Saturday, May 16, 2015

'n Nuwe tipe reis...

Vandag is die eerste dag van die res van my reis! Nee regtig! Dis 'n ander tipe reis as die waaroor ek die afgelope 10 jaar op hierdie blog geskryf het. Hiervoor het jy nie 'n visum nodig nie. Ook nie 'n tas nie. Maar dis net so 'n groot ervaring. Ek is net so opgewonde en ek glo dit gaan net so verrykend wees soos my wêreldtoer.

Maar laat ek by die begin begin...

Oor die jare heen was daar baie mense in my lewe wat 'n groot rol gespeel het in waaraan ek blootgestel is en wat ek geleer het. Ek het nog altyd soveel waardering gehad vir hulle en wou nog altyd 'n manier vind om hulle te vereer. Van hulle is al oorlede. Toe stap ek op 1 Mei 2015 in Franschhoek se hoofstraatjie as 'n toeris en kom af op presies wat ek nodig het vir 'n betekenisvolle reis saam met spesiale mense in my lewe.

En hier is dit:

 

Ek wens ek het geweet hoe om hierdie foto te draai. Draai maar jou rekenaarskerm of ipad. Dit is 'n pragtige teetafelboek vol tee. Voorop is 'n Afrikavrou wat 'n bak op haar regterskouer dra en "The Art of Tea" is gegrafeer daarop met die onderskrif: "Each cup of tea represents an imaginary voyage." Dit is 'n aanhaling van Catherine Douzel.


As mens die boek oopmaak is daar 'n hele laai van verskillende geure tee in die mooiste houertjies. Net daar besluit ek om hiervan 50 koppies tee te maak saam met 50 mense wat in my lewe vir my baie beteken het. 

Vandag begin ek hierdie reis saam met een van my gunsteling mense. Haar naam is Audrey van Wijk. Sy is 87 jaar oud, maar gluur my aan as ek vir haar Tannie sê. Sy is Audrey. My mentor sedert ek in 2005 die Direkteur Sosiale Ontwikkelingsdienste geword het by Stellenbosch Munisipaliteit. Sy was my go-to persoon as ons enige nuwe idees wou implementeer. Audrey is 'n mediese dokter van beroep, maar ook soveel meer as dit. Sy hoor die Here se stem op 'n besondere manier en kan dit wat sy glo en by Hom hoor in presiese woorde formuleer. Sy het my al menigmale bevestig of in ander rigtings gestuur as ek oor iets gebid het. Vanmiddag is dit weer so.




Ek en Audrey met Kenia Malaika tee uit die teeboek.

My vraag aan Audrey toe ek haar nooi vir 'n koppie tee saam met middagete was dit: wat weet sy nou op 87 wat sy wens sy het reeds op 45 geweet?

Vanmiddag begin sy deur te sê dat dit 'n moeilike vraag is waaroor sy baie lank gedink het. Haar antwoord is klokhelder (soos altyd) en sonder enige skroom. Soos iemand wat lank hieroor gedink het en versigtig is vir die effek van die antwoord, maar nie skaam is daaroor nie, vertel sy: as sy op 45 geweet het wat sy nou weet, sou sy meer van 'n 'be'-er wou wees as 'n 'do'-er. Ek gryp dadelik my papierservet van die Katjiepiering Restaurant in die Botaniese Tuin in Stellenbosch en begin skryf. Want ek weet net dit is nie maar net 'n sinnetjie nie. Dit is profound. Iets wat ek soos 'n kosbare geskenk moet koester en daaroor nadink. Besluit wat dit in my situasie beteken.  Sy verduidelik verder: Hanlie, ons is albei doeners. As ek nou terugdink wil ek net so baie doen, maar meer 'be' ook. 'n Balans vind.  En my hart weet instinktief dat ek dit presies verstaan.

Toe ons vanmiddag by die tafeltjie plekke inneem, kom die eienaar van die restaurant na ons en groet vir Audrey. Sy ouers bly naby haar. Hy ken haar net van op 'n afstand sien, maar sy tweede sin is dat sy Pa die Here ken en altyd vir hom sê dat hy Jesus in Audrey kan sien.  Toe hy wegstap deel Audrey met my wat dit vir haar beteken. Dat dit eintlik die niceste ding is wat enigiemand ooit van mens kan sê.  En in lyn met my vraag aan haar voeg sy by: maar ek sou dit graag al op 45 wou kon wys. En ek hoor presies haar hart en sal nog baie lank hieroor dink en bid. 

Ons gesels nog 'n paar honde uit 'n paar bosse uit en toe is dit tyd om te groet. Sy gaan haar kleinkinders se Eisteddfod kyk en ek gaan na my ouers toe in Wellington.  Mag die volgende 49 teetjies net so insiggewend wees.

Sterkte met die tee-gesprekke in jou lewe. Geniet elke een en maak notas. 

Sunday, May 10, 2015

'n Ode aan my Ma

Dit is nou die een ding wat almal van ons op aarde het: 'n Ma!

Niemand van ons het sonder 'n ma in die wêreld gekom nie. En of jy nou joune vandag nog liefhet of nie, ek is oortuig daarvan dat jou Ma, soos myne, gebruike en vaardighede op jou oorgedra het wat jy elke dag in jouself erken en waardeer. Terwyl jy dink wat joune is, vertel ek solank verder...

Donderdagaand sit n vriendin saam met my en Koekedoor kyk by my huis. Ons praat en beduie of ons self een van die deelnemers is en as dit tyd word vir beoordeel is ons net so tuis in daardie rol. Sy vra later waar ek so leer koekbak het en ek is eensklaps terug in Susan Linde se kombuis in Wellington. My ma het vir meer as twee dekades gebak vir die tuisbedryf Woeker en Woel in die Paarl. Letterlik meer as n miljoen koeksisters en talle sjokolade rolkoeke, beskuit, dadelbrode, fudge, grootkoeke en vele meer.  Ons het meestal soggens wakker geword met die geluid van 'n elektriese koekmenger in ons ore. Dan is my Ma lankal besig in die kombuis om die bestellings van die dag reg te kry. Ek sien die prentjie nog glashelder voor my. Ma se seegroen lang kamerjas, pantoffels en altyd n lapsakdoekie in die kamerjas se sak. Die radio was altyd aan op die kas. Die ronde hout tafel met die oranje melamien top wat al wiegend heen en weer beweeg onder bakaktiwiteite. Dan word al die gebak in plastieksakkies gepak en kaartjies geskryf en vasgesit.

Soos ek nou hier sit kan ek presies die reuk terugroep van sjokolade versiersuiker en karringmelkbeskuit.

Jare later maak my Ma vir elkeen van ons vyf dogters n resepteboek met die volgende voorblad:



En ja, ons kan almal bak en brou soos my Ma. Maar vanoggend dink ek ook aan die ander goed wat ons by haar geleer het. Ons kan nie net meel laat rys nie, maar het by my Ma geleer hoe om gemeenskappe bymekaar te bring en te laat groei. Ons weet nie net hoe om suurdeeg te gebruik nie, maar het by my Ma geleer hoe om suurdeeg te wees in situasies waar ander gereed is om plat te val. My Ma is n sterk vrou met inbors, maar wat weet wanneer om ook kwesbaar en sag te wees. Soos 'n oond gebak warm maak en tot perfeksie bak, was my ouers se huis die regte temperatuur om floplose resultate te lewer, keer op keer. En net soos met 'n stoof het ek ook geweet dat dit nie die stoof is vanwaar die Krag kom nie. My ouers was en is deurentyd ingeprop by die Energiebron wat God Drie-enig is.

By my Ma het ek geleer dat die belangrikste bestanddeel is om Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser te ken. Dan is elke poging die moeite werd. Toe ek 'n tiener was en soms nie lus was om
kerk toe te gaan nie, was my Ma se rustige finale sê: as 'n mens nie lus is nie, moet jy juis gaan! Tot vandag toe kry dit my telkens uit my bed en in die kerk op dae wat my bed warmer en sagter voel as 'n kerkbank.


Ek is dankbaar oor die huis waarin ek kon grootword en baie dankbaar vir my Ma. Veral dat ons deesdae ook beste vriendinne is. Baie gelukkige Moedersdag, Mamma! 
Bederf jou ma vandag en dink weer bietjie na oor die nalatenskap wat jy in jou dra van jou ouers.