Thursday, June 25, 2020

Na 'n lang stilte...


Juniemaande is bekend vir mis in ons vallei... en op die N7 oppad Kaap toe. Ry versigtig.



Ek het lanklaas geskryf... Ek is jammer daaroor.  Dit is nie asof my dae onopskryfbaar geword het nie. Vra my hoekom wanneer ons weer iewers langs ‘n kampvuur sit met ‘n earl grey tee of iets dergeliks in die hand. Op volspoed!

Teen hierdie tyd is ons almal min of meer gewoond aan ons nuwe normaal van wegskrum van mekaar. Die moeilikste is seker as mens se eie familie afstand hou... dit raak my dieper as wat woorde kan beskryf en ek sal nog lank dink oor die effek daarvan op ons almal.

Ek en my uitsig is steeds onafskeidbaar en ek is verbaas oor hoe jaloers ek geraak het op my eie spasie.  Noudat my huishulp en my tuinman terug is, verbaas ek my dat ek redes soek vir hulle om nie te kom nie. Natuurlik betaal ek hulle steeds. Dit is die regte ding om te doen.

Bergrivier is werklik in alle seisoene vir my mooi, maar die helder groen koringlande wat kop uitsteek en die pragtige wintersmiddae is ekstra mooi met die laat herfs wat die blare nog deel van die prentje laat wees.  Dis asof ek net nie kan ophou kyk nie. En dan kom die geel kanolalande en die blommetjies nog.







Daar is baie tyd vir refleksie. Ek is seker elkeen van julle doen dieselfde. Dit bring tyd om klaar te maak met onafgehandelde verhoudings, maar ook nuwe ontdekkings.  Ek word weer herinner dat die woord “entoesiasme” afgelei is van twee Griekse woorde naamlik en theos.  Dit beteken “deur God geinspireer”.  Ek lees dit op dieselfde dag wat ‘n dekade lange verhouding eindig.  Ek en my hartsvriendin in Kanada besef weer hoeveel van ons wat die Here ken se kapasiteit kom van God se wysheid, insig, krag en energie in ons lewens. En ek is opnuut dankbaar daarvoor.  Mag ons elke dag genoeg krag hê om entoesiasties te leef omdat ons deur God daartoe geinspireer is.

Tussendeur kyk ek Fynskrif op KykNet soos iemand wat bang is dit raak op. Werklik een van die beste Suid-Afrikaanse reekse ooit.


Vanoggend kry ek drie ryp bessies aan my ry bessiebome suid van my huis. Ek bly nou net langer as drie jaar in hierdie huis en hulle het nog nooit bessies gedra nie. Skielik is ons ses jaar lange droogte gebreek met goeie reën in Mei en weer in Junie en siedaar! Bessies. Nog nie vir Afrika nie, maar die drie is genoeg om my onmiddellik te verplaas na my grootwordjare in Disastraat in Wellington. Ons was amper te veel jong kinders vir die kort doodloop straat, maar hoeveel van my gelukkige kinderjare het nie daar afgespeel nie. Skelulu (wat die kinders in Kayelitsha dibeke noem), bok in die hok, touspring, wegkruipertjie, oom Johan se stoepbakstene verf vir 1 sent per steen en ure se bessies pluk vir Paula wat in gips lê na vele beenoperasies. Sakke vol bessies en herinneringe om ‘n leeftyd te hou.


Intussen is Tannie Colla 90.  Een van my gunsteling mense op Piketberg. Wysheid en ervaring kom afwisselend in haar stories na vore en ek kan behoorlik aan haar lippe hang. Ek moes omtrent bontstaan om ‘n foto te neem wat goed genoeg is, want sy is ‘n professionele fotograaf wat die wêreld deurkruis het. Net nadat ek haar ontmoet het, vra ek eendag watter plek in die wêreld vir haar die mooiste is en sonder om te skroom antwoord sy: die noordkus van Ierland en summier kom dit op my bucket list.


Op ons COVID-front het ons kerk drie weke terug weer oopgemaak vir maksimum 50 nie-singende lidmate per week, terwyl ons virtuele youtube kerk ook voortgaan. Is julle laf, hoor ek julle al snak na asem. Wel, voordat julle te hard oordeel, onthou dat baie mense op die platteland nie data het om dienste elektronies te volg nie. Ek is die “compliance officer” en neem almal se koors voordat hulle mag ingaan.  Ons hou by die boek. Die kerk moet die evangelie versprei, nie die virus nie.


Hierdie twee brode het ek self gebak en beide persent gegee vir mense aan wie ek baie dank verskuldig is. Ek is mal oor kosmaak en bak en dankbaar dat hierdie so mooi gekom het.  Daar is baie mense in Piketberg wat baie goed kan bak en ek maak resepte bymekaar sover ek gaan.  Maar hierdie vaardigheid kom direk van my Ma af. Baie van ons het kosmaak en bak opgeneem as 'n stokperdjie tydens Inperking. Miskien moet ons 'n nuwe resepteboek uitgee. Perk In en Geniet!

Een van die aangrypendste facebook videos wat ek hierdie week sien kom uit my vorige gemeente (Stellenbosch Moederkerk) waar Ds Richard van Wyk persoonlikhede uit die Bybel gaan navors het wat ook almal in Inperking was en wat die Here deur hulle lewens gedoen het daarna. Ek deel dit hier met erkenning aan Richard:  Soek dit gerus op Facebook. Dit is die moeite werd:

Die volgende bybelse karakters was almal ingeperk en wat God gedoen het met hulle: Noag en sy familie vir 'n hele jaar lank in die Ark - hy word die vader van alle nasies; Jakob was gegrendel by Laban - 20 jaar later is hy terug as Israel - Josef van 17 - 30 jaar oud - dit word die skool waar hy voorberei word vir leierskapsposisies; Moses in die woestyn vir 40 jaar en verlos sy volk; Naomi in Moab; Dawid 15 jaar nadat hy koning geword het en word hy 'n man na God se hart; Elia by die spruit Krit en daarna staan Elia alleen voor die Baalpriesters; Jona word ingeperk in die maag van 'n vis en as Jona daar uitkom dan preek hy onophoudelik; Daniel - 70 jaar in Babilonie; Ester in paleis en red haar volk van uitwissing; die dissipels in die bokamer en hulle ontvang die Heilige Gees en die Kerk word gebore, Paulus in gevangenisskap - hy skryf talle briewe aan gemeentes wat in die Bybel opgeneem word in hierdie tyd; Johannes word ingeperk op die eiland Patmos en daar skryf hy Openbaring - die grootste profetiese boek van alle tye.  God grendel vir Jesus vir drie dae in 'n klip graf voordat Hy opstaan en verlossing bewerk vir 'n ganse wereld!

Aangrypend dankie Richard! Sal my altyd bybly. Nou is die vraag: wat gaan God doen na ons inperking? Ek kan nie wag om te sien hoe Hy ons gaan gebruik nie.

Die snaakste, maar waarste whatsapp grappie hierdie week was:
,

Mag ons elkeen die Krag van Bo kry om aan te hou, met entoesiasme te leef en te bereik wat ons moes deur hierdie grendeltyd.





Saturday, June 6, 2020

Na waters waar rus is...



Gisteroggend se vallei van vrede...



Dit is al na 09:00 toe die son die eerste keer vanoggend deur die wolke beur.  Ek het pas ‘n baksel karringmelkbeskuit in die oond gedruk en met my koppie earl grey tee stoep toe gestap.  Die bokmakierie roep al van vroeg af.  Die dek is nat en dit maak ons dankbaar. CP, my buurman aan die bokant, het net gisteraand gesê selfs elke bietjie dou help as dit nie reën nie. Ons kyk met angstige verlange uit na die beloofde reën wat YR voorspel vir Woensdag hierdie week.  Ons landbouers kan nie nog ‘n droogtejaar oorleef nie. 

Daar hardloop so baie goed oor ons landbouers deur my kop soos ek hier tik en ek wil alles gelyk vertel...  Maar laat ek by die begin begin.
Ons het hierdie week 16 ton (!) meel geskenk gekry van die koringboere in ons gebied.  Dit is afgelaai op ‘n veilige bewaringsplek en sal deur gewillige NGO’s uitgedeel word volgens die goedgekeurde uitdeelplan in al ons gebiede. Ons is oneindig dankbaar daarvoor.  Ek kan saam met so baie ander getuig: ons Hemelse Vader weet wat elkeen van ons nodig het en het nog dwarsdeur lockdown in oorvloed voorsien – appels by die tonne, naartjies, aartappels, patats, uie, ander groente, meel, tenke vol sop wat vrywilligers aandra, potte en potte pap vir die haweloses en so kan ek ‘n boek vol skryf.  ‘n Gemeenskap in aksie! Wat ‘n voorreg om te aanskou.  Hoe sal ons ooit genoeg kan dankie sê?  As jy hier lees en op enige manier gehelp het met enige van hierdie gemeenskapsdienste, baie baie baie dankie.

Ek dink ook aan die mooi sêding wat ‘n boer op die Lesotho-grens met Kabous Meiring gedeel het en sy met ons op Prontuit: “As die Here ons hierdie jaar nie help nie, sal dit die eerste keer wees.”  Ons kan waarlik dieselfde getuig.

Ek kon die karringmelkbeskuit bloot van Tillies bestel het. Maar vandag is my afdag en bak laat my van baie dinge vergeet.  Ek kom uit ‘n bakkers huis. My Ma het vir dekades by ‘n tuisnywerheid in die Paarl gewerk en beskuit bak was deel van my grootword.  Sy het semel- en karringmelkbeskuit vir die winkel gelewer en ek het baie daarvan geknie.  Vanoggend bak ek ‘n mengsel van haar beproefde resep en Neef Gert se resep vir die karringmelkbeskuit waarmee hy ons betower het in die Richtersveld verlede September.  Die grap is sy karringmelkbeskuit kry geen karringmelk in nie! Ek maak ‘n allemintige 10 koppies meel en moes my kampskotteljie gaan uithaal en was toe ek die res van die bestanddele wou inmeng.  My koekmeel is vanoggend te min en ek vul dit aan met mieliemeel.  Lekker bros bevestig my Ma later oor die telefoon.  Later bekyk ek my kombuisvloer wat Katrina Maandag met soveel sorg gewas het en besluit die R50 wat Tillies vra vir 500 gram beskuit is ‘n bargain.  Maar die terapie wat ek kosteloos opdoen, maak bak steeds die moeite werd.

Dankie vir elke bemoedigende boodskap en gebed wat ek in die week ontvang het.  Dit help.



Ek bekyk my uitgegroeide naels vanoggend en besluit om dit te deel. Ek het die foto geneem deur my selfoon dwars op my kombuiskas staan te maak en die kameraknoppie met my tong te druk. ‘n Iphone se kamera was nog altyd vir my ongelooflik, maar die feit dat ek die knoppie met my tong kan druk, beindruk my van voor af.  Ek mis my skoonheidsalon met 'n passie en praat met baie ander vrouens wat dieselfde verlange het.  Daar gaan 'n baie lang ry wees.

Ek het al soveel fotos die afgelope lockdown-tyd van my stoep af geneem. Dis asof ek die uitsig elke dag weer vir die eerste keer sien en beleef en as ek eerlik moet wees, was dit die eerste keer dat ek dit op sekere tye van die dag gesien het, want voor lockdown was ek nooit tuis om dit te geniet nie. Nou kon ek sien hoe die son opkom, wolke vergader, die maan sy kop uitsteek en die mis oor die vallei verskillende lae vorm. Mag ek nooit weer te min by die huis wees om dit te geniet nie. 

Ek moes selfs gister ‘n paar ongebruikte apps op my foon uitvee om plek te maak vir meer fotos.  Die spieëltjie app, my tweede candy crash wat ek net gebruik as my 5 lewens op candy crash primêr op is, my "elf-yourself" wat net tydens Kerstyd pret bring en treëteller wat ek gebruik het voordat ek my fitbit besit het, bly almal in die slag.  Dis ongelooflik hoeveel plek dit beskikbaar maak op my foon. En dit nadat ek Maandag reeds R14,99 per maand betaal het om my iCloud account op te gradeer.  Hierdie vierde industriële rewolusie het ons toe vinniger ingehaal as wat ons gehoop het.  Ek is so trots op almal van my generasie en ouer wat regtig probeer om in te kom met die virtuele alles.

Die getalle groei steeds in die Wes-Kaap. Vinnig. Verlede Sondag kom massa-grafte die eerste keer ter sprake tydens ons MM-PTM vergadering.  Bergrivier Munisipaliteit is nou al op 70.  


Maar soos die President gesê het: Dit is nou in elkeen se eie hande.  Ons was reeds ons hande talle kere per dag. Maar minstens een daarvan sal in onskuld wees as die virus verder versprei as nodig omdat mense steeds self besluit om te volhard in hardnekkige sinnelose gedrag.    

Hier is die beste van my stoep-fotos:  Geniet dit saam met my.







Ek ruik nou my beskuit.  Mag elke dag in die komende week vir jou wees soos tuisgebakte karringmelkbeskuit en earl grey tee vir my is: onverbeterlik!

Ek sien uit na die dag wanneer ons dit weer nie-virtueel saam kan geniet.