Thursday, September 27, 2018

Laaste dag van Sweedse studietoer

Wat ‘n besige dag! Sjoe, my voete is af! My fitbit wys ons het 12618 treë gestap op cobblestone strate. Dis 22:50 en ons het pas teruggekom by ons hotel. Ons is 08:40 vanoggend hier weg en is eers na Gåvle se stadshuis om met hul Munisipaliteit te vergader. Ons voer gesprekke met hul Internasionale kantoor, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en besoek daarna ‘n eenheid wat met gestremde mense werk en ook hul vaste afval sentrum waar hul herwinning gedoen word vir vier munisipaliteite gesamentlik.

Die pragtige raadsaal van Gåvle Munisipaliteit in Swede.




Ons eet middagete by hul musiekkonsertsaal.







Dis herfs hier en reeds goed koud. 




Daar is ‘n Linde saal in die musiek gebou.

En daar is wraggies ‘n Linde in hul simfonie-orkes.






By die herwinningsaanleg ontmoet ons vir Marlin van PE in SA. Hy praat Afrikaans en werk al twee jaar hier. Baie lekker om hom te ontmoet. 



Hierdie fantastiese masjien is ‘n aanwins!  In elke winkel in Swede waar enige vloeistof in glas, plastiek of glas verkoop word, betaal die publiek ‘n ekstra Sweedse kroon per drankie en dan as hulle dit hier kom herwin, kry hulle ‘n kroon per drankieverpakking terug. Hierdie man het 298 Sweedse krone teruggekry vanmiddag. ‘n Kroon is twee rand.


Die verbruikerskultuur in Swede is erg. Elke persoon gooi 470kg per persoon per jaar weg in huishoudelike vullis. In SA is dit 389kg en die wêreld gemiddeld in 2016 was 438kg per persoon per jaar. Hier wys Malin  ‘n stooftop wat nog splinternuut en onoopgemaak weggegooi is.





Die publiek is goed ingelig en weet presies wat om waar af te laai.


Wonderlike ete vanaand as afskeid van hierdie studietoer.

Alletta en Annette wen die shuffleboard kompetisie!
Wat ‘n goeie afsluiting van ‘n onvergeetlike ervaring. Ek sal ‘n leeftyd nodig hê om al die nuwe idees  te implementeer. Maar probeer sal ek!

Wednesday, September 26, 2018

Van Stockholm na Gåvle

Vandag was fantasties!  Ons het Stockholm gegroet en 200km noord gegaan na Gåvle (uitgespreek soos ‘n basaar jaffel met kerrie maalvleis in, maar met ‘n w in die middel en nie ‘n f nie). Maar eers besoek ons die National History Museum in Stockholm en kry middagete daar. Dis baie interessant met ‘n goeie gids. Ek geniet veral die 19de eeu om myself in te leef in hoe Swede moes gelyk het toe my Grootoupa en Grootouma hier was.


Die res van die dag reis ons noord en boek in in die Elite Hotel. Dis naby alles en ons stap rond en verken die stad. Gåvle is die 13de grootste stad in Swede met net 100 000 mense. 

Ek spandeer ‘n geseënde uurtjie in die hotel se jacuzzi. Uitstekend!

‘n Hele muur vol Suid-Afrikaanse wyne. 



Org de Rac se organiese wyn op die rakke in Gåvle, Swede. 



Die plein in die middel van Gåvle is pragtig. 


Tuesday, September 25, 2018

Twee dae van baie leer in Stockholm

Die afgelope twee dae het ons baie ure in gesprek en lesings deurgebring. Gister was dit elke span se beurt om terugvoer te gee oor hul projek en te rapporteer hoe daar gevorder word. Dit was interessant om te sien hoe almal vorder (of nie vorder nie).  Ons projek in Porterville om die klein besighede deel te maak van die toerisme bedryf is bykans klaar en het ons reeds meer resultate gesien as wat ons voorsien het. Daarvoor is ons dankbaar.

Gistermiddag het ons seksuele teistering bespreek en veral hoe dit in die ses verskillende lande anders is en ook so dieselfde. Vanoggend besoek ons ‘n jeugprojek en leer hoeveel moeite die Sweedse regering doen om elke werklose jeugdige op te spoor en te help om ‘n doelgerigte sinvolle lewe te lei. Jenny verduidelik vir ons die rede op so ‘n praktiese manier: die Munisipaliteite in Swede (daar is 290) is die enigstes in die wêreld wat direk inkomste belasting invorder van al die werksame individue binne hul grense. ‘n Gemiddelde Sweedse werknemer betaal 6,7 miljoen SEK (sweedse krone) belasting in hul lewe. Daarvan kry hul gemiddeld 4 vyfdes terug in hul lewe in gratis onderwys, gratis gesondheidsorg, versekering vir swaar tye en so voorts. Die ander vyfde gaan vir mense wat dit nodig het, maar nie bydra nie. ‘n Persoon wat nie werk nie, sit 11 miljoen SEK se las op die stelsel. So die Munisipaliteite hier besef elke persoon wat hulle nie help om dit te maak in die lewe nie, is ‘n 6,7 miljoen SEK verlies aan inkomste en ‘n 11 miljoen SEK uitgawe. Dit is ‘n 17,7 miljoen SEK verskil op die balansstaat vir elke individu.  Ek wens ons kan so begin dink in SA.


Vanmiddag ‘tackle’ ons korrupsie en kry ons ‘n lesing deur SALAR. Dit is die Sweedse Organisasie van Plaaslike Regerings (die SALGA van SA). Die twee aanbieders se engels sukkel en dit verlaag die impak. Ons sien wel dat Swede nou 6de is uit 180 lande op die korrupsie indeks. Nieu-Zeeland is 1ste met die minste korrupsie in die wêreld. Denmark is 2de, SA is 71ste. Toe ek dit sê in ons klas, lag die res van die groepe omdat SA so laag lê. Ek sê: hold your horses, your countries are still coming.  Zambië is naaste aan SA in nommer 96, Tanzanië 103, Uganda 151 en ons liewe bure Zimbabwe is 157de uit 180 lande. Ons het baie harde werk voor ons om ‘n verskil te maak.



Die wolke gistermiddag in Vasagatan oppad terug na ons hotel. 

Stockholm is so ‘n mooi stad. Ek sal maklik hier kan bly. 

‘n Earl grey teetjie by die oudste winkeltjie in Stockholm. 

Die dames van SALAR besig om ons te leer van Korrupsie en hoe om dit te vermy. 

Jeugprojek, Stad Stockholm

Sweedse krone


Sunday, September 23, 2018

Top 5 dag in my lewe: vespa toer deur Stockholm

Hoe besluit ‘n mens watse dag was die lekkerste nog in jou lewe?  In my lewe is dit werklik moeilik om te kies. Die kompetisie is groot, maar hierdie was baie naby aan die top vyf!  Ek kan dit nie in woorde omsit nie. Wat was so lekker, wonder ek? Ek is ‘n sucker vir nuwe ervarings, nuwe plekke sien, mooi fotos neem en as jy dan nog boonop ‘n nuwe vaardigheid kan aanleer, vat dit die koek. Vandag was so ‘n dag!



Verlede week soek ek op tripadvisor rond op soek na wat om te sien en doen in Stockholm en kom af op ‘n plek waar jy ‘n goudgeel Vespa huur vir die dag en ‘n TOMTOM GPS kry met vier geprogrammeerde paaie van twee ure elk. Stockholm is gebou oor 14 eilande en daar is baie om te sien. Stap kan ‘n mens net sover bring. Ons kies die geel en die rooi roete wat die stad en Djurgärden insluit en 6 stoppe langs die kus. Die voorvereiste vir die Vespa huur is ‘n geldige bestuurslisensie in jou eie land, vorige motorfietsondervinding en ‘n deposito van 2500 Sweedse krone. Nommer een en drie is nie ‘n probleem nie. Nommer twee wel. Ek was nog nooit voorheen op ‘n Vespa nie. Maar ek was nog altyd goed in enige sport en kan fiets en bergfiets ry, so hoe moeilik kan dit wees, dink ek.  Om nie vir Peter (die verhuurder) te jok nie (gelukkig het hy nie gevra nie), doen ek gisteraand ‘n les op youtube in “how to ride ‘n vespa”. Ek moet darem lyk of ek weet waar om hom aan te sit wanneer hy niksvermoedend die sleutel oorhandig. Wel, my Thaise youtube instruktriese sou baie trots gewees het op haar dissipel.  Behalwe vir die 200 meter wat ek in die trem se lyn gery het, was die dag perfek. En daar was gelukkig nie op daai oomblik ‘n trem in sig nie. ‘n Vriendelike (of verbaasde - moeilik om te bepaal in Swede) oom het vir my beduie ek moet my en my vespa uit die tremlyn verwyder asb.  

Die uitkykpunt by Ivar Los Park is onvergeetlik!








Ek dink julle weet wat in hierdie koppie is: Heerlike earl grey tee! Teetyd met ‘n uitsig. 






















Ons was orals! 




So word ons dag beplan.


Saturday, September 22, 2018

Stockholm, Swede: pragtige ou stad Gamla Stan

Ons het die naweek af en is vandag net weer toeriste in Stockholm. Die ICLD was so gaaf om vir ons ‘n bustoer te reël van 10:00 - 14:00. Ons kry ‘n goeie oorsig en saam met ons goeie gids, Evan, kry ons al die inligting. Die massiewe stadsaal waar die Nobel pryse uitgedeel word, die suidelike eiland en die ou stad staan vir my uit. Ons bly agter in die ou stad en stap van winkeltjie na winkeltjie en neem talle fotos. Wat vanoggend as ‘n storm begin het, is nou ‘n pragtige bloulug dag. Uit die boeke uit...

Kyk net hier: