Tuesday, April 10, 2012

New York op steroids...

My grootste vrees vanaand is dat julle sal dink ek oordryf as ek julle van Singapore vertel. Genugtig! Wat 'n stad! Ek het vir ses ure die stad ingevaar en 13 457 tree gestap. My meeste sover vir enige dag op my toer. Ek kon net nie stop nie. Ek was al in 'n paar wereldstede in my lewe en tot dusver was Washington DC, London, New York, Parys, Toronto, Seattle, Chicago en Boston hoog op my lys. Maar kyk, hierdie is soos New York op steroids. Hoe kan ek dit verduidelik?

Hier is 'n vibe in die lig wat elektries en aansteeklik is. Daar is energie en lewe in elkeen wat ek sien. Ek het vandag baie daaroor gedink en ek dink die weste is in vir 'n verrassing! Die hoofstad van die wereld gaan baie binnekort in die Ooste wees en nie die Weste nie. Dis vir my so helder soos daglig. "Die oes is groot en die arbeiders min..." Want die lewe in die mense is nie noodwendig die LEWE nie.

Hulle treine is maklik om te kry en te ry en baie veilig en uiters skoon en netjies. Die mense hier is gesofistikeerd en eerste werelds. Ek stap van my hotel af so sewe blokke na die Kallang MRT (Mass Rapid Transport) stasie en koop 'n driedagpas vir 20 SD. Mens kan dit ook op die busse en monorail gebruik.

Van Kallang af sit ek af hawe toe om eers die grootste attraksie in SP te gaan kyk, naamlik die Sands Skypark. Dis 'n baie funny gebou met drie sluise wat bo-op verbind is met 'n boot! Hier is geen tekort aan argiteksvryheid nie en ek verkyk my. Toe ons bo kom, slaan daar 'n heerlike donderstorm uit. Als is watersopnat, maar heerlik koel. Ek wys graag vir julle fotos met 'n paar beskrifte, dan sal julle beter verstaan.

NS: En daar laat weet Choppie my sowaar dat hy ook more verjaar en dat ons ons verjaarsdae kan vier as ek hom gaan opsoek in Hong Kong.

Fotos:


Hulle noem dit Marina Bay Sands. Dis in hulle waterfront. Marina Bay Sands is 'n hotel wat bestaan uit drie suile wat verbind is bo met 'n ding wat soos 'n boot lyk. Op die voorste punt is die Sands Sky Park en dis waar ek was. Mens gaan op met 'n lift en kan mooi fotos van bo af neem oor die stad. Ek het 'n nice video geneem met my (nuwe) selfoon. Die funny wit gebu links is die Art Science Museum. Die hotel het 'n convention centre, casino, binnehuise waterkanale waarop bootjies vaar, 'n teater, 'n event plaza, cristal pavilions, 'n ysskaatsbaan, baie winkels en baie restaurante in. Ek het my vergaap!


Binne in die Marina Bay Sands is hierdie "water feature". Van buite af lyk dit soos 'n reuse glas slaaibak en as jy binne kom, sien jy die water swaai soos 'n reuse brander daarin rond en val deur die dak. Onder is 'n dam waarop bootjies roei (dis die draaipunt van die bootjies wat in die waterkanale deur die winkelsentrum vaar!)



In 2010 is die Youth Olympics in Singapore gehou. By hulle waterfront is 'n hele plantasie bome geplant met 'n bordjie van elke land in wie se eer die spesifieke boom geplant is. Ek het my omtrent vrek gestap om ons s'n te soek. En dit gekry!


Die finansiele hub van Singapore hawe. Daar is 'n PWC ook.


Park kuns!

Ek en 20 000 "Singapoere" in die ondergrondse trein. Die ander 20 000 staan voor die deur as die trein stop en druk om in te kom. As mens hier engte vrees het, sal dit nag raak!


Dis hoe mens weet 'n stad kan WARM word. Oral in die waterfront staan hierdie publieke waaiers.


Die volgende drie fotos is geneem van bo van die skypark af:




Daars 'n hele sokkerveld in die hawe. Ek is bly ek hoef nie die bal te gaan soek as die 'goalie' hom misgevang het nie.

Ek ontmoet twee Sweedse mense bo in die skypark. Ons staan saam onder die afdak en wag dat die donderstorm verbytrek. Die oom vra of ek van Duitsland af kom. Toe hy hoor ek is van SA se hy hulle was al daar. En hy beduie vir my met wild swaaiende hande van die wind in PE wat hulle deurstaan het en dat hulle die tweede oggend by mespunt beroof is van al hul geld en kamera. Ek het maar namens ons president en alle inwoners van SA omverskoning gevra en ek het so mooi as moontlik vir hom probeer verduidelik dat as mens nou een keer SA toe kom vir 'n kort rukkie, dan is PE nou nie die plek van eerste keuse nie! Hy en sy vrou is beide liries oor China se mense en natuurskoon.  Hulle was al in die Guilin vallei waar ek en Lean gaan fietsry van 1 - 7 Mei 2012 en hulle se dit is fantasties en iets om na uit te sien.

Ek moet myself maan: Een dag op 'n slag!

Baie dankie vir almal se e-posse en sms'e. Julle maak dat ek voel ek toer saam met almal van julle. Dankie daarvoor. Ek kry vandag nog 'n stukkie slegte nuus van Michelle. Een van my geliefde vorige raadslede, Sophia Gordon, is oorlede. Ek en Jo was op 11 Maart 2012 nog by haar 80ste verjaarsdag. Sy is in haar slaap oorlede. Michelle stel dit baie mooi: Ons is op geleende tyd.

Ek lees tans 'n baie goeie boek oor die tweede helfde van ons lewens. Dis vir 40 plussers geskryf en gaan oor die sprong van suksesvol na 'significant'. Sophia het juis so 'n mooi toespraak gemaak op haar verjaarsdag oor hoe sy haar lewe vir 'significance' gelewe het in die gemeenskap.

Mag ons almal 'n verskil maak daar waar ons is! Ek hier en julle daar!

Lief vir julle
Hanlie


1 comment:

  1. Cool!
    Ja nee wat as mens sien teen watse spoed gaan daai land vorentoe - beter of nie - dan besef mens hoeveel verder laat hulle die res van die wereld elke jaar agter.
    Ek hoop jy het darem deur daai voetbrug geloop wat soos 'n lang ronde spinnerak van die groot wit Art Science museum na die sokkerveld toe loop! Dit het een of ander prys gewen. 'n Vriendin van ons trou in MEi in Singapoer (sy kom van daar) - nou wens ek nog meer ons kon gaan. Nou ja toe geniet dit!

    ReplyDelete