Sunday, July 19, 2020

My Ouma Anna en die Maltese kruis in die Sederberge






Verlede Maandag en Dinsdag het dit vir die tweede keer hierdie winter dik gesneeu in ons wêreld. Woensdag was ‘n helder beeldskone dag en kon ek Sneeuberg in die Sederberge die duidelikste afneem van my stoep af. Hy was toe met sneeu aan sy skadukant vir sover as wat mens kan sien. Saterdag moes ons net gaan kyk! 


Sneeuberg van my stoep af: Woensdag 15 Julie 2020


Vriendin Sonja was op Jeugdag ‘n maand terug ook daar, maar hierdie keer is daar selfs meer sneeu. Ons ry 07:00 uit Piketberg en staan 10 voor 9 met ons maskers aan in die kort rytjie by die Cape Nature kantoor by Dwarsrivier om ons permitte te koop, hande te ontsmet en aan te teken in hul kontakregister. Hulle mag 50 mense per dag op die roetes toelaat. Ons is nommer 22 en 23. Sosiale afstand is maklik in ‘n wêreld-erfenisgebied van 66811 hektaar.  Dit is reeds in 1973 as Wildernis Reservaat verklaar en tog is die geskiedenis van die Maltese Kruis baie skaars en kry ek niks op google nie.  As jy bevoorreg is om toegang te hê daartoe, los asb vir my ‘n link in die kommentaar blok hieronder.  

Terwyl ek en Sonja aan die voet van die Maltese Kruis ons middagete pakkies geniet, wonder ek wie eerste hul oë kon ophef na hierdie majestieuse stuk rots van Kaapse sandsteen en kwarts. Dit is uiters indrukwekkend.  Sy buurman, Sneeuberg, is die hoogste piek in die Sederberge en staan 2027m hoog.  Dit is ongeveer 700 meter bo die vlak waarop die Maltese Kruis staan, maar mens kan dit beswaarlik ‘n vlakte noem, want van die parkeerplek af is dit 7 km se steil opdraend en klim.  Ek lees tydens lockdown dat iemand skryf 9 uit elke tien keer as iemand sê iets is die moeite werd, is dit omdat dit iemand anders se moeite is.  Wel hierdie keer is dit my eie moeite en was dit beslis die moeite werd.  Dit raak ‘n 6 ure uitstappie as mens rustig stap, dik sneeu en baie water moet trotseer en baie fotos neem. Teen die onderste voet van die berg staan die verskillende skakerings van pienk sewejaartjies vol in blom. Maar dan kruis jy die rivier en begin klim en maak die sewejaartjies plek vir ander fynbossoorte en knoppiesbos (‘n naam wat ek gister leer by Sonja).

Daar is ook tyd vir pret soos altyd.




Dit was nie die eerste keer die afgelope twee weke wat ek agter ‘n Kruis aangeloop het nie. My laaste twee weke was tyd vir besin, herbesin, groot besluite neem, fyn luister na die Een wat die Kruis oorwin het en in die skadu van die Kruis bly.  Vra my by daai kampvuur waarom om eendag weer gaan sit.


My Ouma Anna sou hierdie afgelope week op 15 Julie 2020, 119 jaar oud gewees het.  Sy is my Pa se Ma.  Sy is al in 1981 oorlede toe ek net elf was, maar ek onthou so baie aspekte van haar klokhelder.  Haar uitstaande kenmerk was dat sy onverskrokke en in totale gehoorsaamheid agter die Kruis aangestap het haar lewe lank. Sy het op 1 September 1926 op ‘n skip geklim in Amerika en Kaapstad toe gereis vir etlike weke om hier aan Kaapstad Universiteit Antropologie te studeer sodat sy sendingwerk kon gaan doen in die Belgiese Kongo. Sy is toe ‘n jaar later soontoe en was daar vir vier jaar. Sy was al as jong meisie geroep om die evangelie na Afrika te bring, maar dit was net na die depressie en daar was geen geld nie. Na baie gebed en vier jaar se teologie studeer, word dit ‘n werklikheid. Sy moes baie seker gewees het van haar roeping om in 1926 letterlik die wye wêreld in te vaar en nie te weet of sy haar mense ooit weer sou sien nie. Sy was die 5de kind van 9.  Later het Suid-Afrika haar tuiste geword en was sy net drie keer terug op besoek aan Amerika. 
Dit en baie ander dinge bedink ek gister toe ek in die skadu van die Maltese Kruis staan op 1300 meter bo seevlak in die Sederberge en weet dat dit ook my voorreg is om die Een van die Kruis te ken en te volg. En net soos met gister se sneeustap is dit nie altyd maklik nie, maar dit bring altyd diep vrede en hope avontuur.  

As jy nog nie by die Maltese Kruis was nie, maak 'n plan! Dit bring mens baie nader aan die Kruis.