Thursday, January 28, 2010

Ter nagedagtenis aan 'n vriendin Marili van der Merwe


'n Vriendin van my is verlede Sondag (24 Jan 2010) oorlede nadat sy in Junie 2009 gediagnoseer is met bloedkanker. Ons het geweet sy gaan vinnig agteruit en kon in Desember al sien haar liggaam is moeg, maar tog was die skok groot. Dis nooit lekker om iemand so jonk aan die dood af te staan nie. Sy was maar 32 jaar oud.
Op die foto is ons almal saam op die Oranjerivier in Jan 2009. Marili is die een heel regs.
Ek het die volgende vir haar geskryf:
Ek kyk vanaand op in die hemel
en wonder of jy ons kan sien
Ek sien jou gesig skyn
lydingloos
verdrietvry
vreesloos
tuis
Ek hoor weer jou lag op die rivier
As Toit in 'n wateroorlog tier
Ek sien jou speel op die strand
met jou tone in Stilbaai se sand
Ek onthou jou vriendelike groet
vir elkeen wat jy by jou huis ontmoet
Jy het jou hartseer stil gedra
alleen
dapper
verskuil
'n Jaar terug het ons gewonder hoekom jy soveel ure op jou bed spandeer
miskien het die kanker jou toe reeds gekeer
Nou is jy tuis
eerste daar
gelukkig
vreugdevol
met die lig van die Lig in jou mooi oe.
Ek gaan jou mis.


Maphungubwe en die Kruger Wildtuin: 4 - 13 Januarie 2010




Daar is seker niks wat naby 'n vakansie saam met jou familie kom nie. Veral as daar gekamp word op twee pragtige plekke in ons mooi land. Ek was nog nooit voorheen in Maphungubwe nie en was verstom oor hoe groen en mooi dit is. Maphungubwe is die heel noordelikste punt in SA en op die grens tussen Botswana, SA en Zimbabwe waar die Limpopo en die Sashiriviere saamvloei. Ons was baie geseend met die weer en het teen alle verwagtings in lekker koel weer gehad. Ons het gebid daarvoor, so alle eer aan die Here wat Sy kinders liefhet. Vriende van my ouers, Oom Frans en Tannie Magriet was ook saam. Hulle is goed ingerig vir kamp en ons het heerlik saam gekamp.

Die voels in Maphungubwe is veral fantasties. Daar is heelwat somervoels wat ek nog nooit gesien het nie. Hulle het ons baie vroeg in die oggend begin wakker sing en veral die bosveldvisvanger was vir my baie mooi. Die lekkerste van Maphungubwe was die voelskuiling wat uitkyk op 'n watergat. Ek en Corne het ure daar gesit een middag en heelwat diere gesien wat kom drink het.

Daarna is ons Kruger Wildtuin toe en het in Punda Maria gekamp vir 5 nagte en toe in Letaba vir een nag, voordat ek teruggevlieg het Kaap toe vanaf Phalaborwa. Ons het in een middag 4 van die groot 5 binne 'n uur gesien. Die wildtuin was ook koeler as wat ons gevrees het en dit is pragtig groen.

Aan al my familie... julle is die beste. Ek is baie lief vir julle. Dankie vir 'n heerlike vakansie.