Thursday, April 26, 2012

Stilte in China

Nou is dit Elna aan die woord.  Hanlie het gevra dat ek laat weet dat die blog nou vir twee weke stil gaan wees.  China laat nie Facebook of blog toe nie.  Ons sal maar alles aan die einde moet lees.  As julle so lekker soos ek gelees het, gaan dit 'n lang twee weke wees.

Tuesday, April 24, 2012

Groot, groter, grootste!

Nou het ek als gesien! Of so dink ek op hierdie stadium! Ek is een van 54 miljoen passasiers wat in 2012 deur die Chek Lap Kok Lughawe in Hong Kong sal gaan. Dis die 10de besigste lughawe in die wereld met Atlanta in die VSA no 1 met 92,3 miljoen passasiers 'n jaar. Net om dit in perspektief te plaas... Kaapstad doen 8,7 miljoen 'n jaar en Johannesburg se Oliver Thambo het 17,6 miljoen gehaal in 2010/2011. (Soccer World Cup het die getalle gerek). Beijing Lughawe waarheen ek oppad is, is no 2 in die wereld en doen ook meer as 90 miljoen passasiers 'n jaar. 1 - 7 Mei is die Golden Week in China en dit sal baie besig wees! Deur die Here se genade moet ek en Henko mekaar asb iewers raakloop. Gelukkig lyk nie ek of hy soos die normale passasier in die ooste nie.

Hong Kong Internasionaal is die heel besigste lughawe in die wereld wat 'cargo' betref en het in 2011 besiger as Memphis in die VSA geraak, wat sy grootste kompetisie is. Nou asof dit nie groot genoeg is nie, is hier oral borde op wat verduidelik dat die Hong Kong regering op 20 Maart 2012 die nuwe 2030 visie plan vir Hong Kong Lughawe aanvaar het. Die Chek Lap Kok Lughawe het in 1998 eers oopgemaak en was dadelik te klein.

Oral waar ons op die bus gery het die afgelope twee dae hoor ek van 'reclamation land' en uit my SAse perspektief dink ek hulle het dit teruggevat van iemand af. Moontlik van die Britte. Nee! Dis alles grond wat hulle droogle en vat van die see soos hulle groei. Die lughawe is gebou op 'n nagemaakte eiland wat geskep is deur twee kleiner eilande naamlik Chek Lap Kok en Lam Chau doodeenvoudig plat te stoot met die grond. Vir plan 2030 gaan hulle nog 650 hektaar eiland bou in die see. Ek ruik 'n oorstroming!! Die plan vir vergroting gaan 186,2 biljoen HKD kos en die regering het dit 'n maand terug goedgekeur. As ek net dink hoe ek gesukkel het om 'n R10 miljoen projek deur ons raad te kry!

Ek het met die Express Trein lughawe toe gekom en vroeg gekom sodat ek die maksimum voordele uit die Priority Pass Lounge kan kry. Hier is heerlike ontbyt, gratis wifi, storte en Earl Grey Tee!

Dit was baie maklik vanoggend. Die K3 bus tel my op by die Holiday Inn reg langs my USA Hotel en vat my Kowloon stasie toe onder die hoogste gebou. Daar is 'n K3 bus elke 15 minute. Ek sien vanoggend eers dis waar ek Vrydagaand ook was, maar toe het dit so gereen en was dit al donker, so ek het nie waardeer dat ek onder die hoogste gebou in HK is nie. Vanaf Kowloon stasie vertrek die Airport Express elke 8 minute. Dan is dit 20 minute tot op die lughawe. Ek boek in by China Air en gaan deur paspoort beheer. My tas is vanoggend 26 kg en ek word bietjie aangespreek deur die lugdiensdame. Ek gee my mooiste glimlag en verduidelik dat ek bietjie inkopies gedoen het in HK. Sy lyk tevrede en vat die tas. Wat eintlik gebeur het, is dat ek al my skoene ook in my tas gesit het om so lig as moontlik handbagasie te he.

My rugsak. In elke land werk ek die 'badge' op van die land wat kom!


My hele keboedel!

Ek kon net lag toe ek hierdie sien! Hong Kong Internasionale lughawe het 530 boarding gates! Dis massief!


Die vlug na Beijing is 3 ure en 20 minute. Bon Voyage.

Lank sal hul lewe!

'n Vriendin en ex-kollega van my herinner my gister daaraan dat haar kinders en ander dalk my blog sal wil gebruik om skool take oor verre lande te doen. Nou spits ek my ore nog meer en is daar baie druk op my om al die feite 100% korrek te kry. :-) Julle ken my as iemand wat nie juis toelaat dat feite tussen my en 'n goeie storie kom nie, maar ek probeer die blog so korrek as moontlik hou.

Vandag is my tweede dag op die Big Bus en dis steeds 'n groot belewenis. Dis regtig waarde vir geld. Ek het die een in Kaapstad ook twee keer gedoen sedert Desember 2011 en kan dit vir enigeen aanbeveel. Dis professioneel, op tyd, baie skoon en hul inligting is baie goed en interessant. Ons het die topless bus in Kaapstad gery met my oudste sussie se verjaarsdag op 22 Desember 2011 en in Januarie 2012 was ek en 'n vriendin en drie van ons Vredendal pelle op die bus om hul dogter se verjaarsdag te vier. Beide trips was heerlik! Vandag ook!

Hulle vertel vir ons heelwat van Hong Kong en ek probeer onthou wat ek kan. Een van die goed is dat Hong Kong die tweede hoogste lewensverwagting in die wereld het. Hulle is op 82,2 jaar en tweede net teen Japan. Ek skype vanmiddag met Francois en hy dink dis Okinawa in Japan wat 1ste is. Google bevestig Japan op 83, 5 jaar, maar se nie waar nie! Dis baie. In SA is dit 49,3 vir mans en en 50,6 vir vrouens. Dis seker ons rooi vleis en 'road rage'!

Die ander interessante inligting is dat die Chinese alfabet 47 000 karakters het! Ons s'n het 26. Dis die dat hulle langer moet leef om tyd te he om als te leer!

Ek skop natuurlik my dag af met 'n Earl Grey tee by Starbucks. Dit bly lekker. As ek plek in my tas gehad het, het ek 'n pakkie gekoop. Dis blare tee in 'n groot piramiedvormige sakkie en smaak hemels. Ek vrek oor Earl Grey tee. Vandag doen ek weer die groen roete, want hy stop binne tien minute by die Victoria Peak trem. Dis ongelooflik wat hierdie mense alles bou. In 1883 (ja, voor die Anglo Boere-oorlog) het hulle al hierdie trem sisteem gebou. Dis 1,4 km lank en klim teen 'n baie steil pad die Victoria heuwel uit. Bo is nie net 'n uitkykpunt nie, maar 'n sewe verdieping inkopiesentrum. Ek het meer as twee ure daar deurgebring.

Oppad af sit 'n mens agterstevoor om en ek dink dit was veel beter as om die afgrond van voor af te besigtig! Dis steil!

By die ingang staan China se president om ons welkom te heet en hy laat toe dat ek hom afneem. Hys baie gaaf! Nee, dis die wasbeeld van hom by Madame Tussauds in HK wat ook op Victoria Peak gelee is. Julle sal hoor dat die Britse invloed nog baie sterk in HK is.


Die president van China: Hu Jintao. Dankie Oom, ek kuier lekker in jou land.


Daar is twee trokke in die trem en hy kan 9000 kg hanteer.



Nou lyk dit nie so steil op die foto soos in die werklike lewe nie, maar glo my! Dis erg!

Die Hong Kongers hou nie van opdraend loop nie. Die trem is een manier om bo te kom. Daar is vier stasies op die trem en self gewone nie-toeriste gebruik die trem daagliks om by die huis te kom van onder in sentraal HK af. Die ander vervoermiddel wat hulle vir hulself geskep het, het die Guinness World Records gehaal. Dis die langste roltrap in die wereld. In 1993 het HK 240 miljoen HKD uitgeruk en 'n roltrap gebou van 800 meter oor 14 dwars strate. Die roltrap klim 135 vertikale meters. In die oggend van 06:00 - 10:00 loop dit van bo af onder toe en bring 55 000 mense werk toe. Na 10:00 draai die roltrap om en vat dit mense terug boontoe vanaf 10:30 - 24:00. Dit kos die regering 1 miljoen HKD per jaar aan onderhoud.

Dis amazing om te sien.
Hier onder is dele daarvan te sien.



Die uitsigte van Victoria Peak af. Dis die hoogste uitsig in HK en ek staan op 428 meter en neem.
Hong Kong het meer as 8000 'sky scrapers'. Dis by verre die meeste in die wereld en meer as dubbel die van sy naaste kompetisie naamlik New York in die VSA. Hier word ook ongeveer 160 nuwe reuse gebou elke jaar, so NY sal moet wikkel as hulle wil inhaal.


Op die foto bo sien julle die twee groot reuse aan beide kante van Victoria Baai. In die nuutste Batman fliek (2011) swaai hy blykbaar tussen die twee geboue. Ek sal dit nou met ander oe bekyk. Die een aan die oorkant van die water is die ICC waar ek gisteraand op was. Hy is 4de hoogste in die wereld. Die een hierdie kant is die 9de hoogste gebou in die wereld.

En toe kom die mis in en dis als oor.



Vandag het ek my nuwe Malaysia hemp gedra. Dis koel. Die sticker op my bors is om al die gebruikers van die Big Bus uit te ken.

Na 'n middagete in 'n Japanese restaurant, is ek die berg af en oor die hawe na die blou roete. Daar kry ek twee Australiers en ons toer heerlik saam verder.  Die blou roete verken Kowloon. Dis ook waar ek bly. Kowloon beteken 'area van die nege drake'. Dis ook maar goed mens weet nie als vooraf nie. Op die roete besoek ek die bekende en gewilde Ladies Market in Mong Kok en kry ek ook 'n voet massering by 'n baie sterk chinese man. Heerlik!


Japanese salm pizza en brokkoli met swart tee.

Oe!! Die mense in Hong Kong is erg gesteld op 'brand names'. Choppie se vir my hy het maar vir hom nagemaakte 'brands' gekry, want die mense wat saam met jou werk is baie gesteld daarop dat jy 'n Rolex moet dra of Prada skoene moet aanhe. Dis 'n teken in HK van die fortuin wat hulle hier gemaak het.



Bekende mark in Graham Straat Central HK.


Vir al my ingenieurs pelle: So bou HK met bamboo stelte. Die onderste blou bamboo skerm vang als wat val!
 Die Ladies Market in Mong Kok. Jip, ek het bietjie gekoop ook! Uitstekende pryse.


My Chinese voet masseuse. Dit was nou 'n treat!


My tweede Japanese ete vir die dag: Ek soek sushi, want Ivan verjaar vandag en ek vier dit aan hierdie kant van die wereld! Gelukkig is Dina net 'n sms ver en kan sy my mooi verduidelik waar om bekostigbare heerlike sushi te kry. Dina, ek het 'n Genki Sushi gekry by Admiralty. Een stasie van my af. Gelukkig het ek 'n goeie dosis rigting geerf vanaf vaderskant en kry ek die Far East Financial Gebou baie maklik. As mens weet waar oos is, is far east nie 'n uitdaging nie. Kyk die groot salmon roses. Dit was 'n wenner. Geluk Ivan!

Daar is 'n blikkie poeier groen tee by elkeen se plek (op die boonste foto die swart blikkie met die groen labeltjie op die deksel). Dan kry elkeen 'n koppie en links en regs van my drink hulle 2 - 3 koppies elk. Ek kyk wat hulle doen en maak ewe vir my ook 'n koppie. Aan die vervoerband is by elke sitplek 'n plek waar kookwater kan uitkom. Ek kan groen tee drink as dit flou is en suurlemoen in het. Hier verkoop hulle dit koud soos koeldrank in elke winkel en ek hou nogal daarvan. Maar die poeier groen tee het ek net geruik en dit toe teruggestuur. My ma se mens se nie sies vir kos nie, maar dit was vrek naby daaraan!

Vanaand moet ek pak. More vlieg ek Beijing, China toe! Ek kan nie wag om vir Henko en Vivian te sien nie. Ek wil so graag die China muur sien en vele ander plekke. Lean kom oormore en dan gaan ons fiets in Guilin. Lekker!

Madeleine, more is sekretaresse dag in Hong Kong! Ek het hierdie foto vir jou geneem en wil maar net weer se dat ek nie die afgelope 7 jaar my werk so goed sou kon doen of soveel sou geniet het, as dit nie vir jou was nie. Jy is die beste PA wat enigeen kan he. Baie dankie! Die blomme is vir jou!

Lekker langnaweek vir julle almal!


Monday, April 23, 2012

The Big Bus Hong Kong

Vanaand is ek absoluut OP! Maar ek het die dag baie geniet. Ek het die meeste tree geloop nog op 'n enkele dag op my hele toer sover: 18 412 gemeterde tree. Ek is nou op 253 456 tree na 26 dae.

Eks vroeg vanoggend op, want ek het 'n 48 uur kaartjie gekoop vir die Big Bus HK en ek beplan om dit goed te gebruik. Die eerste bus vertrek eers 11:20 en ek vertrek na Diamond Hill MTR stasie heel aan die anderkant van Hong Kong om eers die formele Chinese tuin te gaan kyk. Dis ongelooflik mooi! Hulle het dit eers sedert 2003 begin uitle en mens kan nie glo wat in net 9 jaar reggekry is nie. Dit is die Nan Lian Garden en beslaan 35 000 vierkante meter. Dit is in die chinese Tang style uitgele en bevat heuwels, reuse rotse, watervalle, bome en kunswerke. Dis bedoel om sireen en rustig te wees en dit is.




Ek weet nou al Starbucks het die beste Earl Grey tee in Hong Kong en gelukkig is daar een om elke hoek en draai. Vir ontbyt bestel ek 'n Earl Grey Grande vir 21 HKD en sit en sip dit soos brandewyn slukkie vir duur slukkie. Dis heerlik!

Die Big Bus is net soos die topless busse in die Kaap. Hulle gee wonderlike inligting terwyl jy die hele stad vol ry. Dis regtig lekker.  Ek doen twee roetes vandag: Die Hong Kong Eiland roete (rooi roete) en die Stanley park roete (groen). Dit was te betrokke om met die Peak Tram op te gaan en dit sal ek more doen.

Een uit elke 14 Hong Kongers is miljoeners! Vandag het ek gesien waar hulle bly. Aberdeen en Stanley is twee dele van HK wat mens nie baie sien nie. Dis aan die suide van die eiland en is verbind met die hoof finansiele gedeelte via 'n 1,9 km lang tonnel. Dit lyk soos Kampsbaai en Landudno. Die eiendom hier gaan vir 20 000 HKD per vierkante VOET!



So onlangs soos 1997 het Prince Charles en Tony Blair Hong Kong formeel oorhandig aan China en sedertdien is Hong Kong deel van die Republiek van China as 'n spesiale bestuursarea. Hierdie plein is reg voor die Convention Centre en word die Golden Bauhinia Square genoem. Dis hulle nasionale blom en is verguld om die oorhandiging van HK te herdenk.

Hong Kong was 'n Britse Kolonie en daar is tot 'n standbeeld van Koningin Victoria (natuurlik ook hoekom die hawe Victoria heet) voor die sentrale stasie. Tydens die Tweede Wereldoorlog het Japan HK beset van 1941 - 1945.


Ek sien my klein neef Conrad Richard toer ook saam op die blog. Welkom! Conrag, hier is 'n hele gebou wat na jou vernoem is. Die Conrad Intercontinental is een van die vier grandste hotelle in Hong Kong en staan reg langs die hooggeregshof. Jy kan werk en oorslaap langs mekaar!


Repulse Bay is die speelplek van die heel rykstes.


Hierdie hele Jumbo restaurant dryf op die water soos 'n groot boot.


Ons het op 'n Sampan gery. Dis 'n huisboot waarop 'n hele gemeenskap vandag nog bly in die hawe by Chung Hom Wan. Hulle is vissers en woon en werk op die water. Dit was baie interessant om dit te sien. Elke boot het tot 'n hond ook en 'n TV.


My laaste stop vanaand was die 360 grade observation deck van die 4de hoogste gebou in die wereld. Die ICC is ongelooflik. Mens raak eintlik lighoofdig as jy opkyk. Kyk die vliegtuig reg langs hom! 


Ek het fotos geneem van bo af, maar hulle is maar flou, want dit was effens donker al en dit het begin reen. Ek het wel 'n mooi video geneem.



Mens gaan op tot op die 100ste vloer. By die Petronas in Malaysia was ek op die 86ste vloer. Daar is drie restaurante op vloer 101 en ek het gedink om sommer vanaand daar te eet. Totdat ek hulle spyskaarte gaan kyk het. R1800 per kop set menu! En dan eet jy Chinees en nie eers 'n goeie steak of ordentlike kos nie!

Daar is twee goed van die Hong Kongers wat my begin irriteer: Hulle stap ontsettend stadig en in 'n bondel moet ek die hele tyd wag. Ek dink dis wat ek die meeste van Singapore geniet het. Dit het die hele tyd gevoel of ek en daai stad op dieselfde ritme en pas is. Hier is almal die heeltyd voor jou en in jou pad en jy moet die hele tyd plannetjies maak om verby te kom. Miskien is dit hulle kort beentjies of dun rokkies, maar iets haak die hele tyd vas!

Die tweede ding is die moeite en inspanning om hulle engelse aksente te verstaan. Geen inligting bekom is maklik nie. In die afgelope drie dae het iemand by twee geleenthede vir my iets probeer verduidelik en dan vra ek: Any english? En dan verduidelik hulle dat hulle wel besig is om engels te praat!! Onherkenbaar!
Maar hulle is baie behulpsaam. Jy maak nog net 'n kaart oop dan vra iemand om te help en beduie dat die spoeg spat. Vanaand vat ek die minibus terug hotel toe vanaf die ICC. Die drywer wil my by verkeerde stasie laat afklim (nie aspris nie, sy ken net geen engels nie en ek ken geen Cantonese nie) en toe sy se ek moet hier afklim, help 'n hele paar mense van agter uit die bus my en se nee ek moet bly sit. Die volgende stasie is nader aan my hotel. Hulle busse is ook baie goedkoop en netjies. Ek het net R5,80 betaal vir baie ver se ry.

Baie geluk aan twee ysters in my vriendekring wat so goed gedoen het in die Ysterman gister. Barend en Coos, ek is trots op julle! Dis lekker om te kan deel in julle vreugde. Magdel, geluk met julle troudag! Gideon, geluk met jou verjaarsdag. My bybelstudiegroep en vrouegroep kuier vanaand saam. Ek is in die gees met julle!


Sunday, April 22, 2012

Naglewe in Hong Kong!

Ek was die SR-lid vir dameskoshuise in 1993 by die Universiteit van Stellenbosch toe die inkomtye vir dames vanaf 01:00 tot 03:00 verander is. Dit het baie harde baklei gekos om dit reg te kry. Wat ons tot 03:00 in die oggend op straat wou doen, kan ek nou nie meer onthou nie, maar dit was die beginsel wat vir ons saak gemaak het. Ons leuse was 'Inkomtyd is my besluit!' en dit het vele optogte, drukvergaderings, berigte en briewe in die Matie en stemlokale gevat om dit reg te kry. Ons het ingehok gevoel deur die Universiteit!

Vanaand is die eerste keer in 19 jaar dat ek weer ingehok sit op die 5de vloer van 'n 16 vloer gebou in Hong Kong en die krag is uit!

Dis nou 01:45 by ons. Ongeveer 01:25 het daar 'n alarm afgegaan in ons gang in die woonstel waarin my klein kamertjie is. Ek word wakker daarvan en besef al die krag is af. Dis nogal benouiend in 'n 1,6 meter by 2 meter kamertjie, want dis net aircon en die extractor fan wat jou laat asemhaal hier.

Ek begin voel-voel my flits soek. Dis in my wassakkie in die badkamertjie. Ek wonder al vir 25 dae hoekom ek dit saamgebring het. In die lig van die kopflits gaan soek ek die kragboks in die gang. Ek moet my kamersleutel onthou, want as die deur agter my toegaan staan ek die hele nag buite. In die gang is twee ander mense. Die een ou is jongerig en moontlik van Korea. Die ander 'n ouerige oom van china. Ons kan nie een mekaar verstaan nie. Ons beduie en al drie praat in hul eie taal. Ek sommer in afrikaans.

Ons druk, draai, lig, maak oop en maak toe, maar die alarm wil nie af nie. Hier is moeilikheid. Agterop die gangdeur is 'n gelamineerde papier met instruksies en nommers op. Ons doen als wat hulle se, maar niks werk nie. Ek beduie ons moet hulle bel. Die 'reception' op die 13de vloer is toe hierdie tyd van die nag en die hysbak aan ons kant van die gebou maak 22:00 toe. My foon het nie geld op om te bel nie. Ek moet onthou om dit te herlaai. Die Koreaan trek sy skouers op. Die Chinees gaan slaap. Ek onthou dat Choppie my vandag vertel het dat die ervaring wat hy elke dag met die mense hier het, is dat hulle baie slim is en duisende goed kan memoriseer en herhaal, maar dat hulle nie kan dink en probleme oplos nie. Okay! Dit los my en die Koreaan. Ons gaan soek hulp. Eks in my pajamas en hy in 'n slaapbroek. Ons het my flitslig en ons verstaan mekaar gad nie, maar teen hierdie tyd ook baie goed.

Gelukkig het die gebou 'n sekuriteitswag onder en die help ons om die tannie aan diens te kry. Sy kom en kom sit die krag aan. Ek vra dat sy ons wys wat sy gemaak het dat ons dit self sal kan doen as iets weer gebeur, maar sy verstaan my nie. Lost in translation se ek jou!

Die alarm raak stil en ons kan gaan slaap! Nou's ek helder wakker. Hier is inkomtyd nou my besluit, maar na 19 jaar weet ek nie wat 'n mens hierdie tyd van die nag buite wil maak nie!

Dina vertel my vandag dat sy en Choppie al deur die jare taal lesse geneem het hier om Cantonese te probeer verstaan. Dit is 'n baie moeilike taal om aan te leer. Daar is nege toonhoogtes wat gebruik word, want 'n woord beteken in 'n ander toonhoogte iets anders. Daar is tot 4 toonhoogtes in een woord. Die meeste geboue het nie 'n vloer 4 of 24 nie, want die woord vir vier beteken ook 'dood' en hulle is baie bygelowig.

Wat 'n opwindende nag! Lekker slaap.

'n Heerlike lui Sondag kuier by Choppie en Dina

Ag, maar dit was nou lekker! 'n Skoolvriend van my en sy vrou bly in Hong Kong. Ek het op facebook gesien hy 'post' fotos van HK en het met hom kontak gemaak. Choppie was 'n jaar voor my in matriek. Hy en sy vrou woon al sewe jaar in HK. Ek het haar nie geken nie, tot vanoggend toe. Nou voel dit of ek haar al jare ken. Wonderlike, heerlike mense wat uit hul pad gegaan het om my van HK te vertel en te help om dit te ervaar! En wat my bondel wasgoed gewas het!

Dankie, dankie, dankie julle! Ek is nou al 25 dae op toer en ek mis my kerk. Gisteraand hoor ek Dina gaan vanoggend kerk toe en ek vra om saam te gaan. Ek het 'n groot deel van die diens net sit en huil omdat dit so ongelooflik was, ek so tuis gevoel het en ek my eie dam se eende so mis. Daar is ook 'n Chinese meisie gedoop en ek kon nie help om sommer te huil oor ek nie by Janko se doop kan wees nie.

Dit is die Methodist International Church of Hong Kong en alhoewel daar heelwat kerke op die eiland is, is hierdie die enigste engelse een. Daar is mense van alle nasies en volke en dit voel soos die hemel. Ek is so bly ek het gegaan. Noel Kit Yan Siu, wat gedoop is, het ook 'n baie mooi getuienis van hoe sy Jesus leer ken het. Dina is 'n dominee wat nou ook praktiseer as sielkundige. Ek het sommer dadelik van haar gehou. Sy en Choppie bly in 'n baie ruim woonstel op die elfde vloer in Causeway Bay op HK eiland. Dis net drie stasies van my af en ek is al half agt by my kamertjie weg. Ek is opgewonde oor vandag en wil nie he hulle moet vir my wag nie.

 Ek kry Dina en Choppie Chamberlain by uitgang E van die Causeway Bay MTR. Dis hier waar die taxi staan.

Die Methodiste kerk in HK.
Ek hou baie van hulle muurbehangsels.


Hulle vat my vir ete by 'n plaaslike restaurantjie net onder hulle woonstel. Dis spoegafstand. Jy kan my kos kry as ek nou kan onthou wat mens al die geregte noem, maar dit was heerlik! Gelukkig weet hulle wat om te bestel!



Vanmiddag is ons na 'n plaaslike mark in Wan Chai (een stasie links van hulle) en ons loop lekker rond. Die 'brand'-klere is baie goedkoop, maar ek het nie plek in my tas nie.

Hierdie is die vleismark en ja dit is 'n beesstert met hare en al wat hier hang.

Die vrugte is ongelooflik. Kyk die massiewe pomelo's links van die waatlemoen. Die verkoopsdame se dit kom uit Malaysia.




Ek was vanoggend al voor agt op ons afgespreekte plek en kry gou ontbyt by MacDonalds. Eks verbaas oor die tafels en tafels mense wat in MacDonalds sit en kuier. Hulle lag en gesels asof hulle reg deur die nag daar gesit het. Later vandag vertel Choppie en Dina vir my die hartseer verhaal van hierdie mense. In Hong Kong, soos in China, gebruik die Chinese mense van die Philipyne en Indonesie as bediendes in hulle huise. Die wetgewing bepaal dat so 'n bediende een dag 'n week moet afhe, maar almal van hulle bly in by die mense wat hulle bedien. Op hul afdag (Sondae) word hulle dan die huis belet en moet van 07:00 tot 19:00 of in sommige gevalle van 07:00 tot 22:00 op straat wees. Die groot openbare park, Victoria Park, is baie naby aan Choppie en Dina se huis en vanmiddag loop ek en Choppie deur die park. Ek skrik oor dit wat ek sien. Hordes mense sit orals rond en wag dat die dag verbygaan.



Daar is twee goed wat Hong Kong nie het nie: Die een is 'n geskiedenis. Hier word niks bewaar nie. Choppie se hulle slaan geboue plat en bou nuwes, asof dit uit die mode uit gaan. Die oudste twee geboue wat ek sien vandag is 'n ou poskantoortjie in Wan Chai en die blou huis.

 Die poskantoor (bo) en ou blou gebou (onder). Ons wonder hoe lank gaan hy nog staan voor 'n ontwikkelaar hom platslaan en vervang.

Die tweede ding wat Hong Kong nie het nie, is stadsbeplanning. My vriendin Anneke sal 'n hartaanval kry as sy dit moet sien. In Tsim Sha Tsui, waar ek bly, is daar 'n grand Guggi winkel en reg langsaan is 'n motorregmaak plek waar olie van karre afgetap word op straat. Die ergste is dat dit nie lyk of dit iemand pla nie. Hong Kong eiland is net so. Daar is ou geboue, nuwe geboue en hiper moderne geboue alles langs mekaar.


Choppie en Dina Chamberlain by die Wan Chai mark in Hong Kong. Dankie, julle! Ek het so lekker gekuier!


Vleis op uitstalling: links bo is eende, regs bo is hoenders en verskillende geure varkvleis onder.
 Yammie!

Smartieboks woonstelle in Wan Chai.

Nou moet julle asseblief nie aan Victoria Park dink en Kirstenbosch gedagtes kry nie. Dis meer 'n oop ruimte waar mense kan mens wees. 'n Groot deel van die park is onder sement...


My dag is nog lank nie klaar nie. Ek gaan nou weer strate toe want vanaand is die aand wat ek die Symphony of lights moet sien in Victoria Hawe. Gelukkig is dit baie naby aan die plek waar ek bly. Dit begin 20:00, maar ek wil 'n goeie plek he en sal sommer nou (18:30) begin beweeg.

Ek hoop elkeen van julle het 'n goeie rustige Sondag beleef. 'n Dag waarop julle vrede en rus ervaar het en God beleef het. Ek het! En dit was hemels.

'n Foto van die Symphony of  Lights in Hong Kong.