Saturday, November 30, 2013

Die eerste afrikaanse fees in Bern, Switserland

Nou kyk, ek het hierdie jaar al baie aangrypende mense ontmoet op die platteland! Die meeste 'n groot inspirasie.  Een so 'n persoon is Sherlock Fortuin. Hy kom van Piketberg af. Sy Ma en stiefpa bly steeds hier. Maar Sherlock bly in Switserland. Hy is baie musikaal en het na skool by Stellenbosch Universiteit gaan studeer en in die Univ Koor en Libertas Koor gesing en daar 'n groot liefde vir koor en kultuur opgebou.

En toe begin hy 'n gemeenskapskoor in Bergrivier. Hulle is al 86 lede sterk uit alle dele van ons gemeenskap. Hulle bevorder die afrikaanse en KhoiSan kultuur. Hulle is genooi om einde 2014 in Amerika en Europa te gaan toer, maar wag nou loop ek die storie vooruit...

Sherlock werk by Bern Universiteit en hou 'n Suid-Afrikaanse fees van 2 - 12 Desember 2013 in Bern. En ek is oppad soontoe! My tas is gepak en ek is op die punt om te mag opgewonde raak. Die afgelope week moes ek eers 'n paar berge versit voordat ek kon dink aan gaan. Ons strategiese sessie met ons raad moes afkom, ek moes die laaste Raadsvergadering vir die jaar oorleef en Bergrivier Munisipaliteit het vir die eerste keer in hul geskiedenis 'n Prysuitdelingsfunksie gehou waar al 382 werknemers en alle raadslede bymekaar was vir 'n aansit ete. Ons het al die opleidingsertifikate wat in 2013 verwerf is uitgedeel (197 van hulle!) en langdienssertifikate oorhandig. Die moeilikste was om skeptiese mense te oortuig dat so iets kan en sal werk! Die doel was om almal trots te maak om hier te werk en ek dink ons het geslaag. Dit was 'n groot sukses. Toe alles opgeruim is na die tyd en net voordat ek in my motor klim, kom een van ons werkers. Dis die eerste eer dat ek hom sien en hy vat my hand en kyk diep in my oe en se: Mevrou, jy kom DUIDELIK uit! Wat 'n kompliment! Ek is so gelukkig in my werk en kry die geleentheid om my 100% uit te leef. Werklik 'n groot dankbaarheid in my lewe!

Terug by die Bergrivier Koor: My trip na Switserland is werk en plesier. Net vir enige belastingbetaler van Bergrivier wat hierdie lees - ek het my eie vliegtuigkaartjie en verblyf betaal. Die Mun gee net vir my spesiale verlof vir die tien dae. Ek gaan om langtermyn volhoubare vennootskappe te bou met Bern Universiteit om kuns en kultuur in ons gemeenskappe te bevorder. Verder is een van die aandprogramme by die fees ten bate van die koor en ek gaan iets se by die geleentheid oor ons area en pamflette uitdeel dat die gehoor ons area in hul geestesoog kan oproep. Daar is 12 kunstenaars uit SA wat by die fees gaan optree. Onder andere Zorada Themming! Ek sien baie uit daarna om hulle almal weer te sien en saam met hulle ons mooi land te adverteer.

Ek sal probeer om julle op hoogte te hou sover ek gaan. Dis winter in Switserland nou en die sneeu val. Dit was nogal moeilik om te pak vir hierdie een. Ek het ses bottels geborgde wyn wat Org du Rac in Piketberg vir Sherlock stuur vir 'n kaas en wyn op die fees. Dis als in my tas! 7,8kg se wyn! Verder moes ek aandklere by my Ma leen en my swaar stapskoene saamvat om oor die geysde strate te kan kom. Ons sal maar sien hoe dit gaan...

Tot ek kans kry om weer van my te laat hoor... Geniet elke oomblik!

Hanlie