Wednesday, March 21, 2018

Die einde van die wêreld

‘How long does jetlag last?’ google ek vanoggend toe ek weer 03:47 kiertsregop sit en tik. Google is baie diplomaties en sê dit hang af oor hoeveel tydsones jy verplaas is, maar jou liggaam pas aan teen ‘n tempo van een tot twee tydsones per dag. Okay, so dit gaan nog ‘n rukkie wees.

Ons sien uit na vandag. YR voorspel reën vir vanoggend en dan mooi weer vir die res van die dag. Mooi weer hier beteken maksimum 11 grade. Ons het gisteraand met dankbare harte in die bed geklim. Diep onder die indruk oor die voorreg om hier te kan wees. Die venstersitplek op gister se vlug was ‘n bonus. Ons kon met ons beste aardrykskunde die gekleurde kaart wat in ons reispakkie was volg en kon heerlik die ooskus van Argentinië van nader beskou. Die Chubut streek waar die Afrikaner boere hulle gaan vestig het na die Anglo Boere Oorlog het ‘n baie kenmerkende rivierloop naby die kus en ons kon dit uitken. Die kusdorp is Comodoro Rivadavia. Ja toemaar, moenie sleg voel nie. Ek sou ook nie daarvan geweet het as my buurman in Blumenhof, André Badenhorst, my nie op facebook daarvan vertel het nie. Google dit ‘n bietjie. Vanaf 1903 - 1909 het 800 afrikaanse gesinne na die ooskus van Argentinië gekom. Hulle het gehelp om die dorp te ontwikkel. Volgens google het een van die boere jare terug vir water geboor en olie daar ontdek en vandag voorsien dit in ‘n groot deel van Argentinië se brandstofbehoeftes. Hulle afstammelinge praat vandag nog afrikaans. In 2015 is ‘n film hier gemaak met die naam Boers end World.  Gelukkig is dit nie waaroor dit klink nie. Patagonia staan bekend as die einde van die wêreld.

Die ander bekende landmerk waaroor ons vlieg is die Straat van Maggelaan. Sonja wys dit vir my uit en ek moes baie ver terug onthou na ons Aardrykskundeklas by mnr Spamer om te weet. Maar gelukkig weet google alles. Van julle het ook al vir my laat weet dat julle kinders my blog gebruik vir skooltake (!) so ek moes nou eers weer my feite gaan check.  Die straat van Maggelaan is ‘n  natuurlike water deurgang tussen die Stille Oseaan en die Atlantiese Oseaan en dit was vir jare die 
enigste deurgang totdat die Panama kanaal gebou is. Ek dare jou. Google dit. Dan sien jy presies waar ons nou is. Ons is eintlik nie meer op die vasteland Suid-Amerika nie, maar op die eiland Tierra del Fuego wat geskei word van die vasteland deur die Straat van Maggelaan. Dankie mnr Spamer!


Maar waar ons ookal is, dit is pragtig! Dit slaan amper jou asem weg so mooi is dit hier.

No comments:

Post a Comment