Friday, June 29, 2012

Fotos van Yosemite

Uiteindelik is ons terug in San Francisco. Ons slaap vanaand ewe grand in die Hilton naby die lughawe. My vlug vertrek more-oggend 08:00 via Washington en Dakar na Johannesburg. Ek sal meer as 23 ure in die lug wees.

By die hotel is vinniger wifi en ek kan gou nog 'n paar fotos oor Yosemite stuur.
Hierdie is Half Dome soos gesien vanaf Glacier View Point.


Die inheemse dennebome is pragtig!


Die Tunnel View wat een van die mees gefotografeerde plekke is in Yosemite.


Daniel se arm. Dis al manier hoe ons weet ons sal hom terugkry. Hy is 'n besige mannetjie wat graag vriende maak en rondkuier.


Bridal Veil Falls. Die wind het gehelp dat dit regtig soos 'n bruid se hoofbetooisel lyk.


Die Strausse by 'n swengat.


Hierdie foto is voorafgegaan met: Mamma moet asb nie beloftes maak wat Pappa moet nakom nie!








Vanaand is ons na 'n Giants Baseball Game in die AT&T stadion in San Francisco. Elizan stel dit so mooi oppad terug: By die Pride Parade het ons die een helfte van Sf gesien. Vanaand die ander helfte. Die Giants verloor teen die Cincinnati Reds met 5 teen 1. Ons ry met die trein in en uit.

Hierdie is seker die laaste blog wat ek skryf van my wereldtoer af. Ek wil amper se oor en uit! Dankei vir almal wat saam gereis en saam gesels het. Julle het my gedra deur die afgelope 3 maande en 3 dae. My meer as 1 miljoen tree was die moeite werd! Ek het 'n leeftyd se ervarings opgebou en genoeg fotos om die ouetehuis eendag 'n opwindende plek te maak. Tot ons weer saam toer....

Yosemite vervolg

Ons het 'n baie vroee oggend gehad. Die oom oorkant ons in die tent het 'n hartstilstand gehad en van dou voor dag af was al wat 'n 'ranger' en dokter is by die tent. Daar was ook 'n beer aanval op een van die karre en almal skarrel.

Ons het gisteraand afgestap rivier toe om die 'little brown bats' te gaan soek. Daniel het programme oor die TV gesien daaroor en weet als van hulle af. Hulle skep water in die vlieg. Ons het twee flitsligte en lig oor een as ons hom sien. Die grootmense gebruik ook die geleentheid om 'n heerlike Napa Rooiwyn (wat ek present gekry het by Cobus en Maureen) te geniet langs die water. Dis baie goed ten spyte van die papierglasies waaruit ons drink.

Matthys gaan stap vanoggend en daar gewaar hy 'n groen bakkie in die parkeer-area wat wraggies van hawaii af kom met 'n Hawaii nommerplaat! Dis nou die een wat ek gedink het ek nooit hoer sal sien nie. Toe spring ek op en gaan neem 'n foto. Nou kort ek nog net twee: Delaware en Rhode Island. Beide baie klein state van die ooskus. Ek het gister New Hampshire gekry en New Jersey.

Hier is nog 'n paar fotos van die pragtige natuurskoon in Yosemite:






Thursday, June 28, 2012

Yosemite

Ek sit met 'n earl grey teetjie in die gaste sitkamer in Curry Village in Yosemite. Die Strausse het gaan fietse huur om bietjie te ry. Ek wou net eers die fotos van die afgelope twee dae met julle deel.

Yosemite moet een van die mooiste plekke op aarde wees. Dis ongelooflik mooi! Ons het gisteraand 18:00 se kant hier aangekom en ons tent no 636 bestyg. Ons bly in Curry Village. Hier langs my is 'n ou besig om vir 'n groep in die sitkamer te vertel dat hy besig is om van Mexico te stap na Canada. Hy probeer die meeste van John Muir se paaie te stap. Sy baard is al lank en hy klink redelik eksentriek, maar ek haal my hoed vir hom af. Mexico na Kanada. Dis vrek ver. Nou is hy in Yosemite. John Muir was ook die ou waarna die Muir Woods in San Francisco vernoem is. Ons het gelees dat John Muir elke jaar gestap het vanaf sy huis tot by Yosemite (meer as 500 km).

Yosemite is reeds in 1890 as 'n Nasionale Park verklaar deur President Lincoln. Dit is meer as 3000 vierkante kilometer en bestaan uit graniet rotse, hoe watervalle en baie inheemse bome. Die 5de en 7de hoogste watervalle in die wereld is hier in Yosemite. 5 van die hoogste tien is in Poland en die 2de hoogste waterval in die wereld is natuurlik in SA. Die Tugela rivier val oor die Drakensberge en val 2800 voet ver. Dit maak dit die tweede hoogste. Die hoogste waterval val 3200 voet ver en is in Suid Amerika in Venezuela. Yosemite word jaarliks deur 13,7 miljoen mense besoek. Net om dit in perspektief te plaas. Die besoekers aan die Kruger Wildtuin in SA wissel tussen 800 000 en 950 000 per jaar.

Ons ry vanoggend Badger Pas tot by Glacier Point. Dit word beskryf as die mooiste uitsig in die wereld. Maar dan weer... Amerikaners toer nie juis vreeslik nie en noem sommer maklik iets die grootste of die mooiste in die wereld. Dit beteken eintlik maar net 'hulle wereld'.


Daniel is 6 en 'n half jaar oud en in Graad 1. Hy lees baie goed en is gedurig met sy neus in 'n boek. Ons het eintlik moeite om hom te kry om ook so nou en dan by die venster uit te kyk. Hier in Yosemite het Elizan sy boek afgevat, want anders sien hy niks.


Oppad hierheen het ons ons verkyk aan die hoeveelheid landbou bedrywighede. Interessant genoeg was dit alles Suid-Amerikaners wat werksaam was op die lande. Hierdie is alles kropslaai. Ons sien ook langs die pad hoe hulle dit pluk. Daar is orals stalletjies langs die pad en ons koop kersies en appelkose.


Pragtige graniet rotse in Yosemite!


Die tente dorp in Curry Village. Google en Trip Advisor waarsku mens vreeslik oor hoe oorbevolk dit sal wees en hoe klein die tentjies is. Vir ons was dit wonderlik. Baie skoon en netjies en weggesteek tussen die bome.



Ons tent van binne. Ons moes al ons taase uitpak en alles wat na kos en toiletries lyk en ruik uithaal en in die 'bearbox' voor die tent toesluit. Hier is bere blykbaar aktief in die nagte. Ek het gedink om ietsie buite te los sodat ek darem net 'n beer kan afneem, maar later daarteen besluit!


Ek wil nog soveel goed vir julle skryf, maar die wifi hier is net te stadig om fotos op te laai. Ek is nou al amper twee ure besig met hierdie paar. Die ou met die baard raak al hoe weirder. Intussen vind ek uit sy naam is 'Tickled Pink'. Hy is blykbaar ook op Facebook. Terwyl almal op hul laptops besig is hier en doodstil sit en hul eie besigheid afhandel, vra hy kliphard vir die hele kamer: Any questions for a real PCT hiker? Oh, just busy on your divices. Anyone who need to talk to me, just raise your hands... Ons almal het net gesteurd opgekyk. Wat is 'n PCT hiker? Wel, ek het so pas die geleentheid laat verbygaan om eerstehands uit te vind.

Ek sit nog fotos by sodra ek vinniger wifi het. My toer is amper op 'n einde. Ek kan dit nie glo nie. Ek sal moet waak om nie 'n antiklimaks gevoel te kry nie. Bis asb vir my daarvoor. Dankie Lizel en Teuns dat julle reeds laat weet het dat julle bid. Ek waardeer dit. Mal oor julle.

Tuesday, June 26, 2012

Monterey en Carmel

Soos ek hier sit en tik luister ek na Daniel se gebed. Hy is 6 jaar oud. 'Lord thank you that we could go to the aquarium today. It was awesome!' Ek beaam elke woord wat hy bid in my gedagtes. Die afgelope twee dae was bloot onophoudelik 'awesome'! Ons het die wonderlikste weer denkbaar en die seeninge hou net nie op nie. Ek het 'n hele paar keer vandag gedink: Hoe geseend kan een mens wees om juis op hierdie oomblik hier te kan rondloop.

Gister skype ek met my oudste sussie, Corne. Sy se sy het 'n boek in haar skoolbiblioteek gehad in Durbanville Hoerskool waar sy die biblioteek juffrou was oor die 20 mooiste plekke in die wereld. Van hulle almal was Monterey aan Highway 1 in California vir haar die mooiste. Ons slaap twee nagte in Monterey in die Super 8. Pragtige hotel naby alles. Vandag gaan die Strausse akwrarium toe. Ek het al so baie akwariums gesien op my toer (insluitend die beste een ter wereld in Singapore) dat ek vandag uitsit. Ek wandel in die strate van Monterey en geniet elke oomblik. Onder andere skype ek vir meer as 40 minute met Braam, Elna en die kinders. Ek verlang al vreeslik na hulle en hulle ook. Marna is sommer aangedaan en se ek was altyd hulle Tannie wat hulle die meeste gesien het en nou sien hulle my nooit nie.

Cannery Row in Monterey is baie bekend as gevolg van John Steinbeck se boek met dieselfde titel wat dit op die 'map' gesit het. Hy het die boek in 1945 geskryf en in 1982 het 'n film uitgekom oor die boek. Die boek gaan oor die lewe van die mense in Ocean View Avenue in Monterey. Die hele straat was vol sardienfabrieke. Nadat die boek so bekend geraak het, is die straat herdoop na Cannery Road.

Die fotos spreek vanself:




Die hoogtepunt van Daniel se twee dae was die voer van 'n see-anemoon. Elke keer vra ons wat was nou weer vir hom die beste en dan se hy steeds: Feeding the anemone!












Die hele Carmel-dorpie lyk soos pophuisies. Te pragtig!


Hierdie is die pragtige Carmel Mission. Dis 'n Spaanse sending wat sedert 1770 bestaan.




More ry ons Yosemite toe. Ek kan nie wag nie. Dis nou iets wat al lankal op my bucket list was.


Monday, June 25, 2012

Alcatraz

Die Hollywood weergawe van Alcatraz is 'n leuen! Gelukkig is dit.

Ek wou nie regtig Alcatraz besoek nie. Ek was bekommerd dat die Amerikaners die plek sal ophemel en die kriminele as helde sou voordoen. Ek was al drie keer op Robbeneiland in SA. My eerste keer as 'n kind saam met die Voortrekkers. Die boot was wankelrig, die see rof en die meeste mense het siek geword oppad of oppad terug. My tweede en derde kere was nadat ons 'n demokrasie geword het in 1994. Robbeneiland het 'n baie diep merk in my geheue gelaat. Goeie mense wat om politieke redes opgesluit was. Vir die gelukkiges het die eiland van goeie mense nog beter mense gemaak.

Alcatraz is anders. Dit is die hardste kriminele wat hier tyd uitgedien het. Hier het slegte moordenaars nog slegter geword. Ek wou net nie he dit moes wees soos in die fliek 'Dead man walking' waar Sean Penn op sy doodstraf wag en hulle sy kriminele handeling vir 3 sekondes aan die begin wys en die hele fliek gaan oor hoe onregverdig die samelewing teenoor hom is nie.

En toe verras Alcatras my. Al gaan 'n mens glad nie vir die tronk nie, is dit die beste uitsig van SF en die beste uitsig oor die Golden Gate brug. Ons gaan vir al drie.

Daar is 'n baie oulike gratis oudio toer waar elke besoeker oorfone en 'n oudio masjientjie om jou nek kry. Dan begin jy op 'n punt en die vertelling lei jou deur die hele tronk en vertel als wat daar te vertelle is. Ons hoor van Al Capone en Robert Stroud wat ook bekend was as die Birdman of Alcatraz en oor wie se lewe Hollywood 'n fiktiewe Alcatraz lewe geskep het. Die waarheid is dat hy nooit voels op Alcatraz gehad het nie, maar wel in die tronk by Leavenworth.

'n Paar van die feite wat hulle met ons deel:

Daar is nooit doodstraf op Alcatraz voltrek nie. Daar was wel 5 selfmoorde deur gevangenes en 8 moorde. Alcatraz is al sedert 1963 nie meer in gebruik nie. Die VSA, soos SA, gebruik nou rehabilitasie as hoofstrategie vir kriminele en nie net maksimum aanhouding nie. Die geboue op die eiland is almal besig om te verval. Tans is hulle besig om die ou watertenk op te gradeer, maar daar is definitief ander geboue wat ook dringend aandag nodig het.

Die Alcatraz lighuis is pragtig en was die heel eerste lighuis aan die Stille Oseaan en reeds in 1854 in gebruik. Daar was 'n kort onderbreking in 1970 toe 'n brand die lighuis opsigter se huis afgebrand het en die kragtoevoer versteur is na die lighuis. Daar was plek in Alcatraz vir 336 gevangenis, maar die meeste wat ooit gelyktydig daar was, was 302. Daar het 90 offisiere gewerk om drie skofte per dag te vul. Gedurende Alcatraz se lewe as 'n federale tronk was daar 36 gevangenis wat probeer ontsnap het. Almal behalwe 5 is weer gevang. Drie van die vyf het in 1962 gelyktydig ontsnap en is nooit weer gesien nie.

Alcatraz is baie nader aan die land as wat Robbeneiland is. Dis ook veel kleiner as Robbeneiland. Met 'n boot vat dit net 12 minute.

Wat my sal bybly van Alcatraz is hoe 'n mens aanmekaar gesit is om vryheid te wil he. Die meeste getuienisse van die gevangenis daar gaan oor vryheid. Een se dat hulle altyd SF deur 'n klein gat in die muur kon sien en deurentyd herinner is aan wat hulle mis. Op Nuwejaarsdag as die wind reg gewaai het, kon hulle die mense by die kaaipartytjie hoor lag en die musiek hoor speel.

SF is 'n stad wat VRYHEID tot sy uiterste toe vat. Die Pride Parade gister en die besoek aan Alcatraz het hierdie twee goed vir my duidelik onderstreep. Almal wil vryheid he. Honderde duisende mense stap gister om te demonstreer dat 'gays' se regte gerespekteer moet word. Daarmee het ek nie n probleem nie. Natuurlik moet dit. Maar dieselfde optoggangers le dronk op die trein op die bank wat gemerk is vir ouer mense en mense wat leef met 'n gestremdheid. Is dit vryheid? Kan jy veg vir vryheid vir wat jou raak sonder om ander se vryheid te respekteer? Snaaks dat ek die hele dag gister gevoel het ek is nie vry in SF nie. Ons moes heeldag probeer om die parade mis te loop, want daar is net soveel goed waaraan ek myself en Elizan se 6-jarige seuntjie nie wou blootstel nie. Het die ander mense in SF regte?

Die selle op Alcatraz is werklik klein. Die ergste straf was in Saal D waar jy in afsondering in 'n sel gesit is. In isolasie! Al Capone het die meeste van sy 4 en 'n half jaar in Alcatraz in isolasie deurgebring.

Ek staan voor op die boot en kan hierdie besonderse foto neem. Die kaptein was die hele rit in die kapteinshokkie links, maar toe ons naby die eiland kom, het hy die boot kom bestuur van regs voor af. Seker om die fyner draaitjies te kan sien.


Hierdie was een van die offisiere kwartiere wat nou net 'n murasie is. Kyk net die blou lug! Kan 'n mens so geseend wees?!



Die lighuis op Alcatraz wat reeds sedert 1854 in gebruik is.


Daniel het elke gaaitjie op die eiland verken. Dis vir my lekker om die lewe weer deur die oe van 'n sesjarige te sien. Hy vra die ongewoonste vrae en soms lag ons lekker.


Golden Gate brug.




Saal D waar die rofste gevangenes in isolasie aangehou is.


Die tronk se biblioteek was 'n gewilde plek vir die wat kon lees. Daar was genoeg tyd.


In een van die ontsnappingspogings in 1957 het 5 gevangenes probeer ontsnap. Nadat vele goed skeefgeloop het, het hulle 'n riot gehou in die tronk en vir dae die bewaarders aangehou in twee selle. Die uiteinde was 2 bewaarders en 3 gevangenes dood. Die eerste ding wat skeef geloop het was dat die sleutels wat hulle afgevat het by die bewaarder, nie gepas het op die deur waar hulle beplan het dat dit sou pas nie. Nogal 'n redelike belangrike stap in 'n ontsnapping!


Alcatraz het een van die grootste populasies van seevoels aan die Californiese kus. Dit is broeityd. Kyk net die kleintjie regs in die foto. Amper onsienbaar gekamofleer. Tot die voels se groot ontsteltenis waai Elizan se sonbril van haar gesig af en amper binne-in die nes. Ons moes Daniel oor die muur tel om die bril te gaan haal.


Die reddingspoging.



Gisteraand dank ek die Here dat Hy die een is wat ons waarlik vry maak.