Sunday, October 16, 2016

Laaste gedagtes oor Suid-Amerika

Ek is veilig tuis in my huis in Piketberg en besig om alles gelyk te doen voordat ek more begin werk. My vuil klere is in die wasmasjien, my spuitjies is aan om my tuin te red, my geyser is aan om later te stort, my wurms in my wurmkomposplaas is gevoer en my TV is aan met al my opgeneemde programme en ek werk hulle deur een vir een. Dis heerlik om terug te wees! Toe ek vanmiddag hier inry en amper my motor afskryf teen die nuwe spoedhobbel wat ons ingenieursafdeling in die afgelope twee weke in Langstraat aangebring het, toe weet ek... Oos wes, tuis bes! Machu Picchu was fantasties! Maar die goudgeel koring op die landerye langs die N7 maak 'n gevoel in my hart wakker, wat geen ander land kan nie. My tuin is vir my mooier as enige blomme in die reënwoud en my vriende en familie wat kom hallo sê is kosbaarder as die goud in die sonsondergang oor Uruguay.

Reis is 'n groot deel van my lewe en ek sal altyd 'n "wanderlust" in my hê. 'n Geskenk van my vriendin Blyda in my TV kamer beskryf "wanderlust" as die "unwavering desire to travel and explore the world". Ek het dit van altyd af in my.  Ek was baie klein toe ek reeds besluit het dat ek altyd in my lewe meer waarde sal heg aan ervarings as aan materiële goed. Daarna is alle besluite maklik.

Ek was nog nooit voorheen in Suid-Amerika nie en het die volgende goed die afgelope twee weke geleer:
Brazil is die grootste ekonomie, grootste land met die meeste mense in Suid-Amerika met Sao Paulo die grootste stad. Sao Paulo is ook een van die tien grootste stede in die wêreld. Suid-Amerika bestaan uit 13 onafhanklike state (ek het altyd net geweet van 10). Hulle is Argentinië, Bolivia, Brasil, Chile, Colombia, Equador, Guyana, Paraguay, Peru, Suriname, Trinidad and Tobago, Uruguay, Venezuela en ook twee nie-soewereine state van French Guiana (Frankryk) en die Falkland Islands van Brittanje (alhoewel Argentinie na die oorlog dink dit behoort aan hulle). Dan is daar ook nog die ABC islands van Nederland en Panama wat deel is van Suid-Amerika.  Die Andes gebergtes en die Amazone maak van Suid-Amerika 'n baie interessante plek! Die grootste tale wat gebruik word in Suid-Amerika is Spaans en Portugees na 'n lang geskiedenis van kolonialisasie en slawerny.

Peru was vir ons fantasties! Dit is outentiek en ongekunsteld. Ons het 'n baie goeie toergids daar gehad wat ek vir enigeen sal aanbeveel. Alfredo is trots Peruviaans en kan nie uitgepraat raak oor sy kultuur en land nie. Dit was aansteeklik en baie aantreklik!

Buenos Aires is 'n interessante stad waar die inwoners almal vrek vinnig stap in baie vuil strate wat meestal toegeverf is onder graffiti, maar daar is 'n "vibe" wat skrik vir niks. Die mense is konsidererend met baie tyd vir mekaar.  Daar is 'n omgee onder stadsinwoners waarop ons nie regtig ons vingers kon lê nie, maar dit is opmerklik.  Dit is asof daar 'n algehele aanvaarding is van mekaar deur almal.  Maar hulle is ook uiters uitgesproke en daar is elke dag protesoptrede deur vele groepe. En as hulle betoog gaan hulle groot met 'n marching band en die werke! Die grootste deel van Buenos Aires se bevolking is verslaaf aan Yerba Mate, 'n plant in Suid-Amerika wat hulle as tee drink. Orals en ewig. Daar is kookwaterstalletjies op elke hoek waar mense hul warmwaterbottels opvul vir die volgende Yerba Mate. Op die lughawe kry ons 'n SA ingenieur wat vertel dat sy koshuiskamermaat van Universiteit nou Yerba Mate invoer in SA in vir al die Suid-Amerikaners wat nou in SA bly. Net soos die Peruviane verslaaf is aan Coca tee. En die gemene deler in beide die produkte is caffeine. Net soos ons seker verslaaf is aan koffie of coke.

Die grootste natuurramp waarvan ons die oorblyfsels duidelik kon sien was die 1998 avalanche in Peru se Sacred Valley wat tien dorpies totaal uitgewis het en duisende mense onder die modder begrawe het. My sussie se dogtertjie wil 'n skooltaak daaroor doen en daarom gee ek bietjie meer inligting hier.  Dit het begin deur twee avalanche vanuit die sneeu gletsers in die vallei wat gevolg is deur 'n massiewe modderverskuiwing wat 02:00 die nag van 30 Januarie 1998 begin het.  Van Santa Maria en Santa Theresa was daar niks oor nie. In die afgelope 18 jaar is die twee dorpies herbou en gelukkig heelwat verder van die rivier af.  Maar dwarsdeur die valley op die Inca-trail, kon ons duidelik sien hoeveel plekke daar nog is wat 'n ongeluk is wat wag om te gebeur. Die plaaslike mense skryf die ramp toe aan El Nino wat verskillende vloede en modderstortings tot gevolg gehad het. Volgens hul statistiek is 374 mense dood, 'n verdere 412 is beseer en 600 000 mense is misplaas en huisloos gelaat. 114 000 hektaar landbougrond is oorspoel, 40 500 huise is platgevee en 'n gros skole is vernietig terwyl duisende myle se pad weggespoel is en brue vernietig is wat die 10 dorpies met die buitewêreld verbind het.  Dit is hoe ek Peru sal onthou: as vulnerable, maar baie goeie mense wat leef en laat leef en wat trots is op hulle pragtige land en dit graag deel met die wêreld.

As jy nog nie in Suid-Amerika was nie, hoef jy nie te twyfel nie. Dit is 'n plek wat jy sal wil sien! Vat genoeg muskiet afweerder. Sterker as die wat jy by ons kry, want ons s'n werk glad nie! Drink ook Diamox vir die hoogtesiekte en vat minder klere as wat jy dink, want dit is tropiese hoogland en baie warm.  Ek het elke oomblik geniet! Die gerug is dat Macho Piccho binnekort toegemaak gaan word vir die publiek as gevolg van die waarde van die plek en die skade wat toeriste daaraan doen. Dit mag net 'n toerisme slender wees, maar wil jy regtig die kans vat? Ek sou nie!

Ek gee weer die mooiste foto net om jou lus te maak.  Ek het dit geneem met 'n selfoon ongeveer 07:30 die oggend.







Wednesday, October 12, 2016

Palermo, Buenos Aires

Ek en Lean sit in Minga in Palermo in Buenos Aires. Ons eet tradisionele Empanadas eie aan Argentinië. Dit is 'n klein vleispasteitjie met heerlike geur. Baie lekker. Ek het al voor 12:00 vanoggend my 10 000 treë gestap want ons is op 'n shopping missie. Dis ons laaste voldag in Buenos Aires en nadat ons deur elke winkel in Retiro is, het ons die underground gevat met 'n kaart met 3,50 Argentine dollar op en van Peru stasie af probeer ry tot by Plaza Italia. Maar die vrouens in die oorvol trein wou almal help en toe ons by Bulnes stasie aankom, is hulle dit almal eens dat dit die beste inkopieplek is en druk ons letterlik by die deur uit met "shopping si si si!". En daar gaan ons.

Beesvleis Empanadas saam met Aqua con gas. 

Ek sal altyd Buenos Aires onthou vir hul pragtige graffiti. Dit is orals. Daar is selfs 'n toeriste graffiti toer wat mens kan doen. Die Argentyne is uiters uitgesproke en "praat" op verskeie maniere. Die eerste aand was daar 'n groot optog langs ons kamervenster verby met 'n marching band en die werke. Die volgende oggend vra ons die fietstoergids waaroor dit was. Nee wat sê hy. In die stad betoog minstens een groep elke dag! 

Die ander baie interessante gebruik hier, is Yerba Mate. Dit is 'n hele kultuur op sy eie waar elkeen loop met 'n spesiale beker en flessie kookwater en 'n spesiale 'man straw' waarmee hulle kookwater opsuig deur tee blare wat on Suid-Amerika gekweek word en ook wild hier boorkom. Ons lees dat 92% van huishoudings hier dit gebruik. Terwyl ek tik google Lean dit en lees ons van talle soorte kankers wat dit tot gevolg het. Ek het dit geproe by Frederic in die fietswinkel en kan getuig dat dit buitengewoon sleg is. En ek hou van snaakse groen tees en selfs coca tee!

Ons skuif eers aan. Ek skryf later weer!

Ek het nou eers die aircon van ons kamer kom opsoek. Dis maar 25 grade buite maar baie humied. Ek sal nie graag hier wil wees in vol somer nie. Daar is 76 kanale se TV in ons kamer en elke liewe een is in Spaans. Dit is opvallend hoe min mense hier engels kan verstaan of praat. Gisteraand kon ons cake boss oorgeklank sien in Spaans. Hulle is baie reekse voor ons, want hier is buddy se kinders al tieners en saam met hom in die winkel. Sy vrou ook. Sheldon van Big Bang Theory se Spaanse stem pas hom uitstekend, maar Leonard en Penny se stemme is skreeusnaaks. 

Soho in Palermo is vir my die mooiste deel van die stad. Dit lyk vir my soos die Bo-Kaap met veelkleurige geboue en pragtige groentewinkels. La Boca is die rowwe deel maar ook baie energiek en interessant! Hierdie is La Boca:



Hier is Palermo:



Sunday, October 9, 2016

Argentinië

Ons reis van Peru na Argentinië word gekenmerk deur vliegtuie wat laat is. Ons reisagent sê dit is die nagmerrie van Suid-Amerikaanse lugrederye. Altyd laat! Wel, vier ure agter skedule land ons op Buenos Aires se binnelandse kleiner lughawe en kry ons maklik 'n amptelike en betroubare taxi. Ons het baie navorsing gedoen hieroor en almal waarsku teen skelm taxibestuurders wat kanse vat.

Buenos Aires se hawe uit die lug uit.

Ons is vrek moeg na 'n lang nag op drie vlugte en ure se wag op lughawens. 

Ek sit by die venster tydens ons vlug. Die hele pad is dit net landbougrond onder ons van Cordoba tot by Buenos Aires. Ek lees op google dat koring die grootste produk is wat hier verbou word. Argentinië verbou 75% van Suid-Amerika se koring.

Ons voel baie tuis hier. Orals in BA is presies dieselfde plantegroei as by ons. Interessant genoeg is dat hulle Jakarandas eers pienk blom en dan al sy blommetjies afgooi en dan pers blom. Op die oomblik is hulle pienk. 

Gistermiddag het ons 'n vinnige draai geloop om geld te trek en iets te eet, maar was 19:00 reeds in die bed om verlore slaap in te haal. Na 11 ure se slaap is ons vars en fris vir 'n fietstoer deur die suidelike deel van die stad. Dit is die beste manier om alles te sien! En ons gids, Frederico, is baie goed. 






Ons fietsrygroepie voor hul sokker stadion waar Maradona vandaan kom. 


La Boca is 'n opelug museum van helder kleure, straat markte en tango dansers. 





De Mayo plaza! 





Die lekkerste drankie van die dag... vars uitgedrukte lemoensap. 



Argentinië is bekend vir hul vleis. Maar vanaand probeer ek 'n nuwe snit sonder sukses. Sal môre weer probeer. 


Saturday, October 8, 2016

Cusco

Vandag vat ons die strate van Cusco.  Dis 'n pragtige stad met kleurvolle patrone en interessante plekke en mense. Dis ons laaste dag in Peru. Ons vlieg vanaand via Lima en Cordaba na Argentinie. Cusco was die hoofstad van die totale Inka Empire. Dis baie hoog bo seevlak op 3400 meter. Maar ons is nou al mooi aangepas by die hoogte en is fiks na die Inka Jungle stap, so ons kan kilometers aflê. Na 'n lekker ontbyt in die Arnitrare Hotel, pak ons ons goed en los ons tasse in die hotel se stoorkamer. Ons besoek die Inka Museum, San Pedro plaaslike mark en unieke Peru winkels. By die mark kan jy alles koop van varkkoppe, hoenderpote, blomme, kaas, vrugte, snuisterye en vele meer. Ek is mal oor appelliefies en is altyd so ontsteld as ek R28 vir 'n klein bakkie moet betaal. Hier koop ek vandag reuse appelliefies en 'n hele sak vol vir 3 Sol of R12!  Cusco is 'n sintuig-sensasie!

Bo regs is een van die reuse appelliefies!

Gebraaide varkvleis op straat. Lean het die afgeneem en ek was toevallig besig om verby te stap. My gesig gee vir julle 'n goeie aanduiding van die higiene van die stalletjie😉


Die weefwerk is iets waarvoor Peruviaanse vroue bekend is. Geen van die pattone is opgeskryf nie en word van geslag tot geslag mondelings oorgedra en ingeoefen!

My geskenk aan myself. Dit is die Inka kalender. 

Mag elkeen wat hier lees ook vandag ten minste een nuwe ervaring hê. 

Thursday, October 6, 2016

Machu Picchu, Peru

Hoe beskryf 'n mens 'n onbeskryflike ervaring? Waar begin ek om iets in woorde te probeer omsit van wat ek die afgelope vyf dae en veral vanoggend beleef het. Dit is net nie moontlik nie. 


Machu Picchu is 'n Quecha woord wat beteken 'Old mountain' en huisves die 'Lost City' van die Inkas wat in 1911 ontdek is deur 'n Amerikaner wat 'n paar skoene geruil het vir 'n jong seun wat hom iets wou gaan wys. Beste ruiling ooit! Dit is in die Andesberge in die Cuzco streek en asemrowend mooi. Sit daarby Alfredo se vertelling van die Inka-tradisies en jy't 'n wenresep! Ek kan dit werklik vir enigeen aanbeveel. Dis vrek harde werk om hier uit te kom en baie klimwerk (2430 meter bo seevlak) en die muskiete vreet jou lewendig op! Maar elke sekonde die moeite werd. 





Terug in Macho Picchu dorp drink ons eers 'n Peruviaanse bier. Maak dit sommer dos (twee)


Tuesday, October 4, 2016

Santa Maria na Santa Thereza op Inka Trail

Ons moes na haar geluister het. En ons het nie! Op Lima lughawe het 'n Peruviaanse vrou in gebroke engels gevra waarheen ons oppad is. Toe ons verduidelik het sy net een vraag gevra. Het ons insekafweerder? Ja ons het, het ons gedink. Nee julle ken nie die Peru jungle nie, het sy geweet! Elke sport het sy beserings. Stap in Peru het miljuisende muskiete.  Hulle maak nie 'n geluid nie en is kleiner as ons s'n. Maar hulle vreet jou lewendig op.

Hierdie was teen middagete. Vanaand lyk ons veel erger, maar ons gaan nie toelaat dat 'n paar muskiete ons onderkry nie. 

Dit is moeilik om vandag te beskryf. My fitbit sê ons het 21 km gestap en 175 vloere geklim. Maar ons het ook 'n splinternuwe kultuur leer ken, nuwe kosse geproe, nuwe voëls gesien (hier is meer as 1600 spesies in Peru), nuwe plantegroei leer ken en nuwe kante van onsself ontdek. Dit was fantasties! Ons gids is uitstekend. Dankie Alfredo!

Ons stap op die Inka Trail wat seshonderd jaar oud is. Hoogste punt vandag 1813 meter. 

Hier drink ons 'n shot slang mampoer! My gesig sê alles!



'n Pragtige wêreld met 'n baie ryk geskiedenis. 

Môre vertel ek verder. Buite ons hotel skiet hulle klappers. Dit klink soos 'n Spaanse inval! Maar nou gaan ek eers slaap. Lean is lankal droomland toe!

Monday, October 3, 2016

Malaga Pas in die Sacret Valley

Nou is dit veel later op dag twee van ons Peru avontuur en ek en Lean lê op goeie beddens in 'n homestead in Santa Maria en oordink die dag wat verby is. Ons herinner mekaar dat ons nou maar eers 36 uur in Cuzco en omgewing is en dit voel soos 'n week oor alles wat ons al gesien en beleef het. 'n Avontuur duisend! 

Gisteraand na goeie focassia pizza en avocadoslaai by 'n piepklein pizzeria naby ons hotel, is ons dadelik bed toe. Ons moes 05:00 opstaan om te pak, want ons groot tasse bly by die hotel en alles wat ons vir die volgende vier dae sal benodig moet in ons nuwe first ascent 35 liter backpack gaan. Lean het die shopping gedoen en hulle werk baie goed. Halfvier is ek wawyd wakker en begin blog skryf oor dag 1 en die vlugte hierheen. Teen halfses is ons beide padvaardig en sit ons aan vir 'n baie goeie ontbyt met baie vrugte en graan. Aldredo kom op tyd en ons vertrek eers met n kleiner sedan taxi tot by die buitewyke van Cuzco. Daar wag Reuben vir ons met sy Red Bull Van. Die polisie hou nie van fietse in die middedorp nie, verduidelik hy. Ons wag vir 'n vriend van Alfredo by wie hy 'n go-pro kamera leen en dan durf ons die drie ure aan na die top van Malaga Pas op 4330meter bo seevlak. Vandaar sal ons fiets tot by 'n buurdorpie van Santa Maria op 2000 meter. Die rit is interessant en Alfredo verduidelik onophoudelik alles wat ons sien. Ons stop vinnig in Ollantaytambo vir reënponcho's en water en sien talle ander fietsry groepe met hope 18 jariges en ek is diep dankbaar vir ons privaattoer van net ek en Lean met ons gids Alfredo. Hy is omtrent 32 en getroud en opgewonde oor die lewe en sy zest is aansteeklik!

Oppad vertel hy ons van die oorspronklike Andiese tekstiel fabriek in Chinchero en net daar besluit ons om dit te gaan besoek. Wat 'n belewenis! Ons kon Alpakas vryf en presies sien hoe hulle skaap-, lama- en alpakawol bewerk, was en kleur met natuurlike plante en die bloed van 'n pes wat groei op kaktusse! Baie interessant. 

Oppad op teen die berg vergaap ons ons aan die pas en uitsigte maar moet klou want Reuben speel nie om die draaie nie. Hy bestuur vinnig maar veilig. By die bopunt neem ons talle fotos en Alfredo ruk drie duffelbags agter uit die kombi uit met ernstige fietsry gear! Ons kry full body armour en 'n full face helmet. Company policy. Hulle is ernstig oor veiligheid!  Ons toets die remme en saalhoogte en spring weg. Aanvanklik stadig om eers die fiets en die armour gewoond te raak en toe al vinniger. 61 km se pure pret! Pragtige uitsigte, rivier kruisings en pragtige plantegroei! Werklik die moeite werd. Alfredo het gisteraand baie diplomaties gevra wat ons fietsry vlak van vaardigheid is en ons het hom nie teleurgestel nie. Hy vertel hoe hy sukkel met Japanese groepe wat sê hulle kan fietsry en dan reguit aanry op elke draai! 

Wel, ek het lanklaas iets so baie geniet! Die aarde se aantrekkingskrag op my liggaammassa maak dat ek baie vinnig teen 'n afdraend beweeg en dit was fantasties!

Peru se kos is uitstekend. Vanmiddag kry ons 'n viergang maaltyd van blomkool quiche, groentesop, hoender met quinoa en nagereg. Te veel om op te eet. Na 'n middagslapie is ons gereed vir wat die aand ookal sal oplewer. Santa Maria het in 1998 heeltemal verdwyn toe daar twee avalanche was tydens hulle reënseisoen met 'n vloed daarna wat die hele dorp weggevee het. Baie mense is dood. Dit het 02:00 in die nag gebeur. Nou is hulle besig om die dorpie stuk-stuk te herbou. Ons blyplek het bv net koue water. Ja, dit was 'n baie vinnige stort!

Tot by volgende wifi! Groete