Sunday, March 29, 2009

Die klippe sal dit uitroep!


Vanoggend vroeg is ek en Azanda berg op. Dit was die mees perfekste dag in Stellenbosch. Ons het Vrydagaand ook gestap en dit so geniet dat dit net logies gevoel het om weer te gaan. Ek en my vriende wat saamstap is besig om 'n klipstapel te bou bo die "zig-zags" teen Botmaskop. Ek sit 'n klip neer vir elke keer wat ek daarbo kom. Ja, dis Tafelberg in die agtergrond. Ons woon in die mooiste dorp in die mooiste land ter wereld.

Tuesday, March 24, 2009

Nog net 'n maand...


Gister oor 'n maand vertrek ons...




Ek kan amper nie glo dat die tyd so vinnig verbygegaan het nie. My laaste oefening moet nou gedoen word. Op Vrydagaand 20 Maart 2009 is ons weer Botmaskop uit. Ek en Jan. Dit was perfekte weer. Ons was so oorweldig oor die mooi uitsig van die berg af dat Jan eers 'n aangrypende gebed gedoen het toe ons bo kom. Hierdie keer het ons die baken in 'n rekordtyd van 1 uur 42 minute bereik. En dit vanuit Martinsonstraat in Uniepark. Die hele berg lyk kaal en is swart gebrand na die verskriklike vure wat ons gehad het. Al die fynbos is weggebrand. Die foto het ek geneem met my selfoon tydens die opgaan. Met die afkom was dit pikdonker en het net die straaltjies van ons kopliggies ons die pad aangewys. Ons kon 'n uil hoor met die afstap. Wat 'n ongelooflike voorreg is dit nie om in hierdie mooi land te woon en gesond genoeg te wees om Botmaskop uit te klim op 'n doodgewone Vrydagaand nie? En eintlik was daar niks doodgewoon aan nie. Ek is 'n geseende.

Wednesday, March 4, 2009

Visrivier stap met vriende: 9 - 14 Aug 2008




Ek was al baie in die Visrivier in Namibia. Het dit al ses keer gestap, maar elke keer is anders. Hierdie keer was ons 'n klomp vriende wat gaan stap het. Niemand anders in die groep het al die Vis gestap nie en vir baie was dit 'n heel eerste stap in hul staploopbaan. Party is met nuwe skoene, swaar sakke of te groot grondseile die Skeurvallei binne, maar ons is daardeur met baie lag, baie sweet en baie genade. Die hoogtepunte van die stap was die kameradie tussen vriende (veral nadat die een voertuig waarmee ons gery het twee pap wiele gehad het en ons 'n halwe dag laat gesak het in die Canyon in), die pragtige geseende weerstoestande, die veiligheid waarmee ons gestap het, die perde wat ons gehoor het die laaste aand en die baie grappies langs die pad. Daar was genoeg water in die rivier om lekker te swem en genoeg water te kan drink, maar ook min genoeg water om meestal droogvoets te kruis. Dit was 'n fees! Dankie aan elkeen wat saamgestap het.