Monday, March 22, 2010

Kreefroete - Dag 4 van stap: Papendorp na Ebenhaeser






















Vandag stap Desmond saam met ons. Ons moet deur die nat vlei kom en stap baie in die water en modder, maar geniet elke oomblik daarvan. Ons stap vandag vir 15 km langs die Olifantsrivier tot net voor die besproeiingsdam buitekant Ebenhaeser, waar ons by Dave en Pam oornag in hul gastehuisie op die rivier.
Ons sien pragtige voels wat klomp Pelikane, Flaminke en reiers insluit. Dis ons laaste dag se stap en ons vorder goed. Die weer is steeds fantasties en dis heerlik solank as wat jy langs die rivier stap, maar as jy binneland toe draai raak dit warm.
Ons eet vanaand by ons gasouers aan huis en klim weer vroeg in die bed. Hier is meer muskiete in Ebenhaeser as mense! Ons kry ontbyt ook by Pam en toe kom Ben ons haal en vat ons terug Elandsbaai toe. Vandaar toer ons oor die skiereiland na Paternoster en Shelley Point en gaan ook aan by Darling om Evita se peron te sien. Wat 'n heerlike dag om die einde van 'n heerlike toer te vier. Die kreefroete was regtig die moeite werd.

Kreefroete Dag 3 van stap: Doornbaai na Papendorp via Strandfontein



























Ons gids vir die dag is Peter. Hy is 'n ernstige stormers ondersteuner en het 'n vlag op sy huis se dak. Hy ken sy dorp baie goed en kan ons alles vertel. Die kelp fabriekie is vir ons baie interessant. Die kuslyn van Doornbaai tot by Strandfontein is baie rotsagtige en ons stap bo-op die kranse. Ons kry twee hengelaars wat pragtige kinders van die Here is en hulle hengel om naby hul Skepper te wees. Dis seker maar hoekom ek stap ook.

Van Doornbaai na Strandfontein is 7,5 km en vandaar na Papendorp is 6,5km. Ons drink tee by Strandfontein se kafee en lees die week se ou koerante. Daar groet ons vir Peter en ontmoet vir Charmaine wat ons gids is na Papendorp. Die kuslyn van Strandfontein na Papendorp is die mooiste stuk kuslyn wat ek nog gesien het. Die laaste keer wat ek hier gestap het was saam met Herman, Patrick, Ina, Pieter, Magdaleen en Boetie. Toe het ons ons verluister aan die klank van die see wat oor die plate klippe spoel en terugtrek see toe. Vandag doen ons dit weer. Dit klink soos 'n orrel wat die mooiste musiek maak.


Papendorp se naam was eers Viswater en dis hier waar die Olifantsrivier in die see inloop. Hier het die plaaslike mense (net 45 gesinne woon hier) 'n sluis gemaak en in die winter laat hulle die see inloop oor die pan en maak dan die sluis toe dat die somer die pan opdroog en baie sout agterlaat. Hulle oes die sout. Dis pragtige skoon see sout wat hulle gebruik en verkoop. Ons stap oor die soutpan en bly in 'n gastehuisie vir die nag. Daar is 'n pragtige dek wat uitkyk oor die vlei en ook 'n voelskuiling. Hier is baie flaminke en ander voels. Ons is al 19:20 in die bed.

Kreefroete Dag 2 van stap






















Ons begin weer 8hr stap en is aangenaam verras om weer vir Daleen as gids te he. Tannie Cornelia bederf ons met bacon, eiers, warm toast en muesli en yoghurt vir ontbyt. Ons moet vandag tot by Lambertsbaai stap. Dis net 12 km en ons sien uit daarna. Dis weer heerlik om op die harde sand te stap. Sommer vinnig vinnig is ons by die Muisbosskerm en kan ons heerlik rus in die skadu. Ons eet ons orige kreefpote en lok pragtige voels met die doppe. By Lambertsbaai swem ek, Shelley en Ina in die laagwater poel. Dis vriesend. Ons besoek Bird Island. Daar is 17 000 malgasse (dis wat die gids se - ek weet nie wie dit getel het nie, maar het geen rede om nie hul woord te aanvaar nie) en baie ander seevoels. Ons eet heerlik by Isabellas en loop daarna in die dorpie rond. Ben die taximan kry ons en vervoer ons na Doornbaai. Ons sien ook vir Correen vir omtrent twee minute by Isabellas. Sy is in beheer van die kreefroete, maar ons hoor al meer by die gasouers dat sy nie so 'n goeie poging maak van die bestuur daarvan nie.
By Doornbaai bly ons in Innis se strandhuis. Dis baie groot en elkeen van ons kry ons eie kamer met 'n en suite badkamer. Ek, Pat en Ina stap deur die dorp en ek neem mooi fotos. Vanaand maak Debbie en haar dogter vir ons aandete. Ons is nog so versadig van Isabellas se heerlike kos en kaaskoek dat ons vra vir net slaaie en Debbie kwyt haar uitstekend van haar taak. Ons gaan slaap weer vroeg nadat ons heerlik in die sitkamer kuier.

Saturday, March 20, 2010

Kreefroete, Weskus, Suid Afrika, 13 - 18 Maart 2010 Dag 1

























Agtergrond:
Ons vier (Shelley van der Nest, Pat Raab, Ina Redelinghuys en ek) het ontmoet toe ons Everest Base Camp toe is in April/Mei 2009. Toe nooi Pat ons om reunie te hou en ons besluit om die kreefroete langs die weskus van SA aan te durf. Intussen het ons besluit dit behoort 'n jaarlikse instelling te wees en beplan ons reeds aan volgende jaar se trip.
Dag 1: Dis met groot verwagting dat ek eers vir Pat en toe vir Shelley op 13 Maart 2010 op Kaapstad Internasionaal ontmoet. Ons gesels soos ou vriende en die elf maande tussen Everest Base Camp en vandag voel soos 'n week. Ons ry gesels gesels tot by Blouberg, eet middagete by Primi Piati en kyk oor die see. Ons is oppad Langebaan toe om vir Ina op te tel by haar niggie Wiena en haar familie. Toe is ons voltallig en maak ons dit vir Elandsbaai waar ons die eerste nag in die Vleihuisie slaap en heerlik onthaal is deur Marie, Louise en Daleen. Ons voel dadelik tuis met hul egte weskus gasvryheid. Elandsbaai is pragtig, maar ook met baie armoede. Die mense is dierbaar en baie gasvry en ons is gul ontvang en onthaal. Saam met Daleen gaan kyk ons die boesmantekeninge in die grot ver bo die see. Ons stop by die hotel en leen die enigste DSTV kanaal op die dorpie om die bulle teen die highlanders te kyk. Die bulle wen ver en Shelley is gelukkig! Ek het my sit en verkyk aan die mengelmoes van mense wat saam die rugby gekyk het. Baie interessant. Ons koop 8 krewe by Daleen se buurman vir net R100 en Mari maak dit gaar vir ons saam met heerlike gebakte snoek en slaaie. Ons is vroeg in die bed nadat ek die gasvrouens en hul helpers by hul huise afgelaai het. Dis grafstil langs die vlei en ons slaap heerlik.
Dag 2:
Ons het die eerste dag van stap van hieraf (Elandsbaai) vertrek en moes 18 km langs die see afle tot by Steenboksfontein. Ons los my motor by die polisiestasie op Elandsbaai regoor die hotel. Die weer was baie goed en ons kon heerlik stap. Die dik sand met hoogwater was 'n uitdaging en daar was nerens 'n skadu kolletjie in sig om middagete by te hou nie. Ons kry 'n ou yskas op die strand en draai hom so dat ons bietjie skaduwee het. Regte survivors!
Pat tel ons aantal tree met haar medisiefonds masjientjie en ons vorder omtrent 3,5 km per uur op die sand. Aanvanklik stap ons baie maklik op die harde sand onder die hoogwater merk, maar hoe later hoe moeiliker. Later stap ons baie moeilik op die sagte sand ver bo die hoogwatermerk. Ons verstom ons oor hoe goed ons 4 oor die weg kom. Ons ken mekaar eintlik swak en is nie vriende in die normale verloop van die lewe nie. Ons is ook uiteenlopende persoonlikhede en ouderdomme wat wissel tussen 40 en 60, maar ons kan heerlik saam ekspidisies aanpak.
Net toe ons wil moedeloos raak van die dik sand sien ons die plaashuis waar ons vanaand oorbly by Cornelia Burger op Steenboksfontein. Sy verras ons met koffie/tee en hertzogkoekies by 'b gedekte tafeltjie onder die bome. Ons stort, rus en maak gereed om half sewe aandete te geniet by die plaaskombuis op dieselfde plaas. Die restaurant lyk soos 'n museum. Ons kry skaapvleispastei met anys soetpatats en slaaie. Koeksisters vir nagereg en heerlike koffie/tee. Wat 'n fees?

Sunday, March 7, 2010

'n Pragtige dag, 'n lekker stap en goeie geselskap


6 Maart 2010 was 'n pragtige dag in die Kaap. Ons het besluit om in Helderberg Natuurreservaat te gaan stap en dit was heerlik. Daar was nogal baie mense, ook 'n groep jong kinders wat baie verbaas was toe ons voor hulle bo was. Wel, of so bo soos wat ons wou stap. Ons was nie bo nie, maar ver genoeg. Gerhard het saamgestap en die geselskap was net so goed soos die helder sonskyndag. Na baie lag, baie sweet en baie gesels is ons onder vir 'n piekniek ontbyt. Dis so lekker om in die Kaap te kan woon. Ons is so naby die natuur en ek geniet elke stappie terdee.