Tuesday, April 17, 2012

Halong Baai vervolg

Ek is terug in my hotelkamer in besige Hanoi en weer terug by vinnige wifi. Nou kan ek julle beloen met die pragtigste fotos van dit wat ek bevoorreg genoeg was om die afgelope drie dae te kon sien. Dis net ongelooflik mooi. Mens kon kies tussen 1 nag oorslaap en 2 nagte oorslaap op die boot. Ek was nog altyd een vir: 'Gaan groot of gaan huis toe!' en het die twee nagte drie dae gekies. Uit ons groep van 19 mense, was net drie van ons vir die drie dae daar. Ek en 'n honeymoon couple van Australie af. Die Here het waarlik 'n sin vir humor. Dit was heerlik. Hulle was baie vriendelik en ons het heerlik saam gekuier.

Ek het die volgende gisteraand op die boot geskryf op my laptop.

16 April 2012:


Daar is twee rekenaars op ons boot en almal kan gratis die internet gebruik, so ons maak beurte. Die 3G waarmee hulle konnekteer is so stadig dat dit maar sukkel om iets gedoen te kry. Ek sal definitief eers fotos kan opsit as ek terug is in Hanoi se Style Hotel.

Hier is die fotos nou: Ek het meer as 400 fotos geneem in die 3 dae en moes nou maar 'n paartjies uitsoek om iets van die wonderwerk te probeer verduidelik.






Op ons boot die eerste dag. Dis 'n Cinese Junk boot. Ek wou nie andersom staan in die tradisionele posisie nie. Dit is immers presies 'n 100 jaar terug dat Titanic gesink het!





Vroeg die tweede oggend. Ek was al 21:00 die aand in die bed en was 05:30 wakker en uitgeslaap. Dit was grafstil en wonderlik op die dek.



Binne die grotte.



Halong Bay is ‘n UNESCO World Heritage Site sedert 1994 en ook een van die nuwe natuurlike wonders van die moderne wereld. Dit is nou al tien jaar dat mense dit op ‘n daaglikse basis besoek, maar tot baie onlangs is niemand nog toegelaat om in die baai te slaap nie. Die laaste paar jaar het die wetgewing hier verander en nou is daar groter luukse bote met slaapkajuite wat besoekers bring. Halong Bay bestaan uit 2000 klein ‘lime stone’ bergies in ‘n baie groot plat kalm baai. Dis regtig baie pragtig.

Daar is 1300 plaaslike vissermanne wat lisensies het om hier vis en ander seekos uit te haal en hulle bly almal op ‘floating fishing villages’. Dan is daar ook verskeie klein roeibootjies wat by jou venster verbykom om allerhande snuisterye te verkoop van skulpe, tot sigarette, sjokolade en lekkers.  Ons was ook vandag op plekke in die baai wat nie so skoon is nie en die Vietnamese regering sal dringend iets moet doen om die verblyf en besoedeling van die baai te reguleer.

Cong het vir ons vele interessante stories vertel. Sy engels is egter so kreatief en met ‘n baie interessante aksent dat ons soms ‘n paar keer moet vra wat hy se. Gister by die grotte wil hy vir ons ‘n rots wys wat soos ‘n skilpad lyk. Hy se dit is ‘n ‘toto’. ‘n Wat? ‘n Toto! Niemand in die groep verstaan nie. Ook omdat die rots met baie verbeelding miskien soos ‘n skilpad lyk, maar nie met die eerste oop opslag nie. Ons raai alles wat min of meer so klink en hy begin verduidelik: walk slowly, pull head in, round shell on back, flat belly! Oh! A Turtois! ‘Yes’, se Cong, ‘thats what I said, a toto!’

Hy verduidelik ook vir ons hoekom Vietnam en China alles eet wat beweeg. In die westerse wereld trek ons maklik ons neuse op vir die ooste wat slange, katte, honde en als eet wat beweeg. Cong verduidelik dat meer as 2 miljoen mense in Vietnam dood is aan hongersnood na die Tweede Wereldoorlog en nog meer mense in China. Van daar af is daar ‘n spreekwoord in Vietnam en China wat se: As dit beweeg, eet dit! Hulle het dit gedoen vir oorlewing. Ja, daarom eet hulle honde en katte! (Nota: Vandag oppad terug stop ons vir middagete by 'n plek en op die spyskaart is: American Hot Dog - the real thing. Niemand van ons was braaf genoeg om dit te bestel in 'n land waar hulle honde eet soos ons hoenders eet nie!)

Vanoggend word ek 05:30 wakker na ‘n baie lang en lekker nag se slaap. Al die bote se generators was af en dis doodstil! Ek word wakker van ‘n haan wat kraai en ‘n hond wat blaf! Die haan is by die ‘floating fishing village’ en die hond gaan binnekort soos Antjies die rooibruin hen in die een of ander Vietnamese sousie dryf.  Hulle eet katte aan die begin van die maand en glo dat dit jou besigheid suksesvol maak vir die maand wat kom en hulle eet honde aan die einde van die maand. Hoekom weet niemand nie!

Daar is baie bygelowe hier wat deel is van hulle godsdiens. Cong verduidelik dat net 65% van Vietnam Boedhisme aanhang. Hulle het dit via China gekry en dis dieselfde as Chinese boedhisme. Hulle glo onder andere dat as jy oor Boedha se vet maag vryf en ‘n wens maak, sal dit waar word en sal jy baie gelukkig wees.  In my ma se huis was daar altyd ‘n koekie houer wat bietjie soos Boedha gelyk het. Dit was ‘n vet oompie in ‘n swart pak met ‘n bles en jy moes sy boonste helfte verwyder om by die koekies uit te kom. Ek het gereeld oor sy maag gevryf en die koekies het my baie gelukkig gemaak, so miskien het hulle ‘n punt beet!

Vandag is die res van ons groep terug Hanoi toe en net 3 van ons bly agter om die drie-dag trip te doen. Ek saam met Jo en Hannah. Hulle is van Australie en op hulle honeymoon. Hulle toer al ‘n maand in Vietnam en is baie oulik. Ons kom baie goed oor die weg. Beide van hulle is prokureurs en ons gesels ‘n hond uit ‘n Vietnamese kookpot uit!

 Jo and Hannah, this paragraph is for you! I am so glad that we landed up together on this cruise. It was such a pleasure meeting you. Thank you for sharing your honeymoon with me. I hope you all the best and hope to see you soon in South Africa. Thank you for your kindness, friendship and that we could save the world in one evening over two beers and a whiskey!



Ons dag begin deur ‘n reuse heerlike ontbyt op die dek van ons boot. Daar is omelet, maar ons het eers geweet dis omelet nadat ons gevra het. Dit is groen. Ons vaar rustig tot by ‘n gewilde strand in Halong Bay, waar ons ‘n stop maak en afklim. Daar is ‘n ander boot met ‘n klomp mense ook. Dis baie mooi en daar is 200 trappies na ‘n uitkykpunt toe. Dis pragtig van bo af. Jo en Hannah wil nie klim nie (haar maag is vandag nie so lekker nie – miskien die groen omelet) en ek klim en gaan neem fotos vir hulle ook. Vandaar vaar ons vir 45 minute na die plek waar ons gaan kayaking doen. Ons is twee-twee in ‘n boot. Ek roei saam met ‘Moon’. Sy is ons gids vir die dag en bestuur die boot. Sy is 21 jaar oud en was verlede jaar in die top 100 van die Vietnamese idols. Ek en sy sing die hele pad op die kayak. Sy wil ‘n liedjie in afrikaans hoor en ek trek los met Laurika Rauch se bloubergstrand en slaan sommer so in die middel oor na ‘n geestelike liedjie. Sy dans voor in ons kayak asof ons nooit sal omslaan nie. Gelukkig het ek my kamera op die groot boot gelos, want ons was later papnat. Die grotte waardeur ons roei is baie mooi, met mooi koraalriwwe en pragtige vissies.

Hier en daar is dele van die baai besoedel en ons het ‘n lang gesprek met Moon oor wat hulle moet doen. Dis hoofsaaklik besoedeling vanaf die visgemeenskappe en ook die riviere wat in die baai uitmond.

Terug op die boot kry ons middagete wat bestaan uit krap, satay van varkvleis, slaai, groente, vrugte en gestoomde rys met soyasous. Hulle eet werklik baie gesond. Hulle soyasous is baie sout, maar dis omtrent al sout wat hulle gebruik in hul kos. Van soetgoed en poeding weet hulle niks nie! In Amerika gaan ons dougnuts vir ontbyt kry, so ek hou maar uit! Ons besoek ook ‘n Perel Plaas op Halong Baai waar meer as ‘n miljoen perels gekweek word. Hulle verkoop perels vir goeie pryse, maar hulle juweliersvaardighede is nie baie goed nie. Dis baie interessant om te sien hoe hulle die core in die lewendige oester in plant. Dan vat dit tussen 18 maande en 5 jaar vir die oester om ‘n perel te maak. Hulle het wit, swart en Japanese perels wat veelkleurig is. Hulle wys ons aan die einde hoe om die perel te oes en jou wraggies daar is ‘n perel in die een wat ons oes! Hulle sukses koers is maar 30%. Ons het ‘n kans gevat en vra of ons dit mag kry, maar die gids het net gemaak of hy ons nie verstaan nie.

Later die middag is ons terug op ons groot boot en ek terug in my kamer. Hier is ‘n nuwe groep toeriste van 21 mense wat vandag deurgekom het van Hanoi af. Hulle doen almal die 2 dag trip en ons gaan more almal saam terug. Hulle is nou besig met die kookles wat ons gister gedoen het.

Ek is mal oor hierdie plek. Dit is salf vir ‘n moee siel en enigeen wat wil rus sal dit baie geniet! Ek het vanoggend kort na 05:30 op die dek gaan sit en net die stilte ingedrink. Na die oorvol Hanoi is hierdie twee dae vir my soos ‘n lang uitgerekte meditasie. Ek het dit nodig gehad na my afgelope amper drie weke se rowwe toerprogram. Op die boot kon ek nou met baie mense kuier en presies uitvind wat ek in Hanoi moet sien en wat nie.

Die laaste oorlog in Vietnam is al in 1975 verby met die slag van Saigon. Ek kon nie veel onthou uit my politieke wetenskap dae nie en het weer bietjie gaan oplees op google, want in Vietnam is dit vandag nog waaroor elke toergids praat. Cong is baie pro sy eie regering en baie anti VSA.  Die Vietnam oorlog dateer uit die dae van die Koue Oorlog tussen VSA en alliansie vennote en Rusland en alliansie vennote. Die oorlog is gevoer in Vietnam, Laos (direk wes van Noord-Vietnam) en Cambodia (direk wes van Suid-Vietnam). Moon se vandag as sy so oud soos ek is wil sy ook haar werk los en die wereld toer. Toe ek vra waarheen wil sy die graagste gaan, antwoord sy: Cambodia! Seker nie ver nie, my kind!

Die Vietnam oorlog het begin in Nov 1955 en aangehou tot 30 April 1975. Ek was pas 5 jaar oud. Noord Vietnam en hulle kommunistiese alliansie vennote het die oorlog gewen teen Suid-Vietnam en die VSA. Daar is amper 3 miljoen siviele mense in Vietnam dood in die oorlog. Saigon was die hoofstad van Suid-Vietnam en die val van Saigon het die einde van die oorlog beteken. Vietnam is vandag een staat met een kommunistiese regering. Hier is baie min ontwikkeling en baie min reels. Cong se die verkeersreels is nie wette nie, maar bloot ‘suggestions’.

Daar is 90,5 miljoen inwoners in Vietnam en dit maak hulle die 13de mees bevolkte land in die wereld en die 8ste mees bevolkte land in Asie. Hulle was deel van Imperial China tot 938 AD en in die middel 19de eeu deur die Franse gekolonialiseerd tot in 1954 toe die Vietnam oorlog begin het.

Vietnam is ‘n interessante land. Daar is fantastiese natuurskoon, maar dit word nie voldoende bewaar nie. In die ou stad waar my hotel is, is daar die ou stadsmuur wat dateer uit die 18de eeu. Ek stap ewe soontoe en verbeel my iets soos die Kasteel in Kaapstad! Toe nie! Mens kan amper nie die muur sien nie, soveel stalletjies en goed is daar op dieselfde hoek. Ek is erg bevrees dat Halong Bay oor nog ‘n dekade nie meer dieselfde sal wees nie. As julle wil kom, maak dit snappy!

Die Australiese couple wat vandag saam met my getoer het, het die Ho Chi Minh Mausoleum besoek, waar hierdie gewilde Vietnamese leier se liggaam in balsem in ‘n glaskas le en duisende mense besoek dit daagliks. Hulle het ure in die ry gestaan om dit te sien. Ek het hulle so uitgeluister en ja, dis seker spesiaal, maar ek is amper seker ek gaan nie ure in ‘n ry staan om iemand te sien wat 43 jaar dood is nie. Hy is in 1969 oorlede. Daar is juis reeds ‘n klankie in Hanoi se strate wat my maag net net kan hanteer. As ek nog ‘n lyk moet aanskou, weet ek nie of ek my middagete sal kan binnehou nie. Ons sal maar sien. Daar is wel ‘n paar ander interessante dinge waarheen ek wil stap. Onder andere die Hoan Kiem Meer.

Op die oomblik sit ek en moed bymekaar skraap om Hanoi se strate in te vaar! Dis net ontsettend oorweldigend besig. Dit voel vir my minstens die helfte van die 90 miljoen mense in Vietnam bly in Hanoi. Maar nou ja. Ek het betaal om dit te sien, so laat ek dit gaan sien!

Groete en liefde
Elna, dankie dat ek met jou, Melindie en Janko op skype kon gesels met die kamera aan! (Okay, in alle eerlikheid, Janko het niks gese nie.) Dit was heerlik en het my dag gemaak.

1 comment:

  1. Ons het nou lekker gelag vir die koekiehouer en die hond in die Vietnamese sousie...
    Dis baie lekker om van al jou ervaringe te lees en die fotos is ongelooflik!
    Sterkte met Hanoi en al die massas mense.
    Petrus & Surette

    ReplyDelete