Wednesday, December 26, 2012

Rooi fluweel op Kersfees




Dit het alles by die teddiebere begin. Ek brei al agt jaar lank teddiebere vir 'n projek van Ingrid Linde in Stellenbosch. Ons versprei gebreide teddiebere aan hospitale in die Kaapse Skiereiland om aan kinders te gee wat deur trauma gaan. In November 2012 nooi sy al die breiers om hierdie kwartaal s'n te oorhandig en daarvoor maak sy en haar familie die heerlikste eetgoed. Een van die gunstelinge is 'n rooi fluweelkoek wat haar dogter, Emma Knoetse en kleindogter gebak het. Ek vra die resep en Emma stuur dit later. In my agterkop beplan ek al die nagereg vir ons familie se kerstafel...

Dit was so 'n groot sukses dat ek dit graag met julle ook deel: (Daar is ook 'n resep in die Desember uitgawe van Sarie-kos op bladsy 116. En as jy klaar daarna gekyk het, blaai na bladsy 66 en kyk wie is die wenner van die beste koeksisters in SA! Dis my ma daardie!!)

Rooi Fluweel koek

Voorverhit oond tot 180 grade celsius. Smeer 3 x 19 cm ronde koekpanne. (My ma het net twee panne gehad en ons het elkeen van die twee lae met 'n gare-draaitjie deurgesny en 'n vier lagie koek gehad)

Sif saam:
2 en 'n half koppie koekmeel
1 en 'n half koppie suiker
1 eetlepel koeksoda
1 eetlepel kakao
1 teelepel sout

Meng saam:
1 koppie karringmelk
1 en 'n half koppie olie
2 eiers
1 eetlepel wit asyn
5 eetlepels rooi koekkleursel ('n klein botteltjie is 3 eetlepels en dis al wat ek ingegooi het)
1 eetlepel vanilla

Meng droe en nat bestanddele. Skep in panne en bak vir 35 - 40 minute. Bak eerder korter as langer. Net tot gaar want die koeksoda maak dat dit te bruin word. Laat heeltemal afkoel voor versiering.

Roomkaas versiering:
250 gram gladde roomkaas
250 gram sagte botter
2 koppies versiersuiker (sif saam met roomkaas en botter)
1 eetlepel vanilla
Meng en smeer op kop en tussen lagies.

Ek het die koek bo-op versier met vars kersies, blou bessies en frambose.

Die koek is heerlik! My een sussie se oudste dogtertjie, Elizna, is mal oor koekprogramme kyk en bak al self al is sy net 11 jaar oud. Sy het drie stukke geeet!

Ons het 'n wonderlike kerstyd gehad. Vir die eerste keer in 'n lang tyd was ons hele gesin weer bymekaar. My sussie en haar gesin van Pretoria af was hier en ons het mekaar opgekuier! Ek besef dit is nie alle families wat van mekaar hou nie en ons se gereeld baie dankie dat dit vir ons almal baie lekker is om saam te kuier.  Hoop julle elkeen het 'n geseende kerstyd gehad. Ek hoop hierdie heerlike koek sal 'n plek kry in een van jou spesiale geleenthede in 2013. Vier die lewe!




1 comment:

  1. Ek het ‘n halwe snoek van buurman gekry en dit verorber so tussen skoefies indraai vir ‘n elektriese kabel met ‘n ekstra lig wat ek al hoe lank wou hê en die res van die dag in salige eensaamheid met my eie gedagtes deurgebring. Die Internet in die Sandveld was oorlaai en dit was ‘n goeie verskoning om dit ook vir later te los.

    Oom Wennie
    Vredelinghuiser

    ReplyDelete