Wednesday, April 11, 2012

'n Onverwagse einde aan 'n heerlike dag

Die restaurant was 'n verrassing! Chijims. Toe ek afklim by die bus-stasie waarnatoe die hotel-klerk en die busdrywer my verwys, is ek so opgewonde om 'n pragtige ou kerk te sien. Ek neem 'n paar fotos en soek die restaurant. Net om uit te vind die kerk is die restaurant! Die kerk het in onbruik verval (!) en word nou gebruik as 'n hub van internasionale eetplekke. Ek kies die Australiese restaurant met die grootste moontlikheid vir rooivleis. Dis kos is heerlik en die ervaring ook. Ek eet vark ribs met chips en slaai.



Ek is moeg na die dag in Sentosa en kan nie wag om in die bed te kom nie. Ek moet bus 2 terugvat na my hotel. Toe die bus wegtrek besef ek, hy ry heeltemal in 'n ander straat en rigting as wat ek gehoop het. Die  busdrywer van die no 2 bus wat my afgelaai het, het dit baie maklik laat klink: You cross street, stand there and take no 2, okay? Okay. Wat hy nie verduidelik het nie is waar ek moet afklim.  Okay, bly kalm! Dit was omtrent 12 blokke tot by die restaurant, so ek sal afklim en soek. Maar twaalf blokke verder is ons op 'n plek wat ek nog nooit gesien het nie en hoe ek nie weet hoe om van daar af by die hotel te kom nie, so ek bly maar sit. Ek het verstaan die bus ry 'n 'loop' en sal weer by die 7Eleven stop waar ek moet afklim.

Die 'loop' is toe 52 kilometer lank en stop elke 500 meter om mense op en af te laai. By die einde van die roete moet ek afklim en 25 minute wag vir die bus om gewas en gedraai te kry. Op die ou end sit ek meer as 2 en 'n half uur op die bus! En kom na 23:30 eers by die hotel. Ek het later heelvoor bo gaan sit in die dubble decker en kon al die woongebiede van Singapore mooi bekyk. Hier is dit baie soos in Toronto waar soort mekaar soek. Ons is deur die Indiese gebied, die Koreaanse gebied, die Thai gebied en ook die studente area. Was goed om te sien.

Ek is net terug in my kamer en in my pajamas besig om my verjaarsdag e-posse en FB boodskappe van almal te waardeer (dankie!) toe gaan ons hotel se brandalarm oorverdowend af in ons gang.  Nou kyk! Van alles wat ek beplan het om te doen in Singapore was uithardloop in my pajamas in 'n rooilig chinese area sonder my 'belongings' nie een daarvan nie! Ek gryp my rekenaar, my selfoon, my kamera, my beursie en my skoene (in daardie volgorde) en storm uit die kamer uit. In die gang staan 'n reenboognasie van mense. "What is wrong?" vra ek. Niemand antwoord nie en niemand beweeg nie. Okay, ek sal reception bel, se ek. Ek maak so maar dit bly beset (Natuurlik bel elkeen van die vloere nou!) Of die reception is besig om die brandweer te skakel.

Ek gaan weer uit maar intussen het die brandalarm opgehou loei en die chinese vrou twee kamers van my af is van mening dit was niks nie.  Sy het intussen by die brandtrap afgeloer en niemand sien vlug nie. Ek ruik ook nie rook nie. Ek gaan versigtig terug kamer toe en pak 'n sak met my NBste goed. 'n Ekstra stel klere ook. Vanaand sal ek met een oog oop slaap en reg wees om te vlug as dit nodig is.

Nodeloos om te se staan my gepakte sakkie nog net so onaangeraak vanoggend. Prys die Here niks het gebeur nie. Ek het laat geslaap en gaan vandag ronddrentel in Singapore sonder vreeslike planne of skedules.

Hoop elkeen van julle het 'n wonderlike dag!

No comments:

Post a Comment