Friday, April 20, 2012

Hong Kong!

Ek sit nou kliphard en lag vir myself op my bed in die USA hostel in die grootte stad HK. Dis 20:20 in HK. Ek het nog 'n uur aangeskuif en is nou 6 ure voor julle. Toe ek vir my verblyf gesoek het hier was alles peperduur en regtig ver buite my prysklas. Ek wil nie baie vir verblyf betaal nie, want ek is byna nooit in die kamer nie. Toe kom ek af op die USA Hostel in Hong Kong. Dis nog steeds redelik 'pricy' gemeet aan die res van Asie, maar dit lyk skoon op die internet en ek bespreek. Dis wonderlik sentraal gelee reg langs Tsim Sha Tsui MTR stasie in Kowloon. Vir die wat nog nooit hier was nie, dis presies in die middel van alles en stapafstand van die meeste goed of van die goed wat jou by die meeste goed kan bring.

Hier is 15 vloere en op elke vloer is oneindig baie woonstelle. En is elke woonstel is 30 kamers! Ek is in 501 in F1 op vloer 5.

Hierdie is my hele kamer:

 As mens op die toilet sit, sit jou voete langs jou bed in die kamer!
Dis nie eers 2 meter breed nie.

Maar dis skoon en netjies en ek gaan lekker bly. Terwyl ek nou hier sit en tik, gaan my toilet se flush elke keer af as iemand anders op 'n ander vloer dieselfde lyn gebruik! Ek sal miskien maar 'n slaappilletjie moet vat vanaand of heelwat drank!

My laaste sien van Vietnam was vroegoggend toe 'n taxi my kom haal het om lughawe toe te gaan. Ek het vandag vir my bybelstudiegroep gese ek gaan dit nie hier se nie, want ek is bang my familie en vriende 'worry', maar vir volledigheid van my blog en eerlikheid deel ek maar dat ek in 'n klein motorongeluk was vanoggend. Ek het eintlik nie regtig gedink mens kan in Vietnam wees en nie in 'n ongeluk betrokke wees nie. Hulle ry net te verskriklik. Die taxi bestuurder het 'n vrou bo van haar motorfiets afgery en ek en hy en sy het baie groot geskrik. Hy het my belet om uit te klim om te kyk of sy okay is en het sowaar net aangery. Daar was 'n man in uniform langs die pad, maar hy het ook nie gelyk of dit hom raak nie, so toe ry ons aan. Ek het net weer besef hoe groot 'n toeris se behoefte is om veilig te voel in 'n vreemde land. Bid asb vir my veiligheid en die veiligheid van my goed. Ek het 'n paar duisend engele nodig elke dag! Ek is seker die engele skaar is erg dankbaar dat ek klaar is met Vietnam se verkeer.

Die twee vlugte was baie lekker met Thai Air. Hulle is baie goed. Corne, daar was wraggies 'n aardbewing in Phuket tien dae nadat ons daar uit is. Ek lees dit vandag in 'n Bangkok koerant. Dit het 4,3 op die rigterskaal gehaal. Ek het langs 'n baie oulike man in die vliegtuig gesit en baie lekker gesels. Hy woon in Bangkok, maar kom van Hong Kong af. Hy het my lysie aangevul van goed wat ek hier moet sien.

Thai Air se veelkleurige sitplekke.

Ys teen die vliegtuig ruit. Ek kon niks afneem van HK nie, want toe ons land toe reen dit katte en honde. Ek was papnat toe ek by my hostel aankom. Dit reen nou nog.

Toe ons wag om te 'board' op Bangkok lughawe, sit daar twee tannies langs my en ons begin gesels. Hulle is van Asie. Hulle het die plek se naam gese, maar dis onbekend aan my. Toe die tannie direk langs my hoor ek kom van SA af, vra sy of ons plaas ook afgevat is deur ons President. Nee, verduidelik ek, dis ons buurland Zimbabwe. O ja se die ander tannie, sy weet van SA, ons het seerowers langs ons kus! Is my familie darem okay! Ek probeer verduidelik dat Somalie redelik ver van ons af is, maar hulle frons net. Ek vertel van die World Cup, van Nelson Mandela en Desmond Tutu. Hulle kyk vir my deur glaserige oe en ek besef hulle dink ek is te skaam om te erken my plaas is afgevat en my familie is deur seerowers aangeval. Vir mense in Asie is SA en selfs Afrika baie onbekend. Daar is werklik min wat 'n sweem van erkenning wys as jy se jy kom van SA af.

Hier spoel my toilet nou net weer!

'n Vriendin van my, Kojanna, het die storie oor die skilpad in Lake Hoa Kiem in Hanoi so geniet dat sy vir ons fotos op die internet gaan soek het. Dankie Kojanna! Dit help. Nou het ons haar ook gesien! Ja, soos Kojanna se, sy is werklik nie 'n 'oil painting' nie, maar darem al eeue oud. Die mense in Hanoi dink sy is 600 jaar oud, maar wetenskaplikes stry daarmee.




My eerste indrukke van Hong Kong is baie goed. Die stadsliggies is aangrypend en ek kan nie wag dat dit ophou reen dat ek dit kan afneem nie. Dis amper soos Las Vegas en New York gemeng, maar baie Chinese lettertjies. Sondag is ek genooi om by Choppie en Dina te gaan kuier. Choppie was 'n jaar voor my op skool en hulle bly al 7 jaar hier. Hulle bly op HK Eiland en ek sal die MTR vat soontoe. Hy se ek hoef niks te bring nie, maar ek is voorbarig genoeg en vra of ek asb iets kan bring: my wasgoed! Nou wag ek om te hoor of dit okay sal wees. Ek was elke aand my dag se klere uit en hang dit op, maar hier sal ek dit nie kan doen nie, dis net te klein en handwas maak dit nie so skoon soos 'n masjien nie.

Groete uit Hong Kong! Nou gaan ek eers die strate vat! Dis 20:45 en die aand het hier pas begin!

2 comments:

  1. Hello tannie hanlie.
    Die foto's is baie intressant! veral die klein kamerkie.

    Liefde
    Sulize

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Sulize. Dis heerlik om van jou te hoor. Hoe gaan dit by julle? Vra Mamma moet asb vir my 'n bietjie 'n e-pos stuur en vertel hoe dit met almal gaan.

      Lekker naweek

      Delete