Sunday, April 22, 2012

'n Heerlike lui Sondag kuier by Choppie en Dina

Ag, maar dit was nou lekker! 'n Skoolvriend van my en sy vrou bly in Hong Kong. Ek het op facebook gesien hy 'post' fotos van HK en het met hom kontak gemaak. Choppie was 'n jaar voor my in matriek. Hy en sy vrou woon al sewe jaar in HK. Ek het haar nie geken nie, tot vanoggend toe. Nou voel dit of ek haar al jare ken. Wonderlike, heerlike mense wat uit hul pad gegaan het om my van HK te vertel en te help om dit te ervaar! En wat my bondel wasgoed gewas het!

Dankie, dankie, dankie julle! Ek is nou al 25 dae op toer en ek mis my kerk. Gisteraand hoor ek Dina gaan vanoggend kerk toe en ek vra om saam te gaan. Ek het 'n groot deel van die diens net sit en huil omdat dit so ongelooflik was, ek so tuis gevoel het en ek my eie dam se eende so mis. Daar is ook 'n Chinese meisie gedoop en ek kon nie help om sommer te huil oor ek nie by Janko se doop kan wees nie.

Dit is die Methodist International Church of Hong Kong en alhoewel daar heelwat kerke op die eiland is, is hierdie die enigste engelse een. Daar is mense van alle nasies en volke en dit voel soos die hemel. Ek is so bly ek het gegaan. Noel Kit Yan Siu, wat gedoop is, het ook 'n baie mooi getuienis van hoe sy Jesus leer ken het. Dina is 'n dominee wat nou ook praktiseer as sielkundige. Ek het sommer dadelik van haar gehou. Sy en Choppie bly in 'n baie ruim woonstel op die elfde vloer in Causeway Bay op HK eiland. Dis net drie stasies van my af en ek is al half agt by my kamertjie weg. Ek is opgewonde oor vandag en wil nie he hulle moet vir my wag nie.

 Ek kry Dina en Choppie Chamberlain by uitgang E van die Causeway Bay MTR. Dis hier waar die taxi staan.

Die Methodiste kerk in HK.
Ek hou baie van hulle muurbehangsels.


Hulle vat my vir ete by 'n plaaslike restaurantjie net onder hulle woonstel. Dis spoegafstand. Jy kan my kos kry as ek nou kan onthou wat mens al die geregte noem, maar dit was heerlik! Gelukkig weet hulle wat om te bestel!



Vanmiddag is ons na 'n plaaslike mark in Wan Chai (een stasie links van hulle) en ons loop lekker rond. Die 'brand'-klere is baie goedkoop, maar ek het nie plek in my tas nie.

Hierdie is die vleismark en ja dit is 'n beesstert met hare en al wat hier hang.

Die vrugte is ongelooflik. Kyk die massiewe pomelo's links van die waatlemoen. Die verkoopsdame se dit kom uit Malaysia.




Ek was vanoggend al voor agt op ons afgespreekte plek en kry gou ontbyt by MacDonalds. Eks verbaas oor die tafels en tafels mense wat in MacDonalds sit en kuier. Hulle lag en gesels asof hulle reg deur die nag daar gesit het. Later vandag vertel Choppie en Dina vir my die hartseer verhaal van hierdie mense. In Hong Kong, soos in China, gebruik die Chinese mense van die Philipyne en Indonesie as bediendes in hulle huise. Die wetgewing bepaal dat so 'n bediende een dag 'n week moet afhe, maar almal van hulle bly in by die mense wat hulle bedien. Op hul afdag (Sondae) word hulle dan die huis belet en moet van 07:00 tot 19:00 of in sommige gevalle van 07:00 tot 22:00 op straat wees. Die groot openbare park, Victoria Park, is baie naby aan Choppie en Dina se huis en vanmiddag loop ek en Choppie deur die park. Ek skrik oor dit wat ek sien. Hordes mense sit orals rond en wag dat die dag verbygaan.



Daar is twee goed wat Hong Kong nie het nie: Die een is 'n geskiedenis. Hier word niks bewaar nie. Choppie se hulle slaan geboue plat en bou nuwes, asof dit uit die mode uit gaan. Die oudste twee geboue wat ek sien vandag is 'n ou poskantoortjie in Wan Chai en die blou huis.

 Die poskantoor (bo) en ou blou gebou (onder). Ons wonder hoe lank gaan hy nog staan voor 'n ontwikkelaar hom platslaan en vervang.

Die tweede ding wat Hong Kong nie het nie, is stadsbeplanning. My vriendin Anneke sal 'n hartaanval kry as sy dit moet sien. In Tsim Sha Tsui, waar ek bly, is daar 'n grand Guggi winkel en reg langsaan is 'n motorregmaak plek waar olie van karre afgetap word op straat. Die ergste is dat dit nie lyk of dit iemand pla nie. Hong Kong eiland is net so. Daar is ou geboue, nuwe geboue en hiper moderne geboue alles langs mekaar.


Choppie en Dina Chamberlain by die Wan Chai mark in Hong Kong. Dankie, julle! Ek het so lekker gekuier!


Vleis op uitstalling: links bo is eende, regs bo is hoenders en verskillende geure varkvleis onder.
 Yammie!

Smartieboks woonstelle in Wan Chai.

Nou moet julle asseblief nie aan Victoria Park dink en Kirstenbosch gedagtes kry nie. Dis meer 'n oop ruimte waar mense kan mens wees. 'n Groot deel van die park is onder sement...


My dag is nog lank nie klaar nie. Ek gaan nou weer strate toe want vanaand is die aand wat ek die Symphony of lights moet sien in Victoria Hawe. Gelukkig is dit baie naby aan die plek waar ek bly. Dit begin 20:00, maar ek wil 'n goeie plek he en sal sommer nou (18:30) begin beweeg.

Ek hoop elkeen van julle het 'n goeie rustige Sondag beleef. 'n Dag waarop julle vrede en rus ervaar het en God beleef het. Ek het! En dit was hemels.

'n Foto van die Symphony of  Lights in Hong Kong.

No comments:

Post a Comment