Wednesday, December 26, 2012

Rooi fluweel op Kersfees




Dit het alles by die teddiebere begin. Ek brei al agt jaar lank teddiebere vir 'n projek van Ingrid Linde in Stellenbosch. Ons versprei gebreide teddiebere aan hospitale in die Kaapse Skiereiland om aan kinders te gee wat deur trauma gaan. In November 2012 nooi sy al die breiers om hierdie kwartaal s'n te oorhandig en daarvoor maak sy en haar familie die heerlikste eetgoed. Een van die gunstelinge is 'n rooi fluweelkoek wat haar dogter, Emma Knoetse en kleindogter gebak het. Ek vra die resep en Emma stuur dit later. In my agterkop beplan ek al die nagereg vir ons familie se kerstafel...

Dit was so 'n groot sukses dat ek dit graag met julle ook deel: (Daar is ook 'n resep in die Desember uitgawe van Sarie-kos op bladsy 116. En as jy klaar daarna gekyk het, blaai na bladsy 66 en kyk wie is die wenner van die beste koeksisters in SA! Dis my ma daardie!!)

Rooi Fluweel koek

Voorverhit oond tot 180 grade celsius. Smeer 3 x 19 cm ronde koekpanne. (My ma het net twee panne gehad en ons het elkeen van die twee lae met 'n gare-draaitjie deurgesny en 'n vier lagie koek gehad)

Sif saam:
2 en 'n half koppie koekmeel
1 en 'n half koppie suiker
1 eetlepel koeksoda
1 eetlepel kakao
1 teelepel sout

Meng saam:
1 koppie karringmelk
1 en 'n half koppie olie
2 eiers
1 eetlepel wit asyn
5 eetlepels rooi koekkleursel ('n klein botteltjie is 3 eetlepels en dis al wat ek ingegooi het)
1 eetlepel vanilla

Meng droe en nat bestanddele. Skep in panne en bak vir 35 - 40 minute. Bak eerder korter as langer. Net tot gaar want die koeksoda maak dat dit te bruin word. Laat heeltemal afkoel voor versiering.

Roomkaas versiering:
250 gram gladde roomkaas
250 gram sagte botter
2 koppies versiersuiker (sif saam met roomkaas en botter)
1 eetlepel vanilla
Meng en smeer op kop en tussen lagies.

Ek het die koek bo-op versier met vars kersies, blou bessies en frambose.

Die koek is heerlik! My een sussie se oudste dogtertjie, Elizna, is mal oor koekprogramme kyk en bak al self al is sy net 11 jaar oud. Sy het drie stukke geeet!

Ons het 'n wonderlike kerstyd gehad. Vir die eerste keer in 'n lang tyd was ons hele gesin weer bymekaar. My sussie en haar gesin van Pretoria af was hier en ons het mekaar opgekuier! Ek besef dit is nie alle families wat van mekaar hou nie en ons se gereeld baie dankie dat dit vir ons almal baie lekker is om saam te kuier.  Hoop julle elkeen het 'n geseende kerstyd gehad. Ek hoop hierdie heerlike koek sal 'n plek kry in een van jou spesiale geleenthede in 2013. Vier die lewe!




Saturday, December 8, 2012

Nuwe horisonne

Ja ek het baie lanklaas van my laat hoor! Ek is jammer, maar ek was nog net nie reg om dit wat ek die afgelope paar maande beleef het, in woorde om te sit nie. In Julie het ek teruggekom SA toe en begin werk soek. Moenie dat iemand jou anders oortuig nie: werksoek is nie vir sussies nie! In Feb toe ek weg is by Stellenbosch Munisipaliteit het n goeie vriend, Johan Gerber, vir my 'n baie waardevolle sms gestuur wat my nog baie sou help in die maande vorentoe. Hy het gese: "onthou jy het jou werk verloor, nie jou vermoe om te werk nie." Dit klink eenvoudig maar glo my...

Toe ek oorsee is het ek gese ek sien uit daarna om te sien wie ek is as ek nie "Hanlie-van-die-Munisipaliteit" is nie. Ek moes die afgelope tyd met n skok besef hoeveel van my identiteit uit my werk kom. Dit was vrek moeilik om nie te werk nie! Om 'sane' te bly moet mens hardnekkig bly glo dat die Here weet wat Hy doen en sal handel op Sy beloftes. Nou omdat ons die uitkoms reeds weet, is dit maklik om terug te kyk en van groot geloof te praat, maar as jy daar in is, is dit nie vanselfsprekend nie. Ek het dag na dag in my kar gesit en oor en oor gesing: Dit is wel met my siel. Dit is wel dit is wel met my siel!! Al voel my siel nie wel nie.

Nou is dinge anders. Vir die van julle wat nog nie die goeie nuus gehoor het nie... Ek is aangestel as Munisipale Bestuurder van Bergrivier Munisipaliteit! Ek het reeds 1 Desember daar begin en geniet elke oomblik! Die hoofkantoor is in Piketberg, maar die Munisipaliteit sluit ook Porterville, Velddrif, Laaiplek, Port Owen, Dwarskersbos en 4400 vierkante kilometer se landelike areas in. Dis fantasties om weer op my volle potensiaal aangewend te word!

Intussen het ek uitgevind waar die storie van "Swak Piketberg swak" vandaan kom. Die dorpenaars vertel van n ou wat terug huistoe gestap het deur die begraafplaas na 'n aand in die kroeg. Hy was onvas op sy voete en het in 'n oop lee graf geval. Die volgende oggend toe hy wakker word en halflyf by die oop graf uitstaan, dog hy dis die wederkoms en dat net hy alleen 'opgestaan' het. Toe se hy: net een regverdige is gevind... Swak Piketberg swak!!