Tuesday, March 31, 2020

Nuut elke more...




Ek was die hele nag op ‘n lughawe besig om my tas te soek. Carina, jy was saam met my daar en het geduldig by jou tas sit en wag. Ook vriende wat ek lanklaas gesien het en selfs een saam met haar ex-man het hul verskyning gemaak. Nodeloos om te sê is die tas steeds soek. Asof ek nou kan bekostig om moeg op te staan in die oggend! Gister was ‘n vol dag. Ons was by die werk besig met essensiële dienste.  241 van Bergrivier Munisipaliteit se personeel lewer essensiële dienste aan die publiek tydens die Lockdown-periode en agter die skerms moet aankope, uitgawes, inkomste en alles aangaan soos normaal. Gister kry ons verdere skenkings vir die haweloses (baie dankie almal!) en trek ek kontrakte op vir elkeen om te verseker dat hulle weer ons persele sal verlaat na afloop van die 21 dae.  Nie maklik nie. 

Ook steeds talle navrae oor wat gedoen mag word en wat nie.  Een van die winkels in ons regsgebied moet aangespreek word want hulle stuur publiek huis toe wat daar aankom sonder maskers. Ai.  Die oorvloed inligting maak almal deurmekaar. Op versoek van die Polisie verkort ek die handelsure van huiswinkels en spazashops.  Dis net te moeilik om hulle te kontrolleer na donker in die aand. Ons Polisiehoof in Porterville bel my toe sy die bevestiging daarvan kry en sê sal gaan my oopmond soen as die virus eers verby is ;-)

Gistermiddag kon ek darem met my bure aan die bokant oor die straat staan en gesels terwyl ek tuin natspuit. Was heerlik! Ons beplan sommer ‘n straatbraai vir wanneer alles verby is.
Vandag is dit ons en kwarentyngebiede.  Saam met Departement van Gesondheid moet ons in al ons dorpe plekke identifiseer wat gebruik kan word vir wanneer hospitale nie meer die lading kan hanteer nie. Vir mense wat simptome het, maar nie siek genoeg is om ‘n hospitaalbed te regverdig nie.  Weskus Distriksmunisipaliteit bevestig dat die Departement van Sosiale Ontwikkeling verantwoordelik sal wees om die mense in kwarentyn kos te gee. Die hoe moet nog uitgewerk word.
Vanoggend vroeg hoor ek al die wetstoepassingsbakkie in wyk 4 Piketberg rondry en oor die megafoon mooi vra dat mense vandag net swartsakke sal uitsit en die herwinningsakke sal los. Wat ‘n wonderlike span mense het ons nie. Gister sit een van ons wetstoepassing-manne langs my by my lessenaar (op die oorkantste hoek – ons is versigtig) en lees die lang lys name met ID nommers vir my af vir elke kontrak. Hy sukkel met die Xhosa name en ek help hom uit my dae in die SANW se Groep 40 in Khayalitsha. So gesels ons sommer oor sy lewe en myne en dink ek later: wanneer sou ek en hy nou ooit langs mekaar opgeëindig het langs ‘n lessenaar vir ‘n geselsie as dit nie vir die virus was nie.  ‘n Mooi geleentheid.

Die hoogtepunt van my aand gisteraand was om met my hele familie ‘n zoomgesprek te hê. Ons het eers almal na die President geluister om 19:40 en toe gepraat.  Die President se boodskap is gerustellend en help ons, maar dit bring ook nuwe uitdagings wat ek nog nie weet hoe ons dit gaan implementeer nie. Die kwarentyngebiede is een daarvan.  Wie gaan vir hierdie mense sorg? Hoe sit jy iemand wat reeds griepsimptome wys in ‘n tweeman tent op ‘n sportveld? Ons het nog baie wysheid nodig.  Ons sal dit van God bid.
Zoom werk lekker en gee gratis 30 – 40 minute gesprekke en in ‘n COVID-oomblik gee hulle vir ons nog tyd pasella aan die einde.

Ek moet net gou eers die baas van die moontlike kwarentynperseel in Velddrif bel en reëlings tref. Nou terug… Dit bly fantasties hoe almal bereid is om te help en om saam te werk.  Dankie SA.  Ek was al in ‘n paar benoude situasies op my toere deur die wêreld en elke keer beindruk die SAners my. Ons ken van resilience, ons ken van aanpas, uithou, saamwerk as dit moet en die meeste van ons se harte en se hande is oop en bereidwillig. Ek onthou Desember 2016 toe ek gestrand gesit het op ‘n lughawe in Abidjan in die Ivoorkus na ‘n sandstorm in Wes-Afrika SAL verhoed het om sy vlug SA210 (dis soos jou weermagnommer, jy vergeet dit nooit nie) vanaf Washington Dullies voort te sit. Die oorspronklike plan was om brandstof vol te maak in Dakar, Senekal, maar met die destydse moeilikheid daar met Liberië mik hulle toe vir Accra in Ghana en land ons 860 myl van roete af op Abidjan as gevolg van die sandstorm.  Dit sou twee dae vat saam met klomp verskillende lande se mense om die krisis te oorleef. Daar het ek gesien Ghanese is die ergste. Kan niks vat nie en het geen aanpassingsvermoë nie. Ek het toe reeds besluit as ek ooit eendag op ‘n eiland moet strand saam met hulle is daar net een uitweg… Eet hulle eerste op of stem hulle eerste uit – afhangende van die storie waarin ons ons bevind. Ek vat enige dag eerder SAners met ons lekker humorsin, ons uiterste geduld in die gesig van moeilikheid. Gister was weer so ‘n bewys. Daar sit ‘n lang ry van minstens 50 mense buite op stoele voor ons kassiere in Piketberg. Ons laat 2 meter tussen elke kliënt toe en die wag is lank, maar elke persoon is gemoedelik, geduldig, vriendelik en laat nie toe dat die krisis hulle onderkry nie. Almal laat toe dat hul hande gespuit word.  Ons het so baie om voor dankbaar te wees.
Twee verdere mooi stories gebeur gister…  Solly Kayster van ons parkespan bel my en vra of hy nie asb uit isolasie kan kom om die saadjies te gaan natgooi wat hy orals in die dorp geplant het nie.  Hy wil hulle so graag sien groei.  Ongelukkig toe nou nie, maar ek bied aan om die spuiters oop te draai op die Munisipale gronde. Later praat hy my stap vir stap deur die oopdraai-proses, want dit is nie net eenvoudig nie. Hy is so kinderlik opgewonde oor sy plante wat sal bly leef, dat ek dit baie geniet het.  Solly, ek sien daar word reën voorspel by ons vir Sondag. Die Here sal self na jou saadjies kyk.
En in Porterville vat ‘n kollega vir die heel kwesbaarste gesinne elk ‘n kospakkie. By die een huis sê die Tannie hulle kan maar eers by haar verbyhou, sy en haar gesin het nog genoeg (my kollega kan sien die kaste is uiters karig).  Dit is vir hierdie mense wat ons standbeelde moet oprig!
Hoe voel jy vandag? Hou jy nog moed? Waaroor is jy vandag dankbaar?


Ek geniet ons mense se humorsin. En net soos julle kry ons gereeld grappies. Dis 'n SA ding.  Ons hanteer harde tye met humor. Dis wie ons is.

Lekker dag vir almal. Bly veilig. Bly tuis.
Lief vir julle. Hanlie


Sunday, March 29, 2020

Wees stil en weet...


Vandag was stiller gewees. Amper 'n normale Sondag. Dis asof selfs die opstandiges nou in 'n tuisbly-ritme inforseer is. Ek het selfs vanmiddag 'n uiltjie geknip en ewe grasieus 'n gin op my stoep sit en drink.  Welliswaar met groot rantsonering en sonder tonic, want die het ek nie in die huis nie. Maar die blikkie ginger ale wat nog van Stilbaai af Januarie saam teruggekom het, kom handig te pas.

Ons gemeente begin vanoggend deur saam virtuele kerk te hou.  Dit is interessant hoe mens klein goedjies waardeer as jy dit nie het nie. Johan gaan voor deur vir ons Lied 519 voor te sing en ek staan soos met die Wereld Beker Eindstryd en sing die lied soos ons volkslied. Uit volle bors. Saam klink ek en hy vir my nes ons hele gemeente, maar miskien hoor ek maar wat ek wil hoor. Die woorde tref my opnuut of miskien juis meer as in die verlede: Wees stil en weet: Ek is die Heer. Ek spreek, en wind en golwe bedaar, Ek sal ook jou getrou bewaar. 
Ons sing al vier verse tot die hoendervleis op my uitslaan en vandag draal dit soos 'n mantra in my kop rond. Hy gebruik ook die slagspreek wat sedert 6 Januarie 2020 (toe ek die jaar met mening kom pak het na my vakansie) op my bord in my kantoor geskryf staan: Peace is not the absence of trouble. It is the presence of Christ. Ek is so bly in hierdie tyd dat ek dit weet.

My vriendin in Vredendal is nou afgetree, maar sy het altyd in haar kantoor die volgende slagspreek gehad: Die Here is my herder en basta met die res.
Net dit! Ek wil dit in hierdie tyd onthou. Basta met die res!

Ek gooi baie voelsaad (ek tik nou direk op die blog en kan nie leestekens insit nie - laat asb jou brein toe om dit self te doen) vandag al om my huis sodat die voels in oorvloed aankom en baie geraas maak. Heerlik. Wat mens nie alles sal doen om nie alleen te voel nie.

My uitsig tans. Ek wonder of die natuur weet wat aangaan?

Middagete.

Vandag skuif ons die geskenkte items na Rhinopark in Piketberg. Dankie aan die Rugby Klub wat toestemming verleen het dat die  ongeveer 30 haweloses in Piketberg eers daar hul intrek neem. Ek sal more briewe op hulle beteken om te verseker dat die intrek slegs sal duur tot 24 uur nadat die President die Lockdown opgese het. Hierbo in Jean en Ludick besig om te help. Baie dank en waardering aan al die mense in uniform wat hulle lewens opoffer om ander se lewens te verseker. Dankie aan elke lid van die publiek wat matrasse, lankens, kussings, seep, handdoeke, warm klere en vele meer geskenk het. Dankie aan die winkels in ons gebied wat so ruim bydrae vir kos vir hierdie mense en dankie aan elke hand wat die kos voorberei en aflewer.  Dit word erg waardeer.

In lyn met die streng voorskrifte van die Regulasies op die hantering van Haweloses is hulle almal eers vanoggend deur die Dept van Gesondheid gescreen en het ons die Klubhuis eers met dettol ontsmet voordat hulle intrek. Hule matrassies en kartonbokse kom ook minstens 2 meter uit mekaar uit en elkeen kry 'n dettol seep en warm water om te was en ook hul klere te was. In Piketberg bly hierdie mense onder twee brue.  Normaalweg kyk nie-winsgewende organisasies na hulle en ook kerkgroepe. Nou is laasgenoemdes in lockdown.  As so iets ooit moet gebeur as ek eendag President is, sal ek al die kerke uit Lockdown uit haal en se gaan wees sout vir die aarde. Natuurlik op 'n verantwoordelike manier en met volle beskerming.

Ons het ook 15 hawelose mense in Porterville en nog 30 in Velddrif. Verskillende spanne is besig om na hulle om te sien.  Sal julle asb saam bid vir hulle veiligheid. Hulle immuniteit is regtig swak. Die een Oom het TB ook en ons hou hom afgesonder van die res. Die oudste Oom noem die span Oupa en hy kry die dikste matras.

Hierdie vetplantjie het Hannie Visser verlede Saterdag in my tuin uitgeplant nadat hy weke in 'n baie klein bakkie op die muurtjie voor my huis gestaan het. En in 'n week se tyd blom hy dat die biesies bewe. Sonder omhaal, sonder 'n gehoor wat hande klap. Trosse en trosse klein wit blommetjies. Mag elkeen van ons so blom in hierdie 21 dae. Selfs al sien niemand dit nie. Kom ons gee ons beste, al kyk niemand nie.

Op my werksfront het daar verder vandag nog 'n klomp regulasies uitgekom. Ook 'n verslapping in die transport regulasies om seker te maak dat die Sassa kliente van more af by die Poskantoor kan kom om hul geld te trek wat inbetaal is en om daarna winkel toe te gaan. Vir die res van ons: as jy more tot Woensdag uit die winkels uit kan bly, doen so, dat die Sassa kliente kans kan kry om te gaan.

Onthou julle dat ek gister gese het dat daar nog nie een positiewe geval in die hele Weskus Distrik is nie. Na vandag kan ons dit nou nie meer se nie. Swartland het hul eerste bevestigde geval. Dit kom al nader aan Bergrivier. Ek en ons Burgemeester het 'n onderneming aan ons publiek gegee dat ons die publiek in kennis sal stel sodra ons 'n bevestigde geval het en ons sal daarby hou.  Maar kom ons leef asof almal saam met jou in die winkel (as jy gaan) reeds bevestigde gevalle is. Kom ons wees in elkgeval uiters versigtig en was ons hande gereeld met warm water en seep en bly 2 meter weg van almal af.

Mag elkeen veilig wees. Hou moed en onthou om neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. Ek is vandag dankbaar vir heerlike gemeente sang vanuit my huis en dankbaar vir elkeen wat omgee en help. Daar is duisende.
Lief vir julle
Hanlie


Saturday, March 28, 2020

The Church has left the building...



Een van die kragtigste rondstuur-boodskappies wat die afgelope tyd in my oorvol whatsapp inbox geland het, was hierdie een… En vanmiddag het ek dit in aksie gesien.  Ons is besig om die hawelose mense in Piketberg te skuif om vir hulle ook ‘n kans te gee om die virus te oorleef deur te self-isoleer en ek stuur ‘n eenvoudige whatsapp voice recording uit na 3 kerkwyke, een munisipale wyk en ‘n groep vroue wat gereeld saam oefen op ons dorp.  Binne ‘n uur het ons ‘n Munisipale voorportaal vol matrasse, kussings, handdoeke, lakens en wat nog alles.  Baie dankie aan elkeen wat so graag help en uitspring en moue oprol wanneer dit op sy nodigste is. Ek salueer julle!

Dankie vir al die lekker terugvoer op faceboek en whatsapp en op my blog self.  Dit word waardeer. Dit is lekker om van julle te hoor. Vir ‘n ekstrovert soos ek is vinger-alleen-in-my-huis ‘n moeilike konsep, maar ek doen my bes.  My vriendin in Kanada, Elizan, deel vandag met my die volgende: Hulle is so 6 of 7 dae voor ons op die siklus van self-isolasie en jan-tuis-bly-se-karretjie. Sy sê die eerste paar dae is mens nog baie opgewonde oor die moontlikheid van tuis bly en al jou lysies afwerk, regpak, skoonmaak en uitsorteer, maar na ‘n paar dae verloor dit sy glans en is die honeymoon-fase verby en dan moet ons gereed wees om ons gemoedere hoog te hou.  Oefen solank! 

Op die oombik is ek nog op my lysies en baie beindruk met wat ek alles gedoen kry. Vandag het ek ‘n legkaart begin wat ek in Rusland gekoop het. ‘n Pragtige een van die Rooiplein in Moskow wat ek in 2014 gekoop het toe ons daar was.  Sedertdien probeer ek altyd in ‘n vreemde land ‘n legkaart koop om die herinneringe te strek, maar dis snaaks hoe min mooi legkaarte mens kry van mooi fotos van mooi plekke. Ek hou niks van tegnologie-getekende goed nie. Dit moet ‘n mooi foto wees van ‘n bekende landmerk in die land waar ek was.  Die Rooiplein met sy Ortodokse kerke in Moskow is presies so ‘n mooi een.



Vandag het ek ook my breiwol uitgesorteer. Die van julle wat my ken sal weet dat ek ‘n kranige breier is.  Eintlik al van altyd af.  Nee wag, ek jok.  Dit is vandat my Ma my gedwing het om self my st. 5 kortmou kabeltrui in vuilpienk klaar te brei voordat ek op die skooltoer kon gaan, dat ek verslaaf geraak het aan brei.  Daar is net iets aan wat net kranige breiers sal kan verstaan. Ek kan nie gaan slaap in die aand as ek nie gebrei het nie en ek brei al vir meer as 21 jaar teddiebere vir die kinderhospitale in die Wes-Kaap saam met 'n groep vrouens in Stellenbosch.  Orals in my huis in ‘n verskeidenheid van kaste lê kruidenierswinkel-sakke met wol in.  Vandag het ek dit alles uitgegrawe en begin sorteer.  Wat ‘n wonderlike gevoel. Nooit geweet ek het nog soveel wol nie. Ek sal moet spoed optel as ek dit nie wil saamtrek ouetehuis toe nie. Aan my familie: as ek ooit weer wil wol koop in Stilbaai (selfs al is dit met Mamma se pensioen-afslag) stop my asb.

Nou moet ek bieg ek het selfs ‘n paar of twee van my Ma se breipenne opgespoor wat sy lankal soek. Die ou nommer 12’s mamma in grys en groen.  Sodra die President besluit ons mag vrylik rondbeweeg, bring ek hulle, ek belowe.  Ek dink die Lockdown het ‘n hele paar goedjies vinniger laat gebeur as wat dit sou.  Ek vra nou al drie jaar lank vir ons IT dat ons by die werk gelaai word om van die huis af op die network te kan werk.  Die antwoord was altyd dieselfde: ons toets dit nog.  Wel, die President se woorde was nog nie koud nie, toe is dit uitgesorteer. Tjoef tjaf!  Nou so is dit met die breipenne. Ek het al talle kere kom soek daarvoor in my huis, maar nog nooit diep genoeg of dringend genoeg nie! Jammer Mamma.  Die oudste strokie wat ek uit een van die wolsakke kon kry kom uit 2001.  13 Februarie. Ek wou seker iets vir Valentynsdag aanmekaar slaan. Wie weet!

Iets anders wat ek nou hier sit en besef is dat ek elke sakkie wat ek vandag herwin het soos wat ek wol op die tafel uitgepak het, het ek netjies opgevou.  Nou vet weet ek is nie 'n sakkie-opvou-mens nie.  Die sielkundiges onder ons sal moet verduidelik wat hier aangaan. Ek skrik eintlik vir die gedagte. Miskien is dit maar my manier om beheer te vat oor die klein dingetjies tans?

Wel hier is hulle. Te netjies vir woorde. Katrina wat by my werk, sal nie haar oe kan glo nie, want die sakke land net onseremonieel in die rooi emmer in die kas. Iets is anders.



Vandag se uitdagings aan my werkskant sluit die volgende in: Om genoeg wetstoepassers op straat te kry om die ongehoorsames tot gehoorsaamheid te dwing.  Daar is ‘n spreekwoord wat lui: Karakter is dit wat jy doen as niemand kyk nie.  Ons het baie karakterlose mense in ons land wat glo dat hulle net verkeerd is wanneer hulle uitgevang word. Dit frustreer ons. Dit vat baie van ons arbeidsmag op en hou ons weg van dienslewering. In baie ander Munisipaliteite is die versorging van die haweloses ook ‘n groot uitdaging. Sosiale Ontwikkeling sukkel om die mas op die kom en al die gate toe te stop en ek besef vandag dat hierdie Lockdown nou aan ons die geleentheid gee om te sien waar ons voetspoor van sosiale dienste gebrekkig is in SA. Ons sien ook duidelik watter massiewe groot gedeelte van ons normale sosiale ontwikkeling nie deur die staat gedoen word nie, maar deur doodgewone mense en vanuit kerkorganisasies en nie-winsgewende organisasies wat nou in lockdown is.  Wat ‘n openbaring is dit nie. Baie dankie aan elkeen wat normaalweg na die armstes van die armes omsien en sorg dat elke dorp kan werk vir die wat dit die meeste nodig het.

Ek groet nou eers. More is nog ‘n dag. Ons gaan vanaand almal 20:00 op ons stoepe staan en hande klap en cheer om mekaar aan te moedig.  Ek hoop daar is genoeg mense langs jou en naby genoeg aan jou via sosiale media wat jou daagliks kan aanmoedig.  Indien nie, maak ‘n plan.  Jou vriende en familie is net ‘n oproep weg. As jy nog nie voel jy het dit nodig nie, is daar miskien iemand wat jou oproep nodig het.

Lief vir julle. 

Hanlie


Friday, March 27, 2020

From a distance there is peace on earth...



Gewoonlik skryf ek net blog as ek die wêreld toer of as ek iets beleef wat ek nie kan binnehou nie.  Hierdie keer skryf ek om te onthou.  Ek wil kan terugkyk en presies onthou hoe braaf ons was, hoe ons na mekaar omgesien het, hoe gewone mense buitengewone goed gedoen het, maar ook hoe ons God ons beskerm het, hoe ons as ‘n nasie en ‘n wêreld sterker anderkant uitgekom het.  Maar ek skryf ook omdat my Ma vanmiddag vir my ‘n whatsapp stuur op ons familiegroep en vra of ek nie maar elke dag sal blog skryf nie.  My Ma is ‘n wyse vrou en weet miskien ook dat dit al manier sal wees om my hierdeur te kry.

Ons dominee, Martin, het gister ons Raadsvergadering in Bergrivier met skriflesing en gebed kom open en eers net vir ons almal gevra om stil te word en te dink hoe ons op die oomblik oor hierdie ramp dink.  Ek wil jou uitdaag. Doen dit nou daar waar jy sit en lees. Raak stil en word bewus van wat hierdie situasie aan jou doen op die oomblik. Hoe laat dit jou voel? Magteloos, gefrustreerd, angsbevange, moeg? Want ons is so besig om reëlings te tref vir lockdown, dat ons vergeet om te voel.  Dit het my baie gehelp. Ek hoop dit help jou ook. Ek het ook in my coaching studies geleer wat die werklike waarde is van daaglikse “gratitude journals”. Jammer vir al die Engels tussenin. Doen dit hierdie 21 dae. Daag jouself en jou gesin in jou huis of wyer via sosiale media uit om daagliks iets met mekaar te deel waaroor julle uiters dankbaar is. Dit gee ‘n mens vlerke om buite jou onmiddellike omstandighede te beweeg. Ek het weer die week gedink aan die aangrypende verhaal uit die konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog en dat die mense wat dit oorleef het, mense was wat hul visie kon rig op dinge buite hul onmiddellike omstandighede.

Dit het meestal vir SA 12 dae terug begin. Dit voel soos ‘n jaar. Ek skrik eintlik toe ek nou op my vingers terugtel na Sondagmiddag 15 Maart toe. Ek was by Gielie en Ina op die plaas en het pas beide gesoengroet soos wat plattelandse mense nog op 15 Maart gedoen het met die wat jy goed ken.  Toe praat die President… Welliswaar laat, maar ons vergewe hom, want hy toon groot leierskap en ek is seker die meeste mense in SA is diep dankbaar dat ons nie hierdie krisis in ‘n Zuma-era hoef aan te pak nie.

Soos ek nou hier tik hoor ek hoe twee buurmanne oor die straat met mekaar staan en praat twee blokke van my af. Dis so stil dat ek deel in hul gesprek. Soos altyd die afgelope 12 dae, praat hulle nie oor die weer nie.
Maar ek stel uit…

Miskien wil ek nie so diep in my emosies delf nie, miskien wil ek eers probeer sin maak van wat ek die afgelope twaalf dae beleef het.  Julle weet ek werk vir ‘n Munisipaliteit. Ons is ‘n rat in die groot masjien van ‘n Nasionale Rampgebied, maar ons is die rat naaste aan die mense. En dit bring sy eie uitdagings.  Vir elke sin wat ‘n Minister voor die TV-kameras of radio-mikrofone sê (of nie sê nie), moet daar talle amptenare agter hom/haar dit tot uitvoering bring. Ek is een van hulle.  Soms wil die verantwoordelikheid my oorweldig, maar meestal is ek dankbaar dat ek in die Weermag was, dat die Here my geseën het met leierseienskappe en dat ek ‘n familie en vriende het wat vasgeanker staan in Geloof.  Ek weet ook soos Ester, dat dit juis vir ‘n tyd soos hierdie is dat ek 24 jaar terug geroep is om in Plaaslike Regering te dien.  

Ek het so baie die afgelope twaalf dae van ons volkie in SA geleer.  En so baie teruggedink aan my tyd in Japan in 2012 toe ek my vergaap het aan hoe nakomend (compliant)  die Japanese is.  Dis opmerklik. Ek onthou dat ek agter in ‘n vol bus gesit het en die hele tyd geweet het hier is iets anders aan die gang en ek weet nie wat nie en later besef het ek hoor die flikker lig flikker. Van agter in die bus af.  Almal in Japan het ‘n “compliance” geen waarvan ons nog nooit in SA gehoor het nie.  Die afgelope week praat ek met duisende SAners op die foon wat elkeen vir elke regulasie wat uitkom, tien “loopholes” uitgedink het en dit net met my wil toets. Want hulle wil darem nie in die moeilikheid kom nie.  Daar is die Oom wat Tupperware verkoop in Citrusdal en ‘n ry-permit moet hê, want sonder tupper is die wêreld ondoenbaar.  Dan is daar die Tannie en haar vriendinne wat ‘n essensiële diens wil stig om rondloper katte kos te gee. Nee Tannie, dis nie deel van die Regulasies nie. ‘n Rondloperkat sal sy instink volg en vir homself sorg. Vra die dooie duif in my agterplaas wat vanoggend vroeg al op dag 1 van lockdown gesneuwel het. Dan is daar die jaloerses. Dit is erg genoeg dat hulle nie lekkernye kan koop by die winkel waar hulle ure in ‘n ry gestaan het voor lockdown nie. Maar bewaar die een se siel wat toe wel ‘n Coke te koop gekry het iewers vandag. Dan word die Minister gebel en moet daar oombliklik verdere verfyning van die reëls plaasvind. Want ek sal eerder sterf as om iemand anders iets toe te laat. Is ons nie vreemd nie? Is ‘n Coke nou voedsel of nie? Mag die hoender wat verkoop word warm wees? Mag ‘n slaghuis oop wees? Sluit ‘n petrolstasie nou die winkeltjie by die petrolstasie in of nie? En so hou die vrae net nie op nie. Mag ‘n sopkombuis oop wees. Is sop verwerkte voedsel. Natuurlik, maar iemand moet die haweloses kosgee. En so is daar 1000de goedjies waaraan geen Minister kon dink nie.

Elkeen het ‘n beter plan as die vorige een. Ek en my kollegas moet geduldig na elkeen luister en ‘n uitspraak maak. Asof ons die bewaker van die mensdom geword het.  En dit is nie omdat daar nie genoeg regulasies uitgevaardig is nie. Die 7 afgekapte bome op my kombuistafel getuig daarvan. Dit is net dat ons in SA van elke reël ‘n uitsondering maak (en miskien ook omdat daar geen nuwe sport op TV is om te kyk nie (gisteraand se Wimbledon 2014) en omdat die verslaafdes se sigarette en drank binnekort gaan op wees).  Nou, in gewone alledaaglikse lewe is kreatiwiteit mos ‘n wonderskone ding, maar red nou ‘n nasie van COVID-19 met sulke houdings. By ons SPAR in Piketberg is ‘n bord opgesit voor die parkeerplek vir gestremdes wat sê: Stupidity is not a disability.  Een van my Munisipale Bestuurder-kollegas van ‘n groot Metro in SA stuur nou-nou ‘n whatsapp wat sê: Discipline saved China. Indiscipline drowned Europe. Ignorance will kill Africa.  Gedeeltes daarvan is seker waar. Daar is seker plekke iewers in donker Afrika waar iemand onkunde sal kan voorgooi as ‘n verskoning, maar die tieners wat gisteraand in Khayelitsha se strate dans, die swernote in Hammanskraal wat videos rondstuur van hoe onverganklik hulle is… dit is uiterste “stupidity” en stel ons almal in gevaar.

Ek is seker julle is net soos ek toegegooi met inligting. My buurman sien nou-nou ek sit op my dek en tik en roep vanuit sy erf. Ons gesels ‘n bietjie en gooi nog ‘n paar COVID-gesprekkies rond. Ek bied aan dat hy vir my sy selnommer gee dan kan ek hom ook op die lys sit van die waarmee ek uurliks kommunikeer.  (Ja, hulle het onlangserig ingetrek, ek het nog nie sy nommer nie. Selfs in die platteland het ons grense…;-))  Nee wat dankie, wys hy dit vriendelik van die hand. Hy is reeds toegegooi.

Daar het nog soveel goed gebeur waaroor ek graag wil vertel, maar wees asb geduldig. Dit sal stuk-stuk uitkom. Die wind het nou opgekom en dit is nou koud hier buite op my dek.  Ek groet eers.
Wees asb veilig. Bly binne jou erf en maak seker dat ons sal leef om eendag saam te kan terugkyk.

Lief vir julle. 

Hanlie