Saturday, April 14, 2012

Kultuurskok 1000!

Ek het aangekom in Vietnam!!! Van 'n eerste wereldse hiperskoon en georganiseerde Singapore na chaos! Dis vir my 'n kruising tussen Kampala in Uganda en Kathmandu in Nepal. Vietnam is 1 uur agter Singapore en ons het net na 12:00 geland na 'n vlug van drie ure. Ek het 'n goeie fliek van Matt Damon gekyk: 'We bought a zoo.' Baie oulik. Ek vlieg weer met Singapore Airlines en hulle is baie goed.

Ek het al my goed in Vietnam deur Asia Trip Advisor geboek en hulle kry my op die lughawe. Die drywer kan nie 'bo' of 'ba' se in engels nie, so ons praat niks nie. Ek vergaap my. Hulle is veronderstel om aan die regterkant van die pad te ry (hulle bestuurder sit links), maar hulle ry almal net waar hulle wil.  Ek het al soms as ek 'n dokument in 'word' tik by 'insert symbol' al die snaakse megaftertjies op al die klinkers gesien en dan wonder ek wie in die wereld gebruik dit. Vandag weet ek: Vietnam doen.


Die foto wys hulle skrif baie mooi. Dis regtig funny en onverstaanbaar.

My eerste indruk oor Vietnam vanuit die vliegtuigvenster en oppad in stad toe met die taxi vanaf die lughawe (ongeveer 35 kilometer), is dat daar baie water is en baie groen landerye. Dis baie onderontwikkeld en veral nou invergelyking met Singapore, 'n groot skok op my sisteem. Daar is motorfietse orals en baie vrye toepassing van enige verkeersreels. Net van die lughawe na die hotel kon ons maklik in vier ongelukke betrokke gewees het. Almal toet. Dis omtrent die enigste geluide wat mens heeltyd hoor. As jy voor iemand wil indraai sonder enige waarskuwing, toet jy en laat waai.

Dis heelwat koeler hier en ek geniet dit baie. Die hotel waarin ek bly is baie mooi. Dis die Hanoi Style hotel en dis in die ou deel van Hanoi. My kamer is reusagtig met sy eie badkamer en die bad het 'jets' in soos 'n regte jacuzzi! En dit alles saam met 'n international buffet vir 17 US dollar 'n nag! Waar in SA gaan jy dit kry vir R136 'n nag?


In my hotel op die 5de vloer ontmoet ek vir Frieda van Israel voor die lift. Sy en haar gesin het nou vir twee weke in Indie getoer wat sy baie geniet het en nou is sy alleen hier vir 3 dae totdat ses vriendinne kom om ook Halong Bay te toer. Dis al haar derde dag in Hanoi en sy is al 'n ou hand. Sy nooi my om saam met haar te gaan eet. Ons kry 'n tradisionele vietnamese restaurant naby die hotel en ek kry 'n viergang maaltyd vir R38. Daar is hoendersop (so lekker geurig), spring rolls, gestoomde rys en varkvleis in tamarind sous en yoghurt vir poeding. En ek drink 'n Hanoi bier wat baie lekker was.



Hier gebeur alles op straat. Die plaaslike haarkapper ook.


Frieda het 200 VTD betaal om vir 'n uur om die stad getrap te word in hierdie fiets taxi. Ek wil nou nie vir julle jok nie, maar as my somme my nie in die steek laat nie, is dit 7 sent. (100 000 VTD = R38)



Kenmerkend van die Vietnamese is die rondawelhoedjies wat hulle dra en die twee mandjies wat hulle soos 'n skaal oor hul een skouer dra.  Ek het vanmiddag amper 'n lelike onderonsie met so 'n vietnamese vrou gehad wat wou geld maak en sonder enige waarskuwing haar hele swaar mandjie op my skouer 'dump', haar rondawelhoed op my kop sit, my kamera gryp en van my 'n foto neem. Na die tyd wil sy toe 100 000 Vietnamese dong daarvoor he! Dis net R38, maar nogtans! Vir een foto met my eie kamera. Ek hou toe voet by stuk dat ek haar nie daarvoor gevra het nie en haar definitief nie gaan betaal nie. Toe loop sy al agter my aan vir omtrent 'n halfuur en 'harass' my letterlik vir geld. Na baie harde woorde en tekens van my kant af, het 'n mede vietnamees haar aangespreek en het sy die hasepad gekies. Ek was sommer moeg en het teruggegaan hotel toe.

Tydens die foto het ek nog gedink dis snaaks.


Hier naby my hotel is 'n aandmark wat Frieda voorgestel het. Sy was gisteraand daar. Nou kyk, my vriendin Cornelie sou so in haar noppies gewees het, want dis die grootste klomp junk onder een dak! Ek moes vir my waterskoene soek vir die boottrip more en het gelukkig 'n paar crocs gekry wat lekker sit vir baie goedkoop.


More begin die trippie waarna ek die meeste uitgesien het. Ek hoop nie my verwagtings is te hoog nie. Dis die wereld natuurlike erfenis gebied van Halong Bay en ek gaan vir twee nagte en drie dae op 'n junk rondvaar op die baai. Hulle kry my more-oggend al 08:00 by die hotel. Halong Bay is 3 ure noord-oos van Hanoi. Ek dink nie ek sal internet kontak he vanaf die boot nie, maar sal als kom vertel as ek terugkom.

Hier is solank 'n voorsmakie van die baai:


Lekker naweek vir elkeen!
Ek kon vanmiddag lekker skype met my ouers. Dit was heerlik om hulle te sien en in 'lewende lywe' te gesels. Ek kon selfs 'n paar aankopies vir my ma wys. Ek mis dit nogal om iemand te he wat saam opgewonde is aan die kant.


No comments:

Post a Comment