Monday, September 28, 2020

Laat my nooit die grond verlaat nie... laat my in U skadu bly



"My oë sal nooit hiervoor kan moeg word nie", verklaar neef Gert met ‘n diep tevrede sug. Ons is pas by Kardou verby, oppad Soebatsfontein se afdraai toe. Ons gaan roller meel optel by ‘n vriend.  Die meel is nie gerol nie, sê die boer self later, hulle is so gebliksem.  Die mense van die Namakwaland is reguit praters. Sonder omhaal.

My siel is stil tevrede. Ek vergaap my aan die wêreld waar mens, plant, grond en oopheid almal pasmaats is. So gemaak en so laat staan. Onpretensieus. Geloofwaardig. Perfek.

Ek sien meer nuwe goed hierdie naweek binne 400 km van my huis af as op baie oorsese toere. Ek kan nie glo ek was nog nooit aan die agterkant van die Kamiesberg nie. Wat het ek nie gemis nie!  As jy een van daai mense is wat net op die N7 hou oppad Namibië toe en selde afdraai, nooi ek jou nou. Kom reis saam...



Die syferpond op Karas. Hy was verlede jaar nog droog.  Nou staan die katsterte weer geil.

Dit het Vrydagnag 'n volle duim gereën in die Langkloof.


Swaer Andries en Neef Gert by die Letterklip by Garies.  Was jy al daar?

Die Letterklip in Garies waar die Engelse 'n wagpos gehad het om die dorp Garies te probeer beveilig teen die boere in die Anglo Boere-Oorlog van 1901 - 1903.  Die name van die Engelse soldate is hier uitgekrap op die klippe. As jy in Garies inry, hou regs tot by die laaste huis aan die linkerkant. Daar bly neef Thys (hierdie mense is almal familie van mekaar en almal familie van Andries - Gert verduidelik dat die ouer geslag sou gesê het: Trou eerder met jou niggie, dan weet jy wat jy kry).

Groet en ry verby sy huis en op met die bultjie tot by die Letterklip.  Nee, daar is nie aanwysings nie. Ek gee dit mos nou vir jou.

Wie is oud genoeg om te weet wat hierdie is?  Ek kry dit in die veld by Bowesdorp voor die ou kerk.


Dit is verseker die moeite werd om af te draai van die N7 af by Bowesdorp.  Daar boer Isak van Niekerk.  Bowesdorp is 7 km van Kamieskroon af aan Springbok se kant.   Dit is vernoem na Henry Bowe wat 'n dokter was in Namakwaland. Die "eerste Kamieskroon" is hier gebou, maar die klein vallei tussen die berge het in 1924 te klein geword en die dorp is verskuif na waar Kamieskroon vandag is.  Die kerk se hoeksteen en ander skatte is verskuif en al wat oorgebly het is hierdie pragtige ruïne. Dis prentjiemooi!








Wat google nie weet van Bowesdorp nie, vul Tannie Colla aan per whatsapp uit Piketberg. Haar ouers is in hierdie kerk getrou.
Hierdie rotspoel met 'n klein geboude reservoir is deur Britse soldate gebou in die Anglo Boere-Oorlog.  Dit is afgekordon met die enigste staal wat hulle tot hul beskikking gehad het: geweerlope! Stop gerus daar. Dit is langs die N7. Nog 'n plek waar ek al talle kere verbygesnel het op die snelweg...


Ons talm nie lank nie. Ons is oppad Garies toe en moet nog deur die Langkloof Karas gaan kyk en dan Leliefontein om tot weer by Springbok waar Rene kerrie-afval bedien.



Ek en Gert het lekker gelag toe ons uiteindelik uitmaak dat die gastehuis op Nuwerus reg is vir 'n koningin!

Roosterkoeke wat ek geknie het op Landplaas.

Skaapribbetjie! Geil, maar onverbeterlik!


Bad van Betesda by Brand se baai.



Brand se baai


Die skatte in Namakwaland is dik gesaai, maar mens moet stop-stop ry en fyn kyk. Net soos die mense...


Oppad terug sing ons: eenvoud is die vreugde van die lewe... dis gee en neem net wat daar is. Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.

Vanaand weet ek tevrede en vervuld: 

Ek het gesien wat ek moes, 

Ek het gevoel wat ek moes, 

Ek het geleer wat ek moes. 

Ek kan weer wees wat ek moes...