Tuesday, April 3, 2012

Reen, reen lieflike reen!

Vanoggend toe ons wakker word is die wereld sopnat rondom ons. Uiteindelik na die drukkende hitte van vyf dae bars donderstorms, blitse en baie tropiese reen uit. Waar ek nou sit en tik in die Peach Blossom restaurant kyk ek uit op berge en palmbome, maar al wat ek kan sien is 'n gordyn van water. As dit hier reen REEN dit hoor! Nou verstaan ons hoekom daar twee sambrele in die kamer was. Dit sous! Maar dit is so welkom en koel dat ons dit baie geniet. Als wat ons vandag wil doen is onderdak, so die reen sal ons nie pla nie. Ek het bespreek vir 'n Thai cooking class by die Cooking School in Kata. Hulle kom my by die hotel oplaai om 13:45. Corne wil 'n "fruit carving" klas doen wat hier in ons hotel aangebied word deur die sjef van Peach Blossom Restaurant. Dit lyk ongelooflik en sy sal 'n kerf mes en sertifikaat kry na die tyd.

Maar laat ek julle eers van die afgelope twee dae vertel. Dit was ongelooflik!

2 April 2012

‘n Lui-lekker dag by die hotel...

Vandag doen ons niks nie. Geen mens kan teen ons spoed aanhou toer vir meer as 5 dae nie en vandag geniet ons die talle swembaddens en fasiliteite van die hotel. Hier is vier swembaddens by ons hotel en twee restaurante. Ons trek sommer swembroeke onderaan ontbyt toe en geniet ontbyt by die Peach Blossom Restaurant by die boonste deel van die hotel. Dis ook hier waar ons die gratis wifi kry. (Foto)


Die personeel sit die jacuzzi spuite in die swembad aan en dit raak al hoe lekkerder. (Foto) Later is ons voos geswem en klaar met die son en sit af na ons aircon kamer toe om te gaan rus. Ons gaan vanaand saam met Heather eet. Sy het op ons toer na Phi Phi eiland gese sy gee nie om om alleen te toer nie, maar aandetes is vir haar sleg, so nou kuier ons saam met haar. Sy kies ‘n restaurant naby aan haar hotel waar sy ook die vorige aand baie lekker geeet het en ons is "game". Ons begin 17:30 al wandel om haar 19:30 te kry, want dit is uiters warm en humied en ons wil stalletjie vir stalletjie loop en tussenin by elke mini mark inloop vir aircon.

Ons kom ook af op ‘n plaaslike 'food fair' en selfs nog snaakser groente, vrugte en gediertes. Op die foto sal julle die kokkerotte sien wat hulle eet. Ek kan dit nie glo nie. Ons sien en proe ook nuwe snaakse vrugte waarvan hulle nie ‘n engelse naam het nie en die thaise naam onuitspreekbaar is vir ons. Ons koop twee flieks langs die pad: Iron Lady en Money Ball vir R15 elk (60 baht). Dis definitief afgetape en vals, maar ons kan nou nie langer thaise TV uitstaan nie. Ons het selfs ‘n stukkie van “shrek” en “friends” in ‘n swak thaise vertaling besigtig!





Dis lekker om vir Heather te sien. Sy het per ongeluk in die son aan die slaap geraak en is seer gebrand. Ons stap na Mama Restaurant en alles lyk wonderlik. Ons bestel twee voorgeregte elk en deel als om alles te proe.  Thaise kos is regtig lekker. Ons doen ook Vietnamese spring rolls en witwyn van Chili. Daar is twee wit wyne op hulle hele spyskaart. Die een van Chili (Ramirana Sauvignon Blanc) en ‘n Douglas Green van SA. Corne vra vir die kelner hoe die SAse wyn smaak en sy is heel eerlik deur te se sy weet glad nie, maar die Chili een is lekker. Ons oortuig haar toe dat SAse wyn wonderlik is en dat sy dit enige tyd kan aanbeveel. Sy voel toe baie sleg toe sy hoor ons is van SA...

Die ander geregte was Thai satay pork (met grondboontjiebotter sous), gemengde vleis voorgereg met vis, vark en hoender, Larb Gai, Andaman Seafood Salad en Rosti Sandwich. Daar is ook ‘n gratis slaai buffet om jouself by te help. Hulle is groot op komkommer. Nie ons engelse komkommers nie, maar daai regte komkommers wat ons geet het as kinders. Dis regtig lekker. Vir nagereg doen ons Banana Fritters (die beste!), Bua Loi Num Khing en Crepes Suzette. Die onuitspreeklike een in die middel is sesame dumplings in gemmer sous. Nogal okay as jy verby die slymgevoel gekom het. Die hele ete, alles ingesluit van wyn tot nagereg kos ons R125 elk. Heather het aangedring om die wyn te betaal want Australiese dollar is 26 baht op elke dollar terwyl ons maar 4 vir ‘n rand kry! (Fotos)











Ons vind dit snaaks dat daar geen aircon in die restaurant is nie, net ‘n waaier of twee, maar die klein badkamertjies het groot aircons in. Raai hoeveel keer moes ons ‘n draai loop net om te oorleef?

Oppad terug geniet ons die naglewe in die straatjies. Dis baie veilig hier en alles is baie laat oop. Dis so warm dat almal laag le in die dag tot omtrent 18:00 en dan begin alles weer lewe.

Heather werk vir ‘n Australiese telekommunikasie maatskappy wat fokus op die Ooste. Sy moet in haar werk daagliks met China, Japan, Singapore en Malaysia skakel en deel met ons haar ervarings van die Ooste. Wat ek glad nie geweet het nie, is dat Australie Japan sien as hul naaste groot ekonomie en daarom leer die kinders in skole in Australie Japanees as tweede taal. Ons leer ook van die Australiese kultuur en hul uitkyk op die wereld. Dis baie interessant.

3 April 2012

“Ko kung ka!” Dit beteken "hallo" in Thai en dis wat hoe 'n vrou groet. 'n Man se weer iets anders.

Vandag was die beste nog! Ons was terug op Win Chawin se taxi vir die hele dag en het in Chalong en Rawai (spreek uit: Lawaai) gaan rondloop. Vandag ry Heather ook saam met ons. Haar ma kom more-aand Phuket toe om nog 5 nagte saam met haar te toer en vandag is ons laaste kuier saam. Haar ma kom vir ‘n vriendin se 50ste verjaarsdag. Dis hoe die Australianers dit doen!

Ons eerste stop vanoggend is ‘n uitkykpunt oor Kata baai. Dis pragtig. Daar is ‘n vrou wat ‘n see-arend aanhou en mens betaal 100 baht (R25) om hom op jou arm te laat sit. Hier is amper geen werkloosheid hier nie, want almal verkoop iets, of dit nou ‘n olifantrit, ‘n arendvryf, ‘n tradisionele stukkie kos of wat ook al is. Hulle is goeie entrepreneurs.






Daarna stop ons by die olifant-ritte en voer die klein olifantjies met piesangs. Daar is twee peuter olifante. Die kleintjie wat ons voer is een jaar oud en baie cute. Hy blaas deur sy neus as hy naby mens se gesig kom en julle kan self aan die uitdrukking op my gesig oordeel oor die resultaat! Van Corne wou hy sommer ‘n happie vat.

Chalong village is Win se tuisdorp en hy ken die area goed. Ons vereistes is maklik. Ons wil na die spa gaan, die tempel sien, die cashew neut fabriek besoek, iets eet en die uitkykpunte besoek. Die spa waarheen ons gaan is Tran Tara Spa en is baie grand, maar met beter pryse want Chalong is nie so op toeriste ingestel nie. Ons al drie kies dieselfde pakket en dit sluit in 30 minute in die stoomkamer en jacuzzi, 1 uur thai massering en 1 uur aromaterapie massering. Corne en Heather kies die Jasmyn olie terwyl ek vir die suurlemoen olie gaan. Ons word al drie in een kamer masseer deur drie maseuses. Hulle is regtig goed. Die Thai massering sluit ook rek en strek in en hulle klim letterlik bo-op jou om genoeg drukking toe te pas.

Ons het eers ‘n yskoue lappie en gemmertee in die voorportaal gekry en toe is ons begelei na die vroue ruskamer waar ons elkeen ‘n locker gegee is vir jou klere. Jy kry slippertjies en ‘n sarong om om te draai. Toe is ons na die stoomkamer vir 15 minute en die jacuzzi vir 15 minute. Ons moes noodgedwonge vinniger die jacuzzi verlaat as gevolg van ‘n Chinese inval, en toe is ons na ons massage kamer. Twee ure later en vry van enige stres is ons begelei na die teekamer waar ons heerlike gemmertee en alomteenwoordige pynappel en waatlemoen bedien is.





Toe is ons na die tempel in Chalong. Dis die grootste Buddiste tempel in Phuket en op die heel boonste vlak is ‘n snaakse glas sirkel waarvoor almal neerkniel. Ons vra in die motor vir Win en hy verduidelik dat dit een van Buddha se bene is wat hulle van Sri Lanka af gekry het nadat hy dood is. Nou aanbid almal dit. Die tempel is verguld deur en deur en oral kniel mense voor baie snaakse beelde. Ons was maar vinnig in en uit.




Toe vat Win ons na Lam Thalay Seafood Restarant op die see met ‘n uitsig op Lone Island.  Die naam beteken seebries en dis werklik koeler hier. Ons het net gesit toe sak daar ‘n heerlike bui reen uit. Ons bestel twee voorgeregte om te deel. Vark kaiings en garnale. Vir hoofgereg doen ek Garnale in ‘n heerlike Tamarind sous en Corne s’n is seekos stirfry in green curry met coconut melk bedien in ‘n coconut. Heather doen gestoomde vis wat heerlik gelyk het.

Toe kom die verrassing van die dag en ons besoek ‘n cashew neut fabriek. Ons was baie moeg en het nie veel verwag nie, maar wow! Buite in die tuin staan ‘n cashew boom met vrugte. Die lyk soos rooi en geel soet pepers met ‘n neut aan die bo-end. Elke vrug dra net een neut. Wanneer dit ryp is, breek ‘n vrou per hand elke neut oop en dan droog hulle dit en verwerk dit in allehande geure en produkte. Daar is tot sportdrankies, cocktails en cashewneutsap! Ons is elkeen met die nodige inkopies daar uit. Dit was baie interessant.




  

No comments:

Post a Comment