Wednesday, January 2, 2013

Nuwe rus en nuwe vriende by Nuwerus



Vir die afgelope paar jaar al kamp ek saam met vriende in die Cederberge oor nuwejaar. Dis vreedsaam, heelmakend, rustig, maar ook lekker aktief. Daar is geen selfoon ontvangs na Uitkykpas nie en dis hemels! Ek onthou weer die dae voordat almal jou enige tyd met die druk van 'n knoppie kon opkommandeer vir enige iets.

Ons is fietsryers. Bergfietsryers en daar word baie vroeg in die oggend opgestaan om 05:00 in die pad te val en sover te ry as waarvoor jy kans sien. Die fikses durf die pas aan tussen Nuwerus en Mount Ceder. Dis styl en die eienaars het onlangs 'n lekker 'single track' langs die pas gebou. Jy moet jou remme ken om oor die hopies gemaalde leiklippe te kom met al jou tande op hul regte plekke. Die ander van ons ry net waar ons wil... Soms net die bult tot by Matjiesrivier se opstal, soms die sirkelroete via Kromrivier en soms net tot by Oasis. Dis die plek met die goedkoop broodjies. Die eienaar is erg snaaks en ons gaan eintlik net om sy ironiese gasvryheid te geniet. So kom ons hierdie jaar op oujaarsdag by hom aan. Hy het intussen 'n nuwe kroeguitbreiding aangebou (nog in aanbouing) en hang daar rond toe tien van ons instap. Hy se non-chalant: Julle was mos al hier? Ek gaan my nie vandag laat rond chant nie. Vat dit soos dit kom. Wel, toe kom dit veel later. Die opsies is: Kry vir jouself 'n koeldrank of 'n bier uit die yskas in die winkel. Daar is vier soorte broodjies: Ham, kaas en tamatie of ham en kaas of kaas en tamatie of ham en tamatie. Ons plaas ons keuses en waarsku die nuwelinge oor die grootte van die porsies. Dis  GROOT met chips by ook.

Terwyl ons wag lag ons oor vorige ervarings by padstalle. My ouers het by 'n plek in Bonnievale gaan eet en toe my pa later die kelner roep en vra of hulle asb 'n spyskaart kan kry, is sy erg verontwaardig en se: Meneer, hier is twee keuses: Take it or leave it! In Grayton naby Caledon het mense ure lank sit en wag vir hulle tee en toe hulle navraag doen, het die kelner gese: Jammer meneer maar daardie mense (enigste ander gaste in die restaurant) het nog die teepot!

Ons klomp sit soos ou jeans aan mekaar. Ons ken mekaar al jare en hou al lank vakansie saam. Ons het min nonsens en dit wat daar is, steur niemand hulle aan nie. Sodra die son begin bak en die gazebo's nie meer genoeg laffenis bied nie, sit ons af swembad toe en kamp daar uit oor die hitte van die dag. Ons le rond. Party lees, ander knibbel aan biltong, neute en appels. Party slaap. Ander swem.

In die aande word die vuur aangesteek en dan braai ons. Ons gooi als bymekaar wat na slaaigoed lyk. Hierdie jaar het Isak en Blyda genoeg erfgeldjies gekry en genoeg uit-etes van die hand gewys om 'n splinternuwe Luna yskas te he. Ewe grand met 'n vrieskas ook in. Hulle verskaf die meeste van die gesonde kos. Pitte en skille noem hulle dit. Kalla en die seuns ('manne' soos hy hulle aanspreek) kamp hierdie jaar eers alleen, want Lean is swanger met hul derde seuntjie en al het ons vir Kalla 'n verlostang gegee vir sy verjaarsdag op die 31ste, sal ons bly wees as hy dit net as 'n braaitang hoef te gebruik. Lean kom die middag van die 31ste saam met Elmarie. Of hulle het gedink hulle kom, maar dis 'n storie oor 'n altenater belt vir 'n ander dag.

As ek nou terugdink aan ons kamp dan is daar 'n paar goed wat uitstaan: Ek het vir die eerste keer 'n kampbed en matras gehad en kan nie dink hoe ek ooit daarsonder gekamp het nie. Mens kan tot in die middag in die tent 'n middagslapie maak, want die bed is hoog genoeg om jou in die drukgang van die wind te plaas. Die ander ding is dat my been hierdie jaar baie beter is nadat ek my knie gebreek het in 2010. Verlede jaar in die Cederberge het ek swaar gekry en aanhou fietsry tot my been onthou het ons is 'n fietsryer. Hierdie jaar het heelwat beter gegaan. Ek kon meer as 50 km ry in die drie oggende! Te heerlik!

Tot volgende jaar!