Tuesday, April 24, 2012

Lank sal hul lewe!

'n Vriendin en ex-kollega van my herinner my gister daaraan dat haar kinders en ander dalk my blog sal wil gebruik om skool take oor verre lande te doen. Nou spits ek my ore nog meer en is daar baie druk op my om al die feite 100% korrek te kry. :-) Julle ken my as iemand wat nie juis toelaat dat feite tussen my en 'n goeie storie kom nie, maar ek probeer die blog so korrek as moontlik hou.

Vandag is my tweede dag op die Big Bus en dis steeds 'n groot belewenis. Dis regtig waarde vir geld. Ek het die een in Kaapstad ook twee keer gedoen sedert Desember 2011 en kan dit vir enigeen aanbeveel. Dis professioneel, op tyd, baie skoon en hul inligting is baie goed en interessant. Ons het die topless bus in Kaapstad gery met my oudste sussie se verjaarsdag op 22 Desember 2011 en in Januarie 2012 was ek en 'n vriendin en drie van ons Vredendal pelle op die bus om hul dogter se verjaarsdag te vier. Beide trips was heerlik! Vandag ook!

Hulle vertel vir ons heelwat van Hong Kong en ek probeer onthou wat ek kan. Een van die goed is dat Hong Kong die tweede hoogste lewensverwagting in die wereld het. Hulle is op 82,2 jaar en tweede net teen Japan. Ek skype vanmiddag met Francois en hy dink dis Okinawa in Japan wat 1ste is. Google bevestig Japan op 83, 5 jaar, maar se nie waar nie! Dis baie. In SA is dit 49,3 vir mans en en 50,6 vir vrouens. Dis seker ons rooi vleis en 'road rage'!

Die ander interessante inligting is dat die Chinese alfabet 47 000 karakters het! Ons s'n het 26. Dis die dat hulle langer moet leef om tyd te he om als te leer!

Ek skop natuurlik my dag af met 'n Earl Grey tee by Starbucks. Dit bly lekker. As ek plek in my tas gehad het, het ek 'n pakkie gekoop. Dis blare tee in 'n groot piramiedvormige sakkie en smaak hemels. Ek vrek oor Earl Grey tee. Vandag doen ek weer die groen roete, want hy stop binne tien minute by die Victoria Peak trem. Dis ongelooflik wat hierdie mense alles bou. In 1883 (ja, voor die Anglo Boere-oorlog) het hulle al hierdie trem sisteem gebou. Dis 1,4 km lank en klim teen 'n baie steil pad die Victoria heuwel uit. Bo is nie net 'n uitkykpunt nie, maar 'n sewe verdieping inkopiesentrum. Ek het meer as twee ure daar deurgebring.

Oppad af sit 'n mens agterstevoor om en ek dink dit was veel beter as om die afgrond van voor af te besigtig! Dis steil!

By die ingang staan China se president om ons welkom te heet en hy laat toe dat ek hom afneem. Hys baie gaaf! Nee, dis die wasbeeld van hom by Madame Tussauds in HK wat ook op Victoria Peak gelee is. Julle sal hoor dat die Britse invloed nog baie sterk in HK is.


Die president van China: Hu Jintao. Dankie Oom, ek kuier lekker in jou land.


Daar is twee trokke in die trem en hy kan 9000 kg hanteer.



Nou lyk dit nie so steil op die foto soos in die werklike lewe nie, maar glo my! Dis erg!

Die Hong Kongers hou nie van opdraend loop nie. Die trem is een manier om bo te kom. Daar is vier stasies op die trem en self gewone nie-toeriste gebruik die trem daagliks om by die huis te kom van onder in sentraal HK af. Die ander vervoermiddel wat hulle vir hulself geskep het, het die Guinness World Records gehaal. Dis die langste roltrap in die wereld. In 1993 het HK 240 miljoen HKD uitgeruk en 'n roltrap gebou van 800 meter oor 14 dwars strate. Die roltrap klim 135 vertikale meters. In die oggend van 06:00 - 10:00 loop dit van bo af onder toe en bring 55 000 mense werk toe. Na 10:00 draai die roltrap om en vat dit mense terug boontoe vanaf 10:30 - 24:00. Dit kos die regering 1 miljoen HKD per jaar aan onderhoud.

Dis amazing om te sien.
Hier onder is dele daarvan te sien.



Die uitsigte van Victoria Peak af. Dis die hoogste uitsig in HK en ek staan op 428 meter en neem.
Hong Kong het meer as 8000 'sky scrapers'. Dis by verre die meeste in die wereld en meer as dubbel die van sy naaste kompetisie naamlik New York in die VSA. Hier word ook ongeveer 160 nuwe reuse gebou elke jaar, so NY sal moet wikkel as hulle wil inhaal.


Op die foto bo sien julle die twee groot reuse aan beide kante van Victoria Baai. In die nuutste Batman fliek (2011) swaai hy blykbaar tussen die twee geboue. Ek sal dit nou met ander oe bekyk. Die een aan die oorkant van die water is die ICC waar ek gisteraand op was. Hy is 4de hoogste in die wereld. Die een hierdie kant is die 9de hoogste gebou in die wereld.

En toe kom die mis in en dis als oor.



Vandag het ek my nuwe Malaysia hemp gedra. Dis koel. Die sticker op my bors is om al die gebruikers van die Big Bus uit te ken.

Na 'n middagete in 'n Japanese restaurant, is ek die berg af en oor die hawe na die blou roete. Daar kry ek twee Australiers en ons toer heerlik saam verder.  Die blou roete verken Kowloon. Dis ook waar ek bly. Kowloon beteken 'area van die nege drake'. Dis ook maar goed mens weet nie als vooraf nie. Op die roete besoek ek die bekende en gewilde Ladies Market in Mong Kok en kry ek ook 'n voet massering by 'n baie sterk chinese man. Heerlik!


Japanese salm pizza en brokkoli met swart tee.

Oe!! Die mense in Hong Kong is erg gesteld op 'brand names'. Choppie se vir my hy het maar vir hom nagemaakte 'brands' gekry, want die mense wat saam met jou werk is baie gesteld daarop dat jy 'n Rolex moet dra of Prada skoene moet aanhe. Dis 'n teken in HK van die fortuin wat hulle hier gemaak het.



Bekende mark in Graham Straat Central HK.


Vir al my ingenieurs pelle: So bou HK met bamboo stelte. Die onderste blou bamboo skerm vang als wat val!
 Die Ladies Market in Mong Kok. Jip, ek het bietjie gekoop ook! Uitstekende pryse.


My Chinese voet masseuse. Dit was nou 'n treat!


My tweede Japanese ete vir die dag: Ek soek sushi, want Ivan verjaar vandag en ek vier dit aan hierdie kant van die wereld! Gelukkig is Dina net 'n sms ver en kan sy my mooi verduidelik waar om bekostigbare heerlike sushi te kry. Dina, ek het 'n Genki Sushi gekry by Admiralty. Een stasie van my af. Gelukkig het ek 'n goeie dosis rigting geerf vanaf vaderskant en kry ek die Far East Financial Gebou baie maklik. As mens weet waar oos is, is far east nie 'n uitdaging nie. Kyk die groot salmon roses. Dit was 'n wenner. Geluk Ivan!

Daar is 'n blikkie poeier groen tee by elkeen se plek (op die boonste foto die swart blikkie met die groen labeltjie op die deksel). Dan kry elkeen 'n koppie en links en regs van my drink hulle 2 - 3 koppies elk. Ek kyk wat hulle doen en maak ewe vir my ook 'n koppie. Aan die vervoerband is by elke sitplek 'n plek waar kookwater kan uitkom. Ek kan groen tee drink as dit flou is en suurlemoen in het. Hier verkoop hulle dit koud soos koeldrank in elke winkel en ek hou nogal daarvan. Maar die poeier groen tee het ek net geruik en dit toe teruggestuur. My ma se mens se nie sies vir kos nie, maar dit was vrek naby daaraan!

Vanaand moet ek pak. More vlieg ek Beijing, China toe! Ek kan nie wag om vir Henko en Vivian te sien nie. Ek wil so graag die China muur sien en vele ander plekke. Lean kom oormore en dan gaan ons fiets in Guilin. Lekker!

Madeleine, more is sekretaresse dag in Hong Kong! Ek het hierdie foto vir jou geneem en wil maar net weer se dat ek nie die afgelope 7 jaar my werk so goed sou kon doen of soveel sou geniet het, as dit nie vir jou was nie. Jy is die beste PA wat enigeen kan he. Baie dankie! Die blomme is vir jou!

Lekker langnaweek vir julle almal!


No comments:

Post a Comment