Tuesday, April 30, 2019

Reunion - blom waar jy is

30 April 2019
Reunion Eiland

Uitsig oor Reunion uit La Salazie




Ons eerste aangesig van Reunion vanaf dek 14 op die skip




Ons skip.

Vandag klim ons vir die eerste keer af van die boot af sedert ons vertrek in Durban op die 26ste April 2019.  
Ons eerste stop is Reunion Eiland en dit is nie ‘n reunie vir my nie. Ek was nog nooit hier nie en kan nie wag om my rooi sterretjie op my wêreldkaart te gaan plak nie. Tegnies is dit nie ‘n nuwe land nie, want Reunion is ‘n 
oorsese departement van Frankryk en staan bekend as 
974.  Ons vaar tans in die Indiese Oseaan oos van Afrika teen die kus op en is om die suidpunt van Madagaskar verby. Reunion lê 175 km suidwes van 
Mauritius. 

Ek weet nie wie van julle al almal Reunion besoek het nie, maar ek het niks daarvan geweet voordat ons op die skip na ‘n praatjie geluister het en op internet begin lees het nie.  Internet op die skip is ‘n ander dag se verhaal, maar dit knor.

Reunion het 866 500 mense wat dit huis noem. Snaaks genoeg is daar 1,2 miljoen voertuie op die eiland en ons kon dit vanoggend in die verkeer voel. Hierdie is ‘n bergklimparadys met drie berge op die eiland hoër as 3000 meter bo seevlak. Ons het pragtige weer en kan goeie fotos neem.  Om 08:15 volg ons die program en neem ons plekke in in die teater om saam met REU04 te vertrek op ‘n uitstappie na ‘Cirque de Salazie volcanic caldera countryside’. Salazie is een van hul 24 Munisipaliteite op die eiland. En dit in ‘n gebied wat die helfte so groot soos Bergrivier Munisipale Area is.  Die hele eiland is 2512 vierkante kilometer en bestaan uit vulkaanrots met baie suikerrietlande, vanilla boorde, diep groen dongas, baie nou paadjies en pragtige blomme orals.  Ons skip meer vas by La Possession aan die noordoos-kus en omtrent 20 minute se ry vanaf hul hoofstad St Denis.  
Die hoofroete loop langs die kus om die eiland met min paaie wat die binneland kruis as gevolg van die hoë berge en calderas. Hul aktiewe vulkaan is in die suidoostelike gedeelte van die eiland en het so onlangs soos 20 dae terug nog lawa uitgestoot. Nodeloos om te sê was ons nie naby dit nie.
Die nuwe pad wat in aanbou is. 



Hul registrasieplate wat aandui dat hulle deel is van die Europese Unie onder Frankryk en no 974 heet. 

Pragtige kerkie in St Denis. 

Vanilla likeur. 

Die reën tot ses meter per jaar aan die ooskus van Reunion en die watervalle is volop. 

Uitsigpunt oor die Caldera.



Die vanilla plantasies wat ons besoek is baie interessant en mens besef weer hoekom vanilla pods so duur is, want dit vat tot 6 jaar om te kweek. Ons sien die plante en hoe hulle opgelei word en proe vanilla likeur en kan die hele proses sien en probeer verstaan. Ek sal nooit weer neerkyk op nederige vanilla roomys nie. Dis ‘n wonderwerk. Die interessantste hier is dat elke vanillablom met die hand bestuif word omdat die insek wat dit elders in die wêreld bestuif, nie hier kan aanpas nie. Praat van arbeidsintensief! Ons lees dat die grootste uitvoerder van vanilla in die wêreld Madagaskar is en dat hulle vanilla beskou word as die suiwerste in die wêreld. Toevallig word hulle vanilla ook Bourbon vanilla genoem en dit is vernoem na die vorige naam van Madagaskar, wat voorheen bekendgestaan het as die Bourbon-eilande. As jy weer ‘n druppel vanilla in iets gooi of ‘n teelepeltjie vanilla essens onnadenkend in ‘n koekbeslag laat val, dink aan Madagaskar en Reunion se vanilla plantasies waar elke vanilla peul ses jaar vat vandat die rank geplant word en vier jaar vandat die plant blom totdat die vanilla peul verkoop word.

Hulle is besig om ‘n baie groot pad te bou op stelte in die see vanaf die hawe in La Possession tot by St Denis. Dis ‘n werk en ‘n half en moet die Franse regering sakke vol Euros kos. Ons toergids, Simona, sê die pad is reeds twee jaar agter skedule. Maar hulle het die pad baie nodig as gevolg van die onbegaanbaarheid van die kuspad tydens hul sikloonmaande en die vallende rotse uit die hoogtes.

By La Salazie kry ons tyd om mooi uitsigte oor die Caldera af te neem en eet ons by ‘n klein restaurantjie wat die Bourbon Restaurant heet. Reunion het vroeër bekendgestaan as die Bourbon eiland vernoem na die pienk Bourbon rose wat hier welig groei. Hulle leuse op hul ‘Coat of Arms’ is juis so mooi: blom waar jy is (letterlik: waarheen jy gedra is).

Dit is lekker om weer terug te wees op die skip en ons vertrek 18:00.  Wat ‘n luukse om aan ‘n grand gedekte tafel te sit met Edi en Edu wat ons bedien en die sagte dreuning van die boot te voel. Ons volgende bestemming is Mauritius en ons is môre al daar.  Terwyl ek hier sit en blog in die kaartkamer op die skip, is my ouers weer besig om 5 krone te speel by die tafel langsaan. Ek weet nie wie wen nie, maar dit klink of die bordjies verhang is. Ons gaan nou-nou na die drie tenore luister in die teater. Vanaand is dit hulle broadway program. Ek sien baie uit!

Groete tot na Mauritius.

Sunday, April 28, 2019

Die lewe op see

28 April 2019
Die lewe op see

Die teater op die MSC Musica





Na twee vol dae op see het ons nou ons ‘sea legs’ gevind en verdwaal ons minder. Ons weet waar wat is en of ons voor in die boot moet wees by die teater of agter by die eetsaal.  Ons familie-kajuut is baie goed geleë op dek 12. Soos ek hier lê en skryf, speel my Pa en Ma ‘n kaartspeletjie genaamd 5 krone. 

My Ma is voor 5 teen 3 en dit lok erge klanke van my Pa se kant af uit.  Net die wie al saam met my Pa kaart gespeel het, sal verstaan. Dis erg.  Ons wag vir 21:00, want dan begin ons konsert in die teater. Vanaand is King Arthur aan die beurt. Gisteraand se drie tenore uit SA was uitstekend en het ‘n staande ovasie gekry by ‘n waarderende, hoofsaaklik Europese gehoor.

Ons eet in die eerste sitting in die aand. Dit begin om 18:00. Vanaand was die kaptein se gala-aand en drankies vooraf is op die huis. Die drag is elegant en ons hang uit.  Die kos is uit die boonste rakke. Werklik indrukwekkend.  Hier is 150 sjefs aan boord en meer as 250 kelners. Elke dag word meer as 10 000 etes berei en voorgesit.  

Ons is tans besig om net suid van Madagaskar om die punt te gaan. 
Maar kom ek vertel julle nog meer van die boot: hulle het Dilmah earl grey tee in elke hoek van die buffet. Punte! Die skip is 300 meter lank en 60 meter hoog. Hy vat 3345 passasiers en het 987 bemanningslede. Daar is 16 dekke en ons vaar tans teen 18 knope. 

My Pa verloor verder.


Die jacuzzis op dek 13 is die lekkerste vir my. Ons was vandag twee keer daar. Op dek 7 en 13 is staproetes en ons het nog elke oggend vroeg gaan stap. 

My Pa raak moedeloos.
Ontbyt en middagete doen ons sover op dek 13 by die buffet. Oneindige verskeidenheid van geurige,  wonderlike disse.  Aandetes gebeur in die L’oleandra Restaurant op dek 5.  Ons kelner is van Bali in Indonesië en hy sê sy naam is Edi, maar dit is eintlik Sardika I Ketut.
Die ander kelner in ons afdeling sê sy naam is Edu, 
maar ons kon nog nie sy regte naam uitvind nie.  

My Pa is nou in sy mooooo in.

Ek en my Ma brei wanneer ons ‘n kansie het en dit lok vele nuuskierige besoekers wat kom loer wat ons doen. Dis duidelik dat dit ‘n vaardigheid is wat skaars is in Europa. Vanmiddag was daar chacha klasse langs die swembad en ek gaan neem deel. Heel interessant. 

Ons het vandag interessante mense ontmoet. Hier is ‘n toergroep van 32 uit SA met baie gawe mense uit Stellenbosch, Paarl en Stilbaai. Ons ontmoet ook ‘n paartjie uit Jeffreysbaai, mense uit Porterville, Engeland, Australië en vele meer. Hier is menige  Duitsers aan boord.

Die sushi restaurant kry nie veel aftrek nie, want dis duur en verg  ekstra betaling.  Daar speel my Ma weer uit. Onstuitbaar! My Pa verander sy taktiek. Probeer twee keer na mekaar deel en verander ‘moan’ na beskuldigings en volg dit op met selfbejammering. Alles tevergeefs. Alles in ‘n goeie gees.

In die oggende kry ons interessante praatjies deur Alison Hypher oor wat ons kan verwag in Reunion, Mauritius en moreoggend hoor ons van Seyshells. Sy ken haar storie. Ons het uitstappies geboek in Reunion en Mauritius en ek sal vertel soos ons vorder.  My Pa skakel oor na aandagafleidingstegnieke. My Ma speel weer uit. My Pa soek ‘n swart lappie.



Nou is dit eers ons en Koning Arthur. Ek kan so ‘n seevaart vir enigeen aanbeveel. Dit is onbeskryflik lekker. Ek is baie bly ek is hier. Ek groet eers terwyl my Pa steeds sy reuse probleem bekla...

Friday, April 26, 2019

MSC Musica 26 April - 20 Mei 2019 Vryheid!

27 April 2019
Vandag is vryheidsdag in Suid-Afrika. 25 jaar na ons eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994. Ek vier dit vandag op twee spesiale maniere.  Eerstens vier ek die vryheid wat ons kry in Jesus Christus wat die bron van alle vryheid is. Wat ‘n onbeskryflike voorreg om deel van daai vryheid te kan wees.  Tweedens is ons tans omtrent 250 seemyl oos van Durban oppad Reunion toe. Op die MSC Musica.  Die toppunt van alle luuksheid dink ek vanoggend toe ons net na 07:00 in die jacuzzi op dek 13 sit. Waar kry ‘n mens groter vryheid as dit? En soos my gedagtes draal oor vryheid dink ek visse se vryheid lê in die see. ‘n Vis is op die vryste in die water. Waar lê my vryheid. Die 










sorgvryheid van ‘n vakansie lê in die feit dat mens ‘n werk het. 

En die vryheid van ‘n christen lê in Christus. Is jy vry?  En waarin lê daai vryheid?


Ons vryheid op see het gister begin in Durban se hawe. Ons het vroeg ‘n Mango vlug gevat uit Kaapstad Internasionaal en 1 uur en 40 minute later vir King Shaka gegroet noord van Durban. 
Bheka van EZ Shuttles het ons professioneel en hartlik ingewag by binnelandse aankomste en Sbu het ons kus langs vervoer na die passasiers-terminaal in Durban se hawe.  Daar val ons in die ry saam met die ander 3300 passasiers en is opgewonde om aan boord te gaan en ons intrek te neem in kajuut 12088. Elke spasie op hierdie boot is goed uitgelê en benut. 
Dis groot genoeg, gerieflik, luuks en heerlik!  Ons vergaap ons aan die verskeidenheid van mense. Hier en daar ‘n Suid-Afrikaner (sommer ook uit my buurdorp Porterville), maar meestal Europiërs. En ja julle is reg, behalwe vir die handjievol kinders aan boord, is dit ek wat die gemiddelde ouderdom aansienlik afbring.


Die drie tenore uit SA is ook aanboord en gaan deel uitmaak van die vermaak. Ek woon die inligtingsessie by op dek 6 en 7 in die teater en kom terug met baie interessante brokkies wat ons nodig het om die skip ten volle te geniet. Hier is alles. 
Haarsalon, sushi restaurant, gym, spa, drie groot restaurante, ‘n teater wat 1700 mense kan vat, winkeltjies, kroeë vir elke smaak, twee swembaddens, vier jacuzzis, ‘n tennisbaan, mini golfbaan, staproetes op dek 13 en 7, biblioteek, kaartspeelkamer en verskeidenheid oop areas vir sit en tuur oor die see.  Dis presies wat ek en my Pa nou doen.


En tussendeur eet ons. Die “ons” is ek en my Pa en Ma. Om te balanseer probeer ons baie stap en baie trappe klim.  Ook om op my bed te kom, klim ek ‘n trappie. Goed uitgedink.


Ons seevaart sal 24 nagte duur en ons vaar na Reunion, Mauritius, Seyshells, Aqaba in Jordanië, die Seuzkanaal, Katakolon in Griekeland, Kotor in Montenegro, Split in Kroasië en dan Venisië in Italië.  By elkeen van hierdie plekke meer die skip vas en kan mens aan land gaan en die wêreld verken. Vandag is daar ‘n lesing oor alles wat Reunion kan bied.  Ek sal vertel soos ons vorder.


Geniet hierdie reis saam met ons. Vier vandag jou eie vryheid.  In Christus en in die vryheid van die omgewing waarbinne jy geplaas is om vry te wees.

Wednesday, April 3, 2019

Hoe oud voel jy?


Ons land 23:33 op Dubai Internasionaal. Die 3de grootste lughawe in die wêreld. Dis moeilik om te glo, want die busrit tussen die vliegtuig en die terminaal vat 42 minute. Maar ek loop my storie vooruit. Dit was nie ‘n lekker vlug nie. Emirates het snaakse gebruike, soos om jou kombers, kussing en oorfone amper ‘n uur voor landing te kom vat. Vir wat? Lank voor die sitplekgordel-liggie afgaan, staan almal reeds bagasie in die hand gereed om af te klim. Ek was in 41K en ons klim agter uit die vliegtuig. Ek het my handsak en my nuwe klein tassie wat ek pas in België gekoop het. 
Ons vat die trappe af bus toe en ‘n jonge dame buig oor en vra of sy my kan help. Ek kyk eers om om te sien waar die tannie is wat ons kan help, toe ek besef sy praat met my. Wat?! Waarmee wil sy my help!

Vir ‘n oomblik is ek verontwaardig. Hoe oud lyk ek?  Ek word volgende Donderdag 49 jaar oud. Soms voel ek 50 en soms 35. Hoe oud voel jy? Wanneer was die eerste keer wat jy oud gevoel het? Myne was op ‘n vliegtuigtrap in Dubai.