Tuesday, April 24, 2012

Groot, groter, grootste!

Nou het ek als gesien! Of so dink ek op hierdie stadium! Ek is een van 54 miljoen passasiers wat in 2012 deur die Chek Lap Kok Lughawe in Hong Kong sal gaan. Dis die 10de besigste lughawe in die wereld met Atlanta in die VSA no 1 met 92,3 miljoen passasiers 'n jaar. Net om dit in perspektief te plaas... Kaapstad doen 8,7 miljoen 'n jaar en Johannesburg se Oliver Thambo het 17,6 miljoen gehaal in 2010/2011. (Soccer World Cup het die getalle gerek). Beijing Lughawe waarheen ek oppad is, is no 2 in die wereld en doen ook meer as 90 miljoen passasiers 'n jaar. 1 - 7 Mei is die Golden Week in China en dit sal baie besig wees! Deur die Here se genade moet ek en Henko mekaar asb iewers raakloop. Gelukkig lyk nie ek of hy soos die normale passasier in die ooste nie.

Hong Kong Internasionaal is die heel besigste lughawe in die wereld wat 'cargo' betref en het in 2011 besiger as Memphis in die VSA geraak, wat sy grootste kompetisie is. Nou asof dit nie groot genoeg is nie, is hier oral borde op wat verduidelik dat die Hong Kong regering op 20 Maart 2012 die nuwe 2030 visie plan vir Hong Kong Lughawe aanvaar het. Die Chek Lap Kok Lughawe het in 1998 eers oopgemaak en was dadelik te klein.

Oral waar ons op die bus gery het die afgelope twee dae hoor ek van 'reclamation land' en uit my SAse perspektief dink ek hulle het dit teruggevat van iemand af. Moontlik van die Britte. Nee! Dis alles grond wat hulle droogle en vat van die see soos hulle groei. Die lughawe is gebou op 'n nagemaakte eiland wat geskep is deur twee kleiner eilande naamlik Chek Lap Kok en Lam Chau doodeenvoudig plat te stoot met die grond. Vir plan 2030 gaan hulle nog 650 hektaar eiland bou in die see. Ek ruik 'n oorstroming!! Die plan vir vergroting gaan 186,2 biljoen HKD kos en die regering het dit 'n maand terug goedgekeur. As ek net dink hoe ek gesukkel het om 'n R10 miljoen projek deur ons raad te kry!

Ek het met die Express Trein lughawe toe gekom en vroeg gekom sodat ek die maksimum voordele uit die Priority Pass Lounge kan kry. Hier is heerlike ontbyt, gratis wifi, storte en Earl Grey Tee!

Dit was baie maklik vanoggend. Die K3 bus tel my op by die Holiday Inn reg langs my USA Hotel en vat my Kowloon stasie toe onder die hoogste gebou. Daar is 'n K3 bus elke 15 minute. Ek sien vanoggend eers dis waar ek Vrydagaand ook was, maar toe het dit so gereen en was dit al donker, so ek het nie waardeer dat ek onder die hoogste gebou in HK is nie. Vanaf Kowloon stasie vertrek die Airport Express elke 8 minute. Dan is dit 20 minute tot op die lughawe. Ek boek in by China Air en gaan deur paspoort beheer. My tas is vanoggend 26 kg en ek word bietjie aangespreek deur die lugdiensdame. Ek gee my mooiste glimlag en verduidelik dat ek bietjie inkopies gedoen het in HK. Sy lyk tevrede en vat die tas. Wat eintlik gebeur het, is dat ek al my skoene ook in my tas gesit het om so lig as moontlik handbagasie te he.

My rugsak. In elke land werk ek die 'badge' op van die land wat kom!


My hele keboedel!

Ek kon net lag toe ek hierdie sien! Hong Kong Internasionale lughawe het 530 boarding gates! Dis massief!


Die vlug na Beijing is 3 ure en 20 minute. Bon Voyage.

1 comment:

  1. Hanlie, ek love jou blog. Sien uit om in persoon te reflekteer! Hoe wyd raak n mens se wese nie as jy dit net toelaat ne! Ek leer saam met jou. :) carina in japland

    ReplyDelete