Wednesday, April 18, 2012

Hanoi se strate

Vandag is my laaste dag in Vietnam. More vlieg ek na Hong Kong via Bangkok. Ja, ek weet dis heeltemal 'n ompad, maar dis hoe die wereld hop kaartjie werk. Thai Air is deel van Star Alliance en ek moet terug Bangkok toe. Die vlug na Bangkok is 1 uur en 15 minute en dan vandaar na Hong Kong in 2 uur en 15 minute.

Maar vanoggend moes ek vroeg in die ry kom om 'n kaartjie te kry om vanaand die Thang Long Water Puppets te sien. Dis baie gewild met tradisionele Vietnamese musiek. My kaartjie is vir 18:30.

Ek stap reg rondom die Hoan Kiem meer in die middel van Hanoi. In die noordelike hoek van die meer is die baie bekende rooi brug na die Ngoc Son Tempel. Die rooi hout brug is in 1885 gebou en word ook The Huc genoem. Dit beteken: brug van die opkomende son. Dis regtig pragtig.







Die brug lei na die Ngoc Son Tempel. Ek het nie ingegaan nie. Het nou eers genoeg tempels gesien. Die Hoan Kiem Lake is veral bekend vir die eeu oue skilpad wat in die meer bly. Dit is nie net 'n legende nie. Die laaste kere wat die skilpad gesien is, was in 1998, 2000 en toe sommer gereeld sedert 2010. Die mense in Hanoi was toe bekommerd dat sy siek is en het die Vietnamese weermag ingeroep om haar te help vang en medisyne te gee. Dit was hoofnuus in Hanoi op die TV vir drie dae lank. Hulle het baie gesukkel om haar te vang, maar op 3 April 2011 dit reggekry. Sy weeg 200 kg en is 1,9 meter lank. Daar is net 4 van haar soort oor in die wereld. 3 daarvan is in Chinese dieretuine en die een in Hoan Kiem meer in Hanoi.

Ek het orals gekyk, maar haar nie gesien nie.

Ek was ook vanoggend by die St Joseph's Cathedral in Hanoi.




In Vietnamees is die katedraal bekend as: Nhà thờ Lớn Hà Nội, Nhà thờ Chính tòa Thánh Giuse. Dit is 'n Katolieke kerk en die hoofkwartier van die Katolieke kerk in Vietnam. Die kerk is gebou in 1886. Daar word verskeie dienste gehou op 'n Sondag en is blykbaar heeltemal vol. Vanoggend was daar vier mense in die kerk toe ek in is en dit was heerlik rustig.

Ek kon nie hierdie foto weerstaan nie. Motorfiets parkeerplek. Hoe jy ooit weer jou eie uitkry, weet ek nie.



Hallo noem hierdie die Hanoi Towers.


Als hier word op fietse en motorfietse vervoer. Hierdie vrou het haar hele winkel op haar fiets.


Van al my voorbereiding vir my toer is ek in Vietnam die heel dankbaarste vir my Hepatitus A en B inspuitings. Hier word vis voorberei, geweeg en verkoop op die straat. Hierdie is vis en seekat.


Lekker oggend in die son langs die meer.


Beter as 'n gym!

Hanoi het mooi plekke ook. Hierdie is die stadshorlosie in die park langs die meer.


Die Ly dynasty het regeer vanaf die laat 10de eeu tot middel elfde eeu. Hier is die koning van die Ly dynasty.

So parkeer mens in Hanoi!


Vanoggend is ek ook verras deur 'n baie mooi kunsuitstalling in een van die parke. Dis regtig baie mooi. Die kunsuitstalling word gehou deur 'n NGO iSee (Institute for Society, Economy and Environment) en wys die wereld soos gesien deur minderheidsgroepe van oor die hele wereld.

Die ouma van die Hmong minderheidsgroep kyk na haar kleindogter en maak terselfdertyd 'brocade'. Die vrouens leer borduur as hulle 6 - 7 jaar oud is. So bewaar hulle die kultuur van hierdie minderheidsgroep.


Die Pako mense het 'n gebruik dat 'n ma een keer per jaar 'n mandjie rys vir haar dogter vat om haar liefde en dankbaarheid te wys. Hierdie vrou van 43 jaar oud is 'n ma wat besig is om haar mandjie rys voor te berei.



Dit is 'n vaardigheid wat die mense op die platteland in Vietnam baie goed ken: om sy te kleur en mooi klere daarvan te maak. Hierdie vroue is van die Yao groep in Sapa. Die vaardigheid word oorgedra van generasie na generasie. Die sy word drie keer gekleur en in die skaduwee gedroog.


Al drie vrouens in hierdie foto is meer as 80 jaar oud en is oppad na 'n troue. Vrouens in die Ta Oi groep dra slegs juwele en krale as hulle 'n besonderse geleentheid bywoon.




Hierdie foto is van die Hmong groep in Sapa, Vietnam. Die grond op die terasse word in water gedompel om doe grond sag te maak. Dit word gedoen van Oktober tot April voordat die nuwe oes geplant word.


Die bekendstellingsbord van die kunsuitstalling. Ek het dit baie geniet.


No comments:

Post a Comment