Sunday, April 22, 2012

Naglewe in Hong Kong!

Ek was die SR-lid vir dameskoshuise in 1993 by die Universiteit van Stellenbosch toe die inkomtye vir dames vanaf 01:00 tot 03:00 verander is. Dit het baie harde baklei gekos om dit reg te kry. Wat ons tot 03:00 in die oggend op straat wou doen, kan ek nou nie meer onthou nie, maar dit was die beginsel wat vir ons saak gemaak het. Ons leuse was 'Inkomtyd is my besluit!' en dit het vele optogte, drukvergaderings, berigte en briewe in die Matie en stemlokale gevat om dit reg te kry. Ons het ingehok gevoel deur die Universiteit!

Vanaand is die eerste keer in 19 jaar dat ek weer ingehok sit op die 5de vloer van 'n 16 vloer gebou in Hong Kong en die krag is uit!

Dis nou 01:45 by ons. Ongeveer 01:25 het daar 'n alarm afgegaan in ons gang in die woonstel waarin my klein kamertjie is. Ek word wakker daarvan en besef al die krag is af. Dis nogal benouiend in 'n 1,6 meter by 2 meter kamertjie, want dis net aircon en die extractor fan wat jou laat asemhaal hier.

Ek begin voel-voel my flits soek. Dis in my wassakkie in die badkamertjie. Ek wonder al vir 25 dae hoekom ek dit saamgebring het. In die lig van die kopflits gaan soek ek die kragboks in die gang. Ek moet my kamersleutel onthou, want as die deur agter my toegaan staan ek die hele nag buite. In die gang is twee ander mense. Die een ou is jongerig en moontlik van Korea. Die ander 'n ouerige oom van china. Ons kan nie een mekaar verstaan nie. Ons beduie en al drie praat in hul eie taal. Ek sommer in afrikaans.

Ons druk, draai, lig, maak oop en maak toe, maar die alarm wil nie af nie. Hier is moeilikheid. Agterop die gangdeur is 'n gelamineerde papier met instruksies en nommers op. Ons doen als wat hulle se, maar niks werk nie. Ek beduie ons moet hulle bel. Die 'reception' op die 13de vloer is toe hierdie tyd van die nag en die hysbak aan ons kant van die gebou maak 22:00 toe. My foon het nie geld op om te bel nie. Ek moet onthou om dit te herlaai. Die Koreaan trek sy skouers op. Die Chinees gaan slaap. Ek onthou dat Choppie my vandag vertel het dat die ervaring wat hy elke dag met die mense hier het, is dat hulle baie slim is en duisende goed kan memoriseer en herhaal, maar dat hulle nie kan dink en probleme oplos nie. Okay! Dit los my en die Koreaan. Ons gaan soek hulp. Eks in my pajamas en hy in 'n slaapbroek. Ons het my flitslig en ons verstaan mekaar gad nie, maar teen hierdie tyd ook baie goed.

Gelukkig het die gebou 'n sekuriteitswag onder en die help ons om die tannie aan diens te kry. Sy kom en kom sit die krag aan. Ek vra dat sy ons wys wat sy gemaak het dat ons dit self sal kan doen as iets weer gebeur, maar sy verstaan my nie. Lost in translation se ek jou!

Die alarm raak stil en ons kan gaan slaap! Nou's ek helder wakker. Hier is inkomtyd nou my besluit, maar na 19 jaar weet ek nie wat 'n mens hierdie tyd van die nag buite wil maak nie!

Dina vertel my vandag dat sy en Choppie al deur die jare taal lesse geneem het hier om Cantonese te probeer verstaan. Dit is 'n baie moeilike taal om aan te leer. Daar is nege toonhoogtes wat gebruik word, want 'n woord beteken in 'n ander toonhoogte iets anders. Daar is tot 4 toonhoogtes in een woord. Die meeste geboue het nie 'n vloer 4 of 24 nie, want die woord vir vier beteken ook 'dood' en hulle is baie bygelowig.

Wat 'n opwindende nag! Lekker slaap.

No comments:

Post a Comment