Friday, November 27, 2009

As ek hulle weer moes kies...



Daar is nie baie van my vriende wat mal is oor hulle familie nie. Hulle sal eerder grond eet as om 'n naweek saam met familie te kuier...

My familie is anders... Ons "like" mekaar kwaai. Natuurlik is te veel van 'n goeie ding nooit goed nie en dis juis hoe ons resep werk. Ons hou ons genoeg uit mekaar se sake om mekaar se geselskap ten volle te geniet as ons saam kuier.

Verlede naweek was dit weer so. My Pa het by Goudini Spa (met moeite) vir ons ingekry met tente en ons het die beste staanplekke in Goudini gehad. Ek hou maar die nommers geheim, sodat dit weer beskikbaar sal wees in die toekoms. Ons was almal daar behalwe Christa en haar familie in Pretoria en Braam wat 'n begrafnis van sy Ouma bygewoon het in Kimberley.

Daar is baie om te doen in Goudini en ons het hoofsaaklik tussen die verskillende swembaddens roteer. Die kinders het dit veral gate uit geniet. Handre en Lounet was braaf genoeg vir die water-wurm en die res het die koudste warm bad die meeste geniet. Veral die wat "goggles" het. Melindie het leer spring van die rand af en ons moes net keer want sy is baie braaf en onverskrokke. Die drie H's het die berg geklim na die Goudini Spa letters toe. Dis nou Hans, Handre en Hanlie. Ons het mooi voels, 'n bokkie en 'n skilpad gesien.

As ons saam kamp is elkeen verantwoordelik vir een ete vir die naweek en dit werk baie goed. Pa en Ma het afgeskop Vrydagaand met 'n pastapot uit die boonste rakke, met Elna en Santie wat Saterdag se etes verskaf het. Die middag met heerlike kouevleis broodjies en slaai en die aand met braaivleis en slaaie. Ek en Corne het Sondag se brunch gemaak.

Ek is lief vir my familie en as ek hulle weer moet kies, kies ek hulle enige dag! Die beste!

Sunday, November 15, 2009

To Hell and Back: 7 en 8 Nov 2009







Dis my sewende keer dat ek die bergfiets "extreme challenge" in die Gamkaskloof gedoen het. Dis 60 km in en die volgende dag 60 km uit. Nou 60 km is nie baie ver vir 'n fietsryer nie, maar hierdie is 'n perd van 'n ander kleur. Mens begin by De Hoek net buite Oudtshoorn en klim die eerste 20 km tot bo-op Swartbergpas. Dis pragtig, maar die laaste twee draaie is regtig steil. Na skelmdraai begin die pret en stap ek maar te heerlik langs my fiets op die stukke wat my bene nie meer wil trap nie. Die agterkant van Swartbergpas is kort en dan draai mens links op die witpad. Van daar af is dit nog 40 km se op en af tot in die Hel. Dis 'n pragtige natuurreservaat en die veld is regtig mooi. Hulle het baie reen gehad en ons kruis die rivier minstens drie keer. "Heart break hill" is weer 'n "bogger" en na 5 en 'n half ure se harde ry is ek onder in die hel.

Coos en Johann Diener het saam met my gegaan (of ek saam met hulle). Coos was na net drie ure onder en het vir ons 'n baie gesogte kampplek uitgesoek. Ek het 'n fisio sessie bespreek by die registrasie tafels en nou is ek bly. Vandag kyk mens die hele tyd terug na die pas wat ons more-oggend eerste ding moet uit. Dis 5 km se baie steil opdraend. Dit vat my 'n uur en ek stoot die meeste van die pad.

Wat 'n voorreg om gesond genoeg te wees om hierdie te kan ry. Ek is deel van 'n klein groepie mense wat al met hul fietse tot in die hel en terug was. Dankie Here, vir gesondheid! Dankie vir 'n sterk wil wat net nie wil ophou as ek swaar kry nie. (Dit help dat ek in die weermag was!)

Dis hard maar lekker!