loop ons rond in Kata Noi en soek ‘n lekker restaurant op die see. Ons is lus vir pizza. Almal swem nog in die warm water en ons besluit om dit ook more-aand (ons laaste aand hier) te doen. Ons kry ‘n baie besonderse restaurant onder ‘n massiewe boom en op die see. Daar is ‘n oom en tannie by die tafel langs ons wat sjampanje drink en mens kan sien die tannie maak ‘n mooi (lang) toespraak en toe die oom. Ons spekuleer dat hulle seker 50 jaar getroud is. Ek gaan bied aan om vir hulle ‘n foto te neem van die geleentheid en was skaars terug by ons tafel toe staan die oom daar met ‘n groot Toblerone Switserse sjokolade om vir my dankie te se. Dis die tannie se 71ste verjaarsdag. Hyself is 73. Hulle is van Switserland en het dit baie waardeer dat ek hulle kom afneem het. 





Terug in die kamer kry ek ‘n boodskap van Hannelie Lategan (oud kollega) en e-pos van Birgit. Albei dra slegte nuus. Hannelie laat my weet dat ‘n kollega van my wat in my direktoraat gewerk het, Charmaine Moses, skielik oorlede is. Sy was jonger as ek! Birgit laat weet dat sy ‘n vriend van haar in Singapore gemail het en vertel het van my wat daar gaan wees en dat hy en sy gesin hulle oor my moet ontferm. Sy noem die naam van my hotel en hy laat weet dat dit nie ‘n goeie keuse is nie. Dis in die middel van ‘n rooi lig distrik en ‘n hotel wat by die uur uitgehuur word. Oeps! Ek sal more-oggend dringend kanselleer en ‘n ander blyplek soek. Dankie Luke en Birgit vir die waarskuwing! Gelukkig kan ek nog tot 7 April 2012 kanselleer met volle terugbetaling.

Nog ‘n heerlike dag is agter die rug! Ons het nog net een vol dag oor en sal dit maksimaal benut. My gedagtes is by Charmaine se familie. Ons lewe is kort en ons moet die tyd wat ons oor het optimaal benut en goed wees vir mekaar en ander.

No comments:

Post a Comment