Sunday, June 19, 2011

Gevriesde vrede + vriendskap




















Die Transkaroo was vir my nog altyd net 'n trein... Tot verlede Donderdag. Ek het 'n langnaweek gemaak saam met Jeugdag en Woensdag vertrek om vir Jan in Colesberg te gaan kuier. Hy bly sedert Maart 2011 daar. Ek het in Laingsburg oorgeslaap en in papnat weer en baie koue vertrek Colesberg toe. Jan kon nie wag om vir my die dorp te wys nie. 'n Uitstappie wat minder as 6 minute geneem het. Al sy gunsteling eetplekke was toe op die vakansiedag. By die Barracks het die eienaar spesiaal vir ons oopgesluit en ons getrakteer op 'n rooiwynglas vol medium cream sjerrie. En dit nog voordat die vliegtuig ordentlik oor was.

Jan bly op 'n heerlike plaas 30km buite Colesberg. Hy is daar om nuwe brue en paaie op die N1 en N9 kruising te bou. Hy is goed met padbou en geniet dit. Hulle kantoor is in die ou hospitaal op Colesberg. Ons vertrek later die middag om die Transkaroo Voetslaanpad te gaan stap. By Noupoort gaan niks meer aan nie. Dit het 'n spookdorp geword. Al die paaie rondom Noupoort word aan gewerk. Rietfontein plaas van Lindo en Elmarie van der Merwe is 'n verrassing en hulle oorlaai ons met gasvryheid. Ons basiskamp is so 8 km van hul huis af in die kloof op. Ek vergeet weer my Touran is nie 'n 4x4 nie en ons ry elke klipperige driffie asof dit die N1 is. Die plaashuis waar ons uitstappie begin en eindig, is 'n pragtige ou plaashuis met 'n groot stoep, geen krag, heerlike kaggel en baie spasie vir niksdoen.

Dis koud! Ons stook daai kaggeltjie vir 'n vale en sleep ons beddens tot voor die vuur. Die volgende dag is dit 'n besonderse mooi dag sonder wind en ons begin stap. Die pad is goed gemerk en ons pad vat ons in 'n pragtige kloof op met die skoonste water en heerlike swempoele. Ja, julle het reg gehoor, Jan durf toe die swempoel aan en my motor het 'n halfuur van te vore nog 3 grade gewys! Die uitsigte later op die roete is asemrowend en ons geniet dit baie. My been geniet sy eerste ernstige uitstappie na hy gebreek het in Okt 2010. Als gaan goed. Ons slaap die tweede aand in 'n ou skuur en ek vergaap my later aan die pragtige sterre en die volmaan. Die Karoo is besonders! Dis windstil en yskoud en ons weet dit gaan ryp. Ons maak vuur, braai vleis en probeer so lank as moontlik die onvermydelike uitstel - om in 'n koue bed te gaan klim. Jan gebruik 'n lee OBS bottel (ja ons het hom kaf gedraf!) met kookwater in as 'n warmwatersak en ek gebruik my Nelgena bottel. Dit help. Die volgende oggend is die wereld spierwit gevries. Die longdrop is ver van die huis af en yskoud. Ons stap eers amper 12uur want dis te koud. Die derde aand slaap ons terug by basiskamp.

Die transkaroo voetslaanpad is 'n aangename verrassing en baie lekker. Goeie gasvryheid, goeie roete, baie atmosfeer en die mooiste omgewing. Dit is regtig die moeite werd en waarde vir geld.

Ek het amper 1600km gery om drie dae in rus en vrede saam met 'n goeie vriend die karoo te gaan beleef... Ek het die bossies geruik, die vleis geproe, die sterre en maan gesien, die koue gevoel, die stilte gehoor en die vrede ervaar. En ek sal nooit weer dieselfde wees nie...

Saturday, June 11, 2011

Franschhoek Cook Festival 11 June 2011













Franschhoek is 'n ongelooflike dorp. Ek werk sedert Maart 2011 daar as Munisipale Bestuurder en het vinnig besef hierdie dorp en sy mense kruip baie vinnig diep in 'n mens se hart.



Vandag is ek genooi deur Jenny Prinsloo om saam met haar die Cook Festival by te woon. Ons het die geleentheid by Ryan's Kitchen bygewoon waar hulle ons gewys het hoe om Potbelly en koejawel souffle te maak. Die sjef, Ryan, is in vennootskap met Niel Patterson van Anthonij Rupert wyne. Ons proe wyne wat perfek by die kos pas. Ons begin met 'n Pinot Grigio en kry ook kans om hul nuutste Cape of Good Hope reeks te proe. Dis heerlik. Ons eindig met Anthonij se 1984 muscadel. Saam met die heerlike wyn en baie goeie geselskap aan tafel 13 kom die heerlikste kos.



Eers leer Ryan ons om koejawel souffle te maak. Die trick se hy is om nie eiers vars te skei en te dink die eierwit gaan 'n goeie souffle lewer nie. Nee, jy moet hulle gister skei en in die yskas hou tot vandag en dan opklits. Hoe ook al... dis heerlik. Daarna volg 'n voorgereg van snoek mousse in 'n komkommer en appel jassie met wasabi mayo en wasabi meringue. Onverbeterlik! Die hoofgereg is pot belly met bazil balletjies en kapokaartappel hopies met brocolli. Wow! Die nagereg is broodpoeding met marmalade en karamel.



Baie dankie aan tafel 13 vir die heerlike geselskap. Onthou ons het 'n reunie afspraak by die Bastille Fees op 17 Julie 2011.

Sunday, June 5, 2011

'n Naweek van uitsigte...
























Ek sit op my leerbank in my woonstel en dink terug oor die naweek wat verby is. Dit was al weer net te vinnig verby. Vir my was dit 'n naweek van uitsigte. Tannie Joan verjaar Woensdag wat kom en word 71. Ek en Tannie Florrie vier haar vooruitsig vir die nuwe lewensjaar saam met haar by Moyo op die Spier wynplaas in Stellenbosch. Sy is altyd so waarderend vir elke klein bederfie en dis heerlik om te sien hoe goed sy nog lyk op 71.

Saterdagmiddag ry ek Bloubergstrand toe om by Boetie en Magdaleen te gaan kuier in hul dogter Anneke se woonstel. Dis voor op die see op die sewende verdieping met die mooiste uitsigte op die see, tafelberg, robbeneiland en die hele blouberg. Behalwe vir baie raserige bure, is die kuier heerlik. Ek en Boetie stap vanoggend tot by Blue Peter in die reën en sien 'n dubbele volledige 180 grade reënboog.



Sondag laat oggend kry ek vir Lizel, Azanda en Monica by die Deli van Tokara in die Helshoogte pas buite Stellenbosch. Die herfskleure is asemrowend, die uitsig onverbeterlik en die kuier onvergeetlik.



Vanmiddag verniel Nadal enige vooruitsigte wat Federer kon gehad het om Roland Garros te wen.



'n Heerlike naweek het verby gevlieg.