Thursday, March 7, 2019

Ek het ‘n engel gesien. In Uganda.




Ons was bederf met eg-Ugandese geregte.








Victoria-meer






Badru se huis


Uganda se verkeer is onbeskryfbaar. 




Ons projek-poster met ‘n kort opsomming wat die verhaal help vertel.






Die Afrika vroue se rokke het my betower. 




Ons het kontak verloor in 2016. Ek en Badru Senkuba. Ek weet nie eintlik hoekom nie. In Oktober 2010 is ek Uganda toe deur Stellenbosch Munisipaliteit om te gaan leer hoe hulle armoede verligting doen sonder ‘handouts’. Baie van wat ek daar geleer het, kon ons intussen implementeer in Bergrivier Munisipaliteit met groot sukses. Onder andere om ‘n teenprestasie te vereis vir ‘grants’ en het ek met my eie oë gesien hoe dit ‘n hele gemeenskap se menswaardigheid verhoog.

Maar ek vertel van koers af. 

Badru...  Ek wou graag langer in Uganda bly in 2010 om te gaan “river rafting” doen op die wit nyl. As ek toe geweet het wat sou gebeur, sou ek dit nie gekies het nie, of miskien tog...  die wit nyl se oorsprong is in Jinja (80 km vanaf Kampala - maar minstens vier tot ses ure se ry op Ugandese paaie) en het die grootste stroomversnellings in Afrika.  Ek het nog altyd geglo as jou droom jou nie bang maak nie, is dit nie groot genoeg nie en ook hier het my droom my meer laat doen as waarvoor my hart kans gesien het.


Medi was die gawe Ugandees wat al ons goed gereël het. Op die Vrydagmiddag het die taxidiens ons toevallig (toe val lig) in die steek gelaat en het Medi gevra of ek kans sien om saam met ‘n vriend van hom te ry wat by sy ouers in Jinja gaan kuier vir die naweek.  My antwoord was simpel: as jy hom vertrou, vertrou ek hom.  En so ontmoet ek vir Badru Senkuba. Hy is ‘n sagte, skaam maar hartlike mens wat maklik lag en nog meer gee en dien. Soos ‘n wafferse toergids het hy my alles van Jinja gewys, vir ‘n bootrit op die Victoria meer gevat en toe afgelaai by my hotel vanwaar die rafting operateur my sou oplaai die volgende oggend.  

Ons moes twaalf rapids trotseer. Die rivier was groter en rowwer as enigiets wat ek al ooit gesien of beleef het en het ons roei-ekspidisies op die Oranje-rivier en Doring-rivier soos kinderkransdanse laat lyk.  Hierdie was ‘n perd van ‘n ander kleur. Voor elke rapid het die bootgids die roeiers voorberei vir wat sou kom en presies verduidelik wat jy moes doen. Elke stroomversnelling was anders. By party moes jy vashou aan die boot as jy uitval en in die stroomversnelling bly te alle koste, want die wit nyl wemel van krokkodille. By ander plekke moes jy die boot agterlaat en kant toe swem. Ons boot was suksesvol deur agt rapids en ons gids het bietjie braaf geword. Rapid nege is massief en hy couch ons daardeur.
Ons gaan laaste deur. Al die ander bote slaan om en jy sien net ledemate swaai soos mense beur om in die stroom te bly. My senuwees was gedaan. Toe ons gereed maak om te gaan skree ons leier: “And now for the waterfall” en draai ons boot se neus 90 grade na regs en vat ons by ‘n ses meter waterval af.  Onvoorbereid. Aardskuddend. Lewensveranderend.

In die tyd wat die boot in die lug hang, gaan my bene reguit. Iets wat nooit moet gebeur in stroomversnellings ry nie. 

Die geheim is om jou in ‘n bondeltjie te hou.  En toe ons boot die water slaan, breek die boonste 4 cm van my tibia in my linkerknie af.  Gelukkig het ek ‘n video bestel vooraf. Ek het net genoeg moed gehad om dit een keer te kyk. Mens kan die oomblik van impak op my gesig sien. Ek het agter langs die leier gesit en dadelik vir hom gesê my knie is gebreek. Sy reaksie was dat dit onmoontlik is. 
Die uitdaging is dat hulle jou nie kan aflaai nie. Daar is drie rapids oor vir die dag en jy sit deur hulle.  Wat volg is ‘n getuienis dat die Here totaal in beheer is, dat Hy alles bepaal en dat Hy sit op sy troon. 


Ek onthou min daarvan. Net dat ek baie kalm was, water uit my oë gestroom het van pyn sonder dat ek gedink het ek huil. Deon, die toeroperateur het my kom haal by rapid 12 en ek moes op ‘n kaal regtervoet meer as 350 vertikale meter uit die canyon uit spring tot by die bus. In die bus was pynpille in my handsak en ek het hulle vier vier gesluk.
Terug Jinja toe was meer as twee ure.  By die hotel was Badru.  Hy het ‘n bed gemaak agter in sy seegroen cresida en verskoning gevra vir elke pothole in die pad waardeur my gebreekte been moes skud. Iewers in die vier ure oppad terug na Kampala het hy ‘n hoendersosatie langs die pad gekoop en my gevoer.  

Sy vriend Julius is ‘n dokter en ons is reguit na die apteek in Kampala waar hy aan diens was en het ek die sterkste pynpille gekry wat hy kon oor die toonbank gee. By die hotel was geen kamers op die grondvloer nie en Badru en Julius het my letterlik afgedra na my kamer op ‘n vloer onder “reception”. Vandaar is ek die volgende oggend lughawe toe in ‘n rolstoel wat hulle gereël het.  
My huisdokter, Christa Domesle, se instruksie was duidelik: Jy vlieg reguit Kaapstad toe. Moenie by begin verbyskuif nie, moenie in ‘n hospitaal in Uganda of Johannesburg beland nie. Sy kry my voor Medikliniek in Stellenbosch.  My ouers het my op Kaapstad lughawe ingewag. My Pa het langs die rolstoel kom kniel en my hande in syne gevat en net gesê: dit kon ‘n “bodybag” gewees het. Vir my bergfietsloopbaan en bergklimloopbaan was dit. Vir die res van my was dit ‘n nuwe begin.


In 2011 het Badru sy prakties in Stellenbosch kom doen in maatskaplike werk en het hy via Stellenbosch Munisipaliteit by Aids in Action, Hospice en Legacy Hall in Kayamandi gewerk. Hyt by my aan huis gebly vir drie maande en ons het ure se gesprekke gehad oor die lewe. 


In 2015 was hy weer by my aan huis in Piketberg. Hierdie keer net as toeris.

Ek wou nie teruggaan Uganda toe nie. Het dit langtand gedoen. Maar ek moes.  Dit was ons laaste been van die 18 maande Sweedse ICLD program en ons moes ons projek gaan aanbied aan die borge en res van die spanne.


Dit was goed. Maandagaand laat weet ek Badru via facebook messenger dat ek in Uganda is. Hy antwoord binne minute en die volgende aand is hy by die hotel. Ure se verkeer trotseer. Ons voel soos naby familie.  Vanoggend kom haal hy ons om sy kantoor en huis te gaan kyk. Ek ontmoet sy vrou en twee dogters. 
Die jongste is net twee maande oud. 

Hy wil 8 kinders hê eendag. Hys nou 33 jaar oud, ‘n suksesvolle motorhandelaar, gesinsman en opkykmens in sy gemeenskap. Hy het hulle huis self gebou en weet van groot droom en dit in dade omsit. Hy sê hy het dit by my geleer. Ek voel klein en dankbaar. 

Ek het altyd geweet ons het ontmoet vir ‘n rede. Miskien is hy eendag president van Uganda as ek die president van SA is. Wie weet. 


Maar ek weet dit: nader aan ‘n engel het ek nog nie ontmoet nie. 

Tuesday, March 5, 2019

Vir die koffie-liefhebbers

Vandag was fantasties! Ons het so baie geleer! Dis goed om die ander vyf lande se deelnemers weer te sien. Hierdie is ons laaste samekoms in hierdie program. Dis ook ‘n bietjie hartseer, want ons het lewensvriende gemaak.
Ons durf die strate van Kampala aan en ry 90 minute oos oppad Jinja toe tot by Seeta om Nucafe (National Union of Coffee Agrobusinesses and Farm Enterprizes) te gaan besoek. Dis ‘n indrukwekkende model waar die kleinboere die hele value chain besit en nie soos in sommige projekte wat meer chains as value het nie.
Hier is 1,5 miljoen kleinboere wat aan Nucafe behoort. Ja julle het reg gelees. 1,5 miljoen! Daarom kan hulle skaal-ekonomie gebruik en die heerlikste koffie produseer en uitvoer. Selfs ek wat al 20 jaar geen koffie drink nie, moes vandag ‘n kapooch (alias Hans Linde) geniet. En dit was heerlik.

Kampala se strate is ‘n besonderse ry-ervaring. Oënskynlik geen reëls nie, maar almal hou daarby. Ugandese is geduldige, vriendelike mense en bestuurders. 

Elke span moes ‘n poster maak om die veranderingsprojek se storie mee te vertel. Ons is baie trots op ons projek en die groot impak wat ons kon maak in Porterville.


Nog ‘n houtkunswerk by ons hotel. 

Suid-Afrika aan die werk. Ons ander span is van Ulundi in KZN. 

Baie grappies op die bus terwyl ons ons vergaap aan wat by ons verbyflits. 

Die bestuurder en onder-bestuurder by Nucafe. Hul aanbieding was puik.

En vanaand kom groet Badru Senkuba my by die hotel. Hy was die engel wat hom oor my ontferm het in 2010 toe ek my been gebreek het met river rafting op die Nyl in Uganda. Intussen het ons goeie vriende geword en het hy my reeds twee keer besoek in SA. Die eerste keer vir drie maande. Hy bly 20 km van ons hotel af en het die verkeer trotseer om te kom hallo sê. En ons gaan net aan waar ons in 2016 opgehou het. ‘n Sagte siel met ‘n lieflike hart. Was wonderlik om hom te sien. 

Die Ugandese shieling is 260 op een rand. Hierdie is dus R192.

En hierdie R19,20.

Die kindertjies langs die strate het my hart gesteel. Hulle is vriendelike vet gesiggies wat maklik lag en graag waai. Gelukkig beweeg die verkeer so stadig dat mens ‘n hele interaksie kan hê.

Ek gaan vanaand lekker slaap. Diep tevrede en dankbaar. En diep vervuld omdat ek nog iets kon leer van die vreemde. 

Monday, March 4, 2019

Speke Resort in Kampala

My eerste indruk van Kampala hierdie keer is ‘n algehele gewerskaf. Almal bou. Die Entebbe-lughawe word opgradeer, die pad lyk stukke beter en die 8 km wat laas twee ure gevat het, kan ons nou in net ‘n halfuur aflê. Ons bly in die Speke Resort. Dit behoort aan die Commonwealth en is vernoem na John Speke. Hy was die eerste Brit wat Uganda besoek het en daaroor geskryf het. Dit is werklik mooi hier met baie voëls! Veral Marabu’s.  ‘n Hele kolonie.




Uganda staan bekend as die “Pearl of Africa”. 






By ons is die span van Ulundi in KZN. Hulle is die ander span wat gekeur is uit SA.


Baie mooi hout kunswerke in die konferensie-fasiliteit.



My spanmaats, Alletta van Sittert en Raadslid Koos Daniels. 



Selfs earl grey tee gekry by ontbyt.

Ontbyt...

Sunday, March 3, 2019

Uganda hier kom ons!



Ons slaap vanaand in die Road Lodge op die gronde van Kaapstad Internasionale Lughawe. Die ons is ek, Alletta van Sittert (kollega wat saam met my die Sweedse program doen vir die afgelope 18 maande) en Raadslid Koos Daniels. Hy gaan saam as ons mentor. Ons is vroeg kamer toe, want 04:30 ry ons om 05:30 aan boord te stap oppad na Johannesburg en vandaar na Entebbe Lughawe in Kampala in Uganda.

Ek lees vanaand op google dat die situasie gespanne is tussen Uganda en Rwanda. Bid asb saam met ons vir kalmte in hierdie gebied.  Dit is die laaste been van ons 18 maande program. Ons was 5 Afrika-lande waaruit 24 mense gekeur is vir die program van die ICLD (International Centre for Local Democracy). Hulle het ons die Logical Framework Assessment geleer van verandering teweeg bring. Ons program was gemik op die klein besighede in Porterville en om hulle te help om in die hoofstroom toerisme suksesvol te funksioneer.

Dit was ‘n absolute voorreg om deel hiervan te kon wees.

Ons vlieg na Entebbe Lughawe in Kampala (links bo van die Victoria meer). Hierdie meer is 60 000 vierkante kilometer groot. Oos van Kampala is Jinja waarheen ek in 2010 tydens ‘n besoek aan Kampala gegaan het om te gaan river raft op die Wit Nyl. Dit is ook waar ek die tibia in my linkerknie afgebreek het op rapid nommer 9. Dit was 16 Oktober 2010. Dit voel soos gister en was ‘n waterskeidings-geleentheid in my lewe. Voor dit was ek ‘n bergfietsryer, ‘n bergklimmer, superfiks en was geen fisiese uitdaging ooit groot genoeg nie. Na die breek en ‘n bloedklont moes ek leer om ander uitdagings te stel, nuwe stokperdjies te kry en nuwe horisonne te stel.

My plan vir hierdie week is om met al my bene heel tuis te kom. Maar ook om nuwe herinneringe te vestig oor Uganda. Mooies.





Sunday, February 17, 2019

Power pose: jou liggaamshouding bepaal jou lewe...

Hierdie naweek stap ek weer vir die eerste keer met ‘n rugsak na die operasie aan my regterhak. En watse plesier is dit nie! Kromrivierhut is die bestemming en ses dierbare hartsvriende om dit mee saam te doen. ‘n Fees!






En tussendeur die kuier gesels ons kopstukke, los die land se uitdagings op en deel uit ons werksondervinding. Toe ek huis toe ry besluit ek om hierdie stuk op my blog te deel sodat almal dit kan gebruik. Dis kragtig!
Hier kom dit:

Tydens my hersteltydperk na die operasie studeer ek ‘high impact leadership’ deur Cambridge Universiteit en leer ek baie nuwe goed. Een daarvan is die navorsing wat bewys dat jou liggaamshouding jou lewe bepaal en dat jy dit kan ‘fake’ totdat jy dit ‘make’. Kyk gerus Amy Cuddy se Ted Talk hieroor. Dis briljant! En dit vat net 2 minute op ‘n keer. Deur ‘n power pose in te neem (dink wydsbeen staan met arms boontoe uitgesprei asof jy pas ‘n 100 meter gewen het) veroorsaak jy ‘n chemiese reaksie in jou liggaam wat jou brein beinvloed en jou testosteroon hormoonvlakke vermeerder (power hormone) en jou streshormoon kortisol verminder. Probeer dit. Ek doen dit sedert einde Desember voor elke moeilike vergadering, uitdagende gesprek, intimiderende situasie of enige interaksie wat vereis dat jy jou sterkste jy na die tafel toe bring.

Ek daag jou uit. Probeer dit. Dit werk. Lekker power pose, maar onthou ook elke dag waar jou Krag vandaan kom. Groete Hanlie




Thursday, September 27, 2018

Laaste dag van Sweedse studietoer

Wat ‘n besige dag! Sjoe, my voete is af! My fitbit wys ons het 12618 treë gestap op cobblestone strate. Dis 22:50 en ons het pas teruggekom by ons hotel. Ons is 08:40 vanoggend hier weg en is eers na Gåvle se stadshuis om met hul Munisipaliteit te vergader. Ons voer gesprekke met hul Internasionale kantoor, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en besoek daarna ‘n eenheid wat met gestremde mense werk en ook hul vaste afval sentrum waar hul herwinning gedoen word vir vier munisipaliteite gesamentlik.

Die pragtige raadsaal van Gåvle Munisipaliteit in Swede.




Ons eet middagete by hul musiekkonsertsaal.







Dis herfs hier en reeds goed koud. 




Daar is ‘n Linde saal in die musiek gebou.

En daar is wraggies ‘n Linde in hul simfonie-orkes.






By die herwinningsaanleg ontmoet ons vir Marlin van PE in SA. Hy praat Afrikaans en werk al twee jaar hier. Baie lekker om hom te ontmoet. 



Hierdie fantastiese masjien is ‘n aanwins!  In elke winkel in Swede waar enige vloeistof in glas, plastiek of glas verkoop word, betaal die publiek ‘n ekstra Sweedse kroon per drankie en dan as hulle dit hier kom herwin, kry hulle ‘n kroon per drankieverpakking terug. Hierdie man het 298 Sweedse krone teruggekry vanmiddag. ‘n Kroon is twee rand.


Die verbruikerskultuur in Swede is erg. Elke persoon gooi 470kg per persoon per jaar weg in huishoudelike vullis. In SA is dit 389kg en die wêreld gemiddeld in 2016 was 438kg per persoon per jaar. Hier wys Malin  ‘n stooftop wat nog splinternuut en onoopgemaak weggegooi is.





Die publiek is goed ingelig en weet presies wat om waar af te laai.


Wonderlike ete vanaand as afskeid van hierdie studietoer.

Alletta en Annette wen die shuffleboard kompetisie!
Wat ‘n goeie afsluiting van ‘n onvergeetlike ervaring. Ek sal ‘n leeftyd nodig hê om al die nuwe idees  te implementeer. Maar probeer sal ek!