Thursday, December 12, 2013

Totsiens Switserland

Ek sit in die besigheids-sitkamer van Star Alliance (Swiss Air) op Zurich Lughawe of Flughafen soos hulle hier se. Dis ongelooflik hoeveel meer ek verstaan van die Swiss-Duits na net 10 dae. Ek dink ek sal dit maklik kan aanleer. So baie woorde het presies dieselfde Germaanse oorsprong en mens vang maklik die spreker se intensie. Al vang jy nie alles nie.

Gisteraand was so 'n 'lost in translation' geleentheid. Ek was genooi vir ete deur 'n Arabier uit Thunesie wat al 20 jaar in Switserland bly en werk by die Franse Ambassade. Ek het hom ontmoet tydens ons twee konserte in Bern verlede Woensdag en Vrydag. Natuurlik was ek ongemaklik om aan huis van 'n wildvreemde man te gaan kuier en het ingestem indien Roger (die seun van Charles en Rosemarie - die gasouers van Sherlock) ook saamkom. Hy en die Arabier (Sadok) is groot vriende oor baie jare en hy is maar te bly om genooi te wees as my 'bodyguard'. Ek is vooraf verseker dat Sadok 'n man van statuur is en geen slegte bedoelings sal he nie. Ek het seker 20 keer met Sherlock gecheck of dit regtig okay sal wees en net weer besef in hoe 'n mate ons in SA geindoktroneer is om altyd die heel slegste te verwag. Sherlock het my verseker dit sal goed wees en hy was reg. Dit was 'n lieflike rustige, baie gesellige aand met klomp nuwe smake en tale. Ek het dit baie geniet. (Selfs aan 'n Arabiese pyp gepuff ook!)

Roger het my kom oplaai. Nou moet ek darem eers bietjie oor hom vertel: hy is 'n regsgeleerde en 'n predikant en doen tans die regsake van die kerk in Switserland. Hy is in Switserland gebore en getoe, maar het al die hele wereld gesien en ken al wat 'n kultuur is. Hy is 41 met 'n baie stoute seunsgesig en het 'n baie goeie sin vir humor wat hy op alle maniere uitdeel en nie bang is om terug te ontvang nie. Hy trek sy hele gesig in kneukels as hy praat en is 'n groot teddiebeer met baie goeie maniere. Sadok is 'n Thunesier met twee seuns. Sy oe lag lank voordat dit by sy mond uitkom. En hy kan baie lekker kos maak. Hy praat verskeie tale vlot (onder andere Arabies, Swiss Duits en Frans) en Engels bietjie swakker. Roger se Engels is effens beter. En daar kuier ons drie. Oor vier gange vir 'n uitstekende maaltyd en met 'n mengelmoes van klomp verskillende tale en baie verskillende humorsinne. Wat 'n leerskool en heerlike affere. Ek hou van nuwe opwindende dinge en hierdie was beslis een.

Sadok is 'n Moslem en drink geen alkohol nie. Ons drink Schimp Schamp (ek dink dis wat hulle dit noem). Dit is 'n produk van Coca Cola wat jy in Switserland kry. 'n Mengsel van Coke en Lemoensap en verbasend lekker. Hy bring voorgereggies van tarentaal eiertjies met shrimps op soutkoekies. Daarna skuif ons eetkamer toe na 'n pragtige gedekte tafel vir die volgende drie gange. Die fotos sal meer se as wat ek kan, maar ek kry dit nou nie van my iphone af hier opgelaai nie. Die eerste was 'n baie geurige, effens branderige sop met wortels en vars koljander en 'n tamatiebasis, maar nie soos tamatiesop nie, want dit is my fiemie. Daarna Bregg - dit is aartappel, tuna en kruie in filodeeg wat in 'n driehoek gevou is en in olie gebak is. Met slaai. Daar is granaat slaaisous wat hy wraggies self gemaak het. Ek moet se, sover was ek erg beindruk en was alles heerlik. En toe kom die hoofgereg. Ek tel mos nou! Daar was wraggies vyf geregte al te saam! Vis en gestoomde groente met gegeurde rys. Ek was teen die tyd al so versadig, maar wou nie aanstoot gee nie en het aan alles geproe. Die nagereg was by verre die beste: 'n gebakte vrugte poeding met rooswater, appel, bonjour koekies, granaatpitte enpiesang. Ja, ek weet, dit klink nou baie slegter as wat dit was. Dit was die hoogtepunt van die feesmaal, maar alles was lekker. Die geselskap ook. Dit is altyd die moeite werd om nuwe situasies te trotseer en nuwe vriende te ontmoet. Ons kuier tot ek nie meer my oe kan oophou nie. Ek het nog nie gepak nie en moes vanoggend 06:00 reeds vertrek lughawe toe. Ons sluit die aand af deurdat Sadok vir my en Roger wys hoe 'n arabiese suigpyp werk. Hulle noem dit chicha en al wat ek daarvan weet is dat ek altyd gril in Stellenbosch as die studente dit sit en rook by die restaurant langs die poskantoor. Almal suig aan dieselfde pyp. Siesa! Miskien is dit presies wat die naam beteken! Wie weet! Chicha!

Sadok het 'n versameling van tee-koppies in 'n uitstalkas in sy huis en ek word genooi om vir my enige een van die versameling te kies. Dis moeilik om te weet of weier aanstoot sal gee en ek kies 'n mooi een. Op die oomblik is dit in my rugsak. Ek hoop van harte dit oorleef die twee vlugte.
Die rede hoekom ek vandag so vroeg moes lughawe toe kom, is sodat ek die Rheinvalle kan gaan kyk by Schaffhausen. Dit is 45 minute se trein vanaf Zurich Internasionaal en ek gee my tas en rugsakkie in op die lughawe. Verbasend goedkoop (slegs 9 CHF vir meer as 5 ure) en ek is weg. Schaffhausen is 'n wonderlike verrassing. Baie mooi outydse dorpie met die mooiste geboue en mooi markplein. Ek vat 'n bus na die Rheinvalle en stap van die bushalte deur 'n bos na die valle. Heerlik! Dis regtig pragtig. Vandag is die lug grou en grys en ek besef net weer hoe geseend ek gister was in Zermatt.

Nou wag ek vir my vlug. Laat ek eers ietsie eet in hierdie ruskamer.

Dankie vir almal wat saamgetoer het. Mag julle ook elke geleentheid in julle lewens gebruik om eerder ervarings na te jaag as goed. Dit is 'n besluit wat ek reeds baie jare gelede geneem het vir my eie lewe en sover was ek nog nooit spyt nie. Ek hou van toer! Mag daar nog vele nuwe mense en nuwe plekke in my toekoms wees.

Mis julle
Hanlie




Wednesday, December 11, 2013

Matterhorn

Ek was vandag Matterhorn en Zermatt toe! Dit is weer die mooiste prentjie blou helder sonskyndag. Baie genade!

Ek gee eers net 'n paar fotos, want ek het pas teruggekom en dit is net te groots om dit in een dag alles in te neem en weer hier uit te spoeg.






Ek is vroeg uit Bern (06:07). Roger en Sherlock het my kom oplaai by die huis. Hy is ook oppad stasie toe en ons groet maar weer. Hy en Florence ry met die trein na Berlyn en daarvandaan na Pole. Hy moet 'n praatjie gaan gee by hulle universiteit. Ek vat die trein na Visp en daar klim ek oor na Zermatt en kry daar die trein na die Gornergrat. Ek skryf later meer. Op die oomblik verwerk ek nog aan al die mooi!



Die spaggethi bolognais kos 'n skamele R220. Ek oorweeg twee! Mens betaal sekerlik vir die uitsig en dit is elke sent die moeite werd!

More vertrek ek terug SA toe. Wat 'n fantastiese week was dit nie!



Paul Klee Zentrum

Vanoggend ry ek gou in stad toe voordat ons mekaar kry by Thun tremstasie. Ek moet iets vir ontbyt kry en wou gou die internet-kafee besoek om hierdie op te sit, maar dit maak eers 10:00 oop. 09:10 is ek by die trem-stasie want Sherlock kry ons 09:17. Ek was in die weermag en doen nie laat nie. Dit verskyn nie in my verwysingsboek nie. Dit is -7 grade vanoggend en dit byt. Soos elke ander dag in hierdie week is die Diva’s laat en kom rustig 09:34 daar aangesuiker. Daar is min dinge waarvoor ek so min geduld het soos mense wat ander so min respekteer om laat te kom. Ons stap na die SAse ambassade twee blokke weg om almal die herinneringsregister te gaan teken vir Madiba. Dit is ‘n wonderlike ervaring. Ek het ook vanoggend die mooiste protea gekoop in die stad en kan dit langs die register plaas ter ere van ‘n baie groot siel wat die kleure van ons reenboognasie heelwat helderder gelaat het. As ek nou hier skryf wat die protea gekos het, sal ons blomme-tannie in Piketberg in haar tee stik. Ek koop gereeld by die stalletjie in Piketberg vir my ‘n hele bos proteas vir my huis. Sy vra R20 ‘n bos. Hier vanoggend betaal ek 30 CHF (R336!!) vir een. Dit is tyd dat ek huistoe gaan. My geld is op.

Vanoggend besoek ons die Paul Klee Zentrum. Dit is ‘n baie bekende landmerk in Bern wat in 2005 voltooi is. Paul Klee (1879 – 1940) was ‘n bekende kunstenaar, maar ook medikus, filosoof, wiskundige en musikus. Franciska is die baie vriendelike toergids wat ons by die deur ontvang. Sy het as kind in SA gebly en twee jaar in SA in ‘n afrikaanse skool skoolgegaan in Pretoria in 1968 – 1969. Die bekende Italiaanse argitek Renzo Piano het die indrukwekkende drie golwe gebou ontwerp. Die gebou huisves Paul Klee se belangrikste werke, maar ook ‘n baie indrukwekkende wereldklas konsertsaal en konferensie fasiliteite. Ek is mal oor sy werke. Regtig pragtig. Ons kyk ‘n video oor sy lewe. Daarna verstaan jy sy tekeninge en skilderye veel beter. Later eet ons almal saam op Franciska se rekening. Die lekkerste pampoensop met geroosterde pampoenpitte en growwe brood.








Ek stap terug gastehuis toe en val op my bed neer. Hierdie kultuurkant van my maak my moeg, maar vervul my ook geheel en al. Dis nogal ‘n kant wat ek baie afskeep ten gunste van sport en werk. Nadat ons die kunswerke gaan kyk het, wys hulle vir ons die kinder werkswinkels wat by die Zentrum aangebied word. Ons kyk na tientalle jillende gelukkige kinders wat met verf op papier kan mors en uitdrukking gee aan als wat hulle beleef het in die kunswerke van Paul Klee. En dadelik is ek terug in 1982 in my st 4 kunsklas in Hugenote Laerskool op Wellington. Die eerste gang links as jy van die saal af biblioteek toe geloop het. Mnr Hanekom het kuns gegee. Groot plastiek swart potte met wit dikseltjies vol helderkleurige poeierverf. Ons mors op swart papier en kan uiting gee aan ons ontluikende self! Ek onthou dit so duidelik dat dit my laat skrik vir ‘n oomblik. Skielik weet ek ek wil in 2014 weer kunsklasse neem.


Vanaand groet ek vir Sherlock. Ons het in so ‘n kort tydjie onafskeidbare kamerade geword. Hy vertrek more-oggend na Berlyn en dan Pole tot Maandag. Ek het lanklaas iemand ontmoet in wie die Here soveel verskillende talente so in oorvloed uitgestort het. Finominaal!


Naweek in Switserland

Jammer julle! Ek kon nie by 'n internet kafee uitkom vir dae nie. Dankie vir almal se sms'e en knaende gesoek na meer vertellings. Ek waardeer dit. Dit was net nie moontlik om dit op my blog te kry nie, maar nou is hier sommer 'n paar dae se stories in een:

6, 7 en 8 Desember 2013

Dis nou al 9 Desember 2013 06:34 as ek hier sit en tik. Die naweek het verbygevlieg en daar was soveel nuwe goed wat gebeur het dat ek nie kans gesien het om te gaan sit en vertel nie. Switserland is alles-inslurpend (! Is daar so ‘n woord?). Daar is soveel aanslae voortdurend op al my sintuie. Telkens is ek seker nou het ek die heel mooiste gesien en dan kom jy om die volgende draai en daar is die mooiste. Ek dink dit is net die basiskamp van Everest wat vir my mooier was nog ooit in my lewe. Hierdie plek is soos ‘n stukkie hemel op aarde.

Toe ek op Stellenbosch was het my Ma gereeld gevra: Hanlie, kyk jy nog hoe mooi dit is? Hier vra ek dit gister vir Rosemary en ja hulle besef in watse Godsparadys hulle bly.

Ek gaan nou sommer agter begin en terugwerk... Gister (Sondag) het ek die oggend vir myself gehad en op aandrang van Sherlock is ek na Thunersee. Dit is ingesluit by my Swiss Rail. Dit is so 40 minute per trein rigting Interlaken en dan klim jy af in die mooiste dorpie, Thun. Van Thun loop daar ‘n boot oor die Thunersee na Spiez en terug. Dit is so ‘n 90 minute se vaar saam met ‘n heerlike ontbyt. Met jou Swiss Rail kry jy 25% af op die ontbyt. As jy ooit in Switserland kom toer, koop ‘n Swiss Rail Pass. Dit is uit en uit die moeite werd. Ek neem die mooiste fotos en besluit om ook vir my ‘n fotoraam te maak van Switserland soos die een oor die Kanadese Rockies van 2004 se toer, wat langs my kaggel hang. Ek soek ook vir my ‘n legkaart wat ons Januarie by die see kan bou saam met die hele familie van ‘n plek waar ek hier was.




Ek moet gou loop en terugkom, want ons moet half vier ry vir vanaand se laaste optrede van die toer. Dit is in ‘n klein plattelandse dorpie, Würzbrunnen. Dit is hoog op teen ‘n berg en lê toe onder die sneeu. Die kerkie is pragtig en die akustiek is om van te droom en almal sing baie mooi! Zorada het ‘n uitdaging met ‘n baie klein boks orreltjie, maar sy slaan daai klawers dat hul monde oophang. Jis daai vrou mag maar!

Na die tyd nooi Charles en Rosemary vir my en Sherlock en hul seun Roger vir aandete by ‘n Chinese Restaurant met die naam Halong Asia hier naby my gastehuis. Dit is vernoem na Halong Bay in Vietnam waar ek verlede jaar was. Die spyskaart het die mooiste foto van die baai op. Ons gesels en lag lekker. Sherlock is besig om siek te word en voel minder wel. Maar die van julle wat hom ken, soos die Pikebergers wat hier lees, sal weet hy sal wel weer een of ander resepie van sy ouma se boere rate bymekaar skraap en more reg wees. (Wat toe wel so was)

Saterdag was vir my die lekkerste dag nog. Ons het die ongelooflikste geskenk gekry van die organiseerders om geborg te word vir die trip na Jungfrau. Daar is ‘n treinspoor gebou tot by Jungfraujoch op 3454 meter. Dit is die hoogste punt in Europa (waar mense kan kom en uitklim). Die top van Jungfrau is nie die hoogste in Europa nie en le op 4158 meter. Sherlock het gese watter een die hoogste is, maar ek het nou vergeet. Seker Mont Blanc op 4810 meter. Ek kyk nou op google en natuurlik is Mt Elbrus in Rusland die hoogste een in die nuwe Europa. Hulle dui Mont Blanc nou aan as die hoogste in Wes-Europa. Die hoogste piek in Switserland is Dufourspitze by Monte Rosa.  Vandag se trippie kos meer as R2000 per persoon en ons gaan vir mahala! En wat ‘n dag was dit nie! Die mooiste blou-lug-legkaart-prentjie dag! My mond hang oop en as dit nie -33 grade daarbo was nie, het ek hom nou nog nie toegemaak nie. Ek gaan probeer om foto’s hierby te laai, maar julle sal die res moet kom kyk. Ons sien ook baie ski-ers, want hulle seisoen open 15 Des en daar is nou oefengeleentheid en ski-skole teen al die hange. My gunsteling dorpie is Eiger en natuurlik Grindelwaldt.



Nou moet ek vir julle se dat almal die hoogte nie ewe goed hanteer het nie. Party was onmiddellik siek. Die een Diva is net 24 jaar oud en het nog nooit in haar lewe nodig gehad om haar fisies so bietjie uit te daag nie (ek probeer dit nou so mooi as moontlik stel), so sy het “inmekaar gesak” en “kon nie verder loop nie” en “moes gedra word”. Ek is nou al redelik opgelei in hoogtesiekte (iets heel anders as hoogtevrees) en het ‘n flits gevat en haal pupille bekyk en kon gelukkig verklaar dat sy nie besig is om dood te gaan nie. Sy ken net nie haar fisiese vermoens nie. Toe is daar wraggies drie van die groep wat besluit hulle is nou gedaan en gaan nie na die Sphinx Terras (uitkykpunt heelbo) nie. Ek het amper beswyk van verbasing! Hoe is jy op ‘n lewensveranderende uitstappie waarvoor iemand anders vir jou betaal het en jy besluit om eerder in die trein te gaan skuinsle?! Hygend Hert Der Nacht Ontkomen! Maar nou ja... so verskil ons.

Die Jungfraubahn is ‘n wonderwerk om te aanskou. Mensehande het die tonnels gegrawe en baie het met hul lewens daarvan afgekom. Die tonnels en steiltes is indrukwekkend en ek geniet die ystonnel baie. Wow! Dit is baie mooi! Die bouwerk aan die Jungfraubahn het in 1896 begin met omtrent 100 Italiaanse arbeiders. In 1898 het hulle die tonnels begin blaas met plofstof. Die ontwerper en man met die idee agter die grootse werk, was Adolf Guyer-Zeller. Hy is in 1899 oorlede en sy nageslag het met die projek voortgegaan. Die een na die ander stasies is geopen van 1899 – 1905. Daarna is die projek vir twee jaar gestop as gevolg van finansiele probleme. In 1912 word die finale afrondings gedoen en open die hele baan op 1 Augustus 1912 na 16 jaar se konstruksie. Die bou van die baan het ongeveer 16 miljoen CHF gekos. Dit is R179,2 miljoen rand. Maar mens kan dit nie so bereken nie, want 16 miljoen CHF in 1912 was baie meer werd. Ek weet nie wat die rieele waarde daarvan vandag is nie, maar ek is dankbaar dat iemand dit wou uitgee om soveel mense die kans te bied om een van die mooiste plekke te wereld te sien.

10 Desember 2013

Ek het lekker geslaap en is uitgerus. Gister was ons Sion toe en Geneve. Sion is ‘n kleiner dorp met ‘n baie mooi kasteel op die hoogste punt. Ons moes dit klim want in daardie kasteel is die oudste orrel wat steeds in gebruik is in die wereld en ons wou Zorada soontoe vat as ‘n verrassing. Dit was baie aangrypend. Ek het haar gevra om dogters van Sion te speel in Sion. Dit is een van my gunstelinge! Die orrel is in 1435 gebou. Die huidige orrelis is ons toergids en het spesiaal die gebou kom oopsluit, want hulle is toe op ‘n Maandag. Die hele dorpie se winkels was ook toe en Sherlock verduidelik dit is omdat hulle Katoliek is. Maandae is alles toe. Sion is gelee in die Walliese Kanton en die mense praat Walliese Duits. Die toergids verduidelik vir ons hoogs tegniese goed in Wallies, dan vertaal Charles dit in Swiss Duits en Sherlock vir ons in Engels en Afrikaans. ‘n 30 minute toer het veel langer gevat, maar dit was so mooi om te sien en te beleef.

Daarna ry ons met die trein na Geneve en Roger, Charles en Rosemary se predikant seun, het spesiaal die dag afgevat om vir ons rond te wys. Geneve is wereldbekend en huisves baie internasionale mense, banke, organisasies. Maar dit het nie dieselfde bekoring vir my as bv Berne of Zurich nie. Ons besoek die kantore van die Verenigde Nasies en dit is baie interessant om te sien dat hulle nie hul vlae halfmas gehang het vir Madiba se dood nie. Nee, die koerante hier se halfmas was nie goed genoeg nie. Hulle het elke liewe vlag voor die VN heeltemal afgehaal. Honderde kaal paaltjies bevestig ons leegheid en verlies.

Ons loop bietjie in die middestad rond, kyk die muur van reformasie en die groot spuitfontein. Die meer oppad soontoe en oppad terug is prentjie-mooi. Ek sal weer moet kom om meer tyd hier te spandeer.

Ons kom laat terug met die trein en het net een behoefte: My eie bed, ‘n warm stort en om bietjie rus vir my siel te kry. Weg van die Divas. Julle! Ek het nooit besef hoe uitputtend dit kan wees om saam met iemand te toer wat verslaaf is aan aandag en dit elke oomblik van elke dag by die mense rondom haar moet kry nie. Erg! Maar Sherlock vat nie nonsens nie en daar is van afskakel geen sprake nie. Ons is genooi deur Stephan en Barbara om by hulle te kom eet. Dit is mense wat verlede Vrydag by die opvoering en huldeblyk aan Mandela was wat ons gehou het en hulle het ons genooi. Nou kyk, laat ek eerlik wees: Daar was nie ‘n spier in my lyf wat die trippie wou maak nie. Glad nie. Maar hoflikheid kos niks en ‘n halfuur later staan ons reg.

En was ek nie bly ek het gegaan nie! Dit word een van die lekkerste aande in my lewe. Die spanning van optredes is verby en almal ontspan heerlik en lag en gesels en selfs die Diva is meer aanvaarbaar. Ons gasouers is wonderlike mense. Charles en Rosemary en Roger is ook hier en ‘n paar ander vriende wat ons oor die week gemaak het ook. Sadok, Maurits en Andries Cloete, die opera sanger van La Traviata. Ek het in een week meer gekultiveerd geraak as in my 43 jaar tot hier! Dit is ons laaste aand saam voordat die meeste more vertrek. Jonette gaan al more-oggend vyfuur. Daar is nou ‘n afgeronde wonderlike sanger. As julle ooit na ‘n opvoering van Jo-Nette La Kay kan gaan kyk, moet nie huiwer nie. Dit geld eintlik vir al hierdie mense. Hulle het stemme uit die boonste gestoeltes.

Ek vertel verder onder 'n volgende opskrif...


Friday, December 6, 2013

Die dood van 'n grootte...

5 Desember 2013

00:00 (SAse tyd)

Die nuus trek soos ‘n stormwind. Van reg oor die wereld. Dis Sherlock wat my sms toe sy tram die stasie verlaat voor my gastehuis. En toe ‘n klomp ander. Dis een van daardie oomblikke wat jy later presies gaan onthou waar jy was toe dit gebeur het: soos Lady Di se troue, 9/11 en Japan se thunami.

Nelson Mandela is dood. Dit wat ons sedert 8 Junie 2013 elke dag verwag het en dae lank voor voorberei het, het ons nou onverhoeds betrap. In SA skarrel die mensdom. By ons Munisipaliteit en elke ander Munisipaliteit in die land is daar ‘n tien dag rou proses wat ek moet koordineer. Moet ek vroeer terugvlieg? Als hardloop deur my kop soos wilde honde. Ons land is op sy kop gekeer. Youtube wys hoe hardloop mense in die strate en bring hulde aan ons ikoon. En ek sit in Bern. In Luissenstrasse. Alleen in ‘n vreemde, te stil, te warm kamer. Ek huil sonder trane; my hartseer is stom...

Sherlock het teen pouse al geweet daarvan, maar wou ons nie ontstel nie. Ek voel vreemd leeg. Verwese. Bang dat ons reenboognasie van sy kleur kan verloor. Daars ‘n sinis in my wat vra: wat nou? Sal ons kan koers hou? Is daar genoeg goeie mense wat Nelson se rigting kan bly hou?

Die afgelope drie dae sing ons ons volkslied by elke optree-geleentheid in Bern. Die gehore is mal daaroor. Nkosi Sikelele iAfrika. God seen Suid-Afrika. “Sounds the call to come together”... “and united we shall stand”... “let us live and strive for freedom”... “In SA our land!!”

Madiba se dood is so ‘n oproep om bymekaar te staan en as ‘n eenheid saam te staan en aan te hou veg vir die vryheid waarvoor hy sy lewe gegee het. Dit is SA... ons land! My land!

Hierdie is die berig op die voorblad van een van die Swiss Duitse koerante vanoggend. Jammer, maar ek ken net nie genoeg Swiss Duits om hierdie foto gedraai te kry op die rekenaar nie.

Rest in peace Tata!

Voor hierdie slegte nuus kon ek vanaand nie wag om by my rekenaar uit te kom om julle te vertel van ons aand nie. Sherlock loop nou al drie dae met ‘n geheimsinnige glimlag op sy bakkies oor vanaand. Nee hy wil nie se wat hy vir ons beplan nie, maar ons moet ‘n swart nommertjie aanhe en hom 18:30 kry. Ek moet myself nog die hele aand knyp om te onthou dat dit regtig aan die gebeur is.  Toe hy ons kry by Zytglogge (die bekende kloktoring in die hart van die ou Bern), stap ons agter hom aan in die rigting van die brug. By die Stadsteater gaan hy staan en haal vir ons elkeen ‘n kaartjie uit vir La Traviata van Verdi! Wat?! Kan dit waar wees? Wat ‘n voorreg! Sherlock ken die SAner wat in die produksie speel, Andries Cloete, en hy het die hele geselskap gevra om van hul gaste kaartjies af te staan. Wow! Dit is aangrypend. Die musiek is natuurlik in Italiaans en die bo-skrifte is in Swiss Duits, maar ek verstaan elke beweging en bedoeling. So sterk is die musiek en die rolverdeling. Maar die persoon wat my die meeste beindruk die hele aand, is Mirga Grazinyte-Tyla. Van haar gaan die wereld nog baie hoor. Watch this space! Sy is die enigste persoon wat geen geluid gemaak het of voortgebring het die hele aand nie, maar die een waar alles begin en geeindig het. Sy is ‘n skamele 25 jaar oud en die dirigent! Ek sit in die voorste ry en kyk meer vir haar en die orkes as vir die sangers. Sy’s briljant!

Vrydagoggend 6 Desember 2013

08:00 (Switserse tyd)
My gemoed is nou baie vol. Ek voel uitgesluit. Die grootste gebeurtenis in SA speel homself af en ek sit buite ons grense. Sonder TV, sonder radio, sonder genoeg wifi om op youtube sinvol iets te sien. Afgesny. Is dit hoe die mense in exile gevoel het oor soveel jare?
Binne die regering beplan ons nou al sedert 8 Junie 2013 aan roudienste vir ingeval Madiba sou sterf. Ek het alle talle vergaderings hieroor bygewoon en alles is gereel. Elke Munisipaliteit in ons land gaan vir die volgende 10 dae publieke rougeleenthede skep sodat elkeen wat wil in SA hul naam kan teken in ‘n rou-register. Ons het selfs “roaming” registers om na die ouetehuise te neem. ‘n Idee wat ek gekry het by ons plaaslike dominee, Martin Goosen. Ek het dit opgeneem met Provinsie en siedaar! Alle Munisipaliteite wil dit doen. Dankie Martin!

Volledigheidshalwe vertel ek ook hier wat gister en die aand van eergister gebeur het hier by ons. Woensdagaand 4 Des (voel nou baie ver terug) het ons ‘n konsert gehou by die Bern Konsi. Dit is hul konservatorium. Daar was baie mense. Ons Ambassadeur van SA in Switserland, George Johannes, was daar en die hoof van die Konsi was ons gasheer. Hy is Gerhard Muller. Dit was ‘n groot sukses. Ek het die programme uitgedeel, almal verwelkom by die deur en ‘n pamflet uitgegee oor Bergrivier en ons koor. Sherlock het alles in Swiss Duits vertaal. Die hele program, al die woorde van die liedere wat gesing word. Moes hom ‘n ewigheid besig gehou het. Na die tyd is ons saam by ‘n privaat onthaal vir die kunstenaars en die Konsi mense. Charles en Rosemari, die mense by wie Sherlock in die huis bly, doen die catering. Natuurlik, julle het reggeraai: kaas en brood en wyn. Ek ontmoet ook vir Erika, die hoof van hul musiek afdeling en ek en sy en die Rektor van die Konsi sit vleis aan ons idee vir ‘n uitruilprogram tussen SA en Switserland om kuns en kultuur na ons platteland te bring. Ons sing ook vir hulle ons volkslied.

Na die tyd kom groet Johanna Boldt my. Sy is ‘n Afrikaanse vrou uit Port Elizabeth en het vier kinders (regtig orrelpypies tussen 5 en 0) en ‘n Duitse man. Ek en sy gesels ou stukke en ek sien haar kinders gaap my aan asof ek van die maan afkomstig is. Skielik besef sy die situasie en se sy vir hulle: Sien julle, daar is nog mense in die wereld wat afrikaans praat! Duidelik was ek die tweede een wat hulle ooit hoor.

Gister, 5 Desember 2013, was ‘n heerlike, maar uitputtende dag. Ons is vroeg al oppad na die Freies Gymnasium Berne, waar hulle ‘n Suid-Afrikaanse dag hou. Die ambassade het dit gereel. Daar word al die studente als vertel van SA en blootgestel aan SAse literatuur, kleredrag, musiek, inligting en vertellings. Nou moet ek tot my skaamte erken dat ek ook een van daai SAners is wat nie hul eie profete ken nie. Tot vier dae terug het ek nie geweet wie Diana Ferrus is nie. Ek het definitief al van haar goed gehoor en gesien, maar nie te veel notisie geneem nie. Julle! Die vrou is briljant. Gaan google haar bietjie. Sy skryf haar eie goed en lewer gedigte uit haar hart. Sy is van Worcester en is 60 jaar oud. Aangrypend. Sy is veral bekend vir haar stuk wat sy geskryf het vir Saartjie Baartman. Sherlock het haar voor ons toer gevra om ‘n tribute te skryf aan Nelson Mandela. Hy het ‘n droom gehad oor ons optrede vanaand, maar meer daaroor later. Ek hardloop die storie nou heeltemal vooruit! En my hare is nog papnat en ek sit en tik op my rekenaar in my pajamas en hy en Charles gaan binne enkele oomblikke voor my gastehuis se deur stop. Ons is oppad na Bern Stadt se Munisipaliteit om daar verhoudings en vennootskappe te gaan bou. Blykbaar nogal ‘n moeilike oom wat ek vanoggend moet ontmoet. Maar die wat saam met my werk sal weet: ons ken van moeilike ou ooms. Laat ek eers spring...


Sterkte vir almal in SA wat gemoeid is met die reelings vir die rou-periode vir oud-President Nelson Mandela. Ek dink aan julle. My innigste simpatie aan almal wat ook soos ek voel dat ons ‘n groot Vader en Vriend verloor het.

Nou sit ek gou in die internet kafee en wil hierdie vir julle stuur so gou as wat ek kan. Zorada tree vanmiddag op in die kerk so 'n blok van hier af en ek moet al weer hardloop. My afspraak by die Stadt het baie goed gegaan en ons is baie tevrede. Hulle het 'n hele kultuur afdeling in die kantoor van die Munisipale Bestuurder (noem hom die President!). Hulle gee 33 miljoen CHF per jaar vir die ontwikkeling van kuns en kultuur in die stadt. Dit is R369 miljoen per jaar! Daarvan word omtrent R33 miljoen gegee aan opkomende kunstenaars vir allerhande projekte. Ons wil he hulle moet ^n aansoek oorweeg vanaf Gerhard Muller van die Konzi om klaar gestudeerde jong kunstenaars te borg om 'n jaar se internskap/prakties te doen in Bergrivier area. Daarvoor moes ek vanoggend hul Mun Bestuurder ontmoet en sy arm draai en als vertel van ons dat hy weet as die aansoek kom, hoekom hy dit moet steun. 90 minute se groveling! Maar dit het goed gegaan. Ek is voor die tyd gewaarsku oor hoe moeilik hy is, maar hy was dit glad nie. Ek het al geleer dat geen mens moeilik bly as jy hom opreg uitvra en geinteresseerd is in wat hulle vir die wereld beteken nie.


Hulle stadshuis is pragtig en baie oud! (Ja dit is sneeu!)

Vandag verjaar my jongste sussie se oudste dogtertjie. Dit is haar eerste verjaarsdag wat ek mis in tien jaar! Kyk net die oulike prentjie wat my oudste sussie vanoggend via whatsapp aanstuur...


Mag elkeen van julle 'n wonderlike dag en naweek he. Dankie vir elkeen se kommentaar op die blog en sms'e en whatsapps. Dit help om 'n baie koue land warm te maak.

NS: Net vir die wat nog wonder of Switserland regtig so duur is... Ek het pas ontbyt geeet by Starbucks. Nie baie gepas om 'n Amerikaanse plek te soek in Switserland nie (ek weet) maar hul Earl Grey tee is die beste!


Die tee hierbo kos R66. Die muffin is 'n bargain. Kos eintlik R43, maar vir 'n kersfees uitverkoping is dit halfprys. My sussies vra hoe swaar sluk ek daaraan? Die enigste rede hoekom ek swaar sluk is omdat dit R42 kos om te piepie!

Geniet julle gratis tee en draaitjies! Soos my ma se: Viva SA, VIVA!


Wednesday, December 4, 2013

Gurten en ander draaie in Bern

3 Desember 2013

Ek is vanoggend vroeg op. Daar is plekke om te sien en mense om te ontmoet en ek moet wikkel. Dit is nog pikdonker buite. Ek drink earl grey tee en eet ‘n heidi broodjie en toe is ek oppad. Op Sherlock se aandrang gaan ek heel eerste Gurten toe. Dit is die plaaslike berg in Bern, maar die enigste manier om die top te bereik is met die Gurten “Funicular”. Dit is gebou in 1899 en was op sy tyd die vinnigste trein in Switserland. Die top is 864 meter bo seevlak en 332 meter bo Bern en bied ‘n ongelooflike mooi uitsig oor al die berge rondom Bern. Agter die hotel bo-op die berg is ‘n uitsig toring wat jy klim net om seker te maak jy sien alles wat jy kan en wil sien. Ek maak ‘n baie mooi video van bo af. Dit is werklik asemrowend. ‘n Mens kan ook die Jungfrau baie mooi sien van daar af.
Die fotos hieronder is net die wat met my selfoon geneem is. Ek het baie mooieres met my kamera geneem, maar kry hulle nie tans op my blog gelaai nie. Verskoon asb die kwaliteit.



 Ek het die tafels net een kyk gegee en maar besluit om binne te sit.

Geen ontbyt is klaar sonder earl grey tee nie. Die gebak is 'n amandel dingetjie.

Gewapen met die kaart van Bern begin ek om al die besienswaardighede een vir een na te loop en te bekyk. In Switserland moet ‘n mens heeltyd op jou hoede wees, want op elke hoek is ‘n bakkery wat so lekker ruik dat jy sukkel om verby te stap. En as jy al jou wilskrag gebruik het en jouself weggeskeur het van die bakkery se ingang, val die chocolatrie langaan jou aan! Gelukkig is alles so dooi duur dat my beursie my veilig hou.

Sherlock is vandag Zurich toe. Hy het die kunstenaars gaan haal. Maar wag, ek vergeet baie van julle ken nie regtig vir Sherlock nie, so laat ek eers bietjie vertel. Hy’s nou nie Holmes nie, maar Fortuin. In drie dae terug se blog het ek vertel waar hy vandaan kom en hoe sy storie ontvou het totdat hy vandag in Bern bly. Hy het ‘n passie vir die ontwikkeling van mense en wil dit doen deur musiek, kuns en kultuur. Dit was nog altyd ‘n groot droom van hom om ‘n Suid-Afrikaanse fees in Switserland te hou met die fokus op SAse klassieke musiek en literatuur. Sy droom kon bewaarheid word met die hulp van ‘n groot borg en siedaar! Hier is ons! Die kunstenaars wat gaan optree by die fees is Zorada Themming (wereldbekende orrelis van Stellenbosch), Diana Ferrus, Florence Filton, Niel Rademan, Arno Jones, Jo-nette Le Kay en Goitsemang Lehobye. Ek ken sover net vir Zorada, maar dit sal vanaand verander. Die Vriende van SA in Bern hou vir ons almal ‘n dinee. Sherlock het so pas laat weet dat hy nou al sy kuikens onder sy vlerk het, maar Niel se tas het weggeraak! Nou val hulle rond om dit op te los. Die kunstenaars bly in Hotel National. Ek het die pryslys een kyk gegee en besef ek sal nooit ‘n oog kan toemaak daar nie. Ek bly in ‘n gastehuis in Luissenstrasse.

 Sherlock Fortuin - die dromer agter die week
 Christoffel. Movember se moses.
My gastehuis

Van vanaand af begin ons werk! Ek moet so vinnig moontlik soveel as moontlik kontakte opbou. Ons wil ‘n uitruilprogram aan die gang sit tussen Bergrivier en Bern Universiteit en Bern Stad om kultuur en kuns ontwikkeling op ons platteland in SA te bevorder. Verder wil ons borge soek vir die Bergrivierkoor wat einde 2014 toer. By een van die funksies hierdie week sal daar donasies gevra word vir die koor. By daardie geleentheid sal ek iets se oor ons area, die koor en die ontwikkeling van mense deur kuns en musiek in SA.

Vir die van julle wat nog nie baie weet oor ons gemeenskapskoor nie, gaan kyk gerus op hul Facebook bladsy of by Piketberg NG Kerk se blad. Daar is baie inligting en ‘n paar kort stukkies video ook van die koor se onlangse optredes. Ek is so trots op hulle. Die koor bestaan uit 86 lede uit alle gemeenskappe in Piketberg, Porterville en Goedverwacht. Met meer fondse sal ons ander areas ook by die oefeninge kan kry. Hulle is werklike ambassadeurs vir ons area en doen sommer gemeenskapsintegrasie en bou verhoudings oor rasse-grense sover as wat hulle sing! Dis mos wonderlik wat musiek alles kan doen. Dit hef enige mens op!

Ek kry die hele groep 19:10 op die Bern Bahnhof (Bern se hoof stasie) en vandaar stap ons na die klein intieme “ladies bar” waar vanaand se ontmoeting plaasvind. Dit is die “Vriende van SA” in Bern (ja daar is wraggies so ‘n organisasie) wat ons vanaand onthaal. Ons word oorlaai met hartlikheid en ontmoet vir Markus. Hy is die voorsitter van die groep en het ‘n gholfhemp aan met hul logo op. ‘n buitelyn van Tafelberg met ‘n Switserse vlag op. Hulle kom gereeld bymekaar en braai, bespreek SA en hou almal van toer na SA. Die vise-Ambassadeur by die SAse ambassade is ook hier vanaand. Haar naam is Annabel en sy is ‘n lieflike mens. Ons gesels lekker en sy deel ons droom van ‘n vennootskap skep waar ons afgestudeerde Switserse kultuur en musiek studente na die platteland van SA stuur om daar ‘n jaar se internskap te doen waar hulle hul vaardighede terugploeg in die gemeenskappe. Charles en Rosemari is ook weer hier vanaand. Ek het so vinnig lief geword vir hulle en dit is heerlik om hulle weer te sien. Rosemari wil my more ‘n paar plekke en mense in die stad gaan wys.

 Heidi broodjies
 Markus, die voorsitter van die Vriende van SA besig om ons te verwelkom. Regs langs hom staan die vise Ambassadeur Annabel.
 Ek en Zorada Themming.
'n Paar van die kunstenaars. Anti kloksgewys: Zorada, Jo-Nette, Sherlock, Annabel, Florence, Diane and Giotsomang. Die een met die wit top langs Florence se naam kan ek nou nie onthou nie. Sy is ook van die ambassade.

Ek geniet hierdie kunstenaars terdee. Niel is ‘n fasinerende jong SAner met ‘n lewendige humorsin en ‘n buitengewone mooi stem. (Sy tas is steeds soek en hy het ‘n moderne kombinasie van klere aan wat hy geleen het). Giotsomang is ‘n briljante sopraan en Jo-nette verras met haar pragtige stem. Arno is eintlik ‘n begaafde orrelis, maar kan net so mooi sing. En van Zorada Themmingh hoef ek julle niks te vertel nie. Sy is vanaand die video-vrou en sing ‘n inleiding vir elke lied. Begaafd verby! Ons sing Nkosi Sikele vir die gehoor en dit raak stil in die kroeg en in my hart. Almal luister aandagtig. Ons gaan haal hom diep en trots. Die vise ambassadeur is in trane! Dit is ‘n “hit”! Daarna trek ons los met alles van Sarie Marais tot Shosoloza tot Kersliedere. Ek is so trots om hier te wees en om Suid-Afrikaans te wees. Ons het wonderlike talent wat vir niemand in die wereld hoef terug te staan nie. En ons is almal hier omdat ‘n uiters begaafde kind van Piketberg ‘n groot droom gehad het... En nie opgegee het nie. Sherlock, ek salueer jou!

4 Desember 2013

Ek word wakker van heerlike whatsapp gesprekke met my familie. Ons het ‘n whatsapp groep waarby al vyf sussies en ouers ingesluit is en dit klets voordurend. Wat ‘n voorreg. Vanoggend is daar groot opgewondenheid want my Pretoria-sussie se jongste is klaar met laerskool. My sussie in Kuilsrivier se seuntjie is in die top tien van sy klas en die klomp in Stellenbosch wag nog vir rapporte.  Ek si soos altyd weer opreg dankbaar vir my wonderlike gesin.

Vanoggend gaan Zorada en Sherlock Basel toe vir ‘n oefening en ‘n optrede saam met ‘n plaaslike kunstenaar genaamd Michael Pelzel. Diana en Florence gaan ook Basel toe om deel te neem aan ‘n voordrag by die Universiteit van Basel. Beide van hulle is literatuur ghoeroes.

Vanaand is daar ‘n SAse konsert in die konservatorium van Bern. Die konsert vind in vier gedeeltes plaas. Niel sal begin met ‘n Kabaret, dan sal Jo-Nette, Goitsemang en Arno Suid-Afrikaanse klassieke musiek sing, gevolg deur studente van Konzi Bern met ‘n uitvoering. Daarna sluit ons af met SAse Kersliedere. Vanaand ontmoet ek die rektor van Bern Universiteit.  Ons moet ons idee van ‘n kultuur uitruil program met hom toets en sy inkoop kry. Dit is ook by vanaand se geleentheid dat ek ons pamflette oor Bergrivier kan uitgee en iets kan se oor ons area. Die spesiale kollekte vanaand gaan vir die Bergrivier Gemeenskapskoor. Mag die Here die saal volpak en hul harte en beursies oopmaak, sodat ons elke liewe lid van die koor sal kan help om volgende jaar die toer mee te maak. Baie van hulle was nog nooit buite die Wes-Kaap nie en het nog nooit gevlieg nie.

En ek en Rosemari is vanoggend op ‘n geheime sending wat met ‘n “s” begin... Julle ken my mos. Kan by geen winkel verbyloop nie. Hier is ‘n kettingwinkel genaamd Leob. Dis soos Garlicks op steroids. Ek sal ‘n hele week daar kan deurbring. Die een in Bern se middestad het ses verdiepings. Gister was ek vinnig daar in net om ‘n draaitjie te gaan loop, maar my mond het oopgehang. Meestal vir hul kersversierings. Ek het so skelmpies hier en daar ‘n foto geneem. Wil darem ook nou nie lyk soos Sannie Niksgewoonds van die plaas af nie!

 Dit was nog nie 10:00 nie toe sit ek en Rosemarie elk met 'n glas champanje in die winkelsentrum. Ek wou die internet gebruik en julle sal my nou nie glo nie, maar hier kan jy 'n notebook met volle internet toegang in die winkelsentrum by die Poskantoor gaan afhaal en met hom die hele dag in die winkelsentrum rondloop en gebruik net soveel as wat jy wil. Ek het my geskaam dat ek die enigste een in die sentrum was wat vir 'n vlietende oomblik daaraan gedink het om dit nie terug te gee nie. Hulle vertrou almal, want almal kan vertrou word. Ek het dit teruggegee.

Hierdie is Sprungli! Wow! Wow! en Wow! Oorspronklik 'n heerlikheid van Zurich.
Hier word selfs winkelpoppe met hul broek op hul kniee gevang...

Gedagtig aan my gesprek met die Ambassadeur en Rektor vandag, bewapen ek my met die feite van Switzerland. Ek deel graag ‘n paar daarvan met julle:

Ek het gedog Zurich is die hoofstad, maar dit is nie waar nie. Bern is. Zurich is wel die grootste stad. Hulle leuse is: Unus pro omnibus, omnes pro uno – One for all, all for one. Dit laat my aan die drie muskutiers dink. Hierdie land is oud! De geboue is sandsteen en toe ek sien hul federale republiek is reeds in Augustus 1291 gestig, verstaan ek baie. Niks is onseker nie. Niks word vir die eerste keer uitgevind of verander nie. Staties.  Ek kan natuurlik nie help om ook die stad en land uit ‘n Munisipale oog te kyk nie. Van skoon kan jy hierdie mense niks leer nie. Maar dit help natuurlik as jou bevolking almal geletterd, opgevoed en nie dronk op straat is nie.

Hier bly 8 miljoen mense. En mag ek se: baie min jongmense. Miskien was ek nog net nie op die regte plekke om hulle te sien nie. Vandag gaan ons universiteit toe. Miskien verander ek dan van mening. Baie interessant is dat hul motors aan die regterkant van die pad ry, maar hul treine links. Nogal verwarrend as jy soos Daantjie Kat wil rondkyk voordat jy die pad kruis. Switserland is ‘n federasie van 26 cantons. Switserland is bekend in die wereld as ‘n land wat baie lank op ‘n draad kan sit. Hulle is neutraal. Al vir 190 jaar. Daarom is baie internasionale organisasies se hoofkantore hier gelee. Bv die Verenigde Nasies. Ons gaan hul geboue besoek later die week in Geneva.

Dit was nog altyd een van my kinder-drome: om vir die VN te werk. Een van die redes hoekom ek Internasionale Politiek Honneurs gedoen het jare terug. Miskien soek ek sommer ‘n werkie ook hier vir later in my lewe. (net ‘n kantopmerking: my familie sal weet hoe ek in 1993 se einde getreur het omdat ek gekeur was vir buitelandse sake en al die poste toe gevries is in afwagting van die verkiesing in 1994. Gedink my lewensdroom is op ‘n einde. En hier ontmoet ek gisteraand vir Annabel en vra haar uit oor haar werk en hoor al die politiek wat daarmee saamgaan en glimlag ek al die pad omdat die Here al weer – soos altyd – die heel beste geweet het.)


As ons familie by Stilbaai is, se my ma altyd na ‘n paar dae sy is so lus vir groente. Dan moet ons eers weer ‘n slag potjiekos maak met goeie gesonde groente in. Wel, ek kan vir julle een ding se: Ek eet nou al vir drie dae net brood en kaas en koue vleise. Dit is natuurlik van hoogstaande gehalte. Jis, hierdie mense kan kaas maak. Flip. Op elke mark en in elke restaurant. Gisteraand se onthaal het net bestaan uit brood, kaas, koue vleis en sjokolade! Hoe gaan die liedjie: “Brood en kaas eet die baas!” g’n wonder hierdie mense is aan die bopunt van die wereld se voedselketting nie! Maar vandag gaan ek ‘n slaai soek. Vanoggend se ontbyt was Earl Grey Tee (wat anders) met ‘n croussant en ‘n gruyere kaasplakkie. Die Migros reg oorkant my gastehuis het rakke en rakke en rakke vol verskillende kase. Dis ‘n belewenis en laat Nataniel se advertensie oor Checkers se wonderkase na ‘n grap lyk.

Heerlike dag vir elkeen. Elizna, ek wens ek kon by jou partytjie wees. Julle moet die BAIE geniet. Mis julle.

Hanlie

Tuesday, December 3, 2013

Bern dag 2

Vanoggend is ek vroeg op, want ek het die dag vir myself en daar is plekke om te sien en mense om te ontmoet. Vandag gaan ek heel eerste na Gurten. Dit is die hoogste punt in Bern en mens gaan met 'n trein na bo-op die berg vanwaar mens 'n baie mooi uitsig het. Dit is nou as die weer saamspeel. Onder in die stad is alles toe en bewolk en ek het amper die fout gemaak om nie te gaan nie. Maar bo-op die berg is alles oop en PRAGTIG! Mens sien reg rondom Bern en elke berg in die Alpe. Sjoe, dit is mooi. Daar is 'n toring om uit te klim en dan sien mens nog verder. Daarna doen ek die stad. Ek vat die kaart en stap na elke besienswaardigheid denkbaar. Elizan, jy sal nie glo nie, maar dit voel soos gister dat ek en jy 20 jaar terug langs die bere put gestaan het. En weet jy: dit was weer vir my 'n teleurstelling. Net een beer in sig! Dit is darem 100% meer as verlede keer!

Ek bekyk die parlementsgebou, die kerke, die plazas en stap deur elke winkel. Sherlock is vandag Zurich toe om die kunstenaars te gaan haal en ek maak tyd op. Julle dit is 'n pragtige stad!

Ek skryf weer sodra ek kan. Die fotos sal moet wag vir later.

Groete aan almal.
Hanlie

Istanbul en Bern

2 Desember 2013 05:40

Ek dink nie ek het al ooit voorheen ‘n Turk in lewende lywe ontmoet nie. Al wat ek omtrent van Turkye weet is dat hulle Turkish Delight maak. Nou Turkish Airlines is deel van die Star Alliance en vriende van my het gese hulle is goed en daarom het ek met hulle gevlieg. Dit bring my vanoggend by ‘n nuwe land en nuwe stad wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Istanbul le op die water en dit was baie mooi om al die hawe liggies te sien uit die vliegtuig uit. Die vlug was goed. Die lugwaardinne kan veel vriendeliker wees, maar miskien is dit maar hulle ding.

Ons het geland op Atatürk Havalimani Lughawe. 45 miljoen passasiers is hier deur gedurende 2012.  Net om dit in konteks te plaas: Johannesburg het 18,6 miljoen gedoen in dieselfde tydperk. Nie die grootste in die wereld nie, maar groot genoeg.

Interessant vir my is dat Istanbul nie die hoofstad van Turkye is nie, maar wel Ankara. Hulle geldeenheid is die Turkse Lier. Hulle is ‘n demokrasie met President Abdullah Gül aan die roer van sake. Hier woon 75,6 miljoen mense. Die meeste van hulle is Moslems. In hierdie deel van Wes-Asie is Turkye van groot geografiese belang en word omring deur agt lande naamlik Bulgarye, Griekeland, Georgia, Armenia, Iran, Irak, Sirie en Nakhchivan. Istanbul le oor die grens tussen Europa en Asie. Die Swart See loop in die middel deur en skei die stad in twee.

Ons vlieg weer 08:20 na Zurich. Die vlug is twee ure. Dan sal dit al lig wees dat ek lekker mooi kan sien.

Nou eers vir nog ‘n snaakse teetjie.

Ek wou nou vir julle 'n paar fotos hier opgelaai het, maar die internet kafee se rekenaar wil nie my foto leser lees nie. Dis 'n baie snaakse ervaring om op 'n Switserse keyboard te tik. Die letters is nie almal waar ons s'n is nie en dit gaan baie stadiger. Gelukkig kos dit net 3CHF vir 30 minute en kan ek maar sukkel.

2 Des 08:20

Die vlug na Zurich is eintlik langer as wat ek gedink het, want mens verloor wel ‘n uur Switserland toe. Ons vliegtuig is geskeduleer vir 08:20 en kom 10:20 aan in Zurich, maar dan is dit 11:20 in Istanbul en SA. Maar die Turke is baie rustig en bietjie minder presies en ons drentel so deur na ons vliegtuig toe. Daar is letterlik nie eers iemand wat jou instapkaartjie kyk nie. Die man leun teen die muur en waai net sy handjie dat ons maar kan deurstap. Ons styg eers 08:45 op, maar die vlieenier is nie ‘n Turk nie en hy gee gas. Ons land tien minute voor geskedule. Ek slaap amper die meeste van die vlug (die slaappil werk nog), maar is darem betyds wakker vir ontbyt en die mooiste fotos van die sneeubedekte Duitse pieke.

Sherlock is die eerste gesig wat ek sien toe ek uitstap nadat ek my bagasie gekry het. Die ses bottels wyn is toe glad nie ‘n probleem nie, want daar is niemand by Doeane nie en mens stap net deur. Lyk my die groot skrik na 9/11 is nou weer vergete en almal is bietjie slap.

Ons gaan koop vir my ‘n Swiss Pass vir 15 dae. Dit is duur, maar die moeite werd want alle vorme van vervoer wat ek die volgende 12 dae gaan gebruik, is hierby ingesluit. Dit kos my 476 Swiss Frank. Daar is tans 11,2 rand in elek CHF. Dit is R5331. Net my treinrit van Zurich na Bern sou al die helfde daarvan gewees het, so ek is tevrede en reg om hom baie te gebruik. Sherlock praat vlot Swiss Duits en dit gaan maklik. Hy gradeer ons op na eerste klas op die trein en ons sit bo vanwaar ek die landskap bae mooi kan sien. Die interessante is hoe die regering hier bele in die platteland en deur middel van wetgewing alle industriee uitskuif na die platteland om daar werk te skep. Dit sou by ons ook kan werk.


90 minute later is ons in Bern. Dit het so vinnig verbygegaan, want ons gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. By Bern-stasie wys Sherlock my eers die stasie en die ou bewaarde mure van die ou stad. Daar is ‘n restaurant in die ou mure gebou en ek vergaap my. Hier trek ek geld en kry ons die trem na my Luissestrasse waar my gastehuis is. Dit is die tweede huis langs die tremstasie en reg oorkant ‘n supermark (Migros). Baie gerieflik en lekker. Na ‘n besoek aan die supermark vir iets om te eet vir middagete (vra my oor die Heidi-broodjies), klim ek in die bed om verlore slaap in te haal. En het ek nie geslaap nie?! "Heigen herts der naght ontkomen", sou my Oumie gese het. Ek slaap tot die dood intree en skrik baie later eers wakker. Daar is wifi in my kamer en ek hoef nie die R128/MB wat Vodacom se Orange Netwerk hier vra, te gebruik nie.


Sherlock kry my net na half ses en ons sit af kersmark toe vir Gluwein. Dit is heerlik! Daar is twee groot kersmarkte in Bern. Die een waar ons vanaand is, is die Weihnachtsmarkt. More sal ek die ander een ook probeer. Daarna ry ons met die trem om vriende van hom by ‘n restaurant te ontmoet. Die restaurant is Strada en baie gewild vir hul pizzas. Charles en Rosemary ken Sherlock al meer as tien jaar. Hulle is dierbaar en ons kuier baie lekker. Na ete verras die sjef ons met ‘n glasie lemonchello vir elkeen. Wat ‘n dag! As ek dink waar dit vanoggend drie-uur in ‘n Turkse vliegtuig begin het met olywe vir ontbyt, tot waar ek nou al soveel van Switserland beleef het. Ongelooflik!

Sunday, December 1, 2013

Ready, steady, ....

Deur doeane en klaar gepiepie. Nou wag ek vir die aankondiging om te kom. Ons kan maar "board". Ek is reg. Ons vlieg Kaapstad, Johannesburg (ons klim nie af nie, net nuwe passasiers klim op), Istanbul en dan Zurich. Ons sal 06:00 in Istanbul land in Turkey. Dis 'n nuwe land en stad vir my. Ek sit by die venster en hoop dit is oopgetrek van Istanbul na Zurich. My ouers en Corne het my kom afsien op die lughawe en ons het heerlik geeet in die SPUR. "Feels like home!" Dis mos al restaurant wat Piketberg eintlik het. Dit is darem maar wonderlik om familie te he wat bereid is om op 'n Sondag ure en km's af te le om my te kom afsien. Ek is voorwaar geseend.

Vlieg is nie meer so eenvoudig na my bloedklont drie jaar terug nie. Wanneer ek nou vlieg moet ek myself inspuit net voor ons vlieg met iets wat my bloed verdun en voorkom dat ek weer 'n bloedklont kry. Ek het dit 'n hele paar keer op my wereldtoer ook gedoen. Dis nie seer nie, net roetine. Om een of ander rede sien ek nog nie so uit na hierdie trippie as wat ek gedink het ek sal nie. Miskien as ons eers in die lug is. Miskien is dit omdat ek nou eintlik twee weke voor die einde van die jaar begin afskaal en al die ander mense nog volstoom aanhardloop einde van die jaar toe. Ek weet nie. Ek is net nog nie in die "grove" nie.

Maar kom sal ek daar kom!