Monday, April 9, 2012

My beste dag nog op die toer!

Hallo almal. Baie dankie vir almal se terugvoer en sms'e. Ek waardeer dit meer as wat ek hier kan verduidelik. Vandag was fantasties. Ek is vroeg weg uit die hotel na 'n veel beter en stiller ontbyt. Ek het nou al geleer "stil" in die Ooste beteken die afwesigheid van 120 chinese.

Ek is per taxi eerste na die voelpark by Lake Gardens in Kuala Lumpur. My vriendin Annetjie het bevestig dat sy en haar ma ook 'n paar jaar terug daar was en dit is die moeite werd! En was dit nie! Wow, ek het dit so baie geniet. Vir 45 minute was dit net ek en 3000 voels (meer as 200 verskillende soorte). Dit is 'n massiewe area van 21 hektaar wat toegespan is onder net ("The Worlds largest free-flight walk in aviary"). Ek was eerste in by die hek toe dit 9 uur oopmaak en vir eers alleen. Mens sien glad nie die net van binne af nie en dit voel of jy in 'n oop park stap en voels soek en KRY! Ek het die mooiste fotos geneem van baie snaakse en nuwe voels. Die enigste voels wat by ons ook is, is die volstruis en 'n paar ooievaars en flamink. Miskien 'n paar ander. Van die voels het ek nog nooit in my lewe gesien nie. Die Malay uiltjie links onder in die hoek van die collage was my gunsteling.



Die voelpark self is ook baie mooi en dit was so lekker om die stilte en koelte van die oggend te geniet.




Maar na 45 minute stop daar toe vyf skoolbusse en storm daar troppe 10 - 13 jariges die park binne. Hulle skree, gil, hardloop, druk en jaag al die voels op hol en terug in hul gate. Die Tannie was nie lus daarvoor nie. Net daar maak ek soos beesmis en val in die pad. Ek stap verby die skoenlapper park (lyk effens verwaarloos) en deur die Botaniese Tuin.

Ek het laas in 1997 so gevoel toe ons gesin in Disney World in Florida, VSA was. Jy kan net nie glo wat jou oe sien nie. Na 'n halfuur wil jy iewers gaan vra of jy asseblief kan betaal, want dis onmoontlik dat hulle al hierdie wonderlike goed vir jou gratis kan wys!

Dis op die oomblik hulle orgidiee skou in die tuin en die hele stad het sy blinkste baadjie aan omdat hulle nuwe koning Woensdag ingelyf word. Ek hoor vanoggend by die taxi bestuurder dat dit Woensdag hier 'n openbare vakansiedag is. Die rede: 11 April is die nuwe koning se verjaarsdag! Hys in goeie geselskap!

Wat ek die meeste van die park geniet is die feit dat jy van die vloere af kan eet. Ek het werklik nog nie in my lewe 'n skoner stad as KL gesien nie. Singapore sal moet uithaal en wys.




Na ure in die botaniese tuin en heerlike rondstap en waardeer wat my oe sien, vat ek 'n taxi na die Manera toring. Dit is hulle telkom toring en mens kan opgaan tot op die 2de hoogste vlak (observation deck) op 250 meter. Heelbo is die restaurant. Toe ek daar kom het hulle 'n middagete special vir RM88 en ek koop dadelik 'n kaartjie. Dan gaan jy op in die toring en eet in 'n draaiende 360 grade restaurant! Wat 'n bargain. Nogal 'n buffet met sushi en alles. Waarde vir geld.



Ek is so uitgehonger vir slaai en groente dat ek baie gesond eet. Tot groentesop ook. Ek eet ook dennepitte en dink terug aan standerd 6 toe Fifi my leer dennepitte eet het op hulle plaas in die Agter-Paarl. Daar is olywe, parmesaan kaas, gewone internasionale kosse en natuurlik Malayse spesialiteite om van te kies. Die interessantste ding is 'n goudgeel waatlemoen. Dit smaak net soos ons waatlemoen, maar is helder geel. (Foto)

Ek sien vandag hoe die mans in Malaysia mekaar groet. Hulle skud met die regterhand, maar hulle voorste vier vingers is omgekrul waarmee hulle die ander persoon se hand vasvat (nie plat palm soos by ons nie). Dan begin beide stadig hulle hand terugtrek en bring elkeen sy hand terug na sy ken totdat die duimkussing die ken raak. Dit gebeur terwyl beide mekaar in die oe kyk. Nogal mooi om te sien. Dit verskaf 5 - 10 sekondes wat die partye mekaar in die oe kyk. Ek het dit gesien toe ek by die Memorial was van hul tweede eerste minister, Tun Abdul Razak. Hy het in Malaysia regeer van 1970 - 1976. Hulle was duidelik baie mal oor hom, want 'n groot gedeelte van Lake Gardens word gewei aan 'n memorial area vir hom.



Miskien sal dit nog beter met ons in SA gaan as ons tyd maak om mekaar so te groet en aandag te gee aan die persoon wat jy groet. Dit laat my dink aan die fliek Avatar, waar hulle mekaar gegroet het met die woorde: ek sien jou!

Vanaand is my laaste aand in Malaysia. More-oggend vat ek 'n take-away ontbyt om 05:30 en kry 'n taxi na KL Central (waar my foon gesteel is) en dan klim ek op die KLIA Express terug na die lughawe. My vlug is net na 10:00.

Mag julle almal 'n wonderlike einde van Paasnaweek he en veilig terugreis na julle huise. Ek het gister so lekker gesels per e-pos met Blyda Hotnannas, Annetjie, Esme, Elmarie, Corne, Christa, Andre en Stephan en Carina in Japan. Dankie julle! Dit laat my voel asof ek nie alleen toer nie. Dankie vir almal se baie positiewe terugvoer oor my blog! Ek is bly julle geniet dit.

Lief vir julle
Hanlie


No comments:

Post a Comment