Tuesday, March 2, 2021

Piket-Boberg produktemark








 “As my kinders moet weet waar ek nou is, sal hulle hulle afsonder in gebed vir my veiligheid.” Dis Tannie Colla se woorde oppad terug van die saagseltoilet af na die hart van die mark op Piket Boberg. Ek bars kliphard uit van die lag. Dit klink of ek en sy aan ‘n yspiek iewers in die Himalayas oor ‘n afgrond hang! Maar ek verstaan ook haar woorde. Vir ‘n 90 jarige is ‘n uitstappie mark toe ‘n groot avontuur wat Tannie Colla met grasie en baie lag kafdraf. Vanoggend se mark is besonder lekker. Covid het die mark vir ‘n paar maande parkeer en dis weer baie lekker om almal te sien. Februarie is ook ‘n besonderse mark met al die vars vrugte en blomme.  Waar anders koop mens nog pragtige proteas vir net R5 per steel?  Die vye, turksvye, kwepers, organiese groente, sagopoeding, amandels, varsgedrukte lemoensap, vetkoek met kaiings, tuisgebakte brood, plante en vele meer is te kies en te keur. Die vrolike plaaslike musiek, vriendelike gesigte en heerlike atmosfeer sorg elke maand vir ‘n onvergeetlike uitstappie. As jy nog nie die mark besoek het nie, maak ‘n plan! Jy mis baie!


Hoor my hart. Ek is reg vir reis. Mag die dag spoedig kom.