Thursday, September 28, 2017

'n Ode aan Pieter

'n Ode aan my pappie Pieter

13 September 1946 - 26 September 2017

Dis nou al amper 21 jaar sedert ek saam met jou begin werk het. Die res van ons kollegas was skrikkerig vir jou. Nie ek nie. Jou humorsin en sagte hart het my van dag 1 af oorrompel. Ek kon die vonkel in jou oog sien agter jou skyn kwaad. In ons eerste jaar het 'n groepie van Stell Mun saam Argus gery. Saam geoefen. Stelselmatig het ek jou gesin ontmoet. Toe stap ons saam die Vis en daarna was ek nooit weer verder as familie nie.
Jou onkreukbare integriteit was verfrissend. Jou eerlikheid en hardwerkendheid het vertroue by my gewek. Ek het byna alles wat ek weet van Plaaslike Bestuur by jou geleer. In 2000 is jy en Elsje oorsee in April en het ek by die kinders gebly. George was 9. Johann 19 en Coos was oorsee. Dit was pure plesier. In daai weke het ek leer bergfiets ry agter Johann aan met jou fiets, helmet, skoene en handskoene. Daarna was ek altyd die oudste dogter in julle huis. 'n Voorreg wat ek lewenslank sal koester.
Ek onthou oneindige gesprekke om julle kombuistafel, blokkiesraaisels en my antwoorde wat eers in potlood langs die kant geskryf is. Jou obsessie met die vlieëplak wat hard moes werk. Die sentrale plek van die koerant en saam rugby kyk op die lang harde bank in die deurstap gang waar die TV staan.
By Pearly het ons kilometers langs die see gestap, huis gebou, radio geluister. Jou boeremusiek en die Briele het die kinders mal gemaak. Ons het gebraai, Phase 10 gespeel tot George gehuil het omdat ek vir jou 'n joker uitgegooi het om te wen. Ek was altyd onvoorwaardelik aan jou kant en jy aan myne. Ek onthou presies hoe jou bobene en kuite lyk op 'n fiets en hoe hard jy kon werk.
Toe jou Pa dood is was ek saam met jou in die motor oppad huis toe na die diens by die Ouetehuis. Alles in my het stil geword toe jy sê: 'nou is ek alleen'. Jy is 'n man van min woorde. Maar daai min is genoeg. As jy praat het mense geluister. Jou 5 seuns ook.
Vir hulle het ek elkeen op 'n unieke manier liefgeword. Elkeen het 'n eie stuk van jou in hulle. Johann is 'n dienaar selfs al was dit nie sy van nie. Deur en deur. Hoeveel keer het my fiets gediens en opgelaai geraak as ons iewers gaan ry het. Sonder woorde. Net doen. Sonder omhaal. En natuurlik jou vlymskerp verstand.
Coos het jou harde kop gekry. Deursettingsvermoë en hardkoppige dryf vir die lewe. Pietman is jy uitgeknip. Van sy kroontjie tot sy toontjie. Selfs sy manier van staan, stap, lag en julle hande. 'N Erfenis wat jou sal laat voortbestaan deur hom. Sakkie het jou nederige sagmoedigheid. Jou barmhartige kyk na die wat swaarkry. George het jou handigheid, praktiese brein en lus vir avontuur. Natuurlik is hulle almal Elsje ook, maar ek sal jou altyd in hulle sien, erken en eer.
Pappie jy is my rots. Dankie vir elke brokkie raad, elke insig, wysheid, regverdigheid en troos. Ek is die Here oneindig dankbaar vir ons vriendskap van 21 jaar. Rus sag Pappie. Ek lief jou. Ons sal mooi na Elsje kyk. Ek gaan jou oneindig baie mis. Maar ek gun jou vrede, vryheid en die hemel. Liefde Hanlie