Wednesday, March 28, 2018

Van Ponta Arenas na Porte Montt en Puerto Varas

So baie van julle het laat weet julle kan, net soos ons, net nie ophou kyk na Torres del Paine nie. Is dit nie ongelooflik nie? In baie boeke word dit beskryf as die juweel van Chile.
Eleonor Rooseveldt het gesê: ‘The purpose of live after all, is to live it! To taste experience to the utmost. To reach out eagerly and without fear for newer and richer experience.’  Ek vermoed sy was by Base Torres. Die groot ronde berg links van die drie torings is die Cordillera del Paine en is die kroon van die park.  Paine hier beteken ‘blou’ in die tradisionele Tehuelche taal.  Die nasionale park kry gemiddeld 252000 besoekers per jaar en is een van die grootstes hier rond. Die park beslaan 181414 hektaar.

Die drie graniet torings staan 2500 meter hoog (Tafelberg plus Simonsberg bo-op mekaar) en dit staan bekend as suidtoring, sentraal en noordtoring.  Die refugio waarin ons bly bestaan ook uit sentraal, noord en suid.  In Torres del Paine NP is drie gletsers naamlik Grey, Tindell en Pingo en hulle behoort saam met Perito Moreno (waar ons was in El Calafate) aan die Suidelike Patagonia Ice Fields.  Dit het ons hierdie week geleer is die 3de grootste ysveld in die wêreld naas Antarktika en Groenland.

  


 
Ek gaan probeer om ‘n video op te sit. Dit was nie alles maanskyn en rose nie.


 
Gisteraand het ons geslaap in Ponta Arenas om naby ‘n lughawe te wees om vanoggend ver noord te vlieg. Ponta Arenas was ‘n baie belangrike hawestad op die Straat van Maggelaan voordat die Panama-kanaal gebou is. Vanoggend wys ons gids vir ons ook die Pan-American highway wat hier deur gaan. 

 

Ons kamer in die Isla Rey Jorge hotel in Ponta Arenas.

  

Ons bus vanaf Torres del Paine na Puerto Natales.

Wat ons veral opval in Chile is hoe skoon dit is. Hier lê nie ‘n papiertjie rond nie. En hoe veilig dit is. Nêrens het iemand diefwering nie, en elke persoon wat ons vra of ons in die aand kan stap sê: ja natuurlik. 

Op die oomblik reën dit lekker en ons lê op ons beddens. Hierdie word beskou as die hoofstad van Salmon en ons wag net dat dit ophou reën (volgens yr twee ure) en dan vat ons die pad. 







No comments:

Post a Comment